Oor die wederkoms en die hel

Related image

2Tessalonisense 1:5-10

Toe ek eenkeer die evangelie met ‘n dwelmverslaafde deel, toe reageer hy aggressief: ‘Daar ís nie ‘n hel nie. Die slegte dinge wat nóú met ons gebeur, is hel.’ Selfs Christene raak opstandig as hulle van die hel hoor. Deur die geskiedenis het mense teorieë uitgedink om die werklikheid van ‘n ewige hel te probeer wegredeneer.

Universialiste glo dat almal op die einde gered sal word, selfs al moes hulle eers in die hel ly. Mense wat aan die uitwissingsteorie vashou, sê dat die goddelose na ‘n paar jaar in die hel, of dadelik by die wederkoms, uitgewis sal word. Die Rooms-Katolieke Kerk glo in ‘n vagevuur waaruit jy kan ontsnap as jy genoeg vir jou sonde geboet het.

Hierdie teorieë is nie Bybels nie. Die hel is ‘n aaklige realiteit wat ons in die gesig moet staar. Wanneer Jesus weer kom, sal ons duidelik weet wie hel toe gaan en wie hemel toe gaan. 2Tess. 1:5-10 help ons hiermee.

 

  1. Geregtigheid (v.5-7a)

John Piper het onlangs in ‘n preek gesê dat sekere evangeliese groepe die toorn van God haat. Hulle word kwaad as iemand oor die hel preek en haat dit om te hoor dat God sy toorn oor sy Seun uitgestort het aan die kruis. Hulle verag die lied wat sê: ‘In Christ alone, my hope is found… Till on that cross as Jesus died the wrath of God was satisfied, for ev’ry sin on Him was laid…’

Dis asof hierdie mense die idee het dat God wreed is en dat Hy dit geniet om mense te straf. Hulle vergeet van God se trane en droefheid as Hy sondaars moet straf (Jes. 15:5, 16:9, 11, Luk. 19:41-42). Hulle vergeet dat Hy nie ‘n behae het in die dood van die goddelose nie (Eseg. 18:23, 32).

‘Hoekom straf Hy hulle dan as Hy dit nie geniet nie?’ wil iemand weet. Hy doen dit omdat Hy heilig en regverdig is. Hy haat sonde en kan nie toelaat dat ongeregtigheid seëvier nie. Hy kan nie ‘n blinde oog gooi as mense sy heiligheid verag en ander se lewens verwoes nie (Hab. 1:3, 13). Hy is nie ‘n korrupte Regter wat die misdadiger laat wegkom nie, maar ‘n regverdige Regter wat sal sorg dat reg geskied. Hy móét die sonde straf. ‘Punishment is the other half of sin.’ [James Denney, aangehaal in Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 and 2 Thessalonians (Leicester: Inter-Varsity Press, 1956, 1985), 119].

God sou die ongelowiges straf wat die Tessalonisense vervolg het (v.6, Sag. 2:8). Laasgenoemde het die vervolging geduldig verduur (v.4). Hulle het nie mense teruggekry nie, maar het dit vir die Here gelos. Hulle liefdevolle gesindheid was die bewys dat hulle God se kinders is en dat Hy hulle waardig geag het om die Koninkryk in te gaan (v.5). Hy het ook die vervolgers gebruik om hulle karakter te vorm en hulle vir die Koninkryk voor te berei (1Pet. 1:6-7).

Ek hoop jy kan sien hoekom die hel nodig is en hoekom niemand kan sê dat hy nie God se straf verdien nie. God sal niemand swaarder straf as wat hy verdien nie. In die hel sal elke mens weet: ‘Ek kry presies wat ek verdien’ (vg. v.6). In die hemel sal elke mens weet: ‘Ek kry wat ek nié verdien nie.’

Hoekom straf die Here ons nie na verdienste nie, terwyl hy ander mense vir hulle sonde in die hel straf? Wat maak ons anders? Genade; pure genade (1Kor. 4:7, Ef. 2:8-9). Deur sy kruisdood vir ons sonde het Jesus die weg van genade vir ons oopgemaak. Hý het die straf gekry wat óns verdien (Jes. 53:4-6, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Daardeur het Hy ons uit die hel geruk en die hemel se poorte geopen.

Hierdie geskenk is vir dié wat hulle bekeer, wat berou het oor hulle sonde en in Christus glo. Dit geld of jy homoseksueel is en iemand vermoor het, en of jy moreel groot geword het en ‘n getroue lidmaat van ‘n kerk is. Jesus het aan die kruis gesterf om prostitute én predikant te red. Hy het vir eenkeer vir ‘n godsdienstige leier gesê: “julle moet weer gebore word” (Joh. 3:7).

Is jy weer gebore? Ek hoop nie jy sê ‘nee’ nie, want “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh. 3:3). Roep in hierdie oomblik die Here aan en vra Hom om jou van jou sonde te reinig “deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit. 3:5).

Deur die goddelose te oordeel, bring die Here ook verligting vir sy kinders (v.7). Dit is een van die dinge wat die hemel hemels maak: Kain is nie meer daar om Abel te vervolg nie (1Joh. 3:12-15). Farao is nie meer daar om die Israeliete te verdruk nie. Die Fariseërs is nie daar om Jesus te kruisig nie. Die Rooms-Katolieke Kerk is nie daar om die Protestante te verbrand nie. Moslems, Hindoes, Boeddhiste, Kommuniste, ateïste, die LGBTQ+ beweging en ander ongelowiges is nie daar om die kerk te vervolg nie. Die duiwel en sy magte is nie daar om hulle aan te hits nie (Op. 20:7-10).

 

  1. Wraak (v.7b-9)

Baie mense het ‘n verdraaide beeld van God. Ateïste soos Richard Dawkins beskou Hom as ‘n monster wat links en regs straf. ‘n Liberale teoloog het by ‘n vergadering gesê: ‘Dit is onmoontlik dat die Engel van die Here in 2Sam. 24 na Jesus verwys. Jesus sal nooit mense so straf nie.’

Die kruis gee vir ons ‘n gebalanseerde beeld van God. Dáár sien ons sy liefde vir hopelose, helverdiende sondaars. In dieselfde kruis openbaar God sy heilige toorn teen die wêreld se sonde.

As jy in Jesus se kruisdood hoop, sal God se genade en liefde jou soos ‘n kombers toevou. As jy sy kruisdood verag, sal jy met ‘n kant van ‘liewe Jesus’ te doen kry wat jy nie geweet het bestaan nie. Hy sal in vuur en vlam uit die hemel neerdaal om wraak te neem oor sy vyande deur hulle met vuur te pynig (v.8, Jes. 66:15-16, Matt. 25:41, Heb. 12:29, 2Pet. 3:7, Op. 20:9-10, 14-15). Al sy magtige engele sal by Hom wees (v.7, Matt. 16:27, 25:31, Jud. 14). As Hy die goddelose klaar geoordeel het (Joh. 5:22, 27), sal Hy sy engele opdrag gee om hulle in die hel te werp (Matt. 13:41-42, 49-50).

Hy sal hulle straf, omdat hulle Hom nie as hulle Here wou erken nie (v.8, 1Tess. 4:5, Rom. 1:19-23, 10:9-10). Hulle was ongehoorsaam aan die evangelie-opdrag om hulle te bekeer en op Jesus te vertrou (v.8, Mark. 1:15, Joh. 3:36, Hand. 17:30, Rom. 2:8, 1Joh. 3:23). Omdat hulle Christus en sy offer vir sondaars verwerp het, moet hulle die prys vir hulle eie sonde betaal, naamlik die ewige hel. Volgens v.9 sal hulle “as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (v.9, vgl. Fil. 3:19, 1Tess. 5:3).

Die woord ‘verderf’ beteken nie dat God sy vyande uitwis nie. Dit is immers ‘n ewige verderf (v.9): ‘always dying, but never dead’ [Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 62]. Jesus praat van die ewige vuur wat nie geblus sal word nie (Matt. 25:41, Mark. 9:48). In Op. 14:11 staan daar: “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie”.

Totale uitwissing [Eng. annihilation] is ‘n mite. Die hel is so ewig soos die hemel (Matt. 25:46). Net soos wat die Here kon maak dat die bos in Eks. 3 nie uitbrand nie, of soos Hy kon maak dat Daniël se vriende nie in die vuuroond brand nie, kan Hy maak dat die goddelose vir ewig in die hel brand sonder om ‘klaar’ te brand.

‘Maar hoekom moet Ali of Klaas vir ewig hel toe gaan as hulle net vir 70 of 80 jaar gesondig het?’ wil iemand weet. Om ‘n muskiet of ‘n skaap dood te maak, is nie dieselfde as om ‘n mens dood te maak nie. ‘n Mens se lewe het meer waarde. Omdat God se lewe ‘n ewige waarde het, is die straf ewig vir dié wat teen Hom sondig. Die straf is ook ewig, omdat dié wat in die hel is vir ewig aanhou met hulle sonde (Op. 16:10-11, Mark. 3:29). Robert Murray McCheyne het oor die hel gesê: ‘the bars are the justice and holiness of God.’ [Sermons of M’Cheyne (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1961), 170].

Party mense ontken dat daar ‘n ewige hel is, omdat dit beteken dat daar vir ewig boosheid in die heelal sal wees. Soos ek dit verstaan wys die hel eerder dat God vir ewig heilig, toornig, regverdig en kragtig sal wees om die goddelose te straf (Rom. 9:22).

As daar nié ‘n ewige hel is nie, moet ons vra hoekom Jesus onder sy Vader se toorn aan die kruis gely het en waarvan Hy ons gered het? As daar nié ‘n ewige hel is nie, dan is daar ook geen straf vir Satan en demone nie. As daar nié ‘n ewige hel is nie, sal God se geregtigheid nie seëvier nie en sal mense soos Adolf Hitler wegkom met onberekenbare gruweldade.

Nog iets wat die hel erg maak, is dat die mense wat daar is weg sal wees van “die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (v.9, Matt. 7:23, 25:41). Aan die ander kant sê Op. 14:10 dat die goddelose gepynig sal word in die teenwoordigheid van die Lam en van sy heilige engele.

Hoe moet ons hierdie twee verse met mekaar versoen? ‘n Skotse teoloog genaamd R.A. Finlayson stel dit die beste: ‘Hell is eternity in the presence of God without a mediator. Heaven is the presence of God with a mediator.’ [Aangehaal in Ligon Duncan with J. Nicholas Reid, Fear Not: Death and the Afterlife from a Christian Perspective (Ross-Shire: Christian Focus, 2010), 94].

In die hel sal jy weg wees van die Here in dié sin dat jy nie ‘n druppel van sy goedheid sal geniet nie: geen meer vars lug, sonskyn, reën, koue water, lekker kos, partytjies, liefde, vriende, geselskap, gesondheid, ens. nie (Pred. 2:25, Matt. 5:45, Hand. 14:17, 17:25).

Jy sal egter ín sy teenwoordigheid wees in dié sin dat Hy vir ewig teenwoordig sal wees om jou te straf. Jy kan nie van Hom wegvlug nie, maar moet vir ewig in sy vurige oë inkyk (Ps. 139:8, Jer. 23:24, Amos 9:2).

Wat moet jy doen as die hel so erg is? Buiten dat jy vir die Here moet vra om jou te red, moet jy bang wees om sonde te doen (Matt. 5:29-30, 18:7-9, Heb. 12:14, Op. 21:8). Wees haastig om terug te keer as jy afgedwaal het.

Leer ook om nie self te wraak te neem nie, maar om dit vir die Here te los (Rom. 12:19). Hy weet hoe om te straf (Matt. 10:28, Jak. 4:12). Jou plig is om vir jou vyande te bid en te treur dat hulle hel toe gaan as hulle hulle nie bekeer nie (Rom. 9:2, 10:1, Luk. 23:34, Hand. 7:60).

Laat die realiteit van die hel jou ook aanspoor om die evangelie met mense te deel: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig” (2Kor. 5:11).

 

  1. Heerlikheid (v.10)

Elke donker wolk het ‘n silwer randjie. Hierdie hoofstuk lyk donker, maar eintlik skyn Christus se heerlikheid helderder as die son. Paulus se lering oor die wederkoms en die hel is positief. Hy probeer die Tessalonisense bemoedig deur te wys dat hulle nie vir ewig verdruk sal word nie, maar dat hulle Jesus in sy volle glorie sal aanskou.

Wanneer Jesus ons liggame opwek en verheerlik, sal ons sý heerlikheid weerspieël soos wat die maan die son weerkaats (v.10, Dan. 12:3, Matt. 13:43, 17:2, 2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2, Op. 1:16, vgl. Eks. 34:29-30, 35). Ons sal Christus se heerlike skoonheid bewonder (v.10, Ps. 45:3, Jes. 33:17, Joh. 17:24, kontra Jes. 53:2).

Jy kan nóú reeds iets van sy heerlikheid sien deur in Hom te glo (v.10, 2Kor. 4:6, 1Pet. 1:8-9). Enige gelowige wat naby die Here lewe, sal vir jou sê dat hulle al iets hiervan beleef het. Hulle het gesmaak en gesien dat die Here goed is. Hulle het ‘n stukkie van die hemel ervaar.

‘n Mens kan dit nie beskryf nie. Dit is beter as braaivleis, ‘n koel bries, ‘n swembad, ‘n vakansie by die see, ‘n groot koelteboom, vars vrugte, ‘n glas Coke en ‘n roomys in die somer. Dit is beter as ‘n kaggelvuur, ‘n kombers, ‘n beker warm sjokolade, ‘n kortbroek-naweek in die wildtuin, ‘n warm bad en jou lewensmaat wat jou vashou in die winter.

Dit is beter as kleurvolle blomme, voëls en visse.

Dit is beter as die mooiste musiek.

Dit is beter as Rolo.

Maar dit is nie beter as v.10 nie. Jesus se wederkoms en die nuwe aarde beter as al die dinge wat ek hierbo genoem het. Eintlik is dit beter as al hierdie dinge gelyk. Wag maar en sien vir jouself.