Die ideale herder

Image result for paul writing letter to thessalonians

1Tessalonisense 3:6-13

Ek het ‘n skets gesien wat die ideale leraar uitbeeld. Hy is so sterk soos Simson, so wys soos Salomo, so dapper soos Dawid, so geduldig soos Job, so vaardig soos Lukas, so volhardend soos Moses en so rats soos Saggeus. By ‘n konferensie het die prediker gesê: ‘Gee my die voete van ‘n Jehova’s Getuie, ‘n Moslem se maag, ‘n Katoliek se hande, ‘n charismaat se hart en ‘n Gereformeerde Baptis se kop.’ Volgens hom sou dit die ideale herder wees. Dit is maar net ‘n grappie, maar in 1Tess. 3:6-13 kry het regtig die beeld van ‘n ideale herder in die persoon van Paulus.

 

  1. Sy pastorale hart (v.6-8)

‘n Leraar het eenkeer vir my gesê: ‘Hoe meer ek met mense werk, hoe liewer raak ek vir my hond.’ Ek weet dat hy dit in ‘n ligte lym bedoel het, maar dit mag nooit waar wees van ‘n herder dat hy geen belang het in mense, dat hy nie ‘n mens mens is, dat hy nie met mense wil meng, of dat hy sosiaal ongemaklik is nie.

Paulus was lief vir mense. Toe hy bv. ontydig en teen sy sin van die Tessalonisense geskei is, wou hy weet hoe dit met hulle gaan (2:17-3:5). Het hulle vasgestaan onder die vervolging, of het hulle die Here verloën (v.5)? Hy het Timoteus gestuur om uit te vind, asook om hulle in die geloof te versterk (v.1-2, 5). Hy was in Korinte toe Timoteus met die goeie nuus gekom het dat die Tessalonisense vasstaan in die geloof, dat hulle mekaar liefhet, dat hulle Paulus en sy span met dankbare harte onthou, en dat hulle na Paulus verlang soos hy na hulle verlang (v.6, 1:3, 4:9-10, Hand. 18:1, 5).

Die goeie nuus van die Tessalonisense se standvastigheid in die Here het hom bemoedig toe hy eensaam was en deur die Jode vervolg is (v.7-8, Hand. 17-18, vgl. 2Kor. 7:6-7, 13). Dit was soos nuwe lewe in sy siel, soos vars lug in sy longe, soos ‘n koel bries op ‘n warm dag en soos koue water as jy moeg is (v.8, Spr. 25:13, 25).

Wat leer ons hieruit? Die ideale herder sit nie in ‘n hoek en top oor sy beproewings nie, maar is eerder besorg oor hoe dit geestelik met die gemeente gaan. Hou hulle aan met die Here? Groei hulle in die geloof? Hoe lyk die eenheid in die gemeente?

Dit herinner my aan ‘n vriend wat ‘n maand gelede ‘n boodskap gekry het dat ‘n ander gelowige niks meer met hom te doen wil hê nie. Dit het hom ontmoedig. Toe ek hom eergister vra hoe dit nou met hom gaan, toe sê hy: ‘Ek dink nie eintlik daaraan nie, maar is meer bekommerd oor hoe dit met die jong gelowiges gaan: bly hulle staande, of val hulle terug?’ Hy het nie aan homself gedink nie, maar aan ander (Fil. 2:3-4). Soos Paulus, is sy voorbeeld ‘n waardige een om na te volg (1Kor. 10:33-11:1).

Nog ‘n les wat ons uit v.6-8 leer, is dat ‘n herder se lewe met die gemeente s’n vervleg is. Hy gee nie net sy tyd, aandag, geld en gawes om hulle te dien nie, maar homself (2:8). As dit met hulle goed gaan, is hy bly; as hulle afdwaal, raak hy angstig (v.1-8). Die gemeente se blydskap en pyn is syne (v.8, Rom. 12:15, 1Kor. 12:26).

Mense verstaan dit nie en het al vir my gesê: ‘Moenie die gemeente se probleme so ernstig opneem nie; moet dit nie op jouself neem nie.’ Maar hoe kan ek dit nié persoonlik opneem as mense tussen Jesus en sonde kies soos wat hulle tussen Pepsi en Coke kies en hulle ewige bestemming daarvan afhang nie? Moet ek net my skouers optrek en sê: ‘Dit is jou keuse’?

Of moet ek soos Paulus sê: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig… Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2Kor. 5:11, 20)? Paulus praat nie net in hierdie verse van evangelisasie nie. Hy sê ook vir gelowiges om hulle sonde te bely en met God versoen te raak. In Jesus se Naam sê ek dieselfde vir jou: keer terug as jy afgedwaal het; raak met God versoen deur Jesus wat sy lewe vir jou gegee het.

My hart voel swaar oor mense in ons gemeente wat nie ernstig is met die Here nie; vir wie Jesus nie alles is nie, maar net ‘n deel van hulle besige lewens. My hart bloei as ek sien hoe lief hulle nog die wêreld het. Maar “wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mark. 8:36-37). Ek sidder as ek dink dat ek op die laaste dag teen hulle sal moet getuig. Ek hoop jy is nie een van hulle nie. Hoe gaan dit geestelik met jou?

Soos Paulus en John Welch oor hulle gemeentes besorg was, is ek besorg oor jou siel. John Welch (1568-1622) het in die koue nagte opgestaan om vir sy kudde te bid. Hy het vir sy vrou gesê: ‘I have the souls of 3000 to answer for, while I know not how it is with many of them.’ [Aangehaal in Charles Bridges, The Christian Ministry: Third Edition (London: R.B. Seely & W. Burnside, 1830), 657 n.2].

Vir die Here se eer en jou siel se onthalwe, vra ek jou om Heb. 13:17 ter harte te neem: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

 

  1. Sy gebede (v.9-13)

Die einste John Welch van wie ek sopas gepraat het, het nooit deur ‘n nag geslaap nie en het 7-8 ure per dag in gebed deurgebring[John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1870), 120]. Dit is uitsonderlik. Min tot geen herders in ons tyd sal so baie bid nie. En tog moet elke herder ‘n man van gebed wees. Paulus was. Daar is ten minste ses kenmerke van sy gebedslewe in die verse voor ons:

 

[a] Danksegging (v.9)

Paulus se blydskap het oorgeloop. Hy kon die Here nie genoeg vir die Tessalonisense se standvastigheid en groei dank nie (v.9). Ek weet van verskeie herders wat gereeld vir hulle gemeentes bid. Hoeveel van hulle maak egter ‘n punt daarvan om soos Paulus die Here vir hulle gemeentes te dank (v.9, 1:2, 2:13, 19-20, Rom. 1:8, Ef. 1:16, Fil. 1:3, Kol. 1:3)?

Party mense sal sê: ‘Ek is deel van ‘n moeilike gemeente en kan nie die Here vir hulle dank nie.’ Maar selfs in die moeilikste omstandighede is daar nog dinge in die gemeente waarvoor jy die Here kan dank. Paulus het bv. die Here vir die moeilike Korintiërs gedank (1Kor. 1:4). As jy net ‘n bietjie sit en dink, sal jy sien dat daar eintlik baie is waarvoor jy die Here kan dank, al is dit net dat die Bybel nog op ‘n Sondag in jou gemeente gelees word.

 

[b] Volharding (v.10)

Paulus het dag en nag gebid om by die Tessalonisense uit te kom, sodat hy die leemtes in hulle geloof kon opvul (v.10, Rom. 1:9-10, Kol. 1:9, 2Tim. 1:3). Hulle het die basiese waarhede verstaan (v.2, 2:13), maar moes nou dieper in die Woord geskool word. Dit is o.a. die rede hoekom hy solank hfst. 4-5 geskryf het.

Dit is ‘n aanhoudende en groot deel van elke herder se werk, naamlik om te bid en te preek dat die gemeente die waarheid van die Bybel sal verstaan en volwasse sal raak in die geloof (Matt. 28:19-20, Hand. 20:27, Kol. 1:28-29, 4:12, Heb. 5:12-6:2, 2Pet. 3:18). Ek kry die idee dat baie herders in ons kringe op die ‘preek’ deel fokus en dat hulle bedienings nie soos Paulus s’n met gebed deurweek is nie. In ander denominasies bid die leraar baie, terwyl hy nie genoeg aandag gee om die kudde met die vaste spys van diep Bybelse lering te voed nie.

Die ideale herder is soos Paulus en doen beide: hy bid dag en nag, en maak dit ook sy prioriteit om die skape met die weiding van goeie, Bybelse teologie te voed (v.10, Hand. 6:4).

 

[c] Erns (v.10)

Volgens v.10 het Paulus met groot erns gebid. Dit laat my dink aan ‘n klompie Skotse predikante wat in Edinburgh bymekaar gekom het om die slegte toestand van dinge in die land te bekla. Robert Bruce (1554-1631) het sy bes probeer om hulle aan te moedig om te bid. Martyn Lloyd-Jones skryf:

‘…it was clear to Bruce that they were but “trying to pray”, and he did not regard that as praying. So he was “stirred in his spirit”, as Paul was at Athens, and said that he was going to “knock” the Holy Spirit into them. So he began to thump the table with his fists; and he certainly achieved something. They then really did begin to pray “in the Spirit” and they were lifted up out of their depression to the heights and given great assurance from God that He was still with them and that He would “never leave them, nor forsake them”. They went back to their work re-invigorated and with a new hope and confidence.’ [Martyn Lloyd-Jones, Preaching & Preachers (Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House, 1971), 316].

Moenie in jou gebede mompel nie. Wees ernstig. “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag.” (Jak. 5:16). Bid soos Paulus en Jesus (v.10, Luk. 22:44, Heb. 5:7). Storm die hemelse poorte en hou aan klop totdat die Here oopmaak.

 

[d] Hoopvol (v.11)

Paulus het geweet dat God sy Vader is en Jesus sy Here (v.11). Daarom het hy geglo dat die Here persoonlik betrokke sal wees om die duiwel se hindernisse uit die pad te verwyder, sodat hy by die Tessalonisense kon uitkom (v.11, 2:18). Die Here het sy gebed beantwoord (Hand. 20:1-2).

Leer hieruit dat gebed ‘n stryd is, omdat jy teen die duiwel en sy magte bid (v.11, 2:18, Ef. 6:18). Satan sal alles in sy vermoë doen om jou te keer. Moet egter nie opgee nie. Die Here is aan jou kant en is sterker as die duiwel (Rom. 8:31, 1Joh. 4:4). Bid met vertroue dat die Here jou gebede sal beantwoord en dat die duiwel nie sy werk kan keer nie (v.11, Matt. 7:7-8, 16:18).

 

[e] Geestelik (v.12-13)

Ek bedoel dat Paulus nie nét vir tydelike dinge soos die gemeente se finansies en siek mense gebid het nie. Hy het eerder op geestelike dinge gefokus, bv. dat die gemeente sy voorbeeld van liefde vir mekaar en vir almal moes volg (v.12, 4:9-10, 2Tess. 1:3, Rom. 5:5, 1Kor. 16:14, Fil. 1:9, Joh. 13:34-35).

Hoe meer hulle mekaar liefgehad het, hoe meer sou hulle heilig gewees het in hulle optrede teenoor mekaar en voor die Here (v.12-13). Jy kan tog nie jou broer slegsê, of sy vrou begeer as jy hom liefhet nie (4:6, Rom. 13:9-10). Jy sal eerder sy kinders by die skool oplaai en vir hulle kos gee, omdat sy vrou baie siek is en hy tussen die hospitaal en die huis moet ry om by haar te wees (1Joh. 3:16-18).

Bid dan vir die gemeente se fisiese probleme, maar moenie nalaat om te bid dat hulle in hulle fisiese probleme geestelik sal groei en soos Jesus sal word nie. Die beste manier om hiervoor te bid, is om die Onse Vader en Paulus se gebede te bid.

 

[f] Wederkomsgerig (v.13)

Paulus het geweet dat ons eendag voor die Here gaan staan (v.13). Hy wou hê dat die Tessalonisense rein en heilig voor die Vader moes wees (v.13). Hulle sou skaam kry as Jesus met sy heilige engele en die sondelose gelowiges uit die hemel moes terugkeer, terwyl húlle lewens soos ‘n vuil trourok met sonde besmet was (v.13, 4:14, 2Tess. 1:7, 10, Sag. 14:5, Matt. 25:31, Jud. 14).

Is jy gereed om op die laaste dag voor die Here te staan; is jy gereed om jou God te ontmoet (v.13, Amos 4:12, Fil. 1:10, 2Tess. 1:10-11)? Leef jy in die lig hiervan en bid jy hiervoor (2Pet. 3:11, 14, 1Joh. 2:28, 3:3)? Weet jy of jou herder hiervoor bid (5:23-24)? Of kontak jy hom net om vir jou te bid as jy siek is en ‘n krisis beleef?

Joel Beeke het ‘n vrou in die hospitaal besoek. Toe hy klaar uit die Bybel gelees het en vir haar gebid het, het sy gesê: ‘My pastor came too. He didn’t read the Bible or pray for me. He didn’t ask me how I am really doing.’

Bid asb. vir jou herder dat hy nie so sal wees nie, maar dat hy jou geestelike welstand op die hart sal dra. Bid dat hy die ideale herder sal wees, terwyl jy in dieselfde asem besef dat hy in die uiteindelike sin van die woord nooit die ideale herder sal wees nie, omdat daar net één Ideale Herder is, naamlik Jesus Christus (Ps. 23:1, Joh. 10:11, 1Pet. 2:25, 5:4).

Advertisements