Ontmoet God se huisgesin

Related image

Romeine 16:1-16

Geslagsregisters en ‘n lys name is nie gewoonlik iets wat ons in ons stiltetyd lees nie. Ons dans ook nie van opgewondenheid as die predikant sy teks aankondig en dit een van hiérdie tekste is nie. En tog het God hierdie gedeeltes vir ’n rede in die Bybel laat opteken. Daar is diep lesse hieruit te leer, veral as jy jou in die eerste lesers se sandale plaas.

 

  1. Hulle is in Christus

Toe ek jare gelede hierdie term voor iemand gebruik het, toe vra die persoon: wat bedoel jy met in Christus? Wat beteken dit om in Christus te wees? Dit beteken dat jy aan Hom behoort, dat jy een is met Hom en dat Hy in jou woon. God het jou voor die skepping gekies om in Christus te wees (v.13, Ef. 1:4, 2Joh. 1, 13). Hy het jou in Christus gered en aangeneem om sy kind te wees (v.7, 11, Ef. 1:5, 7).

Omdat God ons as sy eie aangeneem het, moet ons dié wat in Christus is in die gemeente verwelkom (v.2). Prakties beteken dit dat ons nie ongelowiges as lidmate kan verwelkom nie.

Ons moet ook ons dienswerk in Christus doen (v.3, 9, 12). Soms wil Christene vir ‘n rukkie ophou om hulle gawe te gebruik, of permanent opgee, omdat hulle uitgeput voel. As jy dit egter in Christus doen en op sy krag vertrou, sal Hy jou help om nie uit te sak nie, maar om voluit oor die wenstreep te hardloop.

Ons moet mekaar ook in Christus liefhê (v.8). Jy moet ander gelowiges liefhê omdat hulle in Christus is (v.5, 8-9, 12) en nie bloot omdat julle goeie vriende is, of dieselfde belangstellings het nie.

Hoe weet jy of iemand in Christus is, of nie? Beproewing sal dit baie gou wys (v.10, 1Pet. 1:7). Wanneer dinge sleg gaan, val die vals gelowige weg, terwyl die ware gelowige in Christus volhard (v.10).

 

  1. Hulle is deel van die kerk

Die individue in Rom. 16 was deel van ‘n gemeente (v.5). Niemand in Paulus se tyd sou gemaklik by die huis gesit het om ‘kerk’ op TV te kyk, terwyl die res van die gemeente saamgekom het om die Here te aanbid nie. ‘n Gelowige wat homself van die gemeente afskei, is selfsugtig en soek net sy eie belang (Spr. 18:1, Heb. 10:25). God het die gemeente lief en wil hê dat jy deel daarvan moet wees (v.5, Matt. 16:18, Hand. 2:41, 20:28).

Die gemeente is God se familie. Ons is mekaar se broers en susters (v.1, 14, Matt. 12:50, 1Tim. 5:1-2). Ons is heiliges (v.2, 15). Dit beteken dat God ons afgesonder het om vir Hóm te lewe en nie meer vir die wêreld nie.

Is jy ‘n heilige, of is jy maar net ‘n Baptis, of ‘n Dopper? Is jy in Christus, sodat dit nie meer jý is wat lewe nie, maar Christus ín jou? Of het jy maar net die papiere van doop en lidmaatskap agter jou naam, terwyl jou huwelik en jou lewe by die skool, of by die werk nie anders lyk as die mense rondom jou s’n nie? Ek dring by jou aan om vandag in jou spore te stop, om na Christus toe te draai, om uit te roep dat Hy jou red, en om te vertrou dat Hy dit kán doen, omdat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars en op die derde dag opgestaan het uit die dood.

Indien jy weergebore is en nog nie deel is van die gemeente nie, wil ek jou aanspoor om deel te word (v.2). Word deel van God se huisgesin, die kerk (1Tim. 3:15).

Ons moet ook leef as mense wat deel is van die groter liggaam van Christus (v.4, 16). Om outonoom te wees beteken nie dat ons eenkant op ons eie is nie. Om onafhanklik te wees is nie Bybels nie. Ons moet eerder interafhanklik wees. Dit sal help as ons inter-gemeentelike kampe en konferensies bywoon, sodat ons gelowiges uit ander gemeentes kan ontmoet. Die jaarlikse Paaskamp te Cornelia bied jou die geleentheid om ander gemeentes te leer ken. Konferensies soos die Shepherds’- of Rezolution Conference is ook goed.

 

  1. Hulle is ’n breëspektrum van individue

God se huisgesin is soos ‘n kaleidoskoop waarin jy verskillende kleure en patrone sien as jy dit draai. Sy huisgesin bestaan uit mans en vroue, oud en jonk, mense wat onlangs óf lank terug tot bekering gekom het, getroudes, enkellopendes, weduwees, broers en susters, families, mense van ander provinsies en lande, bruin mense, swart mense, wit mense, ryk mense, arm mense, mense met ‘n losbandige verlede, mense wat in ‘n Christelike huis groot geword het en baie ander. Kom ons werk een vir een deur die spektrum.

Paulus noem baie mans in hierdie verse. Hy gee ook erkenning aan vroue. In God se huisgesin is daar nie plek vir mans wat vroue onderdruk, of vir mense wat saam met die feministe uitroep dat mans sleg is nie. In God se oë is mans en vroue ewe waardevol (Gen. 1:26-27).

Kom ek vertel jou van ‘n paar vroue. Febe was ‘n dienares van die gemeente in Kenchreë (v.1). Paulus het haar aanbeveel, sodat die gemeente nie moes dink sy is ‘n uitbuiter wat net hulle geld soek nie (v.1). Volgens die Griekse teks was sy ‘n diaken van die gemeente in Kenchreë (v.1, 1Tim. 3:11, 8). Waar die ouderlinge die geestelike leiers was wat lering gegee het (1Tim. 3:2, 5:17, Hand. 20:28, 1Pet. 5:1-3) het die diakens na mense se fisiese behoeftes omgesien (Hand. 6:1-6). Hulle sou bv. die siekes besoek, of vir die armes kos vat. In ons gemeente is Ansi, Gerdha, tannie Anna en tannie Nellie soos Febe. As barmhartigheid jou gawe is, kan jy by hulle kers opsteek.

Priscilla is nóg ‘n vrou wat die Here getrou gedien het (v.3). Paulus het op ‘n stadium by haar en haar man Aquila gebly, omdat hulle tentmakers was soos hy (Hand. 18:1-3). Sy en haar man het die Bybel goed genoeg geken om ‘n prediker te help om die waarheid beter te verstaan (Hand. 18:26). Uit die ses kere wat hulle name in die Bybel voorkom, word Priscilla s’n vier keer eerste genoem. Miskien wys dit dat sy geestelik meer prominent was as Aquila.

Paulus noem twee ander persone wat bo die res uittroon. Die een se naam was Andronicus wat ‘man van oorwinning’ beteken (v.7). Die ander een se naam was Junia of Junias (v.7). Die vroeë kerkvaders was nie seker of dit ‘n man of ‘n vrou was nie [Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 909 n.7]. Dit mag wees dat Andronicus en Junia ‘n getroude man en vrou was.

Volgens Paulus was hulle Jode wat voor hom tot bekering gekom het en uitstaande was onder die apostels (v.7). Hy sê nie dat hulle apostels wás nie, maar dat die apostels hulle as gelowiges van die hoogste gehalte erken het. Indien Paulus bedoel het dat hulle apostels wás, is dit vreemd dat ons nie weer in die Bybel van hulle lees nie. Buitendien sou dit teen 1Tim. 2:11-15 en die skeppingsorde wees vir ‘n vrou om ‘n geestelike leier te wees. Moet egter nie toelaat dat dit jou terughou nie. Febe het nie (v.1-2). Priscilla het nie (v.3-5). Maria het nie (v.6). Trifena en Trifosa het nie (v.12). Persis het nie (v.12). Rufus se ma het nie (v.13). Julia en Nereus se suster het nie (v.15).

Wees bo-gemiddeld soos hulle. Jy het nie minder hulpmiddels en geleenthede as die mans wat vir die Here werk nie (Hand. 2:17-18, Gal. 3:28, 1Pet. 3:7). Wees betrokke in die gemeente. Werk hard. Gebruik jou gawe. Groei in jou kennis van die Bybel. Spandeer tyd in gebed. Dien jou broers en susters.

Let asb. op dat daar in die gemeente van Rome mense uit dieselfde gesinne of families was (v.3, 10-13, 15). In ons eie gemeente is daar gesinne en families wat saam die Here dien. Ek het onlangs begin bid dat die Here nie net mense deur ons straat evangelisasie sal red nie, maar dat Hy die ongeredde persone in ons gesinne en families sal red.

God se huisgesin bestaan verder uit mense wat van verskillende streke af kom. Febe was van Kenchreë, die Oostelike hawestad van Korinte (v.1, Hand. 18:18). Kenchreë bestaan vandag nog as Kechries wat omtrent 10 km van Korinte af is. Aquila was ‘n Jood uit Pontus in Noord-Turkye teen die Swart See (v.3, Hand. 18:2). Andronicus, Junias en Herodion was ook Jode; Paulus se stamgenote (v.7, 11, 9:3). Persis se naam beteken ‘vrou van Persië’ (v.12). Sy was m.a.w. van hedendaagse Iran afkomstig.

Rufus was van Cirene in Libië (v.13). Dit word algemeen aanvaar dat hy Simon van Cirene se seun was: “En hulle het ’n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, die vader van Alexander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra.” (Mark. 15:21). Sommige kommentators dink dat Simon van Cirene en swart Simeon van Hand. 13:1 dieselfde persoon is (vgl. Hand. 11:20). In daardie geval was Rufus ‘n swart man. In God se huisgesin maak dit egter nie saak wat die kleur van jou vel is nie: solank jy in Christus is.

Rom. 16 verwys ook na slawe en mense wat uit ‘n koninklike bloedlyn kom. Hermes was ‘n algemene naam onder slawe (v.14), terwyl beide Aristobulus en Herodion met koning Herodes se huishouding geassosieer word (v.10-11, [F.F. Bruce, Tyndale New Testament Commentaries: Romans (Leicester: Inter-Varsity Press, 1963, 1985), 259-261]). Die geskiedenis praat van ‘n sekere Narcissus wat ‘n invloed op keiser Claudius gehad het. Sommige dink hý die Narcissus van v.11 is.

Dan was daar ook mense wat gebore is in gesinne waar hulle afgode gedien het. Febe, Apelles, Hermes, Nereus en Julius se name is afgelei van Griekse en Romeinse afgode (v.1, 10, 14-15). Die Here het hulle gered en sy eie gemaak.

Urbanus se naam beteken ‘uit die stad’, terwyl Stachis se naam ‘koringaar’ beteken (v.9). Urbanus was ‘n stadsjapie, terwyl Stachis moontlik van ‘n koringplaas af kom.

Die wye verskeidenheid van individue in God se huisgesin beteken nié dat ons ons arms moet oopgooi vir sonde nie. Sondaars van elke soort is welkom om ons eredienste by te woon, sodat hulle die evangelie kan hoor. Ons kan hulle egter nie as lidmate verwelkom, totdat hulle hulle bekeer het nie. Dit beteken bv. dat ons nie gays as gelowiges gaan beskou, net omdat die NG-Kerk en die regering vir ons sê ons moet nie.

 

  1. Hulle dien mekaar

Omtrent 14 jaar gelede het ‘n besoeker aan ‘n Baptistekerk in Johannesburg gesê: ‘Die liefde onder hierdie mense is tasbaar.’

Om te sê jy is lief vir iemand is maklik. Om dit te wys is ‘n ander storie (1Joh. 3:18). Paulus het die gelowiges in Rome gevra om hulle liefde op praktiese maniere te wys: “dat julle haar [Febe] ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê.” (v.2).

Febe het nie bakhand gestaan en bedel nie. Sy het Paulus en baie ander uit haar welvaart gehelp (v.2, Gk. prostatis). Ons moet mekaar só liefhê. In die eerste plek moet ons mekaar vriendelik verwelkom (v.2). Die ou lidmate moet die nuwes verwelkom en andersom. Groet mekaar hartlik en vriendelik. In Paulus se tyd het hulle dit gedoen deur mekaar op die wang te soen (v.16, 1Kor. 16:20, 2Kor. 13:12, 1Tess. 5:26, 1Pet. 5:14). Dit was ‘n heilige soen; daar was niks lelik aan nie (v.16).

As Paulus in Japan geleef het, sou hy gesê het hulle moet bly wees as hulle voor mekaar buig. Vir ons sou hy gesê het: ‘Wees bly wanneer julle mekaar se hande skud.’ Moet asb. nie in jou sitplek wag vir ander mense om jóú te groet nie. Staan op en groet mekaar vriendelik. Luister hoe dit met die persoon gaan. Doen iets omtrent die situasie as jy die middele het (v.2). ‘n Gebed en ‘n Bybelversie is ‘n goeie begin, maar moet asb. nie daar stop nie (Jak. 2:15-16, 1Joh. 3:17).

Daar is hope maniere hoe jy jou liefde vir Christus en die gemeente kan wys. Party gelowiges sal hulle huise oopmaak om daar ‘kerk’ te hou (v.5, 14-15, 1Kor. 16:19, Kol. 4:15, Filem. 2). Ander sal saam met die sendelinge werk en hulle lewens waag om mense vir die Here te bereik (v.3-4, 7, 9). Ander sal hard werk om die gemeente te dien (v.6, 12). Ander sal onthou om dankie te sê vir wat jy vir hulle en die gemeente doen (v.2, 4, 6, 12-13). Ander sal onthou om vir jou te sê dat hulle jou liefhet (v.5, 8-9, 12). Ander sal vir jou soos ‘n ma wees: kos, drukkies, geskenke en baie gebed (v.13).

***

Dit is dan God se huisgesin. Ons weet nie wie die meeste van hierdie mense was nie, maar dit maak nie saak nie. Wat saakmaak is dat die Here hulle geken het (Gal. 4:9). Ken Hy jou? Is jóú naam êrens op só ‘n lys in die hemel opgeteken?

Advertisements