Vyf kenmerke van ’n ware prediker

Image result for voddie baucham preaching

1Tessalonisense 2:1-12

Met ‘n ‘ware prediker’ verwys ek nie net na predikante nie. Ek bedoel ook sendelinge, evangeliste en Christelike werkers; enigiemand wat die evangelie ‘voltyds’ verkondig. Die vyf kenmerke van 1Tess. 2:1-12 sal jou help om te weet of die Here jou dalk geroep het om ‘n prediker te wees. Dit sal jou help om te weet of die prediker na wie jy elke week luister, of die sendeling wat jou gemeente ondersteun, ‘n ware prediker is.

Dit sal jou ook help as jy ooit deel raak van ‘n proses om leraar te beroep. Dit sal help dat jy nie sommer net iemand wil beroep, omdat hy twee goeie preke gepreek het nie. Die vyf kenmerke hieronder sal jou ook help om beter vir predikers te bid.

Laastens sal dit jou help om te weet of mense se aantygings waar is wanneer hulle sê dat iemand nie ‘n ware prediker is nie. Dit is o.a. die rede hoekom Paulus hierdie verse geskryf het: die Jode het sy naam swart gesmeer deur te sê dat hy nie ‘n ware prediker is nie. Nou gee hy vyf kenmerke van ‘n ware prediker, sodat die Tessalonisense vir hulleself kan besluit of hy en sy span eg is, of nie.

 

  1. Hy sien hoe mense se lewens verander (v.1)

Wat is verkeerd as iemand jaar in en jaar uit preek, sonder dat mense se lewens verander? Dalk preek hy sy eie flou boodskap i.p.v. die kragtige Woord van God (Heb. 4:12). Of dalk preek hy die ware Woord, maar maak hy staat op sy eie krag en bid hy nie genoeg nie. Dalk weerspreek sy lewe die Woord, sodat mense nie sy boodskap ernstig opneem nie. Of dalk het hy ‘n bediening soos Jeremia s’n en sal hy nooit baie bekerings sien nie. Dit is egter die uitsondering en nie die reël nie.

Spurgeon was reg: ‘It is a marvel to me how men continue at ease in preaching year after year without conversions… Or is it their belief that Paul plants and Apollos waters, and that God gives no increase?… Prophets whose words are powerless, sowers whose seed all withers, fishers who take no fish, soldiers who give no wounds—are these God’s men?’

As die prediker God se Woord in die krag van die Heilige Gees verkondig en heilig lewe, sal mense se lewens verander (1Tim. 4:16). Elke prediker sal nie ewe veel vrug sien nie, maar elke ware prediker sal ‘n mate van sukses geniet. God se predikers arbei nie tevergeefs nie, maar word uitgestuur om ‘n oes in te bring (v.1, Ps. 126:5-6, Matt. 9:37-38, Joh. 4:35-38, 1Kor. 15:58).

 

  1. Hy is dapper (v.2)

Toe Paulus en sy span in Filippi was, het die owerhede die wet oortree. Hulle het Romeinse burgers (Paulus en Silas) sonder ‘n verhoor met stokke geslaan en in die tronk gegooi (v.2, Hand. 16:22-24, 37). Ook in Tessalonika het die Jode die skare aangehits om die sendelinge te vervolg (v.2, Hand. 17:5-7).

Onder hierdie omstandighede het die Heilige Gees hulle dapper gemaak om die evangelie met vrymoedigheid te verkondig (v.2, Hand. 4:13, 31, Ef. 6:19-20). Dit het gemaak dat mense sê: ‘As hulle die evangelie meer liefhet as hulle eie veiligheid, moet daar iets in hulle boodskap wees. Praat gerus met ons; ons is ene ore!’

Dit laat my dink aan een van my vriende wat ‘n sendeling is. ‘n Paar jaar gelede het rowers hom en sy vrou in hulle huis oorval. Na die aanval is hulle terug Amerika toe. ‘n Paar maande later, toe keer hulle terug om die werk voort te sit. Hulle besluit het gemaak dat die buurvrou tot bekering gekom het. Sy het gesien dat hulle Jesus, die evangelie en ander mense meer liefhet as hulle eie lewens (Luk. 14:26, Op. 12:11).

Is jy in ‘n posisie waar jy bang is om die evangelie te deel omdat dit jou in die moeilikheid kan bring: dit kan ‘n verhouding versuur, jy kan jou werk verloor, mense sal jou spot? Vra die Gees om jou dapper te maak, sodat jy sagmoedig en vrymoedig oor God se liefde in Jesus se kruisdood kan praat.

 

  1. Hy het suiwer motiewe (v.3-6)

Met die aanvang van my teologiese studies het my predikant ‘n gesprek met my gehad. Hy het my o.a. aan die bekende gesegde herinner: ‘In die bediening moet jy versigtig wees vir die drie F’s: Female, Fame & Finance.’

Paulus se opponente het hom daarvan beskuldig dat hy gepreek het om hierdie dinge te kry. Hulle het m.a.w. gesê dat sy motiewe onrein is. Hy het dit ontken en in die eerste plek gesê dat hy nie ‘n vals boodskap verkondig nie (v.3). As hy onrein motiewe gehad het, sou hy nie ‘n boodskap gepreek het wat hom in die moeilikheid kon bring nie.

Hy het ook nie met onrein motiewe gepreek om vroue se guns te wen en hulle seksueel te misbruik nie (v.3, 4:7). Verder het hy nie gepreek om mense te mislei nie (v.3). Sy motiewe was suiwer. Hy en sy span het gepreek as mense wat deur God gestuur is (v.4, Hand. 9:15, 13:2-4, 15:40, 16:2). Hulle was rentmeesters wat God se boodskap moes aflewer; kelners wat die kos bedien en nie die kok wat dit voorberei nie (v.4).

Hulle het gepreek om God te behaag wat hulle harte ken en hulle motiewe toets (v.4). Hulle het nie die boodskap versag om mense se ore te streel nie (v.4, Gal. 1:10, 2Tim. 4:3-4). Vir die ware prediker gaan dit nie oor die kleipot van sy lewe en sy bediening nie, maar oor die skat van die evangelie binne die pot (2Kor. 4:7). Vir hom is die boodskap nie ‘n kunsstuk nie, maar ‘n vishoek om mense vir Jesus te vang.

Hy probeer nie mense vlei dat hulle goed voel oor hulleself nie (v.5). Paulus en sy span het nie mense gevlei nie, maar reguit gepreek oor die Tessalonisense se sonde en die hel wat hulle verdien. Vals predikers vermy sulke boodskappe, omdat dit aanstoot gee.

Hulle is ook lief vir geld. Hulle is lief vir luuksheid. ‘n Mens sien dit in die karre wat hulle ry, die klere wat hulle dra, en die huise waarin hulle bly. Hulle misbruik hulle posisie om geld te kry. Die kansel is nie die plek waar hulle die Woord van God verkondig nie, maar die plek waar hulle op mense se gevoelens speel om geld te kry. Geld is gereeld die onderwerp van hulle leiersvergaderings. Hulle raak kwaad as die leiers nie ingee om vir hulle meer geld te gee nie.

Paulus en sy span was nie so nie. Dit het nie vir hulle oor geld gegaan nie (v.5, Hand. 20:33). Sy opponente kon hom maar beskuldig soos hulle wou. Hy het in sy hart geweet dat geld nie vir hom of sy span ‘n kwessie is nie. God het sy motiewe geken en geweet dat hy die waarheid praat (v.5). Paulus se aksies het ook gewys dat hy nie geldgierig is. Ons sien dit in v.9, maar ek sal later iets hieroor sê.

As hy wou, kon Paulus vir die gelowiges gesê het: ‘Ons is apostels of boodskappers van Christus. Hy het ons gestuur om die evangelie te verkondig. Daarom moet julle ons finansieel ondersteun (v.6, Luk. 10:7, 1Kor. 9:14, 1Tim. 5:17-18).’ Hy het egter sy reg ontsê om geld te vra, sodat niemand kon sê hy het onrein motiewe en soek net geld nie (1Kor. 9:12).

Daar was nog ‘n klagte teen hom, naamlik dat hy en sy span gepreek het om ‘n naam vir hulleself te maak (v.6, 4, Joh. 5:41). Maar as die klagte waar was, sou hy nie aangehou het om die evangelie te preek nie, omdat dit aanstoot gee as jy vir mense sê: ‘Jy is sleg en kan niks doen om jouself te red nie’ (v.2, Gal. 6:11).

Wat is die les? Die prediker moenie sy preke aanpas om mense tevrede te stel nie. Hy moet preek wat in die teks staan, of mense nou daarvan hou of nie. As hulle daarvan hou moet hy die Here prys en nie hoogmoedig raak nie. As hulle nie daarvan hou nie, moet hy nie depressief of kwaad raak nie. Mense se opinies beteken nie veel nie. ‘Is die Here tevrede met wat ek vandag gesê het?’ is uiteindelik die vraag wat hy homself moet afvra (v.4, 6).

 

  1. Hy gee homself (v.7-9)

Wat is sagter as die beeld van ‘n ma wat haar baba teen haar bors hou en melk gee? So was Paulus en sy span toe hulle die baba gelowiges van Tessalonika met die melk van die Woord gevoed het (v.7, 1Pet. 2:2). Hulle was lief vir die Tessalonisense en het verlang om by hulle te wees (v.7-8a, 17).

Hierdie is belangrike inligting vir ‘n gemeente wat ‘n leraar wil beroep, of ‘n sendeling uitstuur. Indien die persoon sosiaal ongemaklik is, homself eenkant hou, of nie graag met mense meng nie, sal dit beter wees dat hy honde oplei of groente pak: die bediening is nie vir hom nie.

Paulus en sy span was ware predikers wat omgegee het vir die nuwe gelowiges (v.7-8). Daarom het hulle nie net die evangelie gedeel nie, maar hulleself gegee om die gemeente te bedien (v.8). In die dag het hulle gepreek en in die aand het hulle tente gemaak, omdat hulle nie ‘n finansiële las wou wees vir die Tessalonisense nie (v.9, 2Tess. 3:7-8, Hand. 18:3). Hulle het hulleself, hulle tyd, en hulle geld gegee om die gemeente te bedien (v.9).

Ek ken baie predikers wat op hulle eie onkoste dinge vir die kerk doen, dinge waarvan die meeste mense nie eers bewus is nie. Hulle gee ook hulleself en hulle tyd. Terwyl ander mense by hulle gesinne is, weggaan vir die naweek, of ‘n vleisie braai op ‘n publieke vakansiedag, bestudeer hierdie predikers die Woord, gee hulle hulleself aan gebed, of help hulle iemand in ‘n krisis. Dit is nie altyd maklik nie, veral nie vir hulle vrouens en kinders nie. Maar die Here is met hulle en sal hulle beloon wanneer Hy weer kom.

 

  1. Hy is onberispelik (v.10-12)

Toe Daniël se vyande rede gesoek het om hom te beskuldig, kon hulle nie fout vind nie (Dan. 6:4). Hy was onberispelik. Onberispelik beteken nie sondeloos nie, maar dit beteken dat mense nie fout kan vind met jou karakter nie. Dit is hoe die prediker se lewe en boodskap moet lyk: sonder vlek en opreg.

[a] Sy lewe (v.10)

Die Tessalonisense kon getuig dat Paulus en sy span se lewens heilig, regverdig en onberispelik is (v.10, 1:5). God was ook ‘n Getuie dat hulle selfs in die geheim so gelewe het (v.10).

Sonder ‘n onberispelike lewe kan ‘n prediker nie effektief preek nie. Sy prediking sal kragteloos wees. Hy sal homself en sy hoorders ruïneer. Hy sal wees soos ‘n jong prediker van wie wyle Martin Holdt ons vertel het: ‘As hy preek ontvang ek seën, maar dit het vir my gevoel of iets nie lekker is nie. Ek was reg; daar was sonde in sy lewe.’

[b] Sy boodskap (v.11-12)

Maar soos wat ‘n suiwer preek sonder ‘n heilige lewe kragteloos is, kan ‘n heilige lewe sonder ‘n suiwer boodskap jou nie red nie. Daarom moet die prediker se boodskap onberispelik wees. Hy moet onberispelik wees in die manier waarop hy dit oordra. Net soos wat ‘n pa sy kinders mooi leer, bemoedig, en instruksie gee, het Paulus sy geestelike kinders geleer (v.11-12, vgl. 1Kor. 4:14-15).

Paulus was ook onberispelik in wát hy die nuwe gelowiges geleer het. Hy het hulle geleer om daagliks so te lewe dat dit by hulle Christelike getuienis, God se Woord, en sy karakter pas (v.12). Hy het hulle verder herinner om in die midde van vervolging op God se ewige en heerlike Koninkryk te fokus (v.12).

Is dit wat die meeste predikers vandag preek? Leer hulle die gelowiges om heilig te lewe (v.10-12)? Gaan dit vir hulle oor God se Koninkryk? Of gaan dit eintlik maar oor ‘Your Best Life Now’?

Die ware prediker se roeping is nie om mense se lewens in hierdie wêreld gemaklik te maak nie. Vir hom gaan dit oor die lewe hierna. Hy is nie ‘n life coach, motiverende spreker, of sielkundige wat jou selfbeeld probeer op pomp nie. Hy maak eerder seker dat Paulus se mikpunt syne is: “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1Kor. 2:2).

Die ware prediker se lewe en boodskap gaan oor die evangelie van God; die goeie nuus wat van Hom af kom en oor Hom gaan (v.2, 8, 9, 13). Glo jy die boodskap van God wat sy Seun aarde toe gestuur het om ons te red? Glo jy dat Jesus volkome God en volkome mens is, en dat Hy die wet perfek in ons plek onderhou het? Glo jy dat Hy die straf vir ons sonde aan die kruis gedra het? Glo jy dat Hy die dood onder sy voete verpletter het en dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood?

Het die evangelie jou al aangegryp? Glo en vertrou jy volkome en met jou hele hart op Christus? Is Hy nader aan jou as die suurstof in jou longe, die bloed in jou are, en die siel in jou liggaam? Is jy nog opgewonde oor Jesus en die evangelie?

Moenie dat dit oud en koud raak in jou nie. Bid veral dat elke ware prediker dit met ‘n brandende passie en die salwing van die Heilige Gees sal verkondig. As dit gebeur sal Nicholas Ridley se woorde in Suid-Afrika vervul word. Toe hy en Hugh Latimer in 1555 deur Bloody Mary verbrand is, het hy vir sy vriend gesê: ‘Be of good comfort, Master Ridley, and play the man; we shall this day light such a candle, by God’s grace, in England, as I trust shall never be put out.’