Ons model vir gebed

Image result for jesus praying

Lukas 11:1

Kinders leer nie net deur wat hulle ouers sê nie, maar deur wat hulle dóén. Geestelik is dit dieselfde: ons leer deur wat God in die Bybel sê, maar ook deur wat Jesus gedurende sy lewe op aarde gedóén het. Dit geld ook vir gebed. Luk. 11:1 wys dit vir ons.

 

  1. Jesus se voorbeeld

Ek onthou hoe ek by twee verskillende geleenthede vir mense gesê het om nie sonde te doen nie, maar om Jesus se voorbeeld te volg. Beide persone het geantwoord: ‘Ek is nie perfek soos Jesus nie. Hy is God en daarom was dit vir Hom maklik om nie sonde te doen nie.’

Maar het Jesus uit sy Goddelike natuur ‘getap’ om Homself uit moeilike situasies te red? Nee (Matt. 4:3-4). Ons weet dat Hy volkome God is. Maar Hy is ook volkome mens. Soos ons, moes Hy op sy Vader wag, het Hy die Gees se krag benodig, moes Hy die Bybel leer en gehoorsaam, en moes Hy gereeld bid.

Tydens sy 33 jaar op aarde het Hy gekies om die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe neer te lê en om Hom aan die Vader se wil te onderwerp (Fil. 2:6-7, Matt. 26:39, Joh. 4:34, 5:19, 30, 6:38, 8:38). Hy het bv. niks gesê as sy Vader Hom nie beveel het nie (Joh. 12:49-50). Hy het gekies om nie in sy eie krag te werk nie, maar om al sy werke deur die krag van die Heilige Gees te doen (3:21-22, 4:1, 14, 4:18-19, 5:17, Matt. 12:28, Hand. 10:38).

Die Vader en die Gees het in en deur Jesus gewerk om te wys dat Hy die Messias en die Seun van God is. In daardie opsig sal jy dan nie soos Hy storms stilmaak, of jouself uit die dood opwek nie. Maar as jy jou aan die Vader onderwerp en gevul is met die Heilige Gees, kan jy kragtig en gehoorsaam lewe soos Hy. Hy is immers ons model en patroon: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1Kor. 11:1). “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).

Dit geld ook vir gebed: omdat Jesus gebid het, moet ons dieselfde doen. As Jesus Christus gebed nodig gehad het, hoeveel te meer moet ons nie bid nie?

Ek onthou hoe Martin Holdt ons vertel het van wyle André Erasmus wat so kon bid. Volgens Martin het André eenkeer die foon opgetel, ‘n paar sinne gepraat, en gesê: ‘Kom ons bid…’ André Erasmus (en Martin Holdt!) het eintlik maar net sy Verlosser se voorbeeld gevolg. Jesus was ‘n man van gebed. Hy het vroeg opgestaan om te bid (Jes. 50:4, Mark. 1:35). Sy lewe is deur gebed gekenmerk: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Heb. 5:7).

As jy jouself ‘n dissipel van Jesus noem, moet gebed ook jou lewe en jou gemeente s’n kenmerk (Hand. 2:42, 9:11). Ons kan nie bely dat ons Jesus volg, maar dan min of glad nie bid nie. Sonder jy tyd af om op jou eie met die Here te praat? Doen jy dit gereeld? Wat van jou gemeente? Het julle ‘n weeklikse biduur? Woon mense dit by? Bid hulle, of is dit eintlik maar net ‘n tyd waar mense vir 50 minute gesels en met ’n rondte van gebed afsluit?

Hoe sal daar krag in ons lewens en gemeentes wees as ons nie bid nie? Toe Jesus by sy doop gebid het, het sy Vader Hom met die Gees gevul om Hom vir sy bediening te bekragtig (3:21-22). Daarna het Hy vir veertig dae gevas om Hom vir sy bediening voor te berei (4:1-2).

Is dit nie waar ons krag vandaan kom om die Here met ons lewens te eer en suksesvol te bedien nie: die Vader wat ons met sy Gees vervul en ons bekragtig in antwoord op gebed (11:13, Ef. 3:16)? As die Here hierdie gebed beantwoord, sal ons geestelike groei en bekerings sien. Dit sal natuurlik beteken dat ons baie besig raak. Dit mag ook wees dat ons populêr raak.

Hoe sal ons die besige skedule en die versoeking om onsself te verhef, hanteer? Ons sal doen wat Jesus gedoen het; ons sal bid: “Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.” (5:15-16).

Ons sal nie soos baie leraars en lidmate sê: ‘Ek is besig en het nie tyd om te bid nie.’ Ons sal eerder soos Jesus wees wat die krag en wysheid vir sy besige skedule in gebed by die Vader gesoek het. Ons sal ook baie tyd op ons knieë deurbring, sodat die populariteit nie ons aandag van die Here aftrek en tot ‘n val bring nie.

Om te keer dat populariteit ons sink, sal die Here toelaat dat mense ons kritiseer (2Kor. 12:7). Hoe sal ons dit hanteer? Ons sal bid. Dit is wat Jesus gedoen het (6:11-12). Moet jouself nie bejammer of in die gat van moedeloosheid bly sit nie. Leer eerder uit Jesus se voorbeeld dat baie tyd in gebed die beste en mees effektiewe oplossing teen mense se kritiek is (vgl. Ps. 109:4, 1Pet. 2:23).

Lang tye van gebed is ook nodig voor ons geestelike leiers aanstel. Jesus het dit gedoen (6:12-16). Hoe ernstig bid ons voor ons ‘n leraar beroep, ouderlinge aanstel, of teologiese studente goedkeur (Hand. 13:2-3, 14:23)? Doen ons dit nie miskien lukraak nie?

Lukas sê verder dat Jesus gebid het voor die dissipels sy heerlikheid gesien en verstaan het (9:18, 20, 28-29). Duidelik is daar dan ‘n direkte verband tussen gebed en iemand se vermoë om die heerlikheid van Jesus Christus in die evangelie te sien. Bid jy gereeld en met erns hiervoor? Bid jy gereeld vir die prediking van God se Woord en dat mense tot bekering sal kom? Of wy jy omtrent drie minute hieraan wanneer ‘n paar van julle voor die diens saamkom om te bid?

Sal die Here nie mense red as ons meer hiervoor bid nie? Hy sal. Jou en my redding is o.a. die gevolg van Jesus se gebede (23:34, Joh. 17:15, 24, 26, Rom. 8:34, Heb. 7:25). God se antwoord op hierdie gebede wys ook dat die toekoms van ons land en die redding van die geslagte wat kom tot ‘n groot mate deur ons gebede (of biddeloosheid) bepaal word (Joh. 17:20, 1Tim. 2:1-4).

Maar dan moet ons ernstig bid en nie speel. Soos Jesus in die tuin van Getsemane, moet ons met groot dringendheid bid (22:41-44, Heb. 5:7, Jak. 5:16b). Soos jy weet, is dit harde werk. Maar die Here sal jou hiervoor beloon. En as Hy jou gebede beantwoord, moet jy nie vergeet om Hom te dank nie. Jesus het nie (10:21, 22:17, 19). Ons moet ook nie (17:15-18, Ps. 50:23, Ef. 5:20, 1Tess. 5:18).

Noudat ek gewys het dat gebed ‘n sentrale deel van Jesus se lewe was, wil ek Luk. 11:1 uitlê en ‘n paar lesse uittrek. Volgens Lukas het Jesus op ‘n sekere plek gebid (v.1). Dit was moontlik die tuin van Getsemane op die Olyfberg, omdat Hy gewoonlik daar gaan bid het (21:37, 22:39, Joh. 18:1-2).

Wat is die les? Dit is goed om ‘n vaste plek van gebed te hê. As jy elke dag jou gebedsplek verander, kan die nuwe omgewing dalk jou aandag aftrek, sodat jy sukkel om te bid. Om ‘n gereelde plek te hê, help ook dat jy in die stemming van gebed kom. As jy bv. in die sitkamer sit, wil jy TV kyk, boek lees, kuier, of ontspan. En as jy gereeld op ‘n plek bid, kan dit jou onderbewustelik in ‘n stemming van gebed bring.

Maar die plek is nie alles nie. Jesus het by tye op ander plekke gebid (5:16, 6:12, 9:28, Mark. 1:35). God is oral, en daarom is dit nie ‘n móét dat jy op ‘n sekere plek bid, of soos Moslems in ‘n sekere rigting kyk as jy bid nie (Joh. 4:20-24, Jer. 23:24). As jy opreg en deur geloof in Jesus bid, is jou gebede aanneemlik, of jy nou in ‘n kerkgebou, jou slaapkamer, of op ‘n berg bid. God is nie beperk tot ‘n plek nie. Al is jy onder die see of in ‘n vis se maag, kan Hy jou gebede verhoor (Jona 2).

Toe Jesus klaar gebid het, het een van sy dissipels Hom gevra om hulle te leer bid soos wat Johannes die Doper sý dissipels geleer het (v.1). Hy kon seker hoor dat Jesus anders as die Fariseërs bid. Hy het eerbiedig, opreg, en vrymoedig gebid. Sy gebede het gespreek van ‘n persoonlike en intieme verhouding met die Vader. Die dissipels wou leer om soos Jesus te bid.

Dit fasineer my dat die eerste leiers van die kerk soos Jesus wou bid, terwyl die meeste teologiese kolleges skaars ‘n kursus oor gebed aanbied. Martin Holdt het vereis dat die studente elke Vrydag vas en vir ‘n paar uur saam bid. Na sy dood het dit weggeval.

Hoeveel opleidingskole is ernstig om hulle studente te leer bid? Byna enige leraar weet hoe om ‘n preek voor te berei. Maar hoeveel leraars is daar wat magtig is in gebed? Het jy al gelet op die volgorde van Hand. 6:4: “maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.”?

Hoeveel leraars vas nog gereeld? Hoeveel van hulle leer hulle leiers om te bid deur gereeld saam met hulle te bid? Hoeveel van hulle maak ‘n punt daarvan om bidure in hulle gemeentes te begin?

Hoe en waar kan ‘n leraar, geestelike leier, of lidmaat leer om te bid? ‘n Kursus waarin jy Jesus se lering en voorbeeld van gebed bestudeer, is ‘n goeie begin. Dit sal ook help as jy die lewens bestudeer van mense wat soos Jesus gebid het: Moses, Dawid, Paulus, John Welch, George Müller, Hudson Taylor, ens. Maar om regtig te leer bid, moet jy aksie neem en in jou binnekamer met die Here praat. Bid ook saam met volwasse gelowiges wat soos Jesus bid.

 

  1. Jesus se lering

Ek het in 2012 die Here gevra om my te leer bid. Byna onmiddellik het Luk. 11:1 by my opgekom, waar een van Jesus se dissipels Hom dieselfde vraag gevra het. Ek het besef dat die Here my nie iets nuut gaan leer nie, maar dat Hy my sal help om die Onse Vader te verstaan. Dit is tog wat Hy met die dissipels gedoen het. Toe hulle Hom gevra het om hulle te leer bid, het Hy die les van Matt. 6:9-13 herhaal en die Onse Vader vir hulle geleer. Duidelik is daar dan nie ‘n ander of beter patroon vir gebed as hierdie een nie.

Wat leer hierdie gebed ons; waarvoor moet ons bid? Die gebed bestaan uit ses versoeke. Ons kan dit in twee verdeel. Die eerste drie versoeke gaan oor God se belange (sý Naam, sý Koninkryk, sý wil), terwyl die laaste drie versoeke oor ons s’n gaan (óns daaglikse brood, óns sonde, óns versoeking).

Die orde is belangrik. Gebed moenie net oor ons belange gaan nie. Dit is maklik om net oor jóú probleme, jóú begeertes, jóú versoeke, jóú geliefdes, en jóú bekommernisse te bid. Dit is moeilik om God-gesentreerd te bid. Maar as jy die orde reg het en eers op God se grootheid fokus, sal jy jou probleme in perspektief sien en sal dit vir jou klein lyk; iets wat die Here maklik kan oplos.

Dit is ook belangrik om te onthou dat Jesus die Onse Vader as die patroon gegee het waarvolgens ons moet bid. Hy het nie bedoel dat jy die gebed elke dag moet opsê, soos wat ‘n vroeë Christelike dokument, die Didache (8:2-3) vereis nie. Jesus het juis in Matt. 6:7 gesê dat jy nie soos die heidene leë formules of rympies moet gebruik wanneer jy bid nie. Dit geld ook vir die Onse Vader.

Volg eerder die patroon en sien dat dit al die aspekte van gebed dek: lofprysing, toewyding, smeking, belydenis, voorbidding, selfondersoek, waaksaamheid. Hierdie gebed dek ons geestelike, sowel as ons fisiese nood. Dit leer ons ook om oor die verlede, hede en toekoms te bid. Dit is ‘n wonderlike en allesomvattende gebed.

Maar dit is nie die eerste gebed wat jy moet bid nie. Voor jy tot God as jou Vader kan bid, moet jy Jesus as jou Verlosser aanroep (Rom. 10:13). Jy moet besef dat jy verlore is en dat jy niks kan doen om God se guns te verdien nie. Moenie aanneem dat dinge tussen jou en die Here reg is, omdat jy van kleins af ‘n Baptis is, omdat jy die Onse Vader en ander Bybelverse uit jou kop ken, omdat jy tydens ‘n Paaskamp gedoop is, of omdat jy dit geniet om preke te luister nie.

Vertrou jy op Jesus Christus? Rus jy ten volle op wie Hy is (die ewige Seun van God) en wat Hy deur sy sondelose lewe, kruisdood, en opstanding gedoen het om slegte mense soos ek en jy te red? Buig jy in algehele toewyding en lojaliteit voor Hom as jou Here en jou Koning?

As dit so is, dan is God jou Vader en kan jy Jesus se modelgebed met vrymoedigheid bid, in die wete dat Hy jou sal antwoord. Jy sal nie soos ‘n Moslem bid om jou redding te probeer verdien nie, maar om dit te geniet.

Advertisements