Volkome heiligmaking

Image result for sanctification

1Tessalonisense 5:23-28

Om heilig te wees beteken dat God jou uit die wêreld afsonder om vir Hom te lewe. Heiligmaking verwys na die proses waardeur jy al hoe minder vir die wêreld lewe en al hoe meer vir die Here. God gee aan jou die begeerte en die vermoë om so te lewe, terwyl jý dit moet najaag (Fil. 2:12-13, Heb. 12:14).

Die proses van heiligmaking sal nie in hierdie lewe voltooi wees nie. Jy sal nie nóú al sondeloos wees soos wat John Wesley geglo het, of soos wat verskeie heiligheidsbewegings in ons tyd glo nie [Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1970), 316-319]. Ek was by ‘n jeugbyeenkoms waar die spreker gesê het dat dit moontlik is om in hierdie lewe sondeloos te wees. Volgens die Bybel sal ons eers volkome heilig wees wanneer Jesus kom (Fil. 3:11-14, 1Tess. 5:23, 1Joh. 3:2). As ‘n gelowige sterf, vergaan sy liggaam en word sy gees volmaak in die hemel (Heb. 12:23). Dit is egter eers by die wederkoms wat Jesus sy liggaam verheerlik en die proses van heiligmaking voltooi.

Die Here sal dus sorg dat ons op die einde volmaak heilig is, maar Hy gaan nie namens ons gehoorsaam wees nie. Ons moet dit self doen. In 1Tess. 5:23-28 gee Paulus die balans tussen Gód se deel en óns s’n in die proses van heiligmaking. Die twee oorvleuel ‘n bietjie, maar ons kan die verse min of meer soos volg indeel:

 

  1. Gód se deel (v.23-24)

Die ou Sondagskool liedjie sê: ‘Lees jou Bybel, bid elke dag, bid elke dag, bid elke dag; lees jou Bybel, bid elke dag en jy sal groei, groei, groei.’ Dit is nie waar nie. Die Jode het gereeld die Bybel gelees en gebid, maar dit het hulle niks gehelp nie (Jes. 1:15, 58:2-3, Matt. 6:5, Luk. 18:11-14, Joh. 5:39, 2Kor. 3:15).

Jy word nie heilig deur geestelike dinge te doen nie. Om waarlik heilig te wees, moet die Here jou heilig maak. Hy gebruik wel dinge soos die Woord en gebed, maar sonder Hom help jou stiltetyd niks. Dit hoekom Paulus die Here vra om ons heilig te maak (v.23). Hy verwys na Hom as die God van vrede (v.23, Rom. 15:33, 2Tess. 3:16), omdat Hy deur Jesus se kruisdood die inisiatief geneem het om ons met Homself te versoen, en omdat sy Gees die vrede in ons harte bewerk (Gal. 5:22, Kol. 1:20).

Paulus bid dat die Here persoonlik betrokke sal wees om ons heilig te maak (v.23). Hy vra Hom ook om dit volkome te doen (v.23). Hy sal die hele mens heilig maak—na liggaam, siel en gees—en sal dit tot aan die einde doen (v.23). “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, [sal] dit…voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil. 1:6).

Ek dink nie Paulus probeer sê dat die mens uit drie dele bestaan nie, net soos wat Jesus in Luk. 10:27 nie bedoel dat ons uit vier dele bestaan nie. Paulus wil eerder die volkomenheid van die mens beklemtoon: God sal die hele mens tot by die wederkoms bewaar. Soos ek die Bybel verstaan, bestaan die hele mens uit twee dele en nie uit drie nie. Die liggaam is die uiterlike mens, terwyl die innerlike mens uit die siel of die gees bestaan.

In die Bybel is terme soos siel, gees, hart en verstand sinonieme, net soos wat insettinge, gebooie, wette, verordeninge, instruksies en bevele in Psalm 119 een en dieselfde Woord van God beskryf.

Mense wat glo dat jou gees en siel verskillend is, sal sê dat jy die Here met jou gees aanbid, terwyl jou siel uit jou wil, jou emosies en jou intellek bestaan. Sover ek egter kan agterkom, tref die Bybel nie hierdie onderskeid nie.

Volgens die Bybel voel jou gees emosie (Ps. 34:19, 51:19, Spr. 17:22, Joh. 13:21, Hand. 17:16) en voel jou siel emosie (Ps. 35:9, 42:2-3, 6, Luk. 10:27, Joh. 12:27). Jou gees kan dink (Mark. 2:8, Rom. 8:16, 1Kor. 2:11) en jou siel kan dink (Ps. 13:3, 139:14, Spr. 2:10, Klaagl. 3:20). Jou gees kan sonde doen (Deut. 2:30, Ps. 78:8, Spr. 16:2, Jes. 29:24, 2Kor. 7:1) en jou siel kan sonde doen (Eseg. 18:4, 1Pet. 1:22). Jou gees aanbid die Here en jou siel aanbid die Here (Ps. 103:1-2, Luk. 1:46-47, Joh. 4:24). Selfs ons liggame (die brein) is op ‘n manier betrokke met ons emosies, ons wil, ons intellek en aanbidding (Rom. 6:12-13, 12:1, 1Kor. 6:19-20).

Die punt is dat ons die Here met ons hele menswees moet liefhê (Luk. 10:27) en dat Hy ons volkome sal bewaar tot by die wederkoms (v.23). Hy sal jou liggaam en jou siel of gees van die Bose bewaar (Ps. 121, 2Tim. 4:18, Jud. 1, 24). Selfs as jy gesterf het, sal Hy jou liggaam en jou siel bewaar. Al vergaan jou liggaam in die graf, bly dit nog sy eiendom en is dit een met Hom (4:16, Rom. 14:8). Jou siel of gees sal ook behoue bly in die hemel nadat jy gesterf het (Hand. 7:59, Kol. 3:3, Heb. 12:23, Op. 20:4). Wanneer Jesus weer kom, sal jou gees of siel saam met Hom uit die hemel terugkeer (3:13, 4:14, Kol. 3:4). Hy sal jou liggaam opwek en dit verheerlik (4:16-17, 1Kor. 15:35-55). Jou liggaam en siel (of gees) sal weer met mekaar verenig word en volkome heilig wees (v.23, 1Kor. 1:8-9).

Ek kan my amper nie voorstel hoe dit moet wees om nooit weer in my gedagtes, emosies, liggaam, of die res van my menswees te sondig nie. Dalk wonder jy of dit moontlik is, maar as die Here jou geroep het, sal Hy jou nie deur sy vingers laat glip nie (v.24, 1:7, 8:30, Joh. 6:37-40). Hy is getrou en sal doen wat Hy belowe (v.24, Heb. 6:18).

God se deel in heiligmaking beteken dus dat jy op Hóm moet staatmaak en nie op jou eie pogings nie (‘Lees jou Bybel, bid elke dag…’). Aan die ander kant sal jy nie heilig word deur rond te sit en te wag dat die Here jou heilig maak nie. Vra Hom om in jou te werk wanneer jy jou Bybel lees en dit uitvoer, bid, kerk toe kom, Jesus se dood in die nagmaal herdenk en jou geestelike gawe gebruik om ander te dien. Dit is o.a. wat Paulus ons in v.25-28 wil leer.

 

  1. Jóú deel (v.25-28)

Toe Naäman van sy melaatsheid genees is, moes hy homself sewe keer in die Jordaan rivier was. Hy het homself nie genees nie—die Here het. Hy moes egter die moeite doen om homself in die rivier te was. So is dit ook met heiligmaking: Gód is die Een wat jou heilig maak (v.23-24), maar jý moet die middele gebruik wat Hy tot jou beskikking stel. Ek het reeds onder die vorige punt verduidelik wat hierdie middele is en hoe jy dit moet gebruik. Kom ek deel egter nog ‘n paar gedagtes hieroor.

Die eerste en belangrikste middel is gebed (v.25, 17). Dit is nie die aksie van gebed wat jou heilig maak nie, maar die God tot wie jy bid. Hoe moet jy bid? Moenie net vir jou eie heiligmaking bid nie, maar vir jou broers en susters s’n. Wanneer jy vir hulle bid, moet jy nie vergeet om vir jou geestelike leiers te bid nie. Hulle het jou gebede nodig (v.25, Rom. 15:30, 2Kor. 1:11, Ef. 6:19-20, Fil. 1:19, Kol. 4:3-4, 2Tess. 3:1-2, Filem. 22).

Hulle stry ook teen sonde. Mense kritiseer hulle. Hulle word aangeval deur die duiwel en sy magte. Hulle word versoek om skaam te wees vir die Here. Hulle word vervolg. Hulle gaan deur beproewings net soos jy. Hulle raak mismoedig en benodig die Here se werk van heiligmaking. Bid vir hulle in jou stiltetyd en bid as ‘n gemeente vir hulle. As jou leiers nie heilig lewe en die Woord suiwer verkondig nie, sal dit jou benadeel. Bid daarom vir hulle geestelik welstand en vra die Gees om kragtig deur hulle te werk (v.25).

Nóg ‘n middel wat die Here gebruik om ons te laat groei, is die gereelde samekomste van die gemeente. Ons sal egter nie wil saamkom as ons verdeeld is nie. Om die eenheid te bewaar, moet ons mekaar liefhê en bly wees om mekaar te sien. Groet mekaar hartlik en vriendelik (v.26). In Paulus se tyd het mense mekaar op die wang gesoen (v.26, Rom. 16:16, 1Kor. 16:20, 2Kor. 13:12, 1Pet. 5:14). ‘n Paar dekades ná Paulus het die gelowiges mekaar gesoen voordat hulle die nagmaal gebruik het [Justin Martyr (100-165 n.C.), The First Apology of Justin, 65:2].

Om te keer dat die soenery in iets seksueel sou ontaard, het Paulus gesê dat dit ‘n heilige soen moes wees (v.26 – sien Clement of Alexandria (150-215 n.C.), The Instructor, Book 3, par. 11). Dalk het hy bedoel dat die mans mekaar moet soen en dat die vroue mekaar moet soen [Constitutions of the Holy Apostles (375 n.C.), Book 2, ch. 57. Maar sien Tertullian (155-240 n.C.), To His Wife, Book 2, par. 4].

In ons tyd en kultuur soen ons mekaar nie meer nie. Dit verander egter niks aan Paulus se opdrag nie. Ons moet mekaar nog steeds hartlik en vriendelik groet. Die manier waarop ons dit doen, moet egter nie maak dat die mense wat ons gemeente besoek ons van seksuele wellus verdink, of beskuldig nie. Hulle moet eerder sê dat ons mekaar liefhet soos die Here ons liefhet (Joh. 13:34-35).

Wanneer ons mekaar groet, moet ons niemand oorslaan of ignoreer nie (v.26). In óns konteks beteken dit dat jy die ou- én nuwe lidmate moet groet. Groet die ou mense en die kinders. Groet die besoekers, al praat hulle ‘n ander taal as jy, of al is hulle arm. Hierdie tipe eenheid en liefde is deel van wat die Here gebruik om ons geestelik te laat groei, sodat Hy ons volkome heilig kan maak.

Hy gebruik ook die voorlesing, bespreking en verkondig van die Skrifte om sy doel te bereik (v.27, 1Tim. 4:13, 2Tim. 4:2). Omdat hierdie brief die geïnspireerde Woord van God is, het Paulus die gemeente besweer om dit voor te lees (v.27). Hulle kon dit nie ignoreer nie, maar moes dit aan ál die broers voorlees (v.27). Ál die broers geld in die eerste plek vir die Tessalonisense, maar dit sluit ook die omliggende gemeentes in (vgl. Kol. 4:16, Op. 1:11, 2:29, 22:16).

In ‘n breër sin geld dit vir alle gelowiges deur die eeue. Ons mag nie nalaat om hiérdie brief, of enige ander deel van die Skrif vir die gemeente voor te lees en te verkondig nie. Ek mag nie net my gunsteling onderwerpe preek nie, maar moet die volle Woord van God verkondig (Hand. 20:27, 2Tim. 3:16-4:2).

Om geestelik te groei, moet ons gedurig die Woord van God aan die gemeente voorhou. Ons moet daaruit voorlees wanneer ons bymekaarkom. Ons moet onthou dat dit Gód se Woord is en dat dit Hý is wat met ons praat. Daarom moet ons dit ook met erns en met passie lees. Ons kan dit nie vervelig doen nie, aangesien dit die lewende Woord van God is. Ons moet dit ook duidelik voorlees, sodat almal ons kan hoor. Wat help dit om die Bybel te lees as niemand ons kan hoor nie? Ons moet ook die verse verduidelik, sodat die mense die voorlesing kan verstaan. Dit is immers as ons die Bybel verstaan, wat ons dit kan doen sodat die Here ons kan heilig maak. Niemand sal geestelik gehelp word, of groei as hulle nie die voorlesing verstaan nie (vgl. Hand. 8:30-35).

Om volkome heilig te wees, benodig ons laastens die Here se genade (v.28). Sonder sy genade kan ons nie doen wat Hy in hierdie brief, of in die res van die Bybel beveel nie. Hoe sal ons hierdie genade kry? Ons moet daarvoor bid. Ons moet dit ook ernstig opneem wanneer die prediker aan die einde van die diens verse soos 1Tess. 5:28 oor ons toebid. Moet dit nie as ‘n dooie formaliteit beskou nie, maar ontvang die Here se genade (v.28), sodat jy gehoorsaam kan wees aan die Woord wat jy sopas gehoor het.

Sy genade is nie net genoeg om jou deur die week te help nie. Dit is nie soos ESKOM se krag wat kan opraak nie. Jy kan dit nie soos ‘n olie reserwe, of ‘n goudmyn uitput nie. God het meer as genoeg genade om jou veilig tot in die hemel te bring en jou volkome heilig te maak.

Advertisements