Die God van wraak en verlossing

Image result for fire mountain

Jesaja 63-64

In enige oorlog is die dag van wraak oor die vyand ook die dag van verlossing vir die verdruktes. Dieselfde swaard wat die vyand doodmaak, red die vriende. God se dag van wraak is ‘n dag van verlossing vir sy kinders (63:4, Gen. 3:15, Kol. 2:14-15, 2Tess. 1:6-10, Heb. 2:14-15, 9:27-28, 1Joh. 3:8). Jes. 63-64 beskryf God se wraak oor Israel se vyande, en verduidelik hoe sy volk dit vryspring.

 

  1. ’n Dag van wraak (63:1-6)

Toe D.A. Carson by Cambridge studeer het, het die studente ‘n geleentheid gehad om die Christene te probeer vasvra. Een student het gesê dat die God van die Ou Testament bloeddorstig en toornig is, terwyl die God van die Nuwe Testament liefdevol en genadig is. ‘Hoe kan julle dan sê dat dit dieselfde God is,’ wou hy weet.

Carson het verduidelik hoe God in die Ou Testament baie geduldig was met die volk. Hy wou hulle by verskeie geleenthede uitwis, maar het nie. Hy het verder gewys hoe Jesus in Op. 14 sy vyande in ‘n parskuip vertrap, totdat hulle bloed so hoog soos die perde se tooms deur die strate vloei. ‘Sê nóú vir my dat die God van die Ou- en die Nuwe Testament nie dieselfde God is nie,’ het hy gesê.

Ek het tydens ‘n vergadering langs ‘n liberale professor gesit. Hy was kwaad omdat ons gesê het dat ‘n mens in die Ou Testament van die Messias lees. ‘In 2Sam. 24 sien ons hoe die Engel van die Here duisende mense doodmaak,’ het hy gesê. ‘Dit kan onmoontlik ‘n verwysing na Jesus wees!’

Jesus is inderdaad ‘n sagmoedige Lam (42:1-3, 61:1-3, Op. 5:6). Maar Hy is ook die Leeu van Jes. 63 wat wraak geneem het oor sy vyande (vgl. Op. 5:5). Moet dan nie aan Jesus dink as iemand met sagte, vloeiende hare en blou oë nie. Moet Hom asb. nie beskou as ‘n sissie soos Piglet, as iemand met ‘n lang gesig soos Eeyore, of as iemand wat skadeloos is soos Winnie-the-Pooh nie (vergewe my asb. Piglet, Eeyore en Winnie…)

Beskou Hom eerder as ‘n tipe Legolas of Aragorn uit The Lord of the Rings; ‘n vreeslose en dapper held. Hy is ‘n krysman wat man-alleen sy vyande verpletter (63:3, 5, Ps. 2, 45, 110). Hy is beter en sterker as Dawid se dapper krygsmanne (2Sam. 23).

Hy het met rooi klere uit Bosra in Edom gekom (Edom is suid-wes van die Dooie See). In die Hebreeus is Jesaja besig met woordspeling. Bosra beteken ‘druiwe oes,’ terwyl Edom ‘rooi’ beteken [Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester: Inter-Varsity Press, 1993), 509-510]. Edom verwys nie net na Esau se nageslag nie, maar verteenwoordig al God se vyande (vgl. Jes. 34:5-6, Obadja). Die Messias het gekom om hulle in geregtigheid te oordeel (63:1). Hy het met ‘n koninklike kleed gekom om hulle te oorwin (63:1). Hy het met krag gekom om hulle te red (63:1).

Hoekom het die Messias rooi klere aangehad (63:1-2)? Hy het die wynpers getrap. Dit was egter nie die wyn wat sy klere gevlek het nie, maar die bloed van die vyande wat Hy onder sy voete vertrap het (63:3, Ps. 110:1). Hy het hulle in sy toorn vertrap, sodat hulle bloed op sy klere gespat het en dit rooi gevlek het (63:3, 6). Dit was ‘n dag van wraak (63:4, 34:8). Die Messias het sy haat vir sonde gewys, asook sy toorn oor dié wat sy kinders seermaak (Sag. 2:8).

Is die Messias ‘n onregverdige en wraakgierige sadis soos ‘n laerskool vriend van my wat akkedisse geskok het? Nee. Syne is ‘n regverdige toorn en heilige wraak (63:1).

Niemand het Hom gehelp nie, omdat Hý alleen heilig en almagtig is (63:3, 59:16). Omdat ons self God se straf verdien, kan Hy ons nie in iemand anders se plek straf nie. Maar al was ons ook heilig, het ons nie die mag om mense te oordeel nie. God alleen het hierdie mag (Jak. 4:12). Daarom sou sy eie arm Hom red en die vyand oordeel (63:5, 53:1).

Hy het sy vyande dronk gemaak met die beker van toorn en hulle bloed op die grond uitgestort, sodat daar nie meer lewe in hulle was nie (63:6, Lev. 17:10-16).

Hoe moet ons op Jes. 63 reageer?

[a] Moenie met sonde speel en dink jy kan daarmee wegkom nie. Moenie dink dat ‘liewe’ Jesus ‘n traan oor jou sonde sal pik, maar niks daaraan sal doen nie. Hy sal in wraak en met krag kom om sy vyande te vertrap (63:1-6, vgl. Ps. 58:11, Klaagl. 1:15, Joël 3:13, Op. 14:19-20, 19:13, 15). Hy sal hulle die beker van toorn gee om te drink (Ps. 75:9, Jes. 50:17, Jer. 25:15-25, Op. 14:10).

[b] Moenie wanhopig wees oor jou sonde nie. Die Vader het sy Seun in die bloedbad van Golgota verbrysel (53:10, Matt. 27:45-46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Jesus het die beker van toorn namens ons gedrink (63:6, Mark. 14:36). As jy in Hom glo, sal die Vader sy dood aanvaar asof jy vir jou eie sonde betaal het.

‘What a love! What a cost!

We stand forgiven at the cross.’

[Woorde en musiek deur Keith Getty & Stuart Townend, The Power of the Cross (ThankYou Music, 2005)].

 

  1. ’n Dag van verlossing (63:7-64:12)

‘n Ou Hallelujalied (nr. 245) sê:

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,

Seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

Om aan God se goedheid in die verlede te dink, gee hoop vir die toekoms. Ek dink soms aan die Here se seën in ons gemeente in Louis Trichardt. In die vroeë 1990’s het ons ‘n mini-herlewing gehad. Dit was wonderlik. Wanneer ek hieroor dink, gee dit my moed om te bid dat die Here dit weer sal doen. Toe Jesaja aan sy eie volk dink, het hy dieselfde gedoen.

 [a] Onthou die verlede (63:7-14)

Jesaja het onthou hoe die Here hulle uit Egipte verlos het. Hy het gebid en begeer dat die Here hulle weer sal help. Hy het die Here aan sy troue verbondsliefde herinner (63:7). Hy het Hom vir sy goedheid aan Israel geprys (63:7). Hy het gedink aan al die voorregte wat God vir Israel gegee het (63:7, Rom. 9:4-5). Hulle het nie hierdie guns verdien nie. Dit was eerder die gevolg van God se ontferming en troue liefde (63:7).

God het ‘n verbond gemaak dat Israel sy volk sal wees en Hy hulle God (63:8). Hy het hulle verlos met die idee dat hulle Hom nie met ander gode moet verloën nie (63:8). Hy het hulle uit Egipte verlos (63:8). Hy het hulle benoudheid en slawerny gesien, en hulle pyn gevoel (63:9, Eks. 2:23, 25, 3:7).

Hy het die Engel van die Here gestuur om hulle te red (63:9). Die Engel van die Here is natuurlik ‘n verwysing na Jesus voor sy menswording in Betlehem (Eks. 3:2, 23:20-21). In sy groot deernis en liefde het Hy hulle gered (63:9). Hy het hulle deur die woestyn gedra (63:9, 46:3-4, Deut. 1:31, 32:10-12).

Maar t.s.v. sy verlossing en voorsiening, het hulle teen Hom gerebelleer en sy Gees bedroef (63:10, Ps. 78:17, 56). Gevolglik het Hy teen hulle gedraai en deur menslike vyande teen hulle geveg (63:10). Hy het egter weer aan die ou dae gedink, aan Moses en die volk (63:11).

‘Waar is hierdie God?’ wou Jesaja weet. Hy het Moses en Aäron as herders gegee om sy skape deur die Rooi See te lei (63:11, Ps. 77:21). God se voetspore was onsigbaar, maar dit was Hý wat hulle deur die see gelei het, sodat hulle so vas op hulle voete was soos ‘n perd wat deur die woestyn hardloop (63:13, Ps. 77:20).

Hy het sy Gees in hulle midde gestuur om hulle te lei (63:11, Num. 11:16-30). Hy het die see laat oopgaan toe Moses sy staf optel (63:12, Eks. 14:16, 21). Hy het hulle soos skape in ‘n groen vallei met koelte, weiding en water gebring (63:14, Ps. 23:1-2). Hy het hulle ‘n rusplek in die Beloofde Land gegee (63:14).

So het die Here vir Homself ‘n Naam gemaak onder die volke (63:12, 14, 2Sam. 7:23). Almal het gehoor wat Hy doen en bang geraak (Eks. 15:14-16, Jos. 2:10-11).

Wat leer ons hieruit? Drie lesse staan uit.

In die eerste plek moet jy jou bekering, God se hulp in die verlede, en sy verbond onthou wanneer dinge donker lyk (Ps. 77:12-21). Herinner Hom aan hierdie dinge (62:6-7). Wag dan op Hom en glo dat Hy sy beloftes sal hou en jou gebede sal antwoord.

Tweedens moet jy die Here vir sy medelye dank wanneer jy swaarkry. Die Here voel jou pyn en verstaan wat jy deurgaan (63:9, Heb. 4:15).

Derdens moet jy vergifnis vra wanneer jy sonde doen en die Gees bedroef (63:10, Ef. 4:30). Bid dat jy weer sy vreugde sal ervaar.

Ek het eenkeer vir meer as ‘n uur met iemand die evangelie gedeel. Hy wou eenvoudig nie toegee en sy sonde erken nie. Hy het aanhoudend gesê dat hy geen sonde het nie. Uiteindelik het hy sy sonde erken en kon ek by die goeie nuus uitkom. Jy kan nie God se verlossing geniet tot jy nie erken jy is ‘n gebroke en arm bedelaar wat sy genade benodig nie.

[b] Erken jou sonde en onthou God se karakter (63:15-64:12)

Kyk m.a.w. na jou hopelose lewe. Kyk dan na die almagtige en goeie God, en roep uit dat Hy jou red. Jesaja het dit gedoen. Op grond van God se verlossing in 63:7-14, het hy gebid dat God uit sy heilige en heerlike hemelwoning moes kyk en die volk se nood moes raaksien (63:15).

Waar is die ywer, die magtige dade, die genade, die verlossing en die ontferming van hierdie God (63:15)? Die volk het nie in Abraham of hulle status as God se volk geroem nie, maar in Gód as hulle Verlosser en Vader (63:16, Deut. 32:6). Hoekom het Hy hulle dan nie gered nie, maar hulle aan hulle dwaalweë en harde harte oorgegee (63:17, 6:10)? Wanneer sal die Here terugkeer en sy erfdeel red (63:17)?

Hul het die Beloofde Land vir ‘n kort tydjie besit voordat die vyand die tempel vertrap het en die Here hulle verstrooi het (63:18). Dit is asof Hy hulle nooit geroep het, of oor hulle regeer het nie (63:19).

Waar is die God van Elia wat wonders doen? Waar is die God van George Whitefield, John Wesley, Charles Spurgeon en Jonathan Edwards? Waar is die God wat deur hulle prediking duisende mense gered het? Waar is die God van ywer vir wie niks onmootlik is nie; die God van genade wat mense red?

Kan Hy nie die Jode red nie? Kan Hy nie die kerk in Suid-Afrika van sonde en vals lering reinig nie? Kan Hy nie die vervolgde kerk bevry nie? Kan Hy nie sendelinge na die onbereikte volke toe stuur en hulle red nie? Kan Hy nie baie mense red en by die gemeente voeg nie? Laat ons dan soos Jesaja bid en die Here vertrou om ons te antwoord.

Ek het ‘n video gesien waarin ‘n tornado ‘n lorrie optel soos wat jy ‘n speelgoed trok van die vloer af optel. Net so kan die Here baie maklik sy vyande platvee en sy kinders red. As Hy tog maar die hemele wou skeur om dit te doen (64:1, Ps. 18:10). Sy teenwoordigheid sal alles verander.

Die berge sal soos jelly voor Hom bewe (64:1, Miga 1:4, Nah. 1:5). Dit hét by Sinaï gebeur en dit sal weer gebeur (63:3, Eks. 19:18, Rigt. 5:5). Soos wat vuur droë hout verteer en water kook, sal God sy vyande verteer (64:2, Heb. 12:29). Hy sal sy Naam onder die nasies bekend maak, sodat hulle vrees (64:2, Op. 15:3-4).

Van ouds af is daar geen ander God nie en ken niemand die Een wat aksie neem vir dié wat op Hom wag nie (64:4, 1Kor. 2:9). Hy ontmoet dié wat dit geniet om reg te doen, dié wat Hom en sy Woord onthou in alles wat hulle doen (64:5). Ongelukkig het Israel dit nie gedoen nie. Omdat hulle gesondig het, was die Here kwaad vir hulle (64:5). Hulle het hulle nie aan sy toorn gesteur nie, maar aangehou sondig (64:5). Hulle was so lank in hulle sonde dat Jesaja gewonder het of daar hoop is dat hulle gered sal word (64:5).

Was daar hoop as die laaste een van hulle onrein was (64:6, 6:5, 53:6)? Watse hoop was daar as selfs hulle regverdige dade met sonde besmet was (64:6)? Volgens die Hebreeus was hulle regverdige dade soos ‘n menstruele doek.

Onder die hele volk was daar skaars een wat die Here vasgegryp het en vir die volk ingetree het (64:7, Eseg. 22:30). Dit is asof niemand omgegee het dat die volk van die Here af wegdwaal nie. A.g.v. hulle sonde het hulle soos ‘n verlepte blaar afgeval en weggewaai (64:6). God het sy gesig weggedraai, sodat dit nie meer oor hulle geskyn het nie. Hy het hulle aan hulle sonde oorgegee om daarin weg te smelt (64:6-7).

Jesaja het tot die Here geroep:

‘U is ons Vader; U is die Pottebakker en ons is die klei (64:8, 63:16, 29:16. 45:9, Rom. 9:20-21). U het ons gemaak (64:8). Sal U ons sommerso weggooi? Moet asb. nie vir altyd kwaad wees en ons sonde onthou nie (64:9, 57:16). Let asb. weer op ons; onthou dat ons U volk is (64:9). Jerusalem en die heilige stede van Juda het ‘n woestyn geword (64:10). Die vyand het U heilige en heerlike huis met vuur verwoes (64:11). Die plek waar ons voorvaders U geprys het, lê in puin (64:11). Sal U niks daaraan doen nie? Sal U u genade inhou en anderpad kyk (64:12, Sag. 1:12)? Sal U nie ongeduldig wees om goed te doen aan U volk nie (42:14, 30:18, Rigt. 10:16, Jes. 30:18)? Moet asb. nie stilbly en niks sê nie; stilte is die ergste straf (64:12)! Antwoord ons asb.!’

Kan ons nie met dieselfde vrymoedigheid as Jesaja bid nie? Sal ons nie vra dat die Here die hemele moet skeur om ons in hierdie bose land en wêreld te help nie? Sal ons nie bid dat Hy die hemele skeur en sy Gees opnuut oor ons uitstort nie? Sal ons nie bid dat Hy die hemele skeur en na die aarde toe terugkeer nie? Moenie biddeloos wees soos Israel nie (64:7). Laat ons ‘n gemeente wees wat baie bid en die Here aanroep. Laat ons soos Jakob wees wat nie rus nie, totdat die Here ons antwoord (62:6-7, Gen. 32:26, 29, Luk. 18:7).

Maar laat ons nie bid, terwyl ons onheilig lewe nie (1:15, 58:1-5, 1Tim. 2:8). Die Here is nie tevrede met ‘n kerk wat:

  • Soos die wêreld lewe, verdeeld is en sonde verdra soos die Korintiërs nie.
  • Met vals lering speel soos die Galasiërs nie.
  • Afvallig raak soos die Hebreërs nie.
  • Haar eerste liefde verlaat soos die Efesiërs nie.
  • Geestelik lui en aan die slaap is soos die gemeente in Sardis nie.
  • Hom halfhartig dien en lou is soos die Laodisense nie.

Laat ons ‘n rein bruid wees vir Jesus: gewas in sy bloed, gereinig deur sy Woord en ernstig om heilig te lewe (64:6, Ef. 5:25-27). As ons op hierdie manier rein is, sal die dag van wraak by Jesus se wederkoms vir ons wees soos ‘n veldbrand wat alles verwoes, maar ook nuwe lewe bring. Vir Jesus se bruid sal die dag van wraak m.a.w. ook ‘n dag van verlossing wees.

Advertisements