Geestelike eenheid

Image result for christian unity

Romeine 15:1-12

Wat maak ‘n krieketklub een? Almal hou van dieselfde sport. Wat maak ‘n Ferrari Eienaarsklub een? Almal ry dieselfde karre. Ons kan aanhou en praat van die eenheid van skole, nasies en ander groepe. In elkeen van hierdie groepe is daar ‘n algemene faktor wat hulle saambind. Dit is ook waar van die kerk, maar daar is ‘n verskil. Ons is innerlik een. Almal het nie noodwendig dieselfde belangstellings nie. Ons is een, omdat ons deel is van dieselfde liggaam. Ons het dieselfde geloof, doop, Verlosser, Vader, Gees en hoop (Ef. 4:4-6).

Dít is die eenheid waarvan Paulus in Rom. 15:1-12 praat. Hoe kan ons hierdie eenheid bevorder?

 

  1. Stel ander bo jouself (v.1-3)

Na ‘n sokker wêreldbeker wil elke 7-jarige Cristiano Ronaldo, of Lionel Messi wees. ‘n Mens sien dit ook as hulle ‘n wedstryd speel. Elke speler wil die bal vir homself hou om ‘n doel te gaan aanteken. Maar as elkeen in die span vir homself die belangrikste is, speel hulle nie as ‘n eenheid nie en kan hulle nie wen nie.

Dit werk ook so in die kerk en daarom moet ons leer om ander bo onsself te stel. Sommige gelowiges het ‘n sterk gewete wat hulle toelaat om wyn te drink, vleis te eet wat in ‘n afgod se naam geslag is en ander dinge te doen wat nie in die Bybel beveel of verbied word nie. Ander weer het ‘n sensitiewe gewete wat skuldig voel en hulle aankla as hulle hierdie dinge doen.

Volgens Paulus moet gelowiges met ‘n sterk gewete dié wat ‘n swakker gewete het in ag neem en nie iets doen wat hulle sal laat struikel nie (v.1). Dit moet nooit vir jou oor jouself gaan nie (v.1). Stel eerder ander bo die dinge wat vir jóú lekker is (v.2, Fil. 2:3-4). Ons moes dit dikwels vir ons kinders sê toe hulle klein was: ‘Wat is belangriker: jou broer of suster wat na God se beeld gemaak is, of hierdie speelding wat van plastiek gemaak is?’

Moenie vir jouself lewe en dink: ‘Wat sal vir mý lekker wees?’ nie. Dink eerder aan jou naaste. Sal dit sy gewete beskadig as jy voor hom ‘n bier drink? Ek bedoel nie jy moet mense behaag, sodat hulle van jou kan hou nie (Spr. 29:25, Gal. 1:10). Ek bedoel eerder dat jy jou naaste se voordeel moet soek om hom geestelik op te bou (v.2, 1Kor. 10:32-33). Jy moet m.a.w. soos Jesus wees. Hy het nie aan Homself gedink nie, maar aan ander (v.3, 1Kor. 11:1, Fil. 2:3-8). Hy was bereid om die houe te vat wat mense op sy Vader gemik het (v.3, Ps. 69:10). Hy het sy Vader se eer bo sy eie lewe gestel.

En sal Jesus sy lewe opoffer, terwyl jy nie eers bereid is om ‘n Kersete prys te gee vir ‘n gelowige wat dink dit is sonde nie? Dit wys net hoe min ons soos Jesus is. Dit is hartseer as ‘n gemeente se persoonlike plesiere vir hulle belangriker is as die eenheid tussen die mense. Volgens die Bybel is ‘n gelukkige gesin sonder wyn en vleis beter as ‘n verdeelde gesin waar mense hulle ‘vryheid’ geniet (Spr. 15:17, 17:1).

 

  1. Leer uit die geskiedenis (v.4)

Die gesegde lui: ‘As daar een ding is wat ons uit die geskiedenis leer, is dit dat ons nie uit die geskiedenis leer nie.’ Wat beteken dit? Ons trap in dieselfde slaggate as ons voorvaders, of ons herontwerp die wiel wat hulle al klaar ontwerp het.

Christene moenie so wees nie. Ons moet die geskiedenis van die Bybel ken en daaruit leer (v.3-4, 9-12, 1Kor. 10:11, 2Tim. 3:16-17, Heb. 11). Moenie die Ou Testament weggooi en net die Nuwe Testament lees nie. Lees die hele Bybel. Dalk is jy al jare ‘n Christen en het jy nog nooit deur die Bybel gelees nie. Ek wil jou aanspoor om ‘n Bybellees program te volg. Robert Murray McCheyne s’n is goed. As jy dit volg, sal jy binne ‘n jaar een keer deur die Ou Testament lees en twee keer deur die Nuwe Testament en Psalms.*

Moenie moed verloor as jy nie alles verstaan nie. Soos wat die tyd aanstap, sal die Here jou help om te verstaan. Vra jouself eenvoudig wat die betrokke gedeelte leer oor wie God is, wie jy is, hoe Jesus die oplossing is, en of daar ‘n goeie voorbeeld is om na te volg en ‘n slegte een om te vermy.

Ek sal jou ook sterk aanraai om Search the Scriptures (Alan M. Stibbs, Redakteur) in die hande te kry. Jy kan dit by Augustine Bookroom in Pretoria, of by Good Neigbours Bookshop in Randburg koop. Die boek sal jou help om binne drie jaar deur die Bybel te lees. Dit vra jou twee of drie vrae oor elke hoofstuk in die Bybel en help jou sodoende om dit te verstaan.

Die voorbeeld van mense soos Noag, Moses, Abraham, Elia, Rut, Dawid, Petrus en Paulus sal jou bemoedig om tot die einde te volhard (v.4). Hoe sal hulle voorbeeld jou bemoedig om te volhard? Almal van hulle het dieselfde einddoel gehad, naamlik Jesus Christus. Hulle het gehoop op die Christus wat sóú kom, of op die Christus wat reeds gekom hét en wat weer sál kom (v.4, Heb. 12:1-2, 1Pet. 1:10-12).

Wat is die punt? Om een te wees met al die gelowiges uit die Ou Testament, die Nuwe Testament en ons eie gemeente, moet ons op Jesus fokus en Hom volg. Ons moet dit nie op ons eie manier wil doen nie, maar ons moet uit die geskiedenis leer. As jy die geskiedenis verag, is jy gebonde om dieselfde foute maak (Rigt. 2:10).

Doen dus moeite om die Bybel se geskiedenis te lees en dit vir jou kinders te leer, sodat hulle nie die bitter vrugte van jóú onkunde pluk nie (Ps. 78:4-8). Lees dit ook, sodat jy dieselfde as ander gelowiges kan dink oor die toekoms en dit die eenheid onder ons kan bevorder (Fil. 2:1-2). Lees dit egter bowenal, omdat jy die Here wil ken en omdat jy Hom wil gehoorsaam.

 

  1. Vra God se hulp (v.5-7)

Oor die afgelope twee dekades het mense verskeie dinge gedoen om die situasie in ons land te probeer verander: Turn the TideTurn back to God; Mighty Men. Ek het nie ‘n probleem met mense se pogings om dinge te wil verander nie, maar niemand kan ‘n herlewing skep nie. God alleen kan maak dat mense uit verskillende agtergronde in liefde en harmonie saam lewe (v.5, Ef. 2:11-22). Hy maak mense se harte oop, sodat dit wat hulle in die Skrif lees ‘n effek het op hulle en hulle bemoedig om op die weg van gehoorsaamheid te volhard (v.4-5). En as almal van ons in dieselfde Christus glo en dieselfde Bybel gehoorsaam, sal ons outomaties in harmonie met mekaar lewe en die Here uit een mond verheerlik (v.5-6).

Moet dit dan nie jou mikpunt maak dat almal in die gemeente met jou moet saamstem oor elke grys area nie. Die doel moenie wees om ‘n argument te wen nie, maar om God te verheerlik in alles wat jy doen (v.6-7, 1Kor. 10:31). As dít jou doel is, sal jy jou broer aanvaar soos Christus jou aanvaar het; al stem julle nie 100% saam oor of dit toelaatbaar is vir Christene om tatoeëermerke te kry, of alkohol te gebruik nie (v.7).

Maak dit ook ‘n prioriteit om hiervoor te bid (Joh. 17:21-23): nie dat ander soos jý sal glo oor elke grys area nie, maar dat die gemeente t.s.v. sulke verskille een sal wees. Laat ons die Here vra om ons so met Homself te vul dat dit vir ons maklik sal wees om die vrye gebruik van ons grys areas prys te gee, omdat ons Hóm bo alles wil verheerlik (v.5-7).

 

  1. Verstaan die doel van die kruis (v.8-12)

Ons sê gewoonlik dat Jesus gesterf het om ons sonde te vergewe. Dit is heeltemal waar, maar daar is ook ander redes hoekom Hy vir ons gesterf het. In sy boek, The Passion of Jesus Christ, gee John Piper ‘n lys van vyftig redes hoekom Jesus gesterf het. In die verse voor ons gee Paulus ‘n paar van hierdie redes. Hy fokus veral op redes wat die eenheid sal bevorder. Hier gaan dit egter nie net oor die eenheid tussen gelowiges wat oor grys areas verskil nie, maar oor die eenheid tussen Jode en heidene.

[a] Jesus het gesterf om te wys dat Hy die Dienskneg van Jes. 42, 49, 50, 53 is. Hy het gesterf om ander se belange bo sy eie te stel (v.2, 8). Hy het as Meester en Koning gekom om ander te dien (v.8, Matt. 20:28, Luk. 12:37, 22:27, Joh. 13:5, Fil. 2:6-8). As Hy dan gekom het om ander te dien, moes die Jode en die heidene in die gemeente mekaar ook dien.

[b] Jesus het gesterf om die besnede Jode te red (v.8). Hy het gesterf om sy beloftes aan Abraham, Isak, Jakob te vervul: die belofte dat Israel sy volk sal wees en Hy hulle God; die belofte dat hulle die aarde in besit sou neem (v.8, 9:4-5). Maar dit geld nie net vir die Jode nie. Jesus het ook vir die heidene gesterf, sodat hulle God vir sy barmhartigheid kan verheerlik (v.9).

Omdat Jesus dan vir die Jode en die heidene gesterf het, moet een groep nie dink hulle is beter as die ander nie. Die heidene moenie dink: ‘Meer heidene as Jode glo in Jesus en daarom is ons belangriker as hulle.’ ‘Nee,’ sê Paulus. ‘Jesus het eerste na die Jode toe gekom en gestref om sy beloftes aan hulle te vervul’ (v.8, Matt. 15:24).

Maar dit moenie maak dat die Jode sê: ‘Ons is van die begin af God se volk en is dus belangriker as die heidene’ nie. Nee. Die verlossing van die heidene was van die begin af deel van God se plan soos Hy in die Ou Testament voorspel het (v.8-12, Gen. 12:3, Gal. 3:6-9, 14, 16, 29). In Christus is die Jode en die heidene een en kan hulle die Here uit een mond loof (v.6-9, Ef. 2:11-22, 3:5).

[c] Jesus het gesterf om ‘n nuwe volk te skep wat Hom sal prys (v.9-12). Dit is nie dat God ons lofprysing nodig het nie. Voor die skepping het die Vader, die Seun en die Heilige Gees mekaar perfek verheerlik (Ps. 115:1, Joh. 17:5).

Maar ons bly skepsels wat gemaak is om die Here te loof en sy heerlikheid te geniet (Joh. 17:24). Al drie dele van die Ou Testament—die wet, die psalms en die profete—het voorspel dat dit so sou wees (v.9-12, Deut. 32:43, 2Sam. 22:50, Ps. 18:50, 117:1, Jes. 11:10). Dit is wonderlik om te dink dat die Here deur Moses, Jesaja en Dawid voorspel het dat Afrikaners en Suid-Afrikaners saam met Israel die Here sal prys!

Wie is hierdie Here? Hy is nie net die Seun van Dawid nie, maar ook die God wat Dawid geskep het (v.12, Jes. 11:1, 10, Matt. 22:41-45, Op. 22:16). Hy is ook ons God. Ja, Jesus is die Een in wie die nasies sal hoop en voor wie hulle sal buig om Hom te aanbid (v.12, Ps. 2:8, 22:28-29, Jes. 2:2-3, 11:10, Fil. 2:9-11, Op. 5:9-14).

Kan jy sien hoe hierdie dinge by geestelike eenheid uitkom? As jy verstaan dat Jesus vir mense uit alle nasies gesterf het, kan jy nie ‘n rassis wees nie. Jy kan nie sekere groepe uitskuif, asof Afrikaners beter is as ander volke en taalgroepe nie. Ons kan nie sê dat ons nie hierdie of daardie nasie in ons gemeente sal verwelkom nie. In die eerste plek is dit nie ons gemeente nie, maar die Here s’n. Tweedens gaan daar mense uit alle nasies in die hemel wees.

Jesus het gesterf om ‘n nuwe volk te skep (Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10). Jy moet besluit of jy meer waarde daaraan gaan heg om Afrikaans te wees, as om deel te wees van die volk wat Jesus vir Homself losgekoop het. As almal van ons Jesus bo ons persoonlike voorkeure, nasionaliteit, ensovoorts kies, sal ons wees soos ‘n getroude man en vrou wat verskillende rugby spanne ondersteun, maar dit geniet om saam rugby te kyk, omdat hulle mekaar liefhet.

__________

* https://www.mcheyne.info/calendar.pdf

Advertisements