Die aanneemlike offers van geld en gebed

Image result for money for missions

Romeine 15:22-33

Wanneer kinders klein is, gee hulle vir jou vreemde geskenke. Hulle sal bv. ‘n geskenksakkie laai met koper munte, ‘n ou horlosie, ‘n verlepte roos, ‘n prentjie wat hulle ingekleur het en ‘n Lego mannetjie. Omdat hulle dit egter opreg bedoel, waardeer jy dit meer as die boks sjokolade, of die bos blomme van ‘n kliënt met wie jy nie eintlik bevriend is nie.

Wanneer ons vir die Here se werk gee en daarvoor bid, moet ons dit opreg doen. Dit gaan nie oor hoe vet jou beursie is, of oor hoe elegant jy bid nie. Die vraag is of jy dit opreg doen. Doen jy dit vir Jesus se eer, sodat Hy bekend kan word onder die nasies? Of doen jy dit om gesien te word?

As jy met verkeerde motiewe vir die Here se werk bydra en daarvoor bid, is dit vir Hom ‘n gruwel. Wil jy hê dat jou offers van geld en gebed vir Hom aanneemlik moet wees? Volg die patroon in Rom. 15:22-33.

 

  1. Geld (v.22-29)

‘n Evangelis het my onlangs van sy finansiële krisis vertel. ‘Ek weet nie of dit reg is om gemeentes vir geld te vra nie,’ het hy gesê. Ek het hom uit Rom. 15:24 gewys dat Paulus vir geld gevra het. Ek het egter bygevoeg dat hy ‘n verhouding met die gemeentes moet bou, sodat hulle hom kan leer ken. Niemand wil vir ‘n sendeling geld gee as hy hom van geen af ken nie, veral as hy ons net besoek om geld te vra.

Paulus het ‘n goeie verhouding met die Romeine gehad. Hulle het sy strategie geken en presies geweet waarvoor hulle geld gaan. Hy het reeds in v.19 verduidelik hoe hy die evangelie in Oostelike helfte van die Romeinse Ryk verkondig het. Hy het gemeentes in die groot stede geplant. Nou was dit húlle taak om die evangelie na die omliggende gebiede toe vat.

Dit is ook hoekom die Here Paulus gekeer het om Italië en Spanje toe te gaan (al wou hy dit vir baie jare doen): hy moes eers sy werk in die Oostelike deel van die Ryk afhandel (v.22-23, 1:13, Hand. 16:6-10). Toe hy dít voltooi het, kon hy die Goeie Nuus aan die onbereikte volke van die Weste verkondig (v.20-24).

Wat was sy plan? Hy wou nie die leraar van ‘n gemeente wees nie. Hy was ‘n sendeling in murg en been en wou dus net vir ‘n kort rukkie by die Romeine stop om hulle se geselskap te geniet, verkwik te raak en hulle finansiële hulp te verseker (v.24). Daarna wou hy verder na Spanje toe reis, sodat hy Jesus met die onbereiktes kon deel (v.20-21, 24, 28).

Miskien klink dit vir jou voor op die wa dat hy geld gevra het. Maar onthou asb. dat dit nie vir hom oor ‘n privaat straler of ‘n Rolls Royce gegaan het nie. Hy wou eerder die onbereiktes vir Christus bereik. Daarvoor sal ek enige dag my geld gee. Ons behoort ook die gemeente se fondse hiervoor aan te wend. As dit net oor sosiale werk gaan, is ek nie te gretig om die gemeente se geld uit te deel nie. Ek sê nie dat ons nie vir die armes moet omgee nie.

Die punt is eerder dat ons moet onthou waarvoor die Here ons geroep het. Ons bestaan in die eerste plek om die evangelie aan die nasies te verkondig. Laat ons dit onthou, sodat ons nie in ‘n sosiale klub verander wat maar net kos en komberse vir mense gee nie. Dit is immers moontlik om met ‘n vol maag en ‘n warm liggaam in die hel te beland.

Mense benodig die Brood van die Lewe voordat hulle brood vir die liggaam benodig (Joh. 6:26-27, 35). Gee dus vir die arm persoon iets om te eet, maar moet asb. nie vergeet dat sy grootste behoefte nie sy maag is nie, maar sy siel. Gee dan ten eerste jou geld om sy siel te versadig en nie net sy liggaam nie.

Omdat ons graag mense se siele wil versadig, het die ouderlinge besluit om ekstra sendelinge aan boord te neem en ons bestaande sendelinge se ondersteuning met ‘n aansienlike bedrag te vermeerder. Ons doen dit op grond van Rom. 15:24, Fil. 4:19, 3 Joh. 8 en soortgelyke tekste. Al wat ons vra, is dat die gemeente vir ons die groen lig sal gee. Ek wil jou ook vra om op ‘n gereelde basis hiervoor by te dra. Indien jy nie vir die sendelinge wil gee nie, herinner ek jou aan 1Kor. 9:14: “So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.”

Alles wat jy besit behoort aan die Here en daarom huiwer ek nie om jou aan sy opdragte te herinner nie. Hy beveel ons om die sendelinge te ondersteun. Hy wil ook hê dat ons vir arm gelowiges moet gee (v.25-27, Matt. 25:40, Jak. 2:15-16).

Paulus was by meer as een geleentheid by so ‘n inisiatief betrokke. In Hand. 11:27-30 het hy van Antiochië se kant af ‘n bydrae vir die arm gelowiges in Jerusalem gegee. Rom. 15 gaan oor ‘n bydrae wat die heidene in Macedonië, Agaje en ander gebiede vir die arm gelowiges in Jerusalem gestuur het (v.26, 1Kor. 16:1, 2Kor. 8-9, Gal. 2:10). Paulus wou hierdie bediening afhandel, voordat hy die gelowiges in Rome kon besoek en Spanje toe kon gaan (v.25, 28).

Hoekom was die gelowiges in die Jerusalem arm? Is dit miskien omdat hulle Jesus se voorspellings oor die verwoesting van Jersualem ernstig opgeneem het en hulle besittings verkoop het om dit met mekaar te deel (Hand. 2:45, 4:34-37, Matt. 24:1-2, Luk. 21:20-24)? Het die vervolging hulle miskien arm gemaak, omdat hulle hulle huise, families en werke verloor het (Hand. 8:1, 11:19, 26:10, Heb. 10:34, 13:3, vgl. Op. 2:9-10). Het hulle dalk nog die gevolge van die hongersnood onder keiser Claudius gevoel (Hand. 11:28)?

Hoe dit ookal sy, daar is geldige redes vir hoekom hulle arm was. As iemand in die gemeente egter tekort het omdat hulle lui is, moet ons hulle nie help nie (2Tess. 3:10). Ons moet eerder kerkdissipline toepas (2Tess. 3:6, 11-15). Om vir so iemand geld te gee gaan hom nie help nie. Dit sal hom net aanmoedig om lui te wees en die wêreld aanhits om sleg te praat van Jesus.

Let asb. op dat dit vir die gemeentes van die heidene ‘n plesier was om iets by te dra vir die gelowiges in Jerusalem (v.26-27). Niemand het hulle gedwing om te gee nie: hulle wóú bydra (2Kor. 8:4, 8, 12, 9:5, 7).

Ons moet met hierdie selfde gesindheid vir die Here se werk gee. Niemand dwing jou om te gee nie. Ons sê nie vir mense dat hulle ‘n wonderwerk, of rykdom kan verwag as hulle vir die kerk gee nie. Ons besoek nie mense om seker te maak dat hulle vir die kerk gee nie. Ons hou nie kermisse om geld in te samel nie.

Ons gee eerder vir die Here se werk, omdat ons Hom liefhet en omdat ons sy saak wil bevorder. Ons gee nie omdat ons móét gee nie, maar omdat ons wíl gee: “God het ‘n blymoedige gewer lief.” (2Kor. 9:7).

Hierdie verse leer ons ook om nie net na ons eie huis om te sien nie, maar om gemeentes wat sukkel te ondersteun. Ek het ‘n kollega wie se vrou kanker het en wie se seun onlangs oorlede is. Boonop bedien hy nog ‘n klein gemeente wat hom nie ten volle kan onderhou nie. Die Bybel beveel ons om sulke leraars en hulle gemeentes te ondersteun. Is dit nie ons plig om so te doen as die Here ons geldsake seën en aan ons die vermoë gee om by te dra nie? Hoe kan ons weet dat ‘n bedienaar van die evangelie nood het en anderkant toe kyk?

In Paulus se geval was die heidene dit aan die Jode verskuldig om hulle te ondersteun (v.27). Die heidene het immers tot bekering gekom deur die evangelie wat vanuit Jerusalem na die res van die wêreld toe versprei het (v.27, Hand. 1:8, 8:4, 11:19-26). Omdat die Jode dan geestelike seën vir die heidene beteken het, was dit nie te veel gevra dat die heidene hulle materiële voorspoed met die Jode moes deel nie (v.27).

Dit is ‘n Bybelse beginsel: dra materieel by vir die mense wat hulle lewens daaraan wy om jou geestelik te bevoordeel en wat die volle seën van die evangelie van Christus na jou toe bring (v.29, 1:11, 1Kor. 9:11, Ef. 1:3). Ek probeer nie ‘n salaris vir myself verseker nie, maar wil eerder dankie sê dat die gemeente my en my gesin op hierdie einste Sondag reeds vir 15 jaar lank onderhou. Ek weet dat my salaris van die Here af kom, maar Hy gebruik mense. Dankie dat julle tekste soos Rom. 15 ernstig opneem. Mag die Here julle met skatte in die hemel beloon en julle eie finansies ryklik seën:

“Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” (2Kor. 9:6).

“Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening.” (Fil. 4:17).

 

  1. Gebed (v.30-33)

Het jy al ooit vir ‘n bedelaar geld gegee, sodat hy onder jou voete kan uitkom? Soms gee ons ook so vir sendelinge: ons gooi iets in die sakkie, sonder om eers te wonder hoe dit eintlik met hulle gaan. Ons weet nie of enigiemand onder hulle bediening tot bekering kom nie. Ons bid min, of nooit vir die werk wat hulle op die sendingveld doen nie.

Dit is nie veronderstel om so te wees nie. Ons moenie net ons geld stuur nie, maar ons moet vir hulle bid. Deur die gesag van Jesus en die liefde van die Gees wat in Paulus en die gemeente gewerk het, het hy hulle gevra om vir hom te bid (v.30, vgl. 2Kor. 1:11, Ef. 6:19-20, Fil. 1:19, Kol. 4:3-4, 2Tess. 3:1-2, Filem. 22).

Bid ons vir die sendelinge? Of is ons traag om dit te doen? Hoekom kom baie van ons mense nie bidure toe om vir die verspreiding van die evangelie te bid nie? Is dit miskien omdat gebed harde werk is en omdat ons geestelik lui is (v.30, Kol. 4:12)? Ons wil die duiwel en sy magte met ‘n gebedjie oorwin. Ongelukkig werk dit nie so nie. Om die werk van die evangelie te bevorder, moet ons ernstig bid.

Toe ons verlede naweek in die strate was, het ons teenkanting gekry. Ons gaan dringend moet bid as ons mense uit die vangnet van die duiwel wil bevry. Ons benodig julle gebede om ons teen slegte mense te beskerm.

Paulus het die Romeine gevra om te bid dat die Here hom teen die ongelowige Jode in Judea moet beskerm (v.31, 2Tess. 3:2, vgl. Hand. 22:21-22). Hy was bang dat hulle sy reisplanne om Italië en Spanje toe te gaan, in die wiele gaan ry (v.32).

Uit Hand. 21 lyk dit of sy gebede nie beantwoord is nie, aangesien die Jode hom gevang het. Let egter op dat die Romeine hom in die tronk gesit het en dat die Here hom op hierdie manier teen die Jode beskerm het! Die Romeine het hom ook gratis Rome toe gestuur (Hand. 21-27)! God doen inderdaad ver bo alles wat ons kan bid of dink (Ef. 3:20). Moet daarom nie moed verloor as die Here nie onmiddellik en presies antwoord soos wat jy verwag het nie.

Paulus het ook begeer dat die gelowige Jode die finansiële offer van die heidene moes aanneem (v.31). As hulle dit aanvaar het, kon hy met ‘n blymoedige hart Rome toe gaan (v.32). Maar wat as hulle dit nie aanvaar het nie, omdat dit van die ‘onrein’ heidene af gekom het? Hoe groot moes Paulus se blydskap nie gewees het toe die gelowige Jode hom met oop arms verwelkom het nie (Hand. 21:17-20a)?

Op die einde het hy volgens God se soewereine wil Rome toe gereis en is hy deur hulle geloof bemoedig (v.32, 24, 1:12, 1:10, Hand. 28:15, Jak. 4:13-15). Hy het nie net vir ‘n kort tydjie oorgebly soos hy beplan het nie (v.24). Omdat hy onder huisares was, het hy die evangelie vir twee jaar in die stad verkondig (Hand. 28:30-31).

Was hy ooit Spanje toe? Volgens Clement van Rome (35-99 n.C.) het Paulus die evangelie in die verre Weste van die Romeinse Ryk verkondig [Clement of Rome, The First Epistle of Clement to the Corinthians, Chapter 5:7 (translated by Charles H. Hoole, 1885)]. Dus is die kanse goed dat hy in Spanje was en dat hy die evangelie daar verkondig het (v.24, 28).

Wat sou hy gesê het as hy geweet het dat die evangelie die suidpunt van Afrika bereik het? Hy sou bly gewees het. Maak dit jóú hart bly? Of leef jy met die evangelie rondom jou—in jou huisgesin, in jou familie en in die gemeente—sonder dat jy gered is? Weet jy van Jesus se volmaakte karakter, sy perfekte lewe, sy kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, sonder dat jy Hom liefhet en vir Hom lewe? Om jou geld en gebede vir die Here te offer beteken niks as jy nie ook jou lewe vir Hom gee nie (12:1). Dit sal wees soos ‘n afwesige pa wat vir sy kinders duur geskenke koop, maar nooit tyd met hulle spandeer nie.

Die Here soek in die eerste plek nie jou geld, of jou roetine gebede nie—Hy soek jóú. As jy jouself aan Hom toewy, sal jou offers van geld en gebed vir Hom aanneemlik wees.

“En die God van vrede sy met julle almal! Amen.” (v.33).

 

Advertisements