Die Man van Sonde

Image result for man of sin

2Tessalonisense 2:1-12

Hierdie is seker die moeilikste teks in enige van Paulus se briewe. Miskien is dít wat Petrus bedoel het toe hy gesê het dat party van Paulus se briewe moeilik is (2Pet. 3:15-16). Met verwysing na 2Tess. 2:7-8 het Augustinus gesê: ‘I frankly confess I do not know what he means.’ [Augustine of Hippo (354-430 AD), The City of God, Book 20, Ch. 19]. George Eldon Ladd reken dat 2Tess. 2 Paulus se moeilikste hoofstuk is en dat enige interpretasie hiervan ‘n teorie is [Aangehaal in Kenneth Gentry, Perilous Times (Texarkana, Arkansas: Covenant Media Press, 1999), 95-96].

Daar is verse in hierdie gedeelte wat ek nie verstaan nie. Ek sal dus my bes doen om dit uit te lê en om die dele wat ek wél verstaan, toe te pas.

 

  1. Verwarring (v.1-2)

Kom ek begin deur te sê dat ek nie ‘n herboude tempel, of ‘n Antichris in die toekoms verwag nie. Ek glo eerder dat 2Tess. 2 in die eerste eeu vervul is. Laat my asb. toe om my standpunt te verdedig.

In 1Tessalonisense het Paulus baie na die wederkoms verwys. In 1Tess. 2:14-16 het hy egter melding gemaak van God se oordeel oor die Jode in 67-70 n.C. Maar wat het die verwoesting van Jerusalem en die tempel met die Tessalonisense te doen gehad? Alles, omdat die Jode die vervolging in Tessalonika aan die gang gesit het (sien Hand. 17:5-9).

Ek glo dus dat 2Tess. 2 die oordeel van 1Tess. 2:14-16 beskryf. ‘Hoe kan jy dit sê as 2Tess. 2 van die wederkoms praat?’ wil iemand weet. Eintlik beteken die Griekse woord [parousia] wat in v.1 met ‘wederkoms’ vertaal word net ‘koms’. Dieselfde woord word in v.9 gebruik om die koms [parousia] van die Man van Sonde te beskryf.

Wanneer Paulus in 2Tess. 1:10 van die wederkoms praat, gebruik hy ‘n ander Griekste woord: elthē. Dit blyk dus dat 2Tess. 1 oor Jesus se wederkoms handel, terwyl sy koms in 2Tess. 2 slegs teen die Man van Sonde is. Net soos wat Joël na meer as een ‘Dag van die Here’ verwys (Joël, 1:15, 2:1, 11, 2:31, 3:2, 14), praat Paulus van meer as een koms, of ‘Dag van die Here’ (v.2 en 1Tess. 5:2).

‘Maar v.1 sê dan dat Jesus ons gaan versamel,’ sê iemand. ‘Is dit nie dieselfde as in 1Tess. 4:17 waar Jesus ons vergader nie?’ Nee. Paulus gebruik verskillende Griekse woorde. In 2Tess. 2:1 gebruik hy die woord episunagōgē, waarvan ons die woord sinagoge kry. Dit beteken om saam te kom of te vergader. Dit word slegs hier en in Heb. 10:25 gebruik. In die Hebreërs-teks gaan dit oor mense wat die gemeente se samekomste misloop.

Hoekom gebruik Paulus dit in v.1; wat is sy punt? Wanneer Jesus die Man van Sonde en die tempel tot niet maak, sal die evangelie nog verder versprei, sodat Hy die nuwe sinagoge of tempel (die kerk) opbou en sy kinders versamel (v.1, Matt. 16:18, Joh. 10:16, Ef. 2:19-22).

Die Tessalonisense het dit nie mooi verstaan nie. Hulle het gedink dat Jesus reeds gekom het om wraak te neem oor die Jode (v.1-2, 1Tess. 2:14-16). Iemand het hulle verwar deur vals profesieë te gee en in Paulus se naam briewe te skryf (v.2). Hierdie persone het gesê dat die Dag van die Here teen Jerusalem, die Jode en die tempel reeds gekom het (v.2).

Weereens kan ek nie sien dat Paulus in hierdie verse van die wederkoms praat nie. Volgens 1:5-9 en 1Tess. 4:16 sal die wederkoms hard en duidelik wees, sal Jesus die dooies opwek, en sal Hy in vuur en vlam met al sy heilige engele kom. Het die Tessalonisense regtig gedink dat hulle hierdie geleentheid gemis het? Ek twyfel. Dit blyk dus dat 2Tess. 2 na ‘n ander Dag van die Here verwys.

Eintlik is dit nie eers die punt nie. Die punt is eerder dat jy niemand se lering moet aanvaar as dit met die Bybel bots nie (v.2). Baie gelowiges is lui wanneer dit by teologie kom. Hulle aanvaar enigiets wat hulle sensasie prikkel. Hulle heg meer waarde aan wat mense op Facebook en WhatsApp sê, as aan wat in die Bybel staan. Hulle sal byvoorbeeld eerder videos rondstuur wat sê dat die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Vrymesselaars en die Illuminati besig is om ‘n Nuwe Wêreld Orde te skep, as wat hulle ‘n kommentaar op Openbaring of 2 Tessalonisense sal deurwerk. Hulle is koerant-teoloë en nie Bybelse teoloë nie. Alhoewel dit nie ‘n verskil maak aan hulle redding nie, raak hulle onnodig bang (v.2). Vir húlle is die eindtyd iets om te vrees en nie iets om oor bly te wees nie.

 

  1. Kronologie (v.3-4)

Wat beteken kronologie? Swatch se Chrono-horlosie sê vir jou dat dit iets met tyd te doen het. Kronologie gaan oor die volgorde waarin sekere gebeure afspeel. Volgens Paulus sou die Dag van die Here nie kom, voordat die groot afvalligheid plaasgevind het nie (v.3). Om hierdie rede moes die Tessalonisense nie toelaat dat mense hulle mislei nie (v.3).

Wat is die groot afvalligheid? Ons kan nie dogmaties wees nie, maar kom ons probeer om dit te verstaan. Die Griekse woord vir afvalligheid is apostasia. Volgens die Jode in Hand. 21:21, het Paulus sy landgenote in heidense lande aangehits om van Moses afvallig [apostasia] te raak. Die Griekse vertaling van Esra 4:12, 15, 19 (die LXX) gebruik die woord apostasia van politieke afvalligheid; van mense wat hulle nie aan die koning wou onderwerp nie.

Die afvalligheid van 2Tess. 2:3 gaan waarskynlik oor Israel wat afvallig geraak het van die Here. Hulle het dit o.a. gewys toe hulle in opstand kom teen die Romeinse owerhede wat God oor hulle gestel het (Rom. 13:1-2). Josefus (37-100 n.C.) sê dat die Jode in opstand [apostasia] gekom het teen die Romeine [Flavius Josephus, Complete Works (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 2 [The Life of Flavius Josephus, Par. 4 & 10]. Translated by William Sanford LaSor.].

Gedurende hierdie tyd sou die Man van Sonde geopenbaar word (v.3). Wie is hy? Paulus noem hom die seun van die verderf (v.3, vgl. Matt. 23:15, Ef. 2:3). Hy was m.a.w. soos Judas in Joh. 17:12; ryp vir die hel (Matt. 26:24, Hand. 1:25).

In v.4 praat Paulus van die Man van Sonde as een wat teëstaan. Is dit omdat hy die Here teëgestaan het deur die vervolging van die kerk (vgl. Hand. 9:4-5, 1)? Ons weet dat die Romeinse keiser Nero van 64 tot 68 n.C. ‘n verskriklike vervolging teen die kerk geloots het [John L. von Mosheim, History of Christianity in the First Three Centuries, 2 vols., (New York: Converse, 1854), 1:138-139. Aangehaal in Gentry, Ibid., 130.].

Paulus sê ook dat die Man van Sonde hom bo elke sogenaamde god of voorwerp van aanbidding verhef (v.4, vgl. Jes. 14:13-14, Eseg. 28:2, Dan. 11:36-37, Hand. 12:21-23). Soos die Romeinse keisers voor hom, het Nero gedink dat hy ‘n god is. Sy raadgewer genaamd Seneca het hom oortuig dat hy die openbaring van die songod Apollo is [Gentry, Ibid., 107]. In Efese en Salamis is daar inskripsies wat sê dat hy die Almagtige God en die Verlosser is [Ibid., 108]. Toe ‘n sekere Thrasea hom nie wou aanbid nie, het Nero hom doodgemaak [Ibid., 109].

Iemand wat die geskiedenis ken, sal sê: ‘Nero het nie in die tempel gaan sit en gesê dat hy God is nie (v.4). Dus kan hy nie die Man van Sonde wees nie.’ Maar is dit wat die teks sê? Volgens Kenneth Gentry en C.F.D. Moule verwys ‘sodat’ [Gk. hōste] met die opeenvolgende infinitief na dít wat die Man van Sonde in gedagte gehad het en nie na dít wat hy fisies uitgevoer het nie (sien Luk. 4:29 vir dieselfde Griekse konstruksie) [Ibid., 107. Hoofteks, asook voetnota 36.]. Sy idee was dus om homself bo elke god verhef, sodat hy uiteindelik in die tempel kon sit om te sê dat hy die ware God (Jahwe) is. Jesus het hom doodgemaak nog voor hy sy begeerte kon uitvoer (v.8). Ná sy dood egter, het die Romeinse generaal Titus embleme bo die oostelike ingang van die tempel opgehang. Die Romeine het die embleme aanbid en offers daarvoor gebring [Josephus, The Wars of the Jews, Book 6, Ch. 6, Par. 1 and Editor’s Note].

Vandag nog is daar mense wat dink dat hulle God is. Die Mormone glo bv. dat hulle gode sal word. Prosperity predikers sê vir mense dat hulle gode is. Selfs in óns harte is daar soms die begeerte om God se plek te wil inneem (Gen. 3:5). Ons doen dit elke keer as ons sonde doen. Ons wil nie ‘n God hê wat vir ons sê wat ons moet doen nie. Ons wil ons eie god wees. As ons ons nie bekeer nie, sal God ons vernietig soos Hy die Man van Sonde verdelg het (v.8). Laat ons daarom die knie voor Hom buig en erken dat Hý die enigste Here is (Fil. 2:9-11).

 

  1. Kennis (v.5-7)

Sommige argumente kan jy soos ‘n veertjie omblaas. Ander is soos ‘n weermag tenk. 2Tess. 2:5-7 is ‘n tenk. Dit was die doodskoot wat my laat dink het dat die Man van Sonde in Paulus se tyd gelewe het. Paulus het die gemeente van hom vertel toe hy nog in Tessalonika was (v.5). Die gelowiges het geweet wie dit is wat gekeer het dat die Man van Sonde nóú op die toneel kon verskyn (v.6). Impliseer dit miskien dat hulle geweet wie die Man van Sonde is?

Wie was die een wat hom teëgehou het? Ek glo dat dit keiser Claudius was. Hy het geheers toe Paulus 2Tessalonisense geskryf het. Terwyl hy aan bewind was, kon Nero nie op die troon sit nie. Die Here se beskikte tyd het nog nie aangebreek nie (v.6). Die geheime werke van sonde was egter alreeds aan die werk (v.7). Die duiwel se antichriste het soos gis deur die wêreld versprei (1Joh. 2:18, 4:3). Nero se ma Agrippina, was ook besig om haar bose planne te smee. As sy vir Claudius uit die weg kon ruim (háár man en Nero se stiefpa), kon Nero die troon bestyg (v.7). Die Romeinse geskiedkundige Tacitus (56-120 n.C.) vermoed dat sý hom doodgemaak het deur hom giftige sampioene te voer [Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope (Phillipsburg, New Jersey: Presbyterian & Reformed Publishing, 1999), 232-233. Gentry, Ibid., 106. Publius Cornelius Tacitus, The Annals of Tacitus, Book 12, Par. 64-69].

Dalk wonder jy hoekom Paulus nie die twee keisers se name genoem het as húlle die teëhouer en die Man van Sonde was nie. Hy kon nie, omdat die Romeinse owerhede reeds die gelowiges van verraad teen die keiser verdink het (Hand. 17:7). Wat sou met hulle gebeur het as Paulus Claudius en Nero se name in sy brief genoem het en iemand dit moes onderskep? Hy én hulle sou hulle lewens verloor het.

Ek wil twee lesse in hierdie verse uitlig.

[1] Wanneer dit by die Bybel kom, is herhaling belangrik. Moenie te gou dink dat jy iets onder die knie het nie. Ons vergeet maklik (v.5, Ps. 106:7, 13, 21). Maak daarom seker dat jy aanhoudend besig is om die Bybel te bestudeer (2Pet. 1:12-15).

[2] Bose geeste en -mense kan nie doen wat hulle wil nie. Hulle kan nie die Here se planne omkrap nie, maar hulle is deel van die plan. Die Man van Sonde sou bv. op God se beskikte tyd geopenbaar word (v.6, vgl. Dan. 2:21, Hand. 1:7). Laat dit jou help om nie bang te wees nie.

 

  1. Koms (v.8)

Ek glo nie soos party vals leraars dat die wederkoms in 70 n.C. plaasgevind het nie. My reeks deur 1 en 2 Tessalonisense bewys dit. En tog glo ek nie dat die koms in v.8 van die wederkoms praat nie, maar dat dit soos die koms in Matt. 10:23, 16:28, 24:2-3, 34, Joh. 21:22-23 in die eerste eeu plaasgevind het.

Toe die teëhouer uit die weg geruim is, is die Man van Sonde geopenbaar (v.8). Nero se booshede is ongeëwenaar [Gentry, Ibid., 106, 129. Tacitus, Ibid., Book 15, Ch. 33-47. Gaius Suetonius Tranquillus [c. 69-122 AD], The Lives of the Twelve Caesars: The Life of Nero, Par. 26-27, 37]. Party van hulle was so wreed, dat ‘n mens dit nie in ordentlike geselskap kan noem nie. A.g.v. hierdie booshede het Jesus hom met die vurige asem van sy mond doodgemaak net soos wat Hy dit in Jes. 30:27-33 met die koning van Assirië gedoen het (v.8, vgl. Jes. 11:4). Nero het gedink dat hy ‘n god is (v.4), maar Jesus het gewys dat hy niks is nie (v.8). Hy het ook vir Robert Mugabe gewys dat hy niks is nie. Op die einde sal elke arrogante regering, president, landsburger en demoon weet dat Jesus die Koning van die konings en die Here van die here is (Op. 19:16). Laat dit jou troos in ‘n tyd soos hierdie.

 

  1. Verleiding (v.9-12)

Net soos wat skelms geld namaak, sou die Antichris, of die Man van Sonde Jesus namaak. Hy sou ook ‘kom’ en wonderwerke doen (v.9). Natuurlik was dit vals wonderwerke (v.9, Matt. 24:24, Op. 13:13). Die duiwel het Nero en baie ander mislei om te dink dat hy ‘n god is wat wonders kan doen (v.9). [Gentry, Ibid., 113]. Hy het bv. gedink dat hy bo-menslik sterk is soos die mitologiese Hercules. Suetonius sê:

‘he had planned to emulate the exploits of Hercules… they say that a lion had been specially trained for him to kill naked in the arena of the amphitheatre before all the people, with a club or by the clasp of his arms.’ (soos Simson in Rigt. 14). [Suetonius, Ibid., Par. 53].

Hoekom het enigiemand Nero se verleiding gevolg? Dit is omdat hulle self boos was (v.12, Rom. 1:32). God het toegelaat dat die duiwel hulle verlei, aangesien hulle nie die evangelie wóú glo om gered te word nie (v.10-12, vgl. 1Kon. 22:19-23, 1Kron. 21:1, Eseg. 14:9, 2Kor. 4:4).

Moet dan nie jou kanse weggooi om gered te word, om na die Here toe terug te keer, of om jou te bekeer as jy besig is met sonde nie. Nóú is die tyd om in Jesus te glo en om dinge met Hom reg te maak. As jy aanhoudend sy geduld toets, mag Hy jou dalk net aan jou sonde, of aan die verleiding van die duiwel oorgee.

Moenie sy geduld toets nie. Glo eerder in Hom en sy kruisdood vir sondaars. Op die ou end is dit al wat saakmaak. As Hý jou Verlosser is, maak dit nie saak of keiser Nero die Man van Sonde is, en of dit die Pous is nie. Die belangrikste is dat jy sal weet, nie die Man van Sonde is nie, maar wie Jesus is.