Oor God se oordeel en die nuwe aarde

Related image

Jesaja 65

Vir goud om suiwer te wees, moet dit eers deur die vuur gaan. En vir die nuwe skepping om rein te wees, moet die Here eers met sonde afreken. Dit is waaroor Jes. 65 gaan.

 

  1. God se oordeel (v.1-16)

Vrot vrugte wat van ‘n boom af val, is goed vir die grond. Net so het Israel se val seën vir die wêreld beteken. Toe hulle val, het God sy rug op hulle gedraai en die evangelie na die heidene gestuur (Matt. 21:43, Rom. 11:11-12, 15). Hy het Homself geopenbaar aan die heidene wat Hom nie eers gesoek het, of by sy Naam genoem is nie (v.1, Rom. 10:20, kontra 63:19).

Dit bemoedig my dat God mense kan red wat Hom nie eers soek nie (v.1, Hand. 9, Luk. 10:21-22). Dit help my vir mense te bid wat nie in Jesus belangstel nie, wat Hom haat, of wat nog nooit sy Naam gehoor het nie. Maar dit maak my ook bang dat die Here voorregte kan wegvat as ons dit nie waardeer nie. Hy kan dit maklik met Suid-Afrika doen. Hy het met Israel nadat Hy vir honderde jare sy arms oopgehou het, maar hulle hardkoppig was en nie na Hom toe wóú kom nie (v.2).

Hulle het die slegte pad gekies en hulle eie kop gevolg (v.2). Hulle het die Here getart en geterg, en was daarop uit om Hom kwaad te maak (v.3). Hulle het vir afgode geoffer en nie vir die Here nie; in tuine en nie in die tempel nie; op baksteen altare en nie op ‘n altaar van ongekapte klip soos Hy hulle in Eks. 20:25 beveel het nie (v.3).

En moes die Here maar net tevrede wees dat hulle aanbid het wie en soos hulle wou? Moes Hy maar tevrede wees dat hulle die dooies oproep, of in geheime plekke offer waar hulle gedink het Hy sien hulle nie (v.4, Deut. 18:11)? Moes Hy tevrede wees dat hulle onrein varke geoffer het en die oorskiet in skottels gehou het (v.4, 66:17, Lev. 11:7)? Die Here was ontevrede met hierdie mense wat gedink het hulle afgodsrituele maak hulle super heilig, sodat niemand naby hul kon kom nie (v.5).

Maar mense wat soos hulle dink, het ‘n skewe idee van heiligheid. Heiligheid het niks te doen met geestelikheid nie. Dit is nie iets misties wat jou koue rillings laat kry as die ‘heilige’ persoon naby jou kom nie. Iemand wat vir ure bid of peins, is nie noodwendig heilig nie. Hindoes, Moslems en Boeddhiste doen ook hierdie dinge.

Heiligheid is ‘n morele kwaliteit wat maak dat jy opreg, gehoorsaam en toegewyd is. ‘n Heilige persoon is iemand vir wie die Here alles is, sodat hy niks of niemand bo Hom stel nie. As Christus nie vir jou alles is nie, is jou geestelikheid—jou Bybelstudie, gebed, kerkbywoning, bydraes en goeie werke—vir Hom soos ‘n vuur wat die hele dag brand en in sy neus rook: Hy haat dit (v.5).

Is die Here vir jou nr. 1? Of het jy ‘n lang lys verskonings vir hoekom jy nie tyd het om na sy Woord te luister, in gebed met Hom te praat, Hom te loof, by ander gelowiges te wees, mense te dien, ens. nie? As jy môre vroeg met vakansie moes ry, ‘n geliefde op die lughawe moes verwelkom, of moes doen waarvan jy regtig hou, sou jy tyd daarvoor gemáák het.

En moet die Here net stilbly, anderpad kyk en maak of Hy ons afgode nie raaksien nie? Volgens v.6 is ons afgodery soos ‘n boek wat voor Hom geskryf staan en sal Hy dié wat teen Hom sondig, vergeld dat hulle dit in hulle binneste voel (v.6-7). Hy sal sy volk vir hulle eie en hulle vaders se sonde straf (v.7).

Wat beteken dit? Het dit iets te doen met bloedlynvloeke? Glad nie. Volgens die Bybel bestaan daar nie so iets nie (Eseg. 18:20). Die vers gaan eerder oor die voorvaders wat hulle afgode op die berge en heuwels aanbid het, en oor kinders wat hulle vaders se slegte voorbeeld gevolg het. Gevolglik sou die Here hulle vir hulle eie, sowel as hulle voorvaders se sonde straf (v.7, Eks. 20:5, Matt. 23:35).

Jy hoef dus nie sogenaamde bloedlynvloeke te vrees nie. Maar jy móét versigtig wees vir die voorbeeld wat jy vir jou kinders stel. As jy ‘n slegte voorbeeld stel, is die kanse goed dat hulle dit sal volg. Dan sal die Here jou en hulle swaar straf (v.7).

Dit beteken egter nie dat die Here ‘n hele gesin, familie, gemeente of samelewing sal straf, omdat die meeste van hulle sonde doen nie. As jy reg doen, sal die Here jou nie saam met die res straf nie (Gen. 18:23-26, Op. 3:4, 16, 20).

In Israel was daar bv. nog enkele goeie ‘druiwekorrels’ in die verotte tros (v.8). Die Here het belowe om hulle te spaar en om vir húlle onthalwe nie die hele volk uit te wis nie (v.8). Uit Israel sou die Here ‘n uitverkore nageslag hê om Hom op sy heilige berg te dien en die land in besit te neem (v.9). Van pragtige Saron af in die weste, tot by die vallei van Agor in die ooste, sou die Here sy skape laat wei (v.10, 33:9, 35:2, Ps. 23:1-2, Joh. 10:9).

Vir dié wat die Here soek, was Agor nie meer ‘n plek van probleme nie (Jos. 7:24-26), maar ‘n plek van voorspoed en hoop (v.10, Hos. 2:15). Maar vir dié wat die aanbidding van die ware God op sy heilige tempelberg vergeet het, was daar probleme.

Hulle het ‘n tafel vir die Siriese geluksgod Gad gedek, en wyn geskink vir Meni, die godin van noodlot (v.11). Maar dit is dwaas om te dink jy kan ‘goeie geluk’ buite die Here kry. Volgens die Bybel is dit Hý wat die ‘noodlot’ of ‘geluk’ beheer (1Sam. 6:7-12, 1Kon. 22:34, Spr. 16:33).

Daarom help dit nie as jy op die palmleser, jou sterretekens, ‘n dobbelmasjien, of jou afgod vertrou om vir jou ‘n goeie toekoms te gee nie. As jy die Here se stem ignoreer en jou tot afgode wend, sal Hy seker maak dat die noodlot téén jou werk (v.12). Maar as jy in Hom glo, Hom liefhet en Hom behaag, sal jou lot lieflik wees (Ps. 16:5-6).

[a] Jy sal geestelik versadig wees, terwyl dié wat die Here verag, honger ly en dors is (v.13, 55:1-2, Luk. 16:24, Joh. 4:14, 6:35, 1Kor. 11:23-26, Op. 7:16).

[b] Jy bly wees en uit ‘n vrolike hart sing, terwyl die goddelose skaam is dat hulle gode hulle nie van die trane en pyn van die hel kon red nie (v.13, Matt. 10:28, 25:30, Op. 7:9-12).

[c] Jy sal ‘n goeie naam en karakter hê, terwyl die Here die godddelose sal tref en aan hulle ‘n vervloekte naam sal gee (v.14, 62:2, Deut. 28:37, Jer. 29:22, Op. 2:17, 3:12).

In teenstelling met die vervloektes, sal God se uitverkore knegte hulle by sy Naam seën en hulle lojaliteit aan Hom sweer (v.16, 45:23). Niemand sal by vals gode sweer nie, omdat hulle vergete sal wees en nie meer sal bestaan nie (v.16).

Jes. 65:16 geld ook vir ons, omdat die Here ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Ef. 1:3). Een van hierdie seëninge is dat die Here die sonde van ons verlede vergeet (v.16, Heb. 10:17). Omdat Hy ons met Jesus se geregtigheid en bloed bedek, is ons sonde vir sy oë verborge (v.16). As Hy na sy kinders kyk, sien Hy nie ‘n lewe vol sonde nie, maar die perfekte lewe en dood van sy Seun. Ja, God beskou jou so sondeloos en volmaak soos sy eie Seun! Jy is dit nog nie in realiteit nie, maar in die rekordboeke van die hemel is dit ‘n afgehandelde saak. As dít nie ‘n rede is om te sing nie, dan weet ek nie wat is nie.

 

  1. Die nuwe aarde (v.17-25)

Jes. 65:17-25 gaan nie nét oor die nuwe aarde van Op. 21 nie. Hier sien ons immers nog die huwelik, sonde en die dood; dinge wat nie op die nuwe aarde bestaan nie (25:8, Matt. 22:30, Op. 21:4). Hierdie verse gaan dus eerder oor dinge wat met Jesus se eerste koms begin het, wat deur geskiedenis sal groei, en wat op die nuwe aarde volmaak sal wees.

Ons kan dit met saad vergelyk wat aan die begin van die Nuwe Testamentiese era nog onder die grond was. Toe Jesus aan die kruis gesterf het en opgestaan het, het dit ontkiem. Dit groei al vir 2000 jaar en sal aanhou groei, totdat dit op die nuwe aarde ‘n volgroeide boom is.

Paulus sê bv. in 2Kor. 5:17 dat die nuwe skepping reeds in ons harte begin het. En tog wag ons nog vir ons nuwe liggame en die nuwe aarde (1Kor. 15, 2Pet. 3:13, Op. 21:1). Die nuwe skepping het dus reeds begin, maar is nog nie volkome nie.

Sonder dat hy dit direk sê, gee Jesaja verskeie voorbeelde hiervan. In die nuwe skepping van weergeboorte vergeet die Here ons sonde (2Kor. 5:17, Heb. 10:17), maar eendag sal die dood en die res van die gevalle wêreld nie onthou word nie (v.17, Op. 21:4).

Ons verbly ons in die Here en Hy in ons (v.18-19). Sy blydskap oor ons loop oor, totdat ons vol is en ons ons in Hom verbly (v.18-19, Ps. 149:2, 4, Sef. 3:14, 17). Ons hoef nie vir ‘eendag’ te wag tot dit gebeur nie, maar kan ons reeds in die Here verbly soos Hy Hom oor ons verbly (62:5, Fil. 4:4). Eendag sal dit egter volkome wees en sal daar geen meer trane wees nie (Op. 21:4).

Prakties beteken dit 2 dinge. Aan die een kant hoef Christene nie depressief te wees en met lang gesigte rond te loop nie. Ons het meer as genoeg rede om bly te wees. Maar aan die ander kant moet ons nie soos Prosperity predikers en die Christian Science kultus maak asof siekte, dood en pyn nie bestaan nie. Jy is nog nie op die nuwe aarde nie. Ons treur nou wel nie soos ongelowiges nie (1Tess. 4:13), maar ons treur nog steeds.

Verse 20-25 is interessant. Waarna verwys Jesaja as hy praat van ‘n tyd wanneer ‘n sondaar wat op die ‘jonge’ ouderdom van 100 sterf, vervloek is (v.20)? Wanneer sal gelowiges langer lewe as die huise wat hulle bou, ‘n vol lewe hê, en so oud soos bome word (v.20, 22)? Wanneer sal gelowiges voorspoedig wees en geen vyande hê nie (v.21-22, 62:8, kontra Deut. 28:30).

Wanneer sal daar nie misgeboortes wees nie, en sal ons nageslag geseënd wees (v.20, 23, 61:9, kontra Deut. 28:41)? Wanneer sal die Here gelowiges se gebede antwoord nog voordat hulle bid (v.24)? Wanneer sal diere se natuur en dieet verander, sodat die wolf en die lam saam sal wei, en die leeu gras sal eet soos ‘n bees (v.25, 11:6-7)? Wanneer sal slange nie meer gevaarlik wees nie, en sal diere mekaar nie doodmaak in God se heilige berg nie (v.25, 11:8-9)?

Party van hierdie dinge gebeur al in saadvorm. Ons nageslag is bv. reeds geseënd (v.23, 44:3, 59:21, Mal. 2:15, Hand. 2:39, 16:15, 31-34, 18:8, 1Kor. 1:16, 7:14, 16:15). Soms antwoord die Here ons terwyl ons bid (24, Dan. 9:20-23, 10:12, Matt. 6:8).

Maar ander dinge het nog nie gebeur nie. Om op 100 te sterf, is nog nie ‘jonk’ nie (v.20). Ons word nog nie so oud soos bome nie (v.22). Diere het nog nie ‘n nuwe natuur, sodat hulle mekaar nie doodmaak of nie gevaarlik is nie (v.25).

Soos reeds gewys, kan v.20-24 nie van die nuwe aarde praat nie, omdat daar op die nuwe aarde nie huwelike, sonde, dood en gebed sal wees nie. Dan moet Jesaja hier van ‘n goue era in die toekoms praat. Gedurende hierdie tyd sal mense weer so oud word soos in Gen. 5, 11.

Wat die veranderde natuur en dieet van diere betref, mag v.25 dalk na die goue era verwys. Maar ons weet verseker dat v.25 waar is van die nuwe aarde: diere sal mekaar nie meer jag nie, maar sal soos in Gen. 1:30, plante eet.

Jesus het dus nie net gesterf om van mense ‘n nuwe skepping te maak nie, maar om alles in die hemel en op aarde met Homself te versoen (Ef. 1:10, Kol. 1:20). Hy sal nie die skepping in sy gevalle toestand los nie, maar het planne om dit te herstel (Rom. 8:19-21).

Dit maak my bly dat die nuwe aarde nie ‘n abstrakte wit plek is, waar ons vir ewig in die wolke gaan sweef en op harpe gaan speel nie. Die nuwe aarde is eerder ‘n plek van riviere, berge, bome, blomme, gras, diere, mense, engele, ens. Dit is ‘n plek waar mense gesels, werk, sing, speel, dien, dink, ontwerp, eet, rus en meer. Maar bowenal is dit ‘n plek waar Jesus is. Al die bogenoemde skepsels en aktiwiteite fokus op Hom. Op die nuwe aarde sal ons 1Kor. 10:31 ten volle verstaan en dit perfek toepas: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”