Verwarring oor die wederkoms

Related image

1Tessalonisense 4:13-18

Baie mense is verward oor wat met ‘n persoon gebeur wanneer hy sterf. Almal weet dat jou liggaam begrawe of verbrand word, maar wat dan? Gaan jou siel dadelik hemel toe of hel toe? Kry jy ‘n nuwe liggaam in die hemel, of is dit net jou siel wat daar is? Wat word van jou siel as Jesus weer kom? En wat van jou liggaam wat begrawe is: sal die Here die liggaam opwek wat jy nou het, of skep Hy ‘n hele nuwe ‘jy’? Dit is die tipe vrae wat Paulus in 1Tess. 4:13-18 beantwoord.

 

  1. Wat word van die dooies? (v.13)

Ek het eenkeer die evangelie gedeel met twee vroue wat by ‘n lodge werk. ‘Gaan julle hemel toe as julle doodgaan?’ het ek gevra. ‘Nee,’ het die een parmantig gesê. ‘’n Mens gaan nie hemel toe as jy sterf nie; jou siel slaap saam met jou liggaam in die graf totdat Jesus kom.’

Die Sewendedag Adventiste en Church of God groepe glo dit. In die vroeë kerk het mense soos Ireneus (130-202 n.C.) en Tertullianus (160-220 n.C.) dit geglo [Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1999), 27-28]. Ander kervaders soos Clement van Alexandrië (150-215 n.C.), Hippolitus (170-236 n.C.), Origenes (184-253 n.C.), Ciprianus van Carthage (200-258 n.C.) en Dionisius van Alexandrië (200-265 n.C.) het weer geglo dat gelowiges se siele hemel toe gaan wanneer hulle sterf [Ibid., 31. Sien ook Charles E. Hill, Regnum Caelorum: Patterns of Millennial Thought in Early Christianity (Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company, 2001).].

Die Tessalonisense self was verward en het gewonder wat van hulle afgestorwe geliefdes geword het. Om hulle verwarring op te los, het Paulus besluit om hierdie saak aan te sny. Hy wou nie hê dat die Tessalonisense ongelig moet wees nie. Dit is iets wat die nuwe gelowiges sommer vroeg in hulle Christelike lewe moes leer.

Ons dink te maklik dat lering oor die eindtyd net vir volwasse gelowiges is en dat ons nie nuwe gelowiges hierrmee moet verwar nie. In v.13 leer Paulus egter dat ons juis hierdie waarhede vir nuwe bekeerlinge moet leer, sodat hulle nie verward sal wees nie. Lering oor die hemel, die wederkoms, die opstanding en die oordeelsdag is deel van die fondasie-waarhede van ons geloof (Heb. 6:1-2). Alhoewel verwarring oor die detail van die eindtyd nie jou redding beïnvloed nie, kan dit jou lewe beïnvloed as jy dit verkeerd verstaan. Die Tessalonisense was bv. verward oor hulle afgestorwe geliefdes. Hulle was onder die indruk dat hulle die wederkoms gaan mis (v.13). Om hulle verwarring te antwoord, begin die apostel deur van die gelowiges se dood te praat as slaap (v.13).

Wat beteken dit? Dit beteken nié dat gelowiges se siele in die graf slaap totdat Jesus weer kom nie. Die Bybel leer baie duidelik dat gelowiges se siele dadelik by die Here is wanneer hulle sterf (Pred. 12:7, Matt. 22:30, Luk. 9:30-31, 16:22, 23:43, Joh. 11:25-26, Hand. 7:55-56, 59-60, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23, Heb. 12:23, Op. 14:13). Nie eers die dood kan ons van Christus se liefde skei nie (Rom. 8:38-39). Alhoewel Henog en Elia nie gesterf het nie, is hulle ook van die aarde af hemel toe (2Kon. 2:11, Heb. 11:5).

‘Maar hoekom noem die Bybel dit dan slaap?’ wil iemand weet. Want uit ‘n menslike perspektief lyk dit of die liggaam slaap. Verder is die dood ook vir ‘n gelowige so skadeloos soos slaap. Dit is asof jy aan die slaap raak en dadelik in Jesus se teenwoordigheid wakker word (Ps. 17:15, 139:18).

‘Maar hoe kan jy sê die mens se siel is onsterflik as Eseg. 18:4 praat van mense se siele wat sterf, en as God in Matt. 10:28 sê Hy sal mense se siele in die hel vernietig?’ In hierdie verse gaan dit oor ongelowiges wat sonde doen en die tweede dood van die hel ondergaan. Hulle siele slaap dus nie in die graf nie, maar gaan dadelik hel toe (Jes. 14:9-11, Luk. 16:22-23, 2Pet. 2:9, Jud. 7). Die mens se siel sal in die hemel of die hel voortbestaan nadat hy dood is. God het ewigheid in ons harte geplaas (Pred. 3:11, ESV).

‘Maar sê die Bybel nie dat die dooies niks weet nie, dat hulle nie die Here prys, en dat daar geen aktiwiteit na die dood is nie?’ Nie as jy die verse noukeurig en in hulle konteks lees nie. In Ps. 6:6 sê Dawid bv.: “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” Maar in v.2 vra Dawid dat die Here hom nie in sy grimmigheid en toorn moet straf nie. In v.5 vra hy die Here om sy siel te verlos. Hy bedoel dus dat hy in die doderyk sou beland as die Here hom in sy toorn moes tref en as Hy hom nie verlos het nie. In daardie geval sou hy in die doderyk of hel beland, waar mense die Here nie erken of prys nie.

Dit is ook hoe ons Jes. 38:18 moet verstaan. As die Here nie Hiskia se sondes vergewe het nie (Jes. 38:17), sou hy in die doderyk of hel beland het waar mense nie die Here prys nie en waar daar geen hoop is om weer uit te kom nie (v.18).

Ps. 115:17 sê: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die Here nie loof nie.” In die konteks gaan dit oor ongelowiges wat ander gode dien (Ps. 115:4-8). Gelowiges sal nie in die doderyk neerdaal waar mense nie die Here prys nie, maar ons sal Hom vir ewig prys (Ps. 115:18).

Wat van Ps. 146:3-4: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”? Die teks beteken eenvoudig dat mense hulle planne maak, maar dat hulle dit nie kan uitvoer wanneer hulle sterf nie. Dit gaan nie oor sieleslaap nie.

Maar leer Pred. 9 nie duidelik dat die dooies niks weet, of doen nie? Met die eerste oogopslag lyk dit so. As jy egter die konteks lees, sien jy dat die dooies geen deel het aan dit wat onder die son gebeur nie. Hulle leef m.a.w. voort waar hulle is (in die hemel of in die hel), maar hulle weet niks van wat op die aarde gebeur nie (vgl. Job 14:21):

“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.” (Pred. 9:5-6).

“Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son—al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.” (Pred. 9:9-10).

Omdat gelowiges dadelik hemel toe gaan wanneer hulle sterf, hoef ons nie soos die heidene te treur wat geen hoop het om hulle geliefdes weer te sien nie (v.13). Ja, ons treur. Maar ons onttrek onsself nie vir jare en dekades van ander mense, of uit die samelewing nie. Ons vrees nie die dood soos ongelowiges dit vrees nie (Heb. 2:14-15). Ons is hoopvol, omdat ons weer ons geliefdes sal sien (2Sam. 12:15b-23).

 

  1. Hoe sal die wederkoms plaasvind? (v.14-17)

Die Moslems glo nie dat Jesus gesterf het, of opgestaan het uit die dood nie. ‘n Moslem het dit gister tydens ons straat evangelisasie vir een van ons mense gesê. Maar daar is genoeg ooggetuies en God se eie bevestiging in die Bybel om te wys dat Jesus gesterf het en opgestaan het uit die dood (v.14, Joh. 19-21, 1Kor. 15). Net soos wat Jesus opgestaan het uit die dood, sal dié wat in Hom glo ook opstaan wanneer Hy weer kom. Sý opstanding waarborg óns s’n (1Kor. 15:20-23).

Hoe sal dit gebeur? Wanneer Jesus kom, sal Hy gelowiges se siele wat by Hom in die hemel is, terugbring aarde toe (v.14, 3:13, Kol. 3:4). Dit is nie asof dié wat nog by die wederkoms lewe, opgewek en verheerlik sal word, terwyl dié wat alreeds gesterf het, moet wag totdat die hele afvêre verby is nie. Hulle sal nie soos my jongste dogter wees wat altyd deur die aksie geslaap het en uitgemis het nie. Hulle sal dáár wees en deel hê aan alles wat gebeur (v.14-17).

Hoe weet ons dat Paulus die waarheid praat? Want sy woorde is nie sy eie nie, maar Jesus s’n (v.15, 8, 2:13). Wat het Jesus vir hom gesê? Jesus self sal uit die hemel neerdaal. Ons sal Hom met ons eie oë sien (Job 19:25-27, 1Joh. 3:2). Wanneer Hy uit die hemel neerdaal, sal daar ‘n geroep wees (v.16). Dit is waarskynlik Jesus wat die dooies se liggame uit die graf roep (v.16b, Joh. 5:28-29).

Daar sal ook die stem van ‘n aartsengel of hoofengel wees—moontlik Migael s’n (v.16, Dan. 10:13, Jud. 9, Op. 12:7). Hy roep waarskynlik die ander engele om saam met Jesus terug te keer aarde toe (Matt. 16:27, 25:31, 2Tess. 1:7).

Buiten vir die twee stemme, sal daar die geluid van ‘n basuin of trompet van God wees om aan te kondig dat die Koning op pad is (v.16, 1Kor. 15:52, vgl. 1Kon. 1:39). So sal die Fees van Trompette vervul word (Lev. 23:24). Waar die trompet op Sinaï oorverdowend hard was (Eks. 19:16, 19, 20:18) en die ontploffing van Krakatoa in 1883 meer as 3000 km ver gehoor kon word, sal die trompet by Jesus se koms oor die hele aarde gehoor kan word. Die hemelliggame sal ook met ‘n harde gedruis verband word en smelt (2Pet. 3:10-12).

As die Here en die aartsengel roep en die trompet blaas, sal dié wat in Christus gesterf het (gelowiges) eerste opstaan (v.16, Op. 14:13). Paulus bedoel nie dat hulle ‘n duisend jaar voor die ongelowiges sal opstaan nie, aangesien beide die gelowiges en ongelowiges op dieselfde dag sal opstaan (Dan. 12:2, Matt. 12:41-42, 25:31-46, Joh. 5:27-28, Hand. 24:15, Rom. 2:1-16, Op. 11:18, 20:12-13). Hy bedoel eerder dat die afgestorwe gelowiges eers sal opstaan, en dat hulle en die gelowiges wat nog by die wederkoms lewe gelyk hulle verheerlikte liggame sal ontvang (v.15, 17, 1Kor. 15:51-52). Daarna sal almal van ons saam in die wolke opvaar om die Here in die lug te ontmoet (v.17, 2Kor. 4:14). Dit sal vir die Here maklik wees om ons verheerlikte liggame te laat opvaar in die wolke (v.17, Hand. 1:9, 8:39-40, 2Kor. 12:2, Op. 11:12).

Hoekom sal ons die Here in die lug ontmoet? Sommige dink dat Paulus hier van die wegraping van gelowiges praat en dat die wederkoms eers sewe jaar later sal plaavind. Ek stem nie saam nie. Volgens v.16-17 sal Jesus uit die hemel neerdaal en sal ons Hom in die lug ontmoet. Die wederkoms en die sg. ‘wegraping’ is dus nie twee aparte gebeurtenisse nie, maar een.

‘Maar hoekom is dit nodig om die Here in die lug te ontmoet?’ wonder iemand. ‘Is dit dalk omdat Hy ons hemel toe sal vat om vir ewig by Hom te woon?’ Nee, omdat die huidige hemel of Nuwe Jerusalem volgens Op. 21:2, 10 na die aarde toe sal neerdaal. Dit sal die hoofstad van die nuwe aarde wees.

‘Hoekom moet ons dan die Here in die lug ontmoet?’ Die Griekse woord [apantēsin] vir ‘ontmoet’, verwys na ‘n antieke gebruik waarin mense uitgegaan het om hulle gaste op die pad te ontmoet en dan vir die laaste deel van hulle reis te vergesel (vgl. Hand. 28:15). Wanneer Jesus weer kom, sal ons Hom in die lug ontmoet en as ons Eregas tot op die nuwe aarde vergesel (v.17, Matt. 25:6). So sal ons altyd by die Here wees (v.17). Ons sal nie weer van Hom geskei word soos by sy eerste koms toe Hy die dissipels verlaat het om terug te keer hemel toe nie. Hy sal eerder vir altyd op die nuwe aarde by ons woon (Op. 21:3).

Laat my toe om op te som voordat ek kortliks v.18 toepas. Wanneer ‘n gelowige sterf, bly sy liggaam in die graf en gaan sy siel hemel toe. As Jesus weer kom, kom sy siel saam met Hom, wek Jesus sy liggaam op en verheerlik Hy dit, en word sy siel weer met sy liggaam verenig. Die gelowiges wat nog lewe wanneer Jesus kom se liggame sal in ‘n oogwink saam met die opgestane gelowiges se liggame verheerlik word. Ons sal die Here in die lug ontmoet, Hom tot op die aarde vergesel, die wêreld saam met Hom oordeel (1Kor. 6:2), ons beloning ontvang (1Kor. 3:12-15) en dan vir altyd saam met Jesus op die nuwe aarde woon.

 

  1. Hoe moet ‘n Christen se begrafnis dan lyk? (v.18)

In die Ou Testament het die heidene hulleself stukkend gesny wanneer hulle by ‘n begrafnis rou (Lev. 19:28). In die Nuwe Testament het die Jode hopeloos gekerm as iemand sterf (Mark. 5:38-39). Ek het al gehoor hoe ongelowiges so kerm wanneer iemand doodgaan.

Omdat Christene die hoop het om weer hulle afgestorwe broers en susters te sien, treur ons nie soos ongelowiges wat nie hoop het nie (v.13). Gebruik hierdie waarhede om ander gelowiges te bemoedig (v.18). God het dit nie gegee, sodat jy met ander kan stry wat nie soos jy glo oor die eindtyd nie. Bemoedig mekaar eerder met hierdie woorde (v.18).

Dít is dan hoe ‘n Christen se begrafnis moet lyk: alhoewel die trane eg is, moet daar ook baie bemoediging wees (v.13, 18). Dit moet wees soos die ou tannie in ons gemeente wat onlangs vir my gesê het: ‘Op my begrafnis moet julle bly wees en fees vier, omdat ek by die Here is.’

Advertisements