So sal die hele Israel gered word

Image result for sunset over jerusalem

Romeine 11:25-32

John MacArthur is een van my gunsteling predikers. En tog glo ek anders as hy oor die eindtyd. Ek dink hy verstaan Op. 20 verkeerd as hy sê dat daar ná Jesus se wederkoms ‘n duisendjarige vrederyk sal wees. Ek het my siening in Die Goue Era van Postmillennialisme verduidelik [https://baptistekerkkemptonpark.com/2017/06/22/die-goue-era-van-postmillennialisme/].

Maar al verskil ek van MacArthur, dink ek hy is reg om te sê dat God Israel in die toekoms gaan herstel. Uit Rom. 11:25-32 leer ons dat God nie net ‘n handjievol Jode gaan red nie, maar die nasie in haar geheel. Jonathan Edwards het oor hierdie verse gesê: ‘Nothing is more certainly foretold than this national conversion of the Jews.’ [The Works of Jonathan Edwards: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 607]. Ek dink dat hy reg was. Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

  1. God se geheimenis (v.25-27)

Anti-Semitisme is ‘n groot woord wat basies ’n haat vir die Jode beteken. Deur die geskiedenis het baie mense die Jode gehaat bloot omdat hulle Jode is. Op 12 Julie 1290 het Edward I van Engeland ‘n verklaring gemaak dat geen Jood in sy land toegelaat word nie (vgl. Hand. 18:2). Vir meer as 350 jaar is die Jode uit Engeland verban. Eers in 1656 het Oliver Cromwell hulle toegelaat om terug te keer [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Vol. 4 (Geanies House, Fearn: Christian Focus Publications, 2016), 265 n. 20].

God wil nie hê ons moet eiewys wees, sodat ons ons bo die Jode verhef en dink ons is beter as hulle nie (v.25, 18, 12:16, Spr. 3:7a). Ons moet eerder die Here dank dat Hy ons gered het. Ons moet besef dat Hy Israel in die toekoms sal red. Hy het hierdie geheimenis deur Paulus geopenbaar (v.25).

God is nie finaal klaar met die Jode nie. Hy het net ‘n gedeelte van hulle verhard (v.25, 7-8, 9:18, 2Kor. 3:14-18). Huidiglik is die gedeelte wat verhard is, groter as die gedeelte wat in die Messias glo. Maar in die toekoms sal dit omgekeer word. Dit sal gebeur wanneer ‘n vol en groot getal heidene tot bekering kom (v.25). Die heidene se bekering sal daartoe lei dat die Jode tot bekering kom, wat op sy beurt weer sal maak dat massas heidene tot bekering kom (v.12, 15).

Volgens party mense sal die Jode verhard bly totdat die uitverkorene heidene gered is. Daarna sal Jesus weer kom en is dit die einde. Dus sal Israel as ’n volk vir ewig verhard bly en nooit weer tot bekering kom nie. Maar mense wat dit sê is verkeerd, want volgens v.26 sal die hele Israel gered word.

Iemand maak beswaar: ‘Die hele Israel verwys nie na die volk nie, maar na geestelike Israel of die kerk.’ Dit ís so dat die Nuwe Testament van die kerk as die ware Israel praat (2:28-29, Gal. 6:16). In die konteks van Rom. 11 sou dit egter vreemd wees as ‘Israel’ elke keer van die volk praat, behalwe in v.26.

Ander sê weer: ‘Die hele Israel verwys na die oorblyfsel of handjievol Jode wat deur die kerk se geskiedenis tot bekering kom.’ Maar dit is nie waar nie. In v.1-10 lees ons van die oorblyfsel en onderskei Paulus hulle van Israel wat in haar geheel verhard is. In v.25-26 keer die Here dit om en red Hy die volk in haar geheel. Die volk wat in haar geheel verhard is, is dieselfde volk wat in geheel gered sal word (v.25-26, 12, 15).

Die hele Israel wat in v.26 gered word, is dieselfde as die volheid van Israel wat in v.12 tot bekering kom. As jy sê dat die volheid net ‘n handjievol is, moet jy ook sê dat die volheid van die heidene in v.25 ‘n handjievol is.

Dit is dan duidelik dat die hele Israel in v.26 nie net ‘n klein groepie Jode is wat deur die geskiedenis tot bekering kom nie, maar die volk wat eendag in haar geheel in die Messias sal glo.

Maar beteken dit dat elke Jood op aarde gered sal word? Nee. Toe God die hele Israel verwerp, het dit nie elke individu ingesluit nie (v.1-10). Net so beteken die feit dat Hy die hele Israel red nie dat elke individu tot bekering kom nie.

Verder glo ons ook nie (soos John Hagee) dat die Jode so spesiaal is dat hulle nie Jesus se kruisdood nodig het om gered te word nie [http://www.equip.org/article/pastor-john-hagee/]. Vir die Jode om tot bekering te kom, móét hulle in Jesus glo (v.20, 23). Hulle móét glo dat Jesus Jahwe of die God van die Ou Testament is. Hulle móét glo dat Hy die Seun van God is wat deur die Vader gestuur is om die wet perfek in ons plek te onderhou, en dat Hy die straf vir ons wetsoortreding aan die kruis gedra het. Hulle móét glo dat Hy op die derde dag liggaamlik opgestaan het uit die dood. Hulle móét op Hom vertrou en besef dat hulle net gered kan word as hulle hulle hele hoop vir verlossing in Hom alleen plaas.

Volgens v.26-27 sal hulle sien dat Jesus die Messias en Verlosser van Jes. 59:20-21 is. As hulle dit erken, hulle bekeer en in Hom glo, sal Hy hulle op grond van sy kruisdood in Sion of Jerusalem vergewe en hulle sonde wegvat (v.26-27). In Hand. 3:19-20 het Petrus vir die Jode gesê: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus”.

Hoe weet ons dat die Jode hulle nie meer teen die Messias sal verhard nie, maar hulle van hulle sondes bekeer? Want God het belowe om ‘n verbond met hulle te sluit, naamlik om hulle weer deel te maak van sy volk en hulle sondes te vergewe (v.27, Jes. 27:9, Jer. 31:31-34).

Wanneer laas het jy vir die Jode se bekering gebid? Is dit deel van jou gebede? Nee? Hoekom nie? Is jou verskoning dat jy nie my siening oor die nasionale bekering van die Jode deel nie? Wys dan uit Rom. 11 vir my hoekom jy nie saamstem nie. Hoe en waar het ek die teks verkeerd uitgelê?

Maar selfs al dink jy nie dat Rom. 11 van ‘n nasionale bekering praat nie, het jy nog steeds nie ‘n verskoning om die Jode uit jou evangelisasie en gebede te sluit nie. Anti-Semitisme verheerlik nie die Here nie en bots lynreg met die Bybel. In Rom. 10:1 het Paulus gesê dat hy die Jode se redding begeer en daarvoor bid. En moet ons nie dieselfde doen nie?

Aan die ander kant het jy dalk so op die Jode begin fokus, dat jy meer in hulle politiek belangstel as wat jy vir hulle bid. Jy het begin maak of God tevrede is met hulle en dat hulle in sy guns is. Omdat jy so glo, vergeet jy dat hulle die Messias verwerp het en dat hulle op pad hel toe is. Jy tree op asof hulle nie verlore is en jou gebede nodig het nie.

Maar benodig hulle nie dieselfde Messias en Verlosser as jy nie? Sal jy durf om te sê dat Jesus nie vir die Jode gesterf het nie, aangesien hulle sy uitverkore volk is en nie sy vergifnis nodig het nie? Het jy dalk selfs van die verlore heidene vergeet, omdat jy so op die Jode fokus? Is die onbereikte heidene deel van jou gebede? Bid jy vir sending? Bid jy vir herlewing en vir bekerings in Suid-Afrika? Bid jy vir geleenthede om die goeie nuus met mense te deel?

 

  1. God se verkiesing (v.28-32)

Mel Gibson se film, The Passion of the Christ, is op ‘n paar plekke verkeerd. Gibson was egter reg om te wys dat dit die Jode was wat vir Pilatus gevra het om hulle Messias te kruisig. Baie mense het hom van Anti-Semitisme beskuldig, maar hy het tereg gesê dat hy maar net die geskiedenis uitgebeeld het.

Dit is ‘n feit dat die Jode tot vandag toe Jesus en die evangelie verwerp. Volgens v.28 is hulle, wat die evangelie betref, vyande van God. A.g.v. hulle vyandige gesindheid het God die goeie nuus na die heidene toe gestuur (v.28, 12, 15).

Maar dit beteken nie dat God se uitverkiesing misluk het nie (v.28). God kan immers nie lieg en sy verbond omkeer nie (v.29, Num. 23:19, 2Tim. 2:13, Tit. 1:2, Heb. 6:18). God het vir Abraham, Isak en Jakob gekies (v.29). Hy het ook individuele Jode gekies (Rom. 9-11). In Paulus se tyd was hulle min (v.5, 7), maar in die toekoms sal ons sien hoe lief God die Jode regtig het en hoe baie van hulle Hy tot redding verkies het (v.28, 26).

Ons was op ‘n tyd in die duisternis van ons onkunde en sonde, terwyl die Jode God se lig gehad het (v.30). Maar toe hulle die Messias verwerp het, toe stuur God die goeie nuus van sy vergifnis en genade na ons toe (v.30). Nou is die Jode waar die heidene eens was, vasgevang in die duisternis van hulle eie onkunde en sonde (v.31). Die Jode glo nie in die ware God minus Jesus nie, maar in ‘n afgod van hulle eie verbeelding. In 1Joh. 2:23 staan daar: “Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.” Volgens 1Joh. 5:20-21 aanbid die persoon wat Jesus verwerp, ‘n afgod.

Maar al aanbid die Jode ‘n afgod, kan hulle nog tot bekering kom. As hulle sien hoe die heidene die ware God van die Ou- en Nuwe Testament aanbid, sal hulle jaloers raak en hulle bekeer (v.31, 11, 14). En as hulle hulle bekeer, sal God die rykdom van sy barmhartigheid aan hulle bewys (v.31). Hulle kon dit in Paulus se tyd reeds deur die geloof ontvang, en in die toekoms sal die volk in haar geheel dit ontvang (v.31).

A.g.v. Adam se sonde het God sy hele nageslag (Jode en heidene) tot die dood verdoem (5:12, 6:23). Adam was die eerste mens en verteenwoordig ons almal. As ons in sy skoene was, sou ons presies dieselfde gedoen het. Die feit dat elke mens sonde doen, bewys dit (5:12).

Dan is dit nie verkeerd dat God ons in die tronk van ons sonde toesluit nie (v.32). En tog los Hy ons nie daar nie. Hy het aarde toe gekom, die volle prys betaal om ons uit die tronk van ons sonde te bevry, die kettings losgebreek, ons aangeneem om sy kinders te wees en die hemel te erf (Gal. 3:22-29).

So skenk Hy die rykdom van sy barmhartigheid aan elkeen wat in sy Seun glo. Omdat Hy dan die Jode en die heidene op grond van sy barmhartigheid red, kan niemand in homself en sy goeie werke roem nie. Verlossing van begin tot einde is uit genade alleen.

Maar die feit van God se barmhartigheid oor almal, beteken nie almal kom tot bekering nie. Party sê v.32 bewys universialisme, naamlik dat God uiteindelik almal sal red:

‘As sy straf oor die mens elke individu insluit, sluit sy genade en verlossing ook elke mens in. Dan is daar nie so iets soos die hel nie. Indien daar dalk so iets is, sal almal uiteindelik daar uitkom en hemel toe gaan. Dus maak dit nie saak of jy in Jesus glo of nie; solank jy opreg is in wat jy glo en so goed lewe as wat jy kan. As jy dít doen, dan is jy lief vir Jesus, al is jy nie eers daarvan bewus nie.’

Dit is hartseer dat goeie ouens soos Billy Graham en C.S. Lewis sekere aspekte hiervan geglo het. Dit is ook jammer dat talle Christene boeke soos The Shack glo, wat sê dat Jesus volgelinge in alle godsdienste het, en dat almal gered sal word [William P. Young, The Shack (Newbury Park, California: Windblown Media, 2007), 115-127, 180-182, 206].

Die Bybel leer nie sulke onsin nie. As dit so was, was die aaklige kruis geheel en al onnodig. Dan het die Vader sy Seun verniet laat ly. Hoekom het Hy nie maar net die beker van lyding by sy Seun laat verbygaan as opregte Moslems, Hindoes en ateïste sonder die kruis gered kan word nie? Het God dan gelieg toe Hy die indruk gegee het dat dit nié moontlik was vir die lydingsbeker om by Jesus verby te gaan nie, terwyl daar eintlik ander moontlikhede was?

‘Maar wat beteken Rom. 11:32 dan as dit sê dat God sy barmhartigheid aan almal bewys?’ wil iemand weet. Volgens een kommentator gaan dit hier oor ‘all without distinction [Jode en heidene] rather than all without exception [elke individu].’  [F.F. Bruce, Tyndale New Testament Commentaries: Romans (Leicester: Inter-Varsity Press, 1985), 211].

En tog gaan dit nie hier oor klein groepies nie, maar oor die Jode en ander nasies in hulle geheel. Op die oomblik is dit nie so nie, maar in die toekoms sal die Jode en elke ander nasie op aarde voor Jesus buig en Hom aanbid:

“Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die Here bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.” (Ps. 22:28).

“Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer” (Ps. 86:9).

Glo jy dit nie? Dan sal jy maar moet wag tot dit gebeur en jy nie anders kán as om te erken dat dit waar is nie. Soos Tomas sal jy dit met jou eie oë sien en met verbasing neerval en sê: ‘My Here en my God!’