Hoe om te keer dat jy wegdryf

See the source image

Hebreërs 2:1-4

Toe ons twee jaar gelede in Jeffeys Baai was, het my kinders naby ‘n gevaarlike rypstroom [Eng. rip current] geswem. Ons het dit nie geweet nie, totdat ‘n man ons genader het en vir ons gesê het: ‘Jou kinders moenie hier swem nie. Voor jy dit weet, trek hierdie stroom hulle 50 meter in die see in.’

Dit is ook die idee in Heb. 2:1-4. As jy nie geanker is in Christus nie (6:19), sal jy soos ‘n bootjie wegdryf [Gk. pararreō] en oor die waterval van God se toorn verdwyn. Wat kan jy doen om te voorkom dat dit gebeur?

 

  1. Let noukeurig op die evangelie (v.1)

Die man wat ons teen die rypstroom gewaarsku het, het ook vir ons gesê hoe om dit uit te ken. Die gevaartekens van hierdie stroom is ook teen ‘n muur naby die hoofstrand geverf.

Net soos wat jy noukeurig op die rypstroom moet let om te keer dat dit jou intrek, moet jy noukeurig let op wat jy gehoor het, sodat jy nie daarvan wegdryf nie (v.1). Wat jy gehoor het, verwys natuurlik na die boodskap van verlossing; die evangelie (v.3). Hoe let ‘n mens noukeurig op die evangelie?

In die eerste plek moet jy onder die gereelde prediking daarvan sit. Moenie sommer net wegbly van die plekke waar jy dit kan hoor nie (10:25). Moenie soos party mense dink jy weet meer as die meeste en dat jy nie nodig het om by ‘n kerk in te skakel waar jy dit gereeld kan hoor nie. As jy só dink, sal jy vir vals lering val, aangesien jy niemand het aan wie jy jou gedagtes kan toets nie (Ef. 4:14, 11-13).

Indien jy wel gereeld na die prediking van die Woord luister, moet jy oplet en nie dagdroom, of slaap nie. Kry genoeg slaap op ‘n Saterdag en neem notas as dit jou sal help om wakker te bly.

Toets ook die prediker se woorde aan die teks waaruit hy preek. Kyk of wat hy sê uit sy eie gedagtes kom, en of dit regtig uit die teks kom (Hand. 17:11). As die prediker nie die Bybel preek nie, moet jy vir jou ‘n ander kerk soek. Iemand wat elke Sondag na ‘n sedeles luister, het nie ‘n anker om aan vas te hou nie. As die wolwe kom, sal hy na ‘n dobberende stuk hout gryp en onder die malende waters wegsink.

Sê vir jouself dat dit nie genoeg is om goeie lering te hoor nie. Die Hebreërs het goeie lering ontvang, maar hulle het dit nie toegepas nie (v.1, 3). As jy nie die Bybel toepas nie, verdwyn dit gou uit jou gedagtes. Om noukeurig op die evangelie te let, moet jy dit toepas. Dalk het jy al baie keer die evangelie gehoor, maar nog nooit daarop gereageer nie. Jy leef nog in dieselfde sondes en het nog nie tot bekering gekom nie. Jy vertrou nie op Jesus vir jou redding nie, maar doen nog jou beste om in die hemel te kom. Solank as wat jy op jou eie pogings fokus, kan jy nie noukeurig op die evangelie let nie.

Ondersoek die evangelie so noukeurig soos wat ‘n knap speurder ‘n moordtoneel ondersoek. Moenie dink jy is volleerd as dit kom by Jesus se Persoon, lewe, kruisdood en opstanding nie. Iemand wat só dink, verstaan nog niks. Moet ook nie dink jy gaan die evangelie binne ses maande onder die knie kry nie. Dit gaan ‘n leeftyd vat. As jy egter só op die evangelie let, sal jy nie wegdryf nie. Dit is as jy traag is om daarop te let, dat jy wegdryf (v.1). Dit gebeur nie oornag nie. Dít is wat dit so gevaarlik maak: een oomblik gaan alles nog goed en as jy ‘n paar jaar later jou oë uitvee, verdrink jy onder die golwe van verwoesting.

Dit gebeur subtiel. Jy begin die Bybel afskeep en laat na om jou gesin daarin te lei. Daarna begin jy meer gereeld en sonder goeie rede die gemeente se byeenkomste misloop (10:25). Jy probeer jouself oortuig dat jy nie tyd het nie, dat jy oor naweke besig is, dat Sondae die enigste dag is wat jy ‘n kans het om te rus en by jou gesin te wees, en dat jy te veel werk het. Dit wys dat jou werk en jou gesin vir jou belangriker geword het as Jesus.

Kort voor lank mis jy nie net die aanddiens nie, maar die oggenddiens. En dan nóg een; en nóg een. As jy weer sien, was jy sewe maande laas in die kerk. As jy lank genoeg hiermee aanhou, sal jy die kerk as ‘n vyand begin beskou. As mense jou bel om te hoor waar jy is, sien jy dit as ‘n aanval. Jy begin dus gemeentelede se oproepe vermy. Jy voel ongemaklik by toegewyde Christene en geniet dit meer om by ongelowiges te wees.

Jy begin weer die sondes doen wat jy voorheen gelos. Jy begin fout vind met die Bybel en Christene. Jy begin soos die wêreld dink (bv. oor homoseksualiteit). Na ‘n paar jaar besluit jy om die Bybel en Christenskap as onwetenskaplik te verwerp. Jy sê dat jou ouers jou gebreinspoel het om in Jesus te glo. Op die einde word die skip van jou lewe verpletter teen die rotste van afvalligheid (1Tim. 1:19). Vir die mense rondom jou is dit ‘n skok, maar diep in jou hart weet jy dat jy nooit regtig toegewy was aan Jesus en die evangelie nie.

‘n Mens sien dit soms met jongmense. Toe hulle op skool was, het hulle bely dat hulle tot bekering gekom het. As hulle egter die huis verlaat, verloën hulle die geloof. In party gevalle het die ouers hulle kinders reg geleer, maar kies die kinders om nie noukeurig op die evangelie te let nie. In ander gevalle dwaal die kinders af, omdat die ouers nie moeite gedoen het om die evangelie met hulle te deel, huisgodsdiens te hou, hulle kerk toe te vat, of ‘n heilige voorbeeld te stel nie (Ps. 78:1-8). Die ouers was te besig en hulle kinders ook.

Leer asb. hieruit dat niemand sommerso besluit om die rug op Jesus te draai nie. Dit is ‘n lang pad. Maak dus seker dat jy reeds in die begin die gevaartekens sien, sodat jy aan Jesus en die evangelie kan vashou.

 

  1. Oorweeg God se oordeel (v.2-3a)

‘n Veertienjarige en ‘n vierjarige word gestraf as hulle ongehoorsaam is. Die veertienjarige word egter swaarder gestraf, omdat hy van beter moes weet. Geestelik werk dit ook so. In die Ou Testament het God die wet deur engele aan Moses gegee (v.2, Hand. 7:53, Gal. 3:19), terwyl Hy die evangelie in die Nuwe Testament direk deur sy Seun kom gee het (v.3b, 1:1). Omdat Jesus dan groter is as die engele (1:4-14) en die evangelie groter as die wet, wag daar ‘n groter straf vir dié wat die evangelie verontagsaam as vir hulle wat die wet verontagsaam het (v.2-3a, 10:28-29, Luk. 12:47-48).

In die Ou Testament was die straf erg genoeg, sodat dié wat die wet oortree het, of nagelaat het om die positiewe gebooie na te kom, met die dood gestraf is (v.2, Deut. 17:5). Dalk dink jy dit is te streng, maar volgens v.2 is God se oordele regverdig (Gen. 18:25, Deut. 32:4, Rom. 3:26). As Hy wou, kon Hy elke sonde onmiddellik met die dood gestraf het (Gen. 2:17, Eseg. 18:20, Rom. 5:12, 6:23). Die feit dat Hy dit nie doen nie, wys iets van sy genade. Volgens Rom. 3:25 het Hy mense se sonde in die verlede oorgesien, omdat Hy self aarde toe sou kom om die straf vir ons sonde te dra.

Hoe groot sal die straf dan wees as ons sy liefdeoffer verwerp, omdat ons op ons eie manier gered wil word (v.3a)? Eintlik lê die sonde nie net daarin dat mense die evangelie verwerp nie, maar dat hulle dit afskeep en nie ‘n prioriteit in hulle lewens maak nie. As Jesus en die evangelie nie vir jou alles is nie, is jy in gevaar. God sal nie toelaat dat sy Seun tweede plek inneem nie. Jesus moet vir jou alles wees, of niks (Matt. 10:37-38, Luk. 9:62). As geld, jou kinders, jou familie, plesier, sport, sukses, jou werk, status, of enigiets anders vir jou belangriker is as Jesus, moet jy nie eers probeer om ‘n Christen te wees nie. Besluit asb. wie jy wil dien: Jesus, of jouself en wêreld.

 

  1. Onthou hoe God die evangelie gegee het (v.3b)

As jy ‘n baie belangrike boodskap vir iemand het, sê jy dit nie oor die foon nie. Jy vra of jy hulle kan sien, sodat jy dit van aangesig tot aangesig kan sê. Toe God ‘n belangrike boodskap vir die volk wou gee, het Hy dit deur engele gedoen (v.2). Toe Hy egter die belangrikste boodskap wou gee, het Hy dit persoonlik kom sê (v.3b, Matt. 16:21, 17:22-23, 20:18-19, Matt. 20:28, Mark. 1:15, Joh. 3:14-17, 36, 6:35-58).

Nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het die apostels die amptelike ooggetuies van sy opstanding geword (Hand. 1:8, 22, 2:32, 40, 3:15, 4:33, 5:32, 8:25, 10:39-42, 13:31, 14:3, 20:24, 22:15, 23:11, 26:16, vgl. Luk. 1:2). Êrens het die boodskap by die Hebreërskrywer en sy lesers uitgekom (v.3b). Hoe kon hulle dit glo as hulle dit nie eerstehands by Jesus gehoor het nie? Hoe kon hulle seker wees dat die apostels nie die storie van Jesus se opstanding uitgedink het, of dat hulle gehalusineer het nie?

Hulle kon dit nie uitgedink het nie, want hulle het dit nie verwag nie. Selfs toe die vroue gesê het dat hulle Hom gesien het, wou hulle dit nie glo nie (Luk. 24:11, 22-25). Jesus het ook ten minste twaalf keer ná sy opstanding aan verskillende groepe verskyn (Matt. 28:9, 17, Luk. 24:15, 34, 36, Joh. 20:14, 26, 21:1, Hand. 1:3, 1Kor. 15:6-8). Is dit moontlik dat almal van hulle gehalusineer het? Kan dit wees, veral as hulle aan Hom gevat het (Luk. 24:39-40, Joh. 20:25, 27)? En as hulle die storie opgemaak het, sou hulle hulleself êrens vaspraat. Of iemand sou uitgekom het met die waarheid, veral as jy die gevaar staan om jou lewe te verloor vir ‘n Jesus wat nie regtig lewe nie, maar dood is! Mense verloor nie gewoonlik hulle lewens vir iets wat hulle weet ‘n leuen is nie!

As die feite aangaande Jesus dan waar is, wil ek vra of Hy vir jou belangrik is? Bely jy Hom, maar jou lewe wys nie dat Hy vir jou belangrik is nie? As Hy nie vir jou alles is nie, is ek bevrees dat jy alreeds besig is om weg te dryf. Jy is op ‘n gevaarlike plek. Kom vandag nog terug na Hom toe (2Kor. 6:2).

 

  1. Dink aan die krag van die evangelie (v.4)

Mense kan nog teen die intellektuele bewyse van Jesus se opstanding stry, maar hoe stry jy teen iemand wat in Jesus se Naam ‘n verlamde persoon laat loop (Hand. 3)? Dit wys mos dat die Een in Wie se Naam jy die lamme genees, nie dood is nie maar lewe.

Om te wys dat die apostels se evangelie waar is en dat Jesus lewe, het die Heilige Gees die apostels in staat gestel om volgens sy soewereine wil tekens, wonders, kragtige dade en ander bonatuurlike gawes—bv. die vermoë om in ander lande se tale te praat—te beoefen (v.4, Mark. 16:20, Joh. 15:26-27, Hand. 2:43, 3:6-8, 4:33, 5:12, 15-16, 32, 6:8, 8:5-7, 12-13, 9:32-42, 13:9-12, 14:3, 8-10, 16:8, 20:9-12, 28:8-9, 1Kor. 12:11, 2Kor. 12:12, vgl. Joh. 3:2, Hand. 2:22). Die doel was nie om op die gawes te fokus nie, maar om te wys dat Christenskap ‘n bonatuurlike godsdiens is, omdat ons ‘n bonatuurlike en lewende God dien.

Indien jy waarlik tot bekering gekom het, sal jy weet dat die evangelie bonatuurlik is. Eens was jy ‘n bose, wellustige, arrogante, harde, jaloerse en ondankbare mens. Toe jy egter in Jesus en die boodskap van sy kruisdood vir sondaars glo, het jou lewe drasties verander. Almal om jou kon dit sien. Dit wys tog iets van die krag van die lewende Christus, nie waar nie?

Moet Hom dus nie afskeep nie, want anders sal jy wegdryf, selfs al oortuig jy jouself dat jy Christen is. Stuart Olyott sê: ‘It is possible to be a professing Christian right now, and yet to be lost. But how is it that some apparent believers drift away and end up as apostates? The answer lies in one word: neglect.’[1]

 

[1] Stuart Olyott, I Wish Someone Would Explain Hebrews to Me! (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2010), 24

Advertisements