Spanning in die gemeente en hoe om dit op te los

Image result for church problems

1Tessalonisense 5:12-15

As jy twee klippe teen mekaar kap, is daar vonke. En waar twee sondaars bymekaar kom, sal jy spanning hê. Selfs as jy soos ‘n monnik op jou eie in die woestyn bly, sal jy spanning in jou hart hê. As jy nooit spanning het nie, is dit omdat jy in die hemel is.

Volgens die Bybel is daar soms ook spanning tussen gelowiges in dieselfde gemeente. 1Tess. 5:12-15 leer ons hoe om hierdie spanning op te los.

 

  1. Spanning tussen die leiers en die gemeente (v.12-13)

‘n Paar jaar gelede het ons ‘n moeilike kerkdissipline situasie in die gemeente hanteer. Party van die lidmate het gedink dat ons te streng opgetree het. Dit het spanning tussen sommige van ons lidmate en die leiers veroorsaak.

Dit lyk of daar iets soortgelyk in die Tessalonisense gemeente gebeur het. Blykbaar was daar mense in die gemeente wat vir die wederkoms gewag het en nie wou werk nie (v.14, 2Tess. 3:6-12). Dit is moontlik dat die leiers hulle hieroor aangespreek het en dat die gemeente dit nie goed gevat het nie. Uit v.13b kan ons aflei dat daar nie vrede tussen die lidmate en die leiers was nie, sodat Paulus die situasie moes aanspreek. Wat het hy vir die gemeente gesê?

Hy het hulle gevra om hulle geestelike leiers of ouderlinge te erken en te respekteer (v.12). Die leiers het onder hulle gearbei. Die Griekse woord vir arbei [kopiōntas] beteken om te werk totdat jy uitgeput raak. Die Tessalonisense se leiers het met bloed, sweet en trane gewerk om die gemeente te lei en te leer.

Die tipiese werk van ‘n leier sluit in om mense te besoek, hulle te beraad, ure in die Woord te spandeer sodat hy die mense kan leer, te preek, individue te dissipeleer, getrou vir die gemeente te bid, Bybelstudies en bidure te lei, tugsake te hanteer, mense te bemoedig, die evangelie met mense te deel, die gemeente teen vals lering te beskerm en sy gesin in die Woord te lei [Sien Joh. 21:15-17, Hand. 20:28-31, Ef. 4:11-12, 1Tim. 4:12-13, 16, 5:17, 2Tim. 4:2, 5, Tit. 1:9, Heb. 13:17, Jak. 5:14.].

Gewoonlik vat hierdie dinge 70 ure per week en in ‘n besige week 80 ure of meer. Vra jouself dan hoe ‘n voltydse leraar dit alles moet inpas as hy nog van 8 tot 5 moet werk, omdat die gemeente hom nie kan betaal nie. Moenie dat enigiemand jou vertel dat ‘n predikant net op Sondae werk nie.

Omdat die leiers in Tessalonika hard gewerk het om die gemeente te lei, moes die mense hulle respekteer en as hulle voorgangers erken. Die woord ‘voorgangers’ impliseer nie dat die leiers voor staan en bevele skreeu nie, maar dat hulle voor loop en deur hulle voorbeeld die gemeente lei (1Pet. 5:3). Die leier wat dít doen, is waardig van die gemeente se respek, of hy nou 29 of 69 is (1Tim. 4:12).

Paulus praat van die ouderlinge as ‘julle voorgangers in die Here (v.12). Hulle het m.a.w. nie hulle eie gesag nie, maar tree op namens die Here. Dit is nou as hulle volgens sy Woord lewe en dit vir die gemeente leer. As hulle dit nié doen nie, is hulle nie waardig van jou respek nie. Maar ás hulle dit doen, skuld jy hulle die hoogste respek.

Paulus sê verder dat die ouderlinge die gemeente moet vermaan (v.12). Die Griekse woord vir vermaan [noutheteō] beteken om te beraad, te waarsku, aan te spreek en te bemoedig. Dit beteken om die gedagtes aan te spreek. Die voorganger se doel is dus om mense reg te laat dink. Ons praat, doen en voel verkeerd, omdat ons verkeerd dink. Wat moet ‘n leier doen om die mense te help om reg te dink? Sy eie woorde is onvoldoende. Dit is soos om ‘n buffel met ‘n kurkprop-geweer te probeer doodskiet; dit gaan nie werk nie.

Om mense se vals en sondige denkpatrone te oorkom, moet die leier hulle met die skerp swaard van die Gees konfronteer (Heb. 4:12). Om dit reg te kry moet die leier sy Bybel goed ken. Hy moet ‘n gereelde stiltetyd hê, sodat hy sy eie siel kan voed voordat hy dit vir die gemeente doen. Hy moet aanhou groei in sy kennis van Jesus en die Woord.

Maar om net die mense uit die Bybel te vermaan om reg te dink, is nie genoeg nie. As die Gees nie mense se oë oopmaak nie, sal hulle blind bly. Hulle sal nie die waarheid begryp of reg dink nie. Buiten dat ‘n ouderling dan sy Bybel moet ken, moet hy baie vir die mense in die gemeente bid.

Omdat die leiers dit vir jou siel doen, moet jy hulle respekteer en liefhê (v.12-13). Jy moet hulle nie op ‘n verhogie plaas, asof hulle bo-menslike kragte het en onaantasbaar is nie. Dit is ook nie vir hulle A+ tipe persoonlikheid wat jy hulle moet erken nie. Dit gaan eerder oor die groot werk wat hulle doen (v.13). Daarvoor moet jy hulle respekteer.

Wat kan jy prakties doen om te wys dat jy jou leiers hoog ag? Luister na die Woord wat hulle verkondig. Moenie wegbly, asof hulle niks het om te sê nie. Moenie die Bybelse lering wat hulle gee ignoreer en ongehoorsaam wees nie. Ondersteun hulle finansieel vir die werk wat hulle doen, veral as hulle geen ander bron van inkomste het nie (1Tim. 5:17).

Om jou leiers hoog te ag, beteken verder dat jy nie hulle werk as ‘n ‘push over’ tipe werk beskou nie, maar dat jy dit sal sien vir die hoë roeping wat dit volgens die Bybel is (1Tim. 3:1). Die leiers moet baie tyd in gebed deurbring. Soms sit hulle tot middernag by mense se huise om probleme te probeer uitsorteer. Hulle staan langs mense se lyke en moet die regte woorde hê om vir die familie te sê. Hulle moet ‘n sagmoedige antwoord kan gee as mense hulle kritiseer. Hulle moet al die dinge doen wat ek vroeër beskryf het. ‘n Leier kan nie sy eie man wees nie, omdat hy God se eer en die gemeente se belange bo sy eie moet stel.

Omdat hierdie dinge so is, moet die gemeente op twee maniere reageer. Aan die een kant moet jy jou leiers hoog ag en hulle liefhê (v.13). Om jou leiers lief te hê, beteken dat jy vir hulle bid, hulle voorbeeld navolg, hulle gehoorsaam, nie van hulle skinder nie, hulle vra om jou te besoek as jy ‘n krisis het en nie maar net aanneem hulle weet nie, hulle bemoedig en nie dink hulle is semi-gode wat nie pastorale versorging nodig het nie (v.25, 1Tim. 5:19, Heb. 13:7, 17, Jak. 5:14).

Aan die ander kant moet jy besef dat hulle uit die aard van hulle posisie moeilike besluite gaan moet neem en sensitiewe situasies sal moet hanteer. Hiervoor kan die gemeente hulle maklik kritiseer. Maar dan is jy soos ‘n skeidsregter op ‘n nat speelveld in die super-rugby finaal. As hy teen jou span blaas, dan kritiseer jy hom. As hy teen die ander span blaas, dan kritiseer húlle hom. Moenie so wees en op die kantlyn staan en kritiseer nie. Moenie bitter raak teen jou leiers nie, maar respekteer hulle, wees lief vir hulle en leef in vrede met hulle (v.12-13).

 

  1. Spanning onder die lidmate (v.14-15)

Mense wat uit ‘n tradisionele kerkagtergrond kom, beskou dit as die leraar se werk om die mense te besoek en al hulle probleme op te los. Maar eintlik is dit nie wat die Bybel leer nie. Volgens die Bybelse model is die gemeente ‘n liggaam waarin elke persoon sy deel moet doen om die ander lede op te bou. Die leiers het ‘n belangrike taak (v.12-13), maar dit is ook elke lid se plig om die gemeente op te bou (v.14-15). Hoe moet jy dit doen? Fokus op mense en nie op aktiwiteite nie. Wie is die mense op wie jy moet fokus? Paulus verdeel hulle in vier basiese groepe.

 

[a] Die onordelikes (v.14)

Hierdie mense is soos ‘n soldaat wat nie in pas met die res van die peloton marsjeer nie, maar wat gedurig uitlyn is. Hulle breek alewig weg van die kudde. Elke paar weke of maande wonder jy hoekom hulle nou al weer nie in die kerk is nie (Heb. 10:25). Paulus verwys hier na mense wat ongeorden lewe en traag is. Hulle is ondissiplineerd en lui.

Wat moet jy met hierdie mense doen? Vermaan hulle (v.14). Wat beteken dit? Leon Morris verduidelik die woord soos volg: ‘while its tone is brotherly, it is big-brotherly.’ [Aangehaal in Alexander Strauch, Biblical Eldership (Colorado Springs, Colorado: Lewis and Roth Publishers, 1995), 169]. Wees sagmoedig en liefdevol, maar ferm.

[b] Die kleinmoediges (v.14)

Die ESV vertaal dit met ‘fainthearted’. Die Griekse woord [oligopsuchos] praat letterlik van iemand wat ‘n klein gees of siel het. Hierdie mense is soos Eeyore wat altyd die donker kant van die lewe sien. Hulle is soos Piglet: hulle verwag die ergste. Hulle twyfel maklik. Hulle is nie dapper nie, maar vreesagtig. Dit is mense wat maklik depressief raak (Spr. 18:14, LXX, oligopsuchos).

Om hulle te help, moet jy nie sê: ‘Hulle is dreinerend’ nie. Net soos wat die Here hierdie mense optel, opbeur, troos en bemoedig, moet ek en jy dit doen (v.14, Jes. 57:15).

[c] Die swakkes (v.14)

Die Griekse woord [asthenés] verwys soms na siek en swak mense, maar in die konteks gaan dit waarskynlik oor mense wat geestelik swak is (1Kor. 8:7, 9). Om hulle te help moet jy hulle optel en regop hou [Gk. antéchomai], sodat hulle nie weer val nie. Jy gaan hulle deur die Woord en gebed, belangstelling en bemoediging regop moet hou. Jy gaan hulle gereeld moet bel om te vra hoe dit gaan. Jy gaan moet aanbied om hulle vir Bybelstudie, of kerk op te laai. Jy gaan hulle aanspreek moet hou.

Baie keer wil ons dit nie doen nie, omdat dit tyd, aandag en moeite verg. Maar is dit nie waar selfverloëning inkom nie? Is dit nie wat Fil. 2:3-4 leer wanneer dit ons beveel om ander bo onsself te stel nie?

Volgens Paulus moet ons geduldig wees met al hierdie mense (v.14). Soms wens ons hulle wil net die kerk verlaat, sodat dit minder moeite is vir ons. Maar dit is selfsugtig en niks anders as hoogmoed nie. Hoekom dink ek en jy nie eerder daaraan dat ons óók nie te maklik is om mee te werk nie, en dat die Here geduldig is met ons? En sal ons nie aan ander doen wat ons wil hê hulle aan ons moet doen nie (Matt. 7:12)?

[d] Die kwaaddoeners (v.15)

Soms is daar vuurvreters in die kerk wat ander mense wil terugkry. Daar is ‘n bose drang en lus in hulle om eerste te wil wees. Hulle wil altyd reg wees. Niemand is vir hulle belangriker as die persoon voor hulle in die spieël nie. As iemand hulle wil kruis, is dit vir hulle soos ‘n vonk op biskruit en reageer hulle met woeste wraak. Soos Simson en die Filistyne sal niemand hulle keer om mense terug te kry nie. Hulle harte is vol boosheid en kwaad.

Volgens Paulus moet ons dit nie in die kerk toelaat nie en moet niemand ‘n ander met kwaad vergeld nie (v.15, Luk. 6:27-35, Rom. 12:14-21). Die Bybel leer ons eerder om mekaar te verdra, te vergewe en dit vir die Here te los om mense terug te kry (Ps. 37:1-11, Spr. 20:22, Ef. 4:2-3, 31-32, 1Pet. 2:23).

Eerder as wat ons mense terugkry, moet ons soek hoe ons aan hulle kan goed doen (v.15). Toe my ouma hierdie week oorlede is, het baie mense ons van hulle gebede verseker. ‘n Paar van hulle het selfs gevra of hulle vir ons kos kan maak en slaapplek vir die familie kan reël.

Só moet ons mekaar bedien en ‘n getuienis vir die wêreld wees. As ons ‘n goeie getuienis wil wees, moet ons ook buite die gemeente geleenthede soek om mense te bedien (v.15, Gal. 6:10). Kan jy iets vir jou bure doen, of dalk vir die boemelaar by jou hek iets gee om te eet? Doen dit dan.

***

M.b.t. Paulus se lering in hierdie verse moet ek bely dat ek sonde in my eie hart sien. Wat bedoel ek? Die besoekrooster werk nie. Ek kan nie vir ander praat nie, maar as ek myself eerlik ondersoek, maak ek tyd vir die dinge wat vir my belangrik is. Om saam met ander deur die rooster te werk, is m.a.w. nie vir my belangrik nie. Ek besoek wanneer daar ‘n krisis is, maar ek weet ook dat ek nie by die vier groepe van v.14-15 uitkom nie.

Dalk moet jy vanaand dieselfde bely. Dalk moet jy selfs erken dat ander gelowiges se probleme glad nie vir jou ‘n prioriteit is nie, omdat jy te vas gevang geraak het in jou eie lewe en probleme. Die Here wil hê dat jy jou leiers, asook jou broers en susters in die gemeente op praktiese maniere moet liefhê.

Dalk het jy sommer ‘n hele paar stukkende verhoudings. Dalk het jy nog nooit hieraan gedink nie, maar die rede hiervoor is waarskynlik dat jou verhouding met God aan flarde lê. Jy het sy heilige wet gebreek. Jy het nie vir Hóm gelewe wat jou gemaak het nie, maar vir jouself. Omdat die Here kwaad is vir jou, is verhouding met Hom gebreek.

Hoe kan jy dit regstel? Jy kan niks doen om die Here se frons in ‘n glimlag te verander nie. Maar Hý kan en Hy hét. Jesus het aan die kruis gesterf om die straf vir ons sonde te dra. Die Vader se toorn het op Hom uitgewoed soos ‘n balon wat afblaas. As jy op Christus vertrou, sal die warm lug van die Vader se toorn nie oor jou afblaas nie.

Hy sal jou eerder as sy kind aanneem en jou in sy huisgesin aanvaar. En as jou verhouding met die Vader herstel is, sal Hy sy Gees stuur om jou te help, sodat jy in vrede met die res van die gesin kan lewe (v.12-15). As daar spanning is, kan Hy jou help om dít ook op te los, sodat jy aan die einde van alles sal sê: ‘Ek het erger verwag. Hoekom het ek nie al lankal iets gedoen om die spanning te probeer oplos nie?’