God se wil vir die kerk

Related image

1Tessalonisense 5:16-18

Deesdae is dit populêr vir selfaangestelde profete uit Amerika om te sê wat God se wil vir die kerk in Suid-Afrika is. Maar jy hoef nie ‘n ingenieur te wees om God se wil vir die kerk te ken nie. 1Tess. 5:16-18 sê in soveel woorde wat sy wil vir jou lewe en vir die kerk is.

 

  1. Wees altyd bly (v.16)

Ek ken ‘n man wat glo hy kan nie siek word nie. Wanneer hy wel siek is, sê hy vir homself dat hy nie siek is nie. Dit is onder andere sy idee van wat dit beteken om altyd bly te wees. Maar dit is nie wat v.16 beteken nie. Paulus bedoel nie jy moet onrealisties wees en sê dat pyn nie bestaan nie. Hy bedoel ook nie dat jy die Here moet prys omdat dit met jou sleg gaan nie.

Sy punt is eerder dat jy t.s.v. jou swaarkry (2:14, 3:3-4) rede het om bly te wees en die Here te prys (v.16, 1:6, Hand. 16:25, Fil. 3:1, 4:4). Jy kan bly wees dat jy gered is; dat jou sonde vergewe is; dat die Here jou tugtig om jou geloof te versterk en jou meer soos Jesus te maak; dat God jou Vader is; dat Jesus jou Here, Verlosser en Vriend is; dat die Heilige Gees met jou is en in jou woon; dat jy God se Woord het in ‘n taal wat jy verstaan; dat jy deel is van ‘n gemeente; dat jy enige tyd van die dag of die nag tot die Here kan bid; dat jy die Here vrylik kan aanbid; dat jy op pad hemel toe is, selfs al verloor jy jou lewe vir die evangelie; dat God sy beloftes hou.

Iemand wat sy vreugde in sy omstandighede soek, sal vandag bly wees en môre depressief. Maar as jy jou vreugde in die Here vind, kan jy elke dag bly wees. Jy hóéf nie depressief te wees nie. God is ‘n goeie Koning wat jou beste belange op die hart dra. Hy is ‘n Koning wat nie foute maak nie, wat net slegte dinge in jou lewe sal toelaat as Hy ‘n wonderlike plan het om jou te bevoordeel. Hy is ‘n Koning wat altyd in beheer bly, selfs as dit met jou sleg gaan.

Om altyd blymoedig te wees, wil ek voorstel dat jy God se soewereiniteit onder die knie kry. Maak ‘n studie van die onderwerp. Maak ‘n nota elke keer as jy ‘n vers lees wat sê dat God iets of iemand in die skepping beheer: konings; nasies; diere; die wind en die weer; mense se harte en hulle vrye keuses; engele en demone; die son, die maan en die sterre; die see; toeval; tye en seisoene; lewe en dood; die hare op jou kop; ens.

Jy kan ook leer uit wat ander mense oor die onderwerp geskryf het. Ek dink hier aan boeke soos Trusting God van Jerry Bridges, of A.W. Pink se boek, The Sovereignty of God. Dit sal ook goed wees as jy ‘n studie van Josef se lewe maak (Gen. 37-50) om te sien hoe God die slegste van omstandighede kan gebruik om sy goeie planne in jou lewe uit te werk.

Buiten vir ‘n studie oor God se soewereiniteit, sal dit help as jy elke dag begin deur die Here vir sy goedheid te prys. ‘n Mens is geneig om negatief te dink wanneer jy opstaan. Jy dink aan slegte dinge wat gister gebeur het, of aan die probleme wat vir jou voorlê. Dink daarom met opset aan God se liefdevolle karakter; herinner jouself aan die goeie dinge wat Hy in die verlede vir jou gedoen het en prys Hom daarvoor.

Dalk probeer jy aan die goeie dinge dink, maar jy bly depressief. Was jy al by ‘n dokter om te kyk of jy miskien ‘n mediese toestand het wat die depressie meebring (bv. ‘n gewas op die brein)? Gebruik jy dalk medikasie wat kan lei tot depressie? Is daar miskien ‘n sonde soos bitterheid, of iets wat jy in die verlede gedoen het wat jy nog nie met die Here uitgeklaar het nie? Vra die Here om jou te vergewe en die blydskap in jou lewe te herstel (Ps. 51:14).

 

  1. Bid gedurig (v.17)

Een van Jan se skoolvriende bly in Nieu-Seeland. Hulle praat omtrent eenkeer in twee jaar en dan gesels hulle sommer vir ‘n halwe oggend. Beide Jan en sy vrou werk van die huis af. Hulle sit nie die hele tyd en gesels nie, maar daar gaan selde ‘n halfuur verby waarin hulle nie met mekaar praat nie.

Dít is wat Paulus bedoel met ‘bid sonder ophou’. Jy moenie eenkeer in ‘n blou maan vir ‘n dag vas en bid, en dan vir die maande wat volg min bid nie. Jy moet eerder ‘n biddende persoon wees wat gedurig met die Here praat. Gebed is een van die kenmerke dat iemand die Here ken (Hand. 9:11). Sodra iemand gered word, leef hy in ‘n nuwe verhouding tot God. God is sy Vader. Hy bid dus nie net om dinge te kry nie, maar hy wil in gemeenskap met sy Vader lewe. Hy wil ‘n persoonlike en intieme verhouding met Hom hê.

Natuurlik is ons by tye biddeloos. Wanneer dit goed gaan, dink ons ons kan op ons eie regkom. Daarom bring die Here krisisse oor ons pad, sodat ons Hom kan aanroep en Hy ons kan uithelp (Ps. 50:15). Ander mense hou op bid wanneer dit sleg gaan en dit vir hulle lyk of die Here hulle vergeet het. Volgens v.17 en Luk. 18:1 moet ons altyd bid en nie moedeloos word nie.

Jy moet ook vir jouself vra hoekom die Here nie antwoord nie. Is daar dalk sonde in jou lewe (Ps. 66:18)? Tree jy hard op teenoor jou lewensmaat (1Pet. 3:7)? Betwyfel jy die Here se goedheid, getrouheid en almag (Jak. 1:6-7)? Het jy selfsugtige motiewe (Jak. 4:3)? Vra die Here om jou te wys hoekom Hy stil is. Sê vir Hom jy wil dinge regstel, sodat jy weer ‘n vrymoedige en oop verhouding met Hom kan hê. Nader tot God en Hy sal tot jou nader (Jak. 4:8). Vra Hom om jou te help om sonder ophou te bid.

Om gedurig te bid sluit alle vorme van gebed in. Dit beteken dat jy die Here gedurig dank en aanbid, jou sonde bely, jouself opnuut aan Hom toewy, vir ander mense bid en jou eie versoeke voor Hom bring. Om gedurig te bid, beteken dat jy deur die dag en selfs in die aand bid (1:2, 3:10, Rom. 1:9-10, 12:12, Ef. 1:16, 6:18, Fil. 1:3-4, Kol. 1:9, 2Tim. 1:3).

Om hierop uit te brei kan ons sê dat jy bid wanneer jy opstaan. Bid voor jy gaan slaap. Bid voor jy eet. Bid saam met jou gesin. Bid as daar ‘n krisis is. Bid as jy gesondig het. Bid as jy goeie nuus kry. Bid as jy van iemand anders se probleme hoor. Bid terwyl jy alleen in die kar ry, as jy wasgoed ophang, kos maak, skottelgoed was, die kar was, die gras sny, ens.

Dit geld nie net vir individue nie, maar vir die gemeente (Paulus het v.17 vir ‘n gemeente geskryf). Die bidure moenie ophou nie, maar moet beter bygewoon word as enige van die gemeente se byeenkomste; selfs beter as ‘n ete na die diens, of die gemeentekamp. Ek wil jou aanmoedig om weer—of vir die eerste keer—in te val by een van die gemeente se bidure.

Dalk huiwer jy, omdat jy nie graag voor ander bid nie. Kom in elk geval en stem saam in jou hart. Bid ‘n sin of twee. Hoe meer jy voor ander bid, hoe makliker word dit. Onthou ook dat dit nie vir die Here oor baie woorde gaan nie, maar oor ‘n opregte hart wat in sy Seun glo (Matt. 6:7-8). Dalk sê jy dat die tye jou nie pas nie, maar wees asb. eerlik en vra of die tyd jou sou pas as jou beste vriend van oorsee af gekom het om jou vir ‘n ete by die lughawe te ontmoet. En is Here nie die mees betroubare Vriend wat jy het nie?

Kan jy nie eers een uur per week afstaan om Hom saam met ander gelowiges aan te roep en te aanbid nie? As jy v.17 as ‘n opdrag beskou en nie as ‘n voorstel nie, is ek seker dat jy ‘n manier sal vind om by een van die gemeente se bidure in te skakel.

 

  1. Wees in alles dankbaar (v.18)

Toe ek in graad 2 was het die hoof eendag tydens die saalopening gesê dat ons dankbaar moet wees oor die slegte dinge wat met ons gebeur. Hy het vertel dat hy sy Mercedes in ‘n boom vas gery het en die Here daarvoor gedank het. My klein brein kon dit nie verstaan. Jare daarna het ek probeer uitwerk hoekom hy dankbaar was dat hy sy Mercedes gestamp het. Ek het nog steeds nie die antwoord nie. Dalk het ek iets gemis.

Paulus beveel ons nie om dankbaar te wees vir alle omstandighede nie, maar eerder in alle omstandighede (v.18, 1:2, 2:13, 3:9, Ef. 5:20, Fil. 4:6, Kol. 4:2). T.s.v. wat in jou lewe gebeur, is daar nog baie waarvoor jy die Here kan dank. Jy kan Hom dank vir die dinge wat ek onder v.16 genoem het. Jy kan ook dankie sê vir die goeie dinge wat die Here uit jou slegte omstandighede gebring het, of vir die dinge wat nié skeef geloop het toe die beproewing jou tref nie.

As jou kar breek, kan jy die Here dank dat jy ‘n kar hét. As die water of elektrisiteit afgesny word, kan jy die Here dank dat jy vir baie maande lopende water, warm water en elektristeit gehad het. As die aslorrie nie die vullis verwyder nie, kan jy die Here dank vir wat in die swart sakke is—’n bewys van God se goedheid en sorg. As jy jou werk verloor, kan jy die Here dank dat Hy jou nie sal verlaat nie. As jy probleme in jou gesin het, kan jy die Here dank dat Hy jou kan help om dit op te los. As skelms by jou huis inbreek, kan jy die Here dank dat jy nog lewe, dat hulle nie alles gesteel het nie en dat jy skatte in die hemel het wat niemand kan steel nie.

Oefen jouself daarin om nie te kla nie, maar om dankbaar te wees (Fil. 2:14). Maak ‘n punt daarvan om nie net te bid as jy ‘n probleem het nie, maar om dankie te sê as die Here jou help (Luk. 17:11-19). Om die Here te dank, verheerlik Hom (Ps. 50:23). Om ondankbaar te wees is sonde. Volgens Rom. 1:21 is dit ‘n kenmerk van ongelowiges. Jy het nie die reg om te kla net omdat jy siek of oud is, omdat jy in ‘n korrupte land bly, of omdat jy in moeilike omstandighede woon of werk nie.

As jy kla, sê jy dat die Here nie goed is nie, dat Hy nie weet hoe om die wêreld te regeer nie, dat Hy onregverdig is en dat jy beter verdien. Die waarheid is dat dit altyd met jou beter gaan as wat jy verdien, aangesien jy die hel verdien. Laat ons dan leer om die Here in alles te dank. Om die Here te dank sal ons help om baie sondes te oorkom:

[a] As jy dankbaar is vir wat die Here jou gee, sal jy nie jaloers wees dat ander meer het as jy nie.

[b] As jy dankbaar is vir wat jy het, sal jy nie ander mense se goed steel, of geld steel om vir jouself meer goed te koop nie.

[c] As jy dankbaar is vir jou enkelskap of jou lewensmaat, sal jy nie na pornografie kyk of seksueel losbandig wees nie.

[d] As jy dankbaar is, sal jy nie teen die Here kla, of dink dat Hy goeie dinge van jou af weerhou nie.

[e] As jy dankbaar is vir wat die Here jou gee, sal jy nie vir jou ‘n vals god skep om vir jou die dinge te gee wat jy graag wil hê nie.

[f] As jy dankbaar is dat die Here jou van die hel gered het, sal jy nie kwaad wees vir Hom of uit die kerk wegbly wanneer dinge sleg gaan nie.

As jy mooi dink, sal jy besef dat baie sondes by ‘n ondankbare hart begin. As jy dus ondankbaarheid in jou lewe kan doodmaak, sal baie ander sondes ‘n natuurlike dood sterf.

Hoekom moet jy dankbaar wees? Want God het jou gemaak en aan jou Hy lewe gegee. Hy het jou gered. Net soos wat dit sy wil is dat jy altyd bly moet wees en gedurig moet bid, is dit sy wil dat jy in alles dankbaar moet wees (v.16-18).

As jy ‘n ware gelowige is, sal jy begeer om God se wil te doen. Jy hoef nie te wonder wat sy wil is nie, aangesien Hy dit in hierdie en in baie ander verse uitspel. Buiten vir die opdragte in v.16-18, is dit God se wil dat jy heilig moet lewe (1Tess. 4:3), moet volhard in die geloof (Heb. 10:36), deur jou lewe ‘n goeie getuienis moet wees vir ongelowiges (1Pet. 2:15), liewer moet wees vir Jesus as vir jou reputasie of selfs jou lewe (1Pet. 4:19), anders as die wêreld moet lewe (1Joh. 2:17).

Voordat jy enige van hierdie dinge kan doen, moet jy eers in Christus wees (v.18). Jy moet m.a.w. gered wees. Dit is heel eerste God se wil dat jy in Jesus moet glo vir die ewige lewe (Joh. 6:40). Het jy dit al gedoen? Ek vra nie of jy glo dat God Drie-Enig is nie. Die duiwel glo dit ook (Jak. 2:19). Ek vra nie eers of jy glo dat Jesus aan die kruis gesterf het nie. Die Fariseërs, die Jode, Pilatus en die Romeinse soldate het dit ook geglo.

Ek vra of jy al in Jesus geglo het vir die ewige lewe. Het jy al in gebed en geloof na Hom toe gekom, omdat jy besef dat daar geen ander manier is om in die hemel te kom nie? Het jy al op die punt gekom wat jy Hóm wil hê en nie net wat Hy vir jou kan gee nie? Het jy al verstaan dat jy ‘n baie slegte mens is en dat Hy die enigste perfekte Verlosser is wat jou kan verander om nie meer vir jouself te wil lewe nie, maar vir Hom?

As jy dít verstaan, het jy begin om te verstaan wat dit beteken om God se wil te doen. En as jy eers begin het, sal jy nie ophou nie. Jy sal altyd en in alle omstandighede verlang om sy wil te doen (v.16-18). Jy sal soos ‘n Olimpiese gimnas wees. Hulle oefen ses ure per dag. Hulle eet, drink en slaap gimnastiek. Net so sal gehoorsaamheid aan God se wil jou kos wees. Dit sal vir jou wees soos wat dit vir Jesus was: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het” (Joh. 4:34).