Die klimaks van die evangelie

Image result for everest

Romeine 11:33-36

Rom. 11:33-36 is Berg Everest van die evangelie. Dit is Mont Blanc in die Switserse Alpe. Dit is God’s Window in Mpumalanga. As ons die hoogste pieke van die evangelie klim, sien ons God se heerlikheid. Rom. 11:33-36 is die klimaks van die evangelie waarheen Paulus van hfst. 1 af gewerk het.

Wat is hierdie klimaks van die evangelie? Dit is nie om ons intellek te stimuleer nie. Dit is nie eers hoofsaaklik om dit prakties uit te leef nie. Dit is heel eerste om God te bewonder en te aanbid.

 

  1. Drie uitroeptekens (v.33)

Hoekom sê ons soms die woord ‘O!’ wanneer ons bid? Ons gebruik dit wanneer ons nie weet hoe om iets uit te druk nie. Dit is ‘n woord van verwondering en verlange. Dit is hoe Paulus dit in v.33 gebruik het: hy kon nie sy bewondering vir God en die evangelie uitdruk nie. Hy het hom oor die diepte van God se rykdom, wysheid en kennis verwonder (v.33).

Hoe diep is dit? Dit is dieper as Challenger Deep in die Stille Oseaan se Mariana Trog (byna 11 km diep). Dit is dieper as die Kola Superdiep Boorgaat in Rusland (meer as 12 km diep). Dit is dieper as die kern van die aarde (6371 km diep). Die dieptes van God is onpeilbaar (v.33). Wat is hierdie dieptes?

God se rykdom

Ons kan nie God se rykdom meet nie. Paulus praat van “ die uitnemende rykdom van sy genade” en “die onnaspeurlike rykdom van Christus” (Ef. 2:7, 3:8). Die Christelike lewe is vol van hierdie rykdom (2:4, 9:23, 11:12, 2Kor. 8:9, Ef. 1:7, 18, 2:4, 3:16, Fil. 4:19, Kol. 2:2, 1Tim. 6:17, 2Pet. 1:11). In Christus is ons ryker as Jeff Bezos van Amazon (R1.5 triljoen sterk). Ons is ryker as die Arabiese lande met hulle olie. Alles in die heelal is ons s’n (8:17, 1Kor. 3:21-22, Heb. 1:2). Die Koninkryk van God is ons s’n (Jak. 2:5).

Moet dan nie die wêreld se rykdom bo God s’n kies nie (Matt. 19:21-22). Gee liewer alles prys om Christus en die hemel te verkry (Luk. 9:23, 25, 14:26, 33). Kies rykdom in God bo rykdom op die aarde (Op. 2:9, Op. 3:17, Luk. 12:16-21, 16:19-31).

God se wysheid

Hy is die alwyse God (16:27). Ons sien sy wysheid in die skepping (Ps. 104:24). Vat bv. die salm wat van die see af honderde kilometers stroom-op swem na die presiese varswater stroom waar dit ‘n paar jaar vroeër gebore is.

Ons sien God se wysheid in sy voorsienigheid. ‘n Tannie in ons gemeente het longontsteking gekry en in die hospitaal beland. Sy het gekla van pyn in haar sy. Hulle het ‘scans’ gedoen en uitgevind dat sy kanker in haar nier het. Hulle het die nier verwyder. Was die tannie se longontsteking toevallig? Of was dit God se wyse hand, sodat die dokters die kanker kon opspoor en verwyder?

Ons sien God se wysheid in die skepping en in sy voorsienigheid. Die konteks van v.33 gaan egter oor sy wysheid in verlossing. Ons sien hierdie wysheid in Christus wat die wysheid van God is, en in wie al die skatte van kennis en wysheid opgesluit is (1Kor. 1:24, Kol. 2:3).

Kon ‘n mens of engel die wysheid van God in die evangelie uitdink? ‘n Engel kon nie. Hulle begeer tog self om dit te verstaan (Ef. 3:10, 1Pet. 1:12). ‘n Mens kon nie. Volgens Paulus kon geen mens deur sy eie wysheid die evangelie uitdink of ontdek nie (1Kor. 1:18-23).

As ‘n mens of engel die evangelie moes uitdink, sou ‘n magtige held die draak oorwin het om die prinses te red. Dalk sou ‘n engel besluit het om ons straf te dra. Maar dit kan nie gebeur nie. Kan ‘n mier of ‘n muis ‘n mens se straf dra? Net so kan ‘n engel nie ‘n mens se straf dra nie. ‘n Mens het gesondig en daarom moet ‘n mens die straf dra.

Maar geen mens kan ‘n ander een se straf dra nie. As ek sonde doen, verdien ek self om gestraf te word en kan ek nie iemand anders se straf dra nie.

Maar wat van ‘n sondelose mens? ‘n Sondelose mens kan dalk vir ewig in die hel ly vir één ander mens se sonde. Maar een lewe het nie die waarde van miljoene mense wat die hel verdien nie. Daarom moes die Een wat ons straf dra ‘n mens wees, sondeloos wees en ‘n lewe van onskatbare waarde hê. Hy moes ‘n ewige en oneindige natuur hê, sodat hy binne ‘n kort tydjie die ewige straf van miljoene mense kon dra.

Net die alwyse God kon dink dat die Een wat die straf moes dra, God en mens moet wees. Maar selfs al kon ‘n mens of engel dit uitdink, sou nie een van hulle gedurf het om dit voor te stel nie. Kan jy jou indink dat ‘n mens of engel vir God moes sê: ‘Ek het ‘n plan: laat U geliefde Seun stof word en die vervloekte grudood van ‘n misdadiger aan ‘n kruis sterf; behandel Hom asof Hý die skuldige is’? [Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 13].

God se kennis

God is alwetend. Hy weet alles van alles (1Joh. 3:20). Sy kennis is volmaak (Job 37:16). Hy ken en bepaal die hele geskiedenis (Jes. 46:9-10). Hy weet selfs wat sóú gebeur het (Matt. 11:21, 23). Hy ken elke mens se gedagtes (Joh. 2:24-25). Hy ken dit nog voordat ons dit dink of sê (Ps. 139:2b, 4, Matt. 6:8).

Hy leer nooit iets nuut nie. Hy vra nie vrae nie. Hy hoef niks in sy geheue te herroep nie, omdat Hy alles in ‘n enkele oomblik weet. Alle kennis van Hom af: ‘He is the original, the pattern, and prototype of all knowledge; others borrow their knowledge of him; the angels light their lamps at this glorious sun.’ [Thomas Watson, A Body of Divinity (London: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 56].

Omdat God alle kennis het, kon Hy die beste opsie vir ons verlossing kies, die opsie wat sy Naam die meeste sou verheerlik. As Hy ons deur ons werke moes red, sou ons in onsself roem. Ons sou gedink het Hy is onheilig, omdat ons sonde Hom nie pla nie. As Hy ons sonde sommerso moes oorsien, sou ons gedink het Hy gee nie om oor reg en geregtigheid nie. Ons sou gedink het dat Hy ‘n korrupte Regter is wat sonde onder die mat invee.

Die kruis verander alles. Daar sien ons God se genade en liefde wat Homself gegee het om ons te red. Ons sien sy heiligheid en geregtigheid wat nie ons sonde oorgesien het nie, maar dit met ‘n verskriklike oordeel gestraf het. Ons sien sy verlossing uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, tot die eer van God alleen (Ef. 2:8-9).

Die evangelie is eenvoudig en diep. Ons kan dit verstaan, maar ons kan dit ook nie ten volle begryp nie. Ons kan nie God se oordele, sy verordeninge, sy ewige raadsplan en sy weë verstaan nie (v.33, Jes. 55:8-9, Ef. 1:11). Hoe werk dit dat God ons gekies het nog voor ons bestaan het of sonde gedoen het? Hoe werk dit dat God mens geword het? Hoe kan Hy volkome God en volkome mens wees, maar net een Persoon?

Hoe werk dit dat die Vader en die Seun een is, maar dat die Vader Hom aan die kruis verlaat het? Hoe het Jesus ons sonde in sy liggaam gedra, maar nie besmet geraak daardeur nie? Hoe het Hy sy bloed in die hemelse heiligdom ingevat? Hoe het Hy Homself uit die dood opgewek?

Hoe ontvang ons Christus se geregtigheid en ‘n skoon rekord deur die geloof? Hoe is dit moontlik dat ons reeds in die hemel sit saam met Christus? Wat gebeur in jou gedagtes, hart en siel as jy weergebore word? Hoe woon die Heilige Gees in jou?

Dit is maar net ‘n paar vrae wat ons nie kan beantwoord nie. Wat van al die ander dinge wat ons nie weet of verstaan nie? Is jy trots oor jou rykdom, wysheid, kennis, grade, studies of insig in die Woord? Dink jy jy is beter as ander? Miskien moet jy jouself teen God meet en besef dat jy niks is nie. Alles wat jy is en het, is nie eers ‘n sandkorrel of ‘n druppel in die emmer nie. Jy is beperk; God is oneindig. ‘God is a subject of study that we will never master.’ [Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham: Inter-Varsity Press, 1994, 2000, 2007), 151]. Laat dit by jou insink.

 

  1. Drie vraagtekens (v.34-35)

‘n Retoriese vraag is wanneer jy ‘n vraag nie hoef te antwoord nie, omdat die antwoord voor die hand liggend is. Die antwoorde op die vrae in v.34-35 is voor die hand liggend. Paulus se Ou Testamentiese aanhalings is ‘n bewys van v.33 se rykdom, wysheid, kennis.

God se kennis (Jes. 40:13a)

“Want wie het die gedagte van die Here geken…?” (v.34a). Niemand ken God se oneindige gedagtes nie (v.34a, Ps. 139:17-18, 147:4, 1Kor. 2:11). Ons kan dit net ken as Hy dit aan ons openbaar (Matt. 11:27, 1Kor. 2:10). Wat is die implikasies hiervan?

[a] Jy kan nie máák dat iemand God se gedagtes in die evangelie ken nie. Gód moet dit openbaar. Daarom moet ons nie op onsself staatmaak om mense te oortuig nie, maar bid dat die Here Homself deur ons prediking sal openbaar.

[b] Moenie dinge oor verlossing wil uitwerk wat God nie in die Bybel geopenbaar het nie. Moet bv. nie ‘logiese’ redes wil gee vir hoekom uitverkiesing nie so kan wees nie. Aanvaar eenvoudig wat God in die Bybel geopenbaar het. Wees tevrede dat God dit verstaan, al kan jy dit nie uitwerk nie (v.34a, Deut. 29:29).

God se wysheid (Jes. 40:13b)

God kort niemand se raad nie. Hy het niemand se raad gevra toe Hy moes skep, of as Hy die skepping moet onderhou nie (v.34b). Hy het ook nie iemand se raad gevra oor hoe Hy sondaars moes red nie (v.34b). Die evangelie kom uit die Vader, die Seun en die Heilige Gees se gedagte alleen.

Ek het reeds gewys dat die evangelie nie van ‘n mens af kom nie. Die feit dat geen mens die evangelie kon uitdink nie, moet jou help as mense vir jou sê: ‘Wie sê dat die evangelie waar is tussen soveel ander godsdienstige boeke?’

God se rykdom (Job 35:7, 41:11)

God het jou nie gered omdat jy Hom iets gegee het wat Hy jou nou weer skuld nie (v.35). Jy skuld Hóm jou lewe en alles (12:1). Hy skuld jou niks nie (v.35). Al het jy ook reg gelewe, skuld Hy jou nie die hemel nie. In die eerste plek kom alles wat jy Hom kan gee, van Hom af (1Kron. 29:14, 1Kor. 4:7, Jak. 1:17).

In tweede plek is dit sý hemel en kan Hy dit gee aan wie Hy wil. Hy gee dit aan elkeen wat in sy Seun glo, en nie aan dié wat dink hulle verdien dit nie. As die hemel dan ‘n geskenk is en nie iets wat jy verdien nie, moet jy in die Here roem en nie in jouself nie. Raak liries oor sý rykdom en nie oor jou eie nie.

 

  1. Drie gedagtes (v.36)

Panteïsme beteken dat alles God is. Natuurlik glo ons nie dat die bome, berge, klippe, sterre en die res van die skepping God is nie. Ons glo wel dat alles uit God ontstaan het; dit bestaan ook deur Hom en tot Hom (v.36).

Alles is uit Hom (v.36)

God is die oorsprong van alles (Gen. 1, Eks. 20:11, Joh. 1:3, Op. 22:13). Verlossing is ook uit Hom. Dit is voor die skepping in sy hart gebore (9:23, Matt. 25:34, Ef. 1:4-5, 2Tim. 1:9, Tit. 1:2). God red ons van begin tot einde: van uitverkiesing tot verheerliking (8:29-30).

Alles is deur Hom (v.36)

Ons bestaan nie net a.g.v. God nie. Ons bestaan ook deur Hom en in Hom (Hand. 17:25, 28). In Hom hou die hele skepping stand (Kol. 1:17, Heb. 1:2). Paulus praat van “een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” (1Kor. 8:6).

Verlossing kom ook deur Hom. Ons is gered deur Jesus se kruisdood en deur geloof in Hom. Hy sorg dat ons gered bly tot in die hemel (Rom. 8:29, Luk. 22:31-32, Joh. 6:37, 39, 10:28-29, 17:12, 1Kor. 1:8, Ef. 1:13-14, Fil. 1:6, 1Tess. 5:23-24, 2Tim. 4:18, Heb. 7:25, 12:2, 1Pet. 1:4-5, Jud. 24).

Alles is tot Hom (v.36)

God het alles gemaak om Hom te verheerlik. Die skepping weerspieël sy heerlikheid (v.36, 1:20, Ps. 19:1-7). Selfs bose sondaars verheerlik Hom sonder dat hulle dit bedoel (9:17, 22, Ps. 76:11, Hand. 2:23, 4:27-28).

Verlossing is ook tot Hom (v.36, Jes. 43:7, 21, Ef. 1:6, 12, 14). Verlossing is God se werk en nie ons s’n nie. Hy het alles gedoen (v.36, 8:29, 9:11, 16, 1Kor. 1:26-31, Ef. 2:8-9). Hy het selfs die prediker gestuur en aan ons die vermoë gegee om te kan glo en ons te bekeer (10:15, Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29, 2Tim. 2:25).

Wat moet ons van hierdie evangelie maak (12:1)? Peins daaroor. Moenie bang wees om diep te dink, asof dit ongeestelik is nie. Delf diep in die teologie van Rom. 1-11, totdat jy soos Paulus nie meer die lof kan inhou nie (11:33-36). Aanbidding sonder teologie is vlak en lei tot afgodery. Teologie sonder aanbidding is koud en maak dood. Ons benodig beide.

Sorg ook dat jy nie die evangelie beskou as ‘n spanpoging tussen jou en God nie (asof Hy jou toestemming benodig voor Hy iets kan doen). Enige verlossing wat nie uit God alleen is nie, is nie die ware evangelie nie. ‘n Evangelie waar mense sentraal is, is nie die ware evangelie nie. Die ware evangelie gee aan God alleen die eer: Soli Deo Gloria (v.36). Glo jy hierdie evangelie? Vul dit jou met vol?

Of het jy daaraan gewoond geraak, sodat dit jou nie meer beweeg nie? Vra dat Christus weer die suurstof van die Gees in jou hart sal blaas, sodat die vlam van die evangelie in jou brand soos wat dit in die Emmausgangers se harte gebrand het.