Hoe moet ons vir mekaar bid?

See the source image

2Tessalonisense 3:1-5

Toe my vriend sy vrou ontmoet het, het hy baie oor haar gepraat. Dit het gewys wat vir hom belangrik is. Die feit dat Paulus ten minste ses keer in hierdie kort brief oor gebed praat (1:3, 11-12, 2:16-17, 3:1, 5, 16, vgl. 1Tess. 1:2, 2:13, 3:9, 11-13, 5:17, 23, 25), wys dat dit vir hom belangrik is. In die verse voor ons leer Paulus ons hoe ons vir mekaar moet bid. Ons kan dit onder die volgende vier hoofde opsom.

 

  1. Laat U Koninkryk kom (v.1)

Het jy al iemand ontmoet wat altyd net oor húlle probleme, húlle lewens, húlle behoeftes, húlle suksesse en húlle kinders praat? Soms klink mense se gebede so. Dit is nie verkeerd om vir jouself te bid nie, maar jy moet ook leer om te bid vir dinge wat groter is as jy en jou probleme. Maak dit dus ‘n prioriteit om vir God se Koninkryk te bid (v.1). Laat die verspreiding van sy Koninkryk iets wees wat jou gedagtes en jou gebede oorheers. Dit is hoe dit vir Paulus was (v.1, Hand. 20:24) en dit is hoe dit vir ons moet wees (v.1, Matt. 6:33).

Net soos wat die Woord vinnig hardloop om God se bevele in die skepping uit te voer (Ps. 147:15), moet ons bid dat dit vinnig sal hardloop om mense te bereik (v.1). Ons moet bid dat die evangelie so vinnig sal versprei soos in die boek Handelinge (Hand. 6:7, 12:24, 13:49, 19:10, 20). Bid dat die Here ‘n herlewing sal stuur. Bid dat daar nie ‘n skaarste sal wees aan sendelinge en bekerings nie, maar dat die Here mense sal stuur om die evangelie na die onbereiktes toe te vat (v.1, Matt. 9:38). Bid dat lande soos Somalië, Noord-Korea en Yemen nie meer Christene sal vervolg nie, omdat hulle tot bekering gekom het.

Sal die Here ons gebede verhoor? Het hy die Tessalonisense s’n verhoor? Ek dink nie ons besef hoe wyd die invloed van ons gebede strek nie. Die evangelie het Suid-Afrika bereik, omdat mense daarvoor gebid het. Is dit nie ook wat gebeur het a.g.v. die Tessalonisense se gebede nie (v.1)? Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was die evangelie net bekend in Israel, Samaria, Sirië, Turkye en Griekeland. In antwoord op die Tessalonisense en ander gelowiges se gebede, het die evangelie na die res van die Romeinse Ryk toe versprei. Omtrent ‘n honderd jaar later het die kerkvader Tertullianus (155-220) vir die heidene gesê: ‘We are but of yesterday, and we have filled every place among you—cities, islands, fortresses, towns, market-places, the very camp, tribes, companies, palace, senate, forum,—we have left nothing to you but the temples of your gods.’[1]

Teen 325 n.C. het die helfte van die bevolking van Klein-Asië, Thrasië en Armenië bely dat hulle Christene is. In Sirië, Egipte, Griekeland, Macedonië, die sentrale deel van Noord-Afrika, Spanjé, Rome en die suide van Italië het Christenskap die dominante godsdiens geword.[2]

Deur die Middeleeue het die kerk donker tye beleef. Islam het van die ooste af geïnfiltreer, terwyl Katolisisme dit van binne af siek gemaak het. En tog was daar nog baie Christene. Indien jy dink dat die kerk dood was tydens die Middeleeue, moet jy vra of die Heilige Gees vir 1500 jaar weggekruip het, en of Jesus se belofte om sy kerk te bou deur die mat geval het.[3]

Na die Middeleeue is die kerk deur die Hervorming gesuiwer en het baie mense tot bekering gekom. Oor die volgende 150 jaar is die kerk op die Europese vasteland en in die Britse Eilande gevestig. Deur die invloed van manne soos George Whitefield, John en Charles Wesley, en Jonathan Edwards het Brittanje en Amerika groot herlewings beleef. Tien duisende mense het tot bekering gekom. Van 1790 tot 1820 was daar nóg ‘n groot herlewing in Amerika. Van 1800-1810 het die Presbiteriane gegroei van 70 000 na 100 000 en die Baptiste van 95 000 na 160 000. Teen die laat 1700’s het die Metodistekerk binne ‘n tydperk van tien jaar met 1400% gegroei (ses keer vinniger as die Amerika se bevolkingsaanwas).[4]

In die 18de en 19de eeu het die evangelie ook na die buiteland toe versprei: Sri Lanka, Indië, Suid-Afrika, Groenland, Suriname in Suid-Amerika, Mianmar in Suid-Oos Asië, die Virgin- en Suid See eilande, China, Rhodesië (Zimbabwe), Zambië en verskeie ander lande. In die 20ste en 21ste eeu het die evangelie byna elke land op aarde bereik. Ons moet bid dat dit verder sal versprei (v.1). Ons moet vir die sendeling wees wat ‘n Amerikaanse voetbalspeler se spanmaats vir hom is. As hy die bal kry, duik sy spanmaats die opponente, sodat hy vrylik kan hardloop om ‘n doel aan te teken.

Laat ons vir ons sendelinge bid. Vra die Here om hulle opponente af te weer (v.2), sodat hulle vrylik met die evangelie kan hardloop om mense vir die Here te wen (v.1). Bid dat die Here ‘n herlewing sal stuur; dat Hy die Jode sal red en dat die nasies in aanbidding voor Hom sal neerval (Ps. 72, 86:9, Rom. 10:1, 11:12, 15, 25-26, Mal. 1:11). Bid dat sy Koninkryk en sy heerlikheid die aarde sal vul (v.1, Jes. 11:9, Dan. 2:35, 44-45, Matt. 13:31-32). Bid dat die mense wat tot bekering kom, die Woord deur hulle gehoorsame lewens sal eerbiedig en geestelik sal groei (v.1, Hand. 13:48, Ps. 56:5, 11, 119:48). Ons moet dus nie net vir die sendelinge bid wat die evangelie met ongelowiges deel nie, maar ook vir die herders wat die skape met die groen weiding en skoon water van God se Woord voed (Jer. 3:15, Matt. 28:19-20, 2Tim. 4:2, 5). As ons net sendelinge en evangeliste het en nie goeie herders nie, sal die kerk in getalle toeneem, maar nie in geestelike diepte nie. Dit sal 10 km wyd wees, maar net 10 cm diep. En as die Here se kudde geestelik vlak is, sal hulle ‘n maklike prooi wees vir wolwe.

 

  1. Verlos ons van die Bose (v.2-3)

Een van my vriende het ‘n gemeente onder die Shangaans in Limpopo geplant. Op Sondae het ‘n Prosperity kerk hulle luidsprekers oorkant die pad opgeslaan en so hard lawaai dat my vriend se gemeente hulleself skaars kon hoor sing. Toe dieselfde vriend ‘n paar jaar gelede die Comoros Eilande besoek het, het hy gehoor dat evangelisasie onwettig is.

Die duiwel sal enigiets doen om die evangelie te keer. Dus het Paulus die gemeente gevra om te bid dat die evangelie ver en wyd sal versprei en dat die Here hom sal beskerm teen bose mense wat nie in Jesus wou glo nie, maar wou keer dat hy die Goeie Nuus verkondig (v.1-2). Paulus was in Korinte toe hy hierdie woorde geskryf het. Die Jode wou keer dat hy die evangelie met die heidene deel (Hand. 18:6, 9-17, 1Tess. 2:16, vgl. Rom. 15:31).

Leer hieruit dat sendelinge by tye eensaam, bang en neerslagtig raak. Die heidene onder wie hulle werk, voel bedreig omdat die sendelinge nie hulle gode erken nie, maar sê dat Jesus die enigste God is. Verder haat hulle die evangelie, omdat dit van hulle vereis om hulle sonde en die sondige elemente van hulle kultuur te los. Gevolglik soek hulle nie die sendelinge daar nie en vervolg hulle hulle. Juis om hierdie rede het die sendelinge ons gebede en die Here se bemoeding nodig (v.2, Hand 18:9-10).

Om egter net vir hulle te bid is nie genoeg nie. Dit is soos om vir iemand te sê jy hoop hy kry kos en dan niks daaromtrent te doen nie (Jak. 2:16). Laat ons dus moeite doen om die sendelinge te besoek en hulle in die geloof te bemoedig (1Kor. 16:17-18, 2Tim. 4:16-18).

Al is ménse ontrou en wil hulle nie die evangelie glo nie (v.2, Gk. pistis); die Hére is getrou (v.3, Gk. pistos). Net soos wat Hy die sendelinge teen bose mense en geeste beskerm (v.2), sal Hy die gemeente beskerm (v.3). Die duiwel sal op enige manier probeer om ‘n voet in die deur te kry. Ons kan nie in ons eie krag teen hom staan nie en moet daarom die Here vra om ons te beskerm (v.2-3, Matt. 6:13, Joh. 17:15). Ons moet Hom vra om ons in die lering van die Woord te vestig, sodat ons nie deur die subtiele leuens van vals leraars mislei word nie (v.2, 1Tess. 3:2, Ef. 4:11-14). Vir ‘n basiese oorsig van Bybelse lering kan jy Christian Beliefs van Wayne Grudem deurwerk. As jy iets dieper soek, sal Great Doctrines of the Bible van Martyn Lloyd-Jones jou help. As jy hierdie materiaal biddend en met ‘n oop Bybel voor jou lees, sal jy gevestig raak in die geloof, sodat jy staande kan bly teen die aanslae van die Bose (v.3).

 

  1. Laat U wil geskied (v.4)

Wat is die eerste ding wat in jou gedagtes kom wanneer jy oor God se wil dink? Gewoonlik dink ons aan dinge soos: met wie moet ek trou, waar moet ek bly, moet ek hierdie werk vat, moet ek ‘n nuwe kar koop? Maar eintlik is dit vir die Here belangriker dat jy heilig lewe, jou ouers eer en ander aspekte van sy wil uitvoer, as dat jy ‘n Volkswagen ry en in Pretoria bly. God se wil gaan in die eerste plek nie oor die fyner besonderhede van jou lewe nie, maar daaroor of jy die Bybel gehoorsaam (Deut. 29:29). Dit is ook waarvoor jy moet bid (Matt. 6:10b).

Paulus was oortuig dat God die Tessalonisense sou help om sy wil uit te voer (v.4, Fil. 2:12-13). Net soos wat hulle Paulus se eerste brief gehoorsaam het, sou hulle die tweede een gehoorsaam (v.4). In die eerste brief het hy hulle beveel om heilig te wees, seksuele sonde te vermy, mekaar lief te hê, hard te werk, mekaar op te bou en te bemoedig, hulle leiers te respekteer en lief te hê, in vrede met mekaar te lewe, mekaar te vermaan, nie kwaad met kwaad te vergeld nie, altyd bly te wees, gedurig te bid, altyd dankbaar te wees, die waarheid te onderskei, vir sendelinge te bid en mekaar hartlik te groet (1Tess. 4-5). In die tweede brief het hy hulle beveel om vir hom te bid, om nie lui mense se sonde aan te moedig deur hulle te help nie, en om kerktug toe te pas (2Tess. 3).

Miskien oorweldig dit jou en wonder jy hoe jy alles in die Bybel gaan onthou, wat nog te sê van om dit toe te pas. Dit is hoekom jy gereeld hiervoor moet bid. Vra die Here om jou die Bybel te leer, om jou daaraan te herinner en om jou te help om dit toe te pas. Wees ook dankbaar dat Hy sy wil in tien maklike sinne opgesom het (die Tien Gebooie) en dat Hy dit nog verder afgebreek het in twee reëls: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” (Luk. 10:27).

In jouself kan jy dit nie doen nie. Wees dus dankbaar dat Jesus dit vir kom doen het en dat die Heilige Gees ons al hoe meer soos Jesus maak.

 

  1. Laat U Naam geheilig word (v.5)

Toe ek Vrydag Benoni toe ry, toe sien ek ‘n advertensie op ‘n lamppaal wat sê: ‘Where are you going with your life?’ Hulle het een of ander seminaar geadverteer. Dit is ‘n goeie vraag: waarheen is jou lewe op pad; waarvoor lewe jy? As jy nie lewe om die Here se Naam groot te maak en om Hóm te verheerlik nie, is alles tevergeefs en is jou lewe ‘n gejaag na wind. As jy my nie glo nie, kan jy wag vir jou begrafnis. Die dood sal jou in skaakmat sit en die mat onder jou uitruk. As jy egter vir die Here lewe, sal die dood die geroeste ou skoolbus wees wat jou voor die goue poorte van die hemel aflaai. Die dood sal dus nie jou grootste skat wegvat nie, maar dit in jou skoot laat beland (Fil. 1:21, 23).

As ons dan vir ewig in God se lieflike teenwoordigheid gaan wees, kan ons net sowel nou al daarvoor begin bid. Dit is wat Paulus vir die Tessalonisense gebid het: “Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus!” (v.5). Bid m.a.w. vir jouself en vir jou gemeente om God se liefde uit die diepste deel van jou menswees te verstaan (v.5, Rom. 5:5, Ef. 3:16-19). Dit is veral nodig wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit sal jou ook help om die Here meer lief te hê (1Joh. 4:19).

Ons moet ook op die lydsaamheid, of volharding van Christus fokus (v.5). Ons moet m.a.w. sien hoe Jesus deur moeilike tye vasgebyt het en sy voorbeeld volg (Heb. 12:1-2).

Het jy opgelet dat alles oor die Vader en die Seun gaan, en oor Heilige Gees (die Here, vgl. 2Kor. 3:17-18) wat ons help om op hulle te fokus? As ons lewens dan God-gesentreerd is, moet ons gebede nie anders wees nie. Vra die Heilige Gees om jou te leer om so te bid, asook om so te lewe. Ek kan persoonlik getuig dat my gebede, my lewe en die gemeente verander het, vandat ek sewe jaar gelede begin het om die Onse Vader as my gebedspatroon te gebruik. Ek wil jou aanmoedig om dieselfde te doen en om Paulus se voorbeeld in hierdie verse te volg.

 

[1] Quintus Septimius Florens Tertullianus, The Apology of Tertullian, Ch. 37

[2] John Jefferson Davis, Christ’s Victorious Kingdom: Postmillennialism Reconsidered (Laurel, MS: Audubon Press, 2006 [1986]), 68-69

[3] Aangehaal in N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2 (London: Grace Publications Trust, 2000

[4] Iain Murray, Revival & Revivalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994), 123-124, 74