Kan jy die Bybel vertrou?

Related image

2Timoteus 3:16-17

Ek beplan om vir die volgende 15 maande ‘n reeks te doen oor allerhande praktiese onderwerpe in die Christelike lewe: depressie, angs, vergifnis, boelie, rassisme, egskeiding, leuens, pornografie, demoniese aanvalle, die onvergeeflike sonde, rebelse kinders, dwelms, die selfbeeld, diëte, stiltetyd, selfmoord, en omtrent 60 ander onderwerpe.

Voor ons egter hierby kom, moet ek eers die fondasie lê. Ek sal dus vir die volgende paar weke wys dat die Bybel voldoende is om ons te help; dat jy Jesus en die Heilige Gees nodig het om ‘n diep en blywende verandering te bring; dat gebed die bonatuurlike instrument is waardeur God mense verander; dat die Bybel nie net met die simptome werk nie, maar dat dit jou help om by die wortel uit te kom.

Ek wil by die Bybel begin, want as ons hiér verkeerd trap, sal ons idee van Jesus, die Heilige Gees en die rol van gebed in verandering, verkeerd wees. Ons sal ons eie idees volg en nie die Here s’n nie. Maak asb. jou Bybel oop by een van die bekendste tekste oor die rol van die Bybel in die Christen se lewe: 2Tim. 3:16-17.

 

  1. Die kánon van die Skrif (v.16)

Die kánon van die Skrif het niks te doen met die kanónne wat in die Anglo-Boereoorlog gebruik is nie. In die konteks van die Skrif, verwys die kánon na watse boeke in die Bybel hoort en watse boeke nie daar moet wees nie.

Dit is belangrik as jy geestelik gehelp wil word, want as jy nie seker is dat die Bybel uniek is nie, is daar niks wat jou verhinder om antwoorde te soek in boeke soos Henog, die Evangelie van Tomas, Makkabeërs, die Koran, The Book of Mormon, of The Secret nie. Dan sal jy wees soos Marcion van Sinope (85-160). Hy het geglo dat die God van die Ou Testament ‘n vals god is en dat die God van die Nuwe Testament die ware God is. Hy het dus sy eie Bybel opgemaak wat bestaan het uit tien van Paulus se briewe en die Evangelie volgens Lukas [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1997, 2002), 97-98].

Dit klink radikaal, maar wie sê dat die 66 boeke van die Bybel die volle waarheid is? Wat ons as ons iets mis, of as sekere boeke nie daar moet wees nie? Wat is die hele Skrif waarvan ons in v.16 lees? In die konteks verwys dit na die Ou Testament, omdat die Nuwe Testament nog nie klaar geskryf was nie. En tog weet ons dat 2Timoteus Paulus se laaste brief was. Die hele Skrif sluit dus ten minste Paulus se briewe in. Petrus het dit geweet en Paulus ook (2Pet. 3:15-16, 1Kor. 14:37, 1Tess. 2:13, 4:8, 15).

Paulus het ook geweet dat Jesus se lering die Woord van God is (1Tim. 5:18, Deut. 25:4, Luk. 10:7, vgl. Joh. 2:22). Jesus het hierdie lering deur die apostels gegee (Joh. 14:26, 16:13-15, 2Pet. 3:2). Daarom het die vroeë kerk slegs boeke wat deur die apostels en hulle medewerkers geskryf is, as die Nuwe Testament aanvaar. Markus het bv. onder Petrus gewerk (1Pet. 5:13), terwyl Lukas onder Paulus gewerk het (4:11, Handelinge, Kol. 4:14, Filem. 24). Jakobus en Judas was Jesus se halfbroers en het die apostels geken (Matt. 13:55, Hand. 1:14). Jesus het Jakobus as ‘n apostel aangestel (1Kor. 15:7, Gal. 1:19). Hy was ook die leier van die gemeente in Jerusalem (Hand. 15:13, 21:18, Gal. 2:9).

Ons weet nie wie Hebreërs geskryf het nie, maar duidelik het hy die apostels geken (Heb. 2:3). Sy ryk verwysings na die Ou Testament en die vervulling daarvan in Christus, wys ook dat hierdie boek die geïnspireerde Woord van God is. As die Ou Testamentiese profesieë geïnspireer is, moet die Nuwe Testamentiese vervulling daarvan ook geïnspireer wees. Hoe weet ons dat die Ou Testament die geïnspireerde Woord van God is? Die Ou Testament profete het honderde kere gesê: ‘So spreek die Here’. Hulle woorde was m.a.w. nie húlle s’n nie, maar Gód s’n (Jer. 1:9, 26:1-2, 2Pet. 1:20-21).

Verder het Jesus en die apostels meer as 295 keer uit die Ou Testament aangehaal. Hulle het nooit uit die apokriewe aangehaal nie. Waar hulle wel buite-Bybelse bronne aangehaal het, het hulle dit ter illustrasie gedoen (Hand. 17:28, Tit. 1:12, Jud. 14-15). Hulle het nooit gesê dat hierdie bronne die Woord van God is nie: ‘Daar staan geskrywe…’

Die Hebreeuse Ou Testament bestaan uit dieselfde boeke as ons s’n, maar dit is in ‘n ander volgorde. Genesis is die eerste boek en 2Kronieke die laaste boek. In Luk. 11:50-51 het Jesus gesê dat die Jode die profete deur die eeue doodgemaak het: van Abel tot by Sagaria, wat hulle tussen die reukaltaar en die heiligdom vermoor het. Gen. 4 praat van Abel, terwyl Sagaria in 2Kron. 24 vermoor is. Jesus het dus gesê dat hulle die profete van die begin van die Ou Testament tot die einde vermoor het en dat die 39 boeke van die huidige Ou Testament die Woord van God is [Sommige manuskripte van Matteus praat van Sagaria die seun van Beregja. Moontlik is dit dan nie die Sagaria van 2Kron. 24 nie, maar die Sagaria van Sag. 1:1. Maar eintlik maak dit nie ‘n verskil nie, omdat die Sagaria van Sag. 1:1 aan die einde van die Ou Testament gelewe het. Jesus praat dus nog steeds van die profete van begin tot einde].

Haggai, Sagaria en Maleagi was die laaste profete (520-534 v.C.). Ná hulle was daar nie meer Ou Testamentiese profete nie en is daar geen boeke by die Ou Testament gevoeg nie. Buite-Bybelse bronne soos 1Makkabeërs (omtrent 100 v.C.) sê dat die profete opgehou het en dat daar nie profete in hulle tyd was nie [1Makkabeërs 4:45-46, 9:27, 14:41]. Josefus (37-100 n.C.) sê dieselfde [Flavius Josephus, Against Apion, 1.41; aangehaal in Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 56].

Die slotsom is dat jy die 66 boeke van die Ou- en Nuwe Testament as die Woord van God kan aanvaar. God het alles wat Hy in die Ou- en Nuwe Testament wou hê, laat opteken (Heb. 1:1). Hy sal nie iets byvoeg, of wegvat nie (Deut. 4:2, 12:32, Spr. 30:6, Op. 22:18-19). Dus kan jy die 66 boeke van die Bybel vertrou en glo dat dit genoeg is om jou met jou probleme te help.

 

  1. Die inspirasie van die Skrif (v.16)

Vandag gebruik ons die woord ‘inspirasie’ anders as in die Bybel. Ons sê bv. dat ‘n film ons geïnspireer het om meer om te gee vir weeskinders. As iemand lus het om te skilder of ‘n liedjie te skryf, sê die persoon dat hy of sy geïnspireer voel om dit te doen.

In die Bybel is inspirasie egter ‘n Goddelike aksie waardeur die Heilige Gees die woorde van die Bybel gespreek het. Net soos wat lug oor jou stembande vloei om ‘n geluid te maak, het God die woorde van die Bybel uitgeasem [v.16, Gk. theopneustos]. Deur ‘n wonderwerk het Hy gesorg dat die woorde wat Moses, Dawid, Matteus en Paulus geskryf het, sý woorde is.

Soms het Hy woord-vir-woord voorgesê wat hulle moet skryf (bv. Op. 2:1, 8, 12, 18, ens.). Sommige outeurs het deeglike navorsing gedoen en met die eerste ooggetuies gepraat (Luk. 1:1-3). In die geval van die Tien Gebooie, het God dit self neergeskryf (Eks. 31:18). Partykeer het die Here in ‘n hoorbare stem gepraat (Num. 12:8). Soms het Hy in drome, visioene en deur engele met mense gepraat (bv. Dan. 7-8, 10). Die Heilige Gees het ook die apostels aan Jesus se woorde herinner en hulle geleer wat om te sê (Joh. 14:26, 16:13-15).

Toe hulle hulle woorde neergeskryf het, was dit nie net húlle s’n nie, maar Gód s’n (v.16, 2Pet. 1:20-21, 1Tess. 2:13, Rom. 3:2). En omdat dit Gód se woorde is, is dit die waarheid (Joh. 17:17). God kan nie lieg nie (Num. 23:19, Tit. 1:2, Heb. 6:18) en dus is die Bybel onfeilbaar en foutloos. God se woorde is suiwerder as silwer wat sewe maal gelouter is (Ps. 12:7). Dit is perfek: elke detail daarvan is waar (Ps. 119:96, 160, Spr. 30:5, Matt. 5:18, Luk. 16:17). Die skrywers van die Nuwe Testament het aanvaar dat die Gees selfs dinge soos ‘n enkelvoud, of verledetydsvorm geïnspireer het (Matt. 22:23, 31-32, Gal. 3:16).

Hulle het ook geglo dat die geskiedenis van die Ou Testament waar is: Adam en Eva, Kain en Abel, Henog, Noag en die vloed, Job, Abraham, Melgisedek, Lot, Sodom en Gomorra, Isak, Jakob en Esau, Josef en sy broers, Moses en die Israeliete, Ragab, Josua, Simson, Samuel, Saul, Dawid, Salomo, die koningin van Skeba, Elia, Elisa, Jona en die vis, Jesaja, Daniël, ens. (Matt. 12:40-42, 24:15, 37-39, Luk. 4:25-27, Joh. 12:41, Hand. 7:1-47, 13:21, Rom. 9:7-13, 2Kor. 11:3, 1Tim. 2:13, Heb. 4:8, 7:1-10, 11:1-32, Jak. 2:21-25, 5:11, 2Pet. 2:5-8, 1Joh. 3:12).

Baie mense het al foute in die Bybel probeer uitwys, maar as jy die konteks lees en die verse noukeurig ontleed, sal jy sien dat dit nie foute is nie [Sien bv. ‘Foute’ in die Bybel beantwoord EN Nóg ‘foute’ in die Bybel beantwoord op hierdie webtuiste]. Die probleem lê by die mens en nie by die Bybel nie. Almal wat al probeer het om die Bybel te veroordeel, is self veroordeel (Jer. 36). Die mens vergaan soos gras en blomme, maar die Woord van die Here bly vir ewig (Jes. 40:8).

As ons sê dat die Bybel foute in het, moet jy jouself afvra of jy enigiets kan glo wat daarin geskryf staan. Wie besluit watse dele waar is en watse dele nie? Om die Bybel te bevraagteken, is om te sê dat ons beter as die Bybel weet [Grudem, Ibid., 99-100].

Miskien vra jy: ‘Maar het daar nie baie foute ingesluip toe die oorspronklike dokumente oorgekopieer is nie?’ Die mense wat die manuskripte gekopieer het, het dit baie noukeurig gedoen (sien Deut. 17:18). Ons weet dat meer as 99% van die Griekse manuskripte wat ons nou het, akkuraat is. Daar is meer as 5000 manuskripte en hulle stem 99% met mekaar ooreen.

Die vroegste vertalings van die Bybel—die LXX of Griekse vertaling van die Ou Testament, die Latynse Vulgaat, die Siriese Peshitta, die Koptiese vertaling van die Bybel—stem byna woordeliks ooreen met die Griekse manuskripte wat ons vandag het.

Waar die vroeë kerkvaders die Bybel in hulle preke, briewe en kommentare aanhaal, stem dit ook ooreen met die Bybel wat ons vandag het. Selfs die enkele kopieerfoute wat gemaak is, maak geensins ‘n verskil aan enige leerstellings in die Bybel nie [Ibid., 96. Sien ook Lee Strobel, The Case for Christ (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 1998), 70-94 EN John MacArthur & Richard Mayhue—Ed., Biblical Doctrine (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 126-127].

Dus kan jy vertrou dat die Bybel die ware Woord van God is. As jy die Bybel verwerp, verwerp jy nie ‘n mens nie, maar God (1Tess. 4:8). Onderwerp jou dus aan die gesag van die Skrif.

 

  1. Die genoegsaamheid van die Skrif (v.16-17)

Is die Bybel genoegsaam om ons geestelike probleme aan te spreek, of was gelowiges vir 1900 in die donker totdat Sigmund Freud (die vader van moderne sielkunde) tot ons redding verskyn het? Volgens Paulus is die Bybel genoegsaam om te sê hoe ons gered kan word, asook om ons toe te rus om te lewe soos die Here wil hê ons moet (v.15-17, vgl. 2Pet. 1:3). Jy hoef nie te wonder wat die Here van jou verwag nie. As jy die Bybel volg, is jy veilig (Ps. 119:105).

As die Bybel dan genoegsaam is om ons met ons probleme te help, is dit genoegsaam vir berading (Ps. 1:1-2, 119:24). Wat kan sielkunde doen wat die Heilige Gees, die Bybel en gebed nié kan doen nie? In hierdie reeks sal jy sien dat die Bybel ál die mens se geestelike probleme aanspreek: van ongeduld tot ADHD; van uitbranding tot skisofrenie. Die Bybel is genoegsaam!

 

[a] Dit is genoegsaam om jou in die waarheid te onderrig (v.16)

Die Bybel leer ons van God, gebed, die kerk, die doop, die nagmaal, geloof, bekering, die wederkoms, die opstanding, uitverkiesing, heiligmaking, die dood, die mens, sonde, engele en demone, die skepping, en meer. Ons benodig suiwer Bybelse prediking as ons hierdie lering wil ontvang (1Tim. 4:13, 2Tim. 4:2). Voor jy dus berading soek, moet jy gereeld onder die prediking van God se Woord sit en dit gehoorsaam. God het ouderlinge en ander geestelike gawes in die gemeente gegee om ons probleme aan te spreek (Jer. 3:15, Hand. 20:28, Rom. 15:14, Joh. 21:15-17, Ef. 4:11-16, Tit. 1:9, 2:1-9, 1Pet. 5:2-3).

[b] Dit genoegsaam om valsheid te weerlê (v.16)

Enige aksie of leerstelling wat nie met die Bybel ooreenstem nie, is verkeerd. ‘n Goeie kennis van die Bybel sal jou help om tussen reg en verkeerd, die waarheid en die leuen te onderskei. (Ps. 19:13-14).

[c] Dit is genoegsaam om jou reg te help (v.16)

Die Bybel is nie soos ‘n slegte pa wat altyd net sy kinders se foute uitwys, sonder dat hy hulle reghelp nie (v.16). Dit sê bv. nie net dat steel verkeerd is nie, maar leer jou om eerlik en mededeelsaam te wees (Ef. 4:28).

[d] Dit is genoegsaam om jou te leer wat reg is (v.16)

Die Bybel is nie ‘n silwer koeël wat jou probleme in ‘n japtrap gaan oplos nie. Dit is eerder ‘n handboek wat jou leer om jou sondige gewoontes af te lê en reg te begin lewe. Dit leer jou ook om nie op jou eie vermoëns staat te maak nie, maar om deur die Woord en gebed op die Heilige Gees staat te maak.

[e] Dit is genoegsaam om herders vir hulle dienswerk toe te rus (v.17)

Ek het vir 31/2 jaar sielkunde studeer, vir 2 jaar gewone berading en vir nog 2 jaar Bybelse berading. Die eerste twee kursusse was ‘n mors van tyd, terwyl die laaste kursus my lewe verander het. Die Bybel is genoegsaam om herders toe te rus om mense te help (v.17, 4:2, Hand. 20:20, 27-28, 31-32). Dit is genoegsaam om mense in slegte tye te help (v.17, 1-5). Daar is nie ‘n enkele goeie werk wat jy moet doen waarvoor die Bybel nie genoegsaam is nie (v.17).

 

Natuurlik kan jy dit nie doen, tensy jy weergebore is en die Heilige Gees in jou woon nie. Maar daarby sal ek volgende keer kom. Vir nou is dit genoeg om te weet dat jy die Bybel kan vertrou. Jy hoef nie onseker te wees soos ‘n ouer leraar wat jare gelede vir my gesê het: ‘Ons moet ophou probeer om mense met ernstige probleme te help; ons moet hulle na die professionele mense (sielkundiges en psigiaters) toe verwys.’