Die sleutel tot kerkgroei

Image result for key of prayer

Jesaja 62

Enigiemand kan ‘n kerk groei. Al wat jy nodig het is die regte musiek, vermaak vir jonk en oud, beloftes van voorspoed en sukses, ’n vriendelike atmosfeer, positiewe en kort preke wat sag op die oor val. Maar dan is dit nie ‘n kerk in die Bybelse sin van die woord nie.

Met kerkgroei verwys ek na dit wat ons in Hand. 2 en die res van Handelinge sien. Ek verwys na mense wat tot bekering kom, gedoop word en deel word van die liggaam van Christus en mekaar dien. Ek verwys na mense wat geestelik volwasse raak onder die lering en toepassing van God se Woord, die onderlinge gemeenskap, gesamentlike gebed en die gereelde gebruik van die nagmaal. Ek verwys na mense wat die evangelie met ander deel en dissipels maak.

Dalk sê jy: ‘Kerkgroei pla my nie regtig nie; dit gaan immers nie oor getalle nie.’ Natuurlik gaan dit nie nét oor getalle nie, maar kan jy die ongelowige massas in die oë kyk en sê: ‘Dit maak nie saak as min van julle gered word nie; dit gaan immers nie oor getalle nie’? Volgens Op. 7:9 gáán dit oor getalle: “’n groot menigte wat niemand kon tel nie”. Ons wil tog hê dat baie mense gered moet word en geestelik volwasse moet raak, nie waar nie?

Wat is die sleutel tot hierdie tipe kerkgroei? Daar is nie net een sleutel nie. Volgens Handelinge is daar drie sleutels: die krag van die Heilige Gees, die Woord en gebed. In Jes. 61 lees ons van die eerste twee sleutels, terwyl Jes. 62 op die laaste een fokus. Vandag wil ek by die laaste een stilstaan, naamlik gebed.

 

  1. Die Messias se gebede (v.1-5)

As ek wyle Martin Holdt se lewe moes opsom, is ‘gebed’ seker een van die woorde wat ek sou kies. Hy het elke dag tussen 02:30 en 03:00 opgestaan en vir paar uur honderde mense se name in gebed voor die Here gebring.

Gebed het ook Jesus se lewe gekenmerk (Heb. 5:7). As God, het Hy nie nodig gehad om te bid nie. Maar in sy menslike natuur het geen mens meer as Hy gebid nie. Lukas gee een voorbeeld op die ander om te wys hoe Jesus gebid het (Luk. 3:21, 5:16, 6:12, 9:18, 29, 11:1, 22:39-45, 23:34, 46). Volgens Mark. 1:35 het Hy opgestaan toe dit nog donker was, en gaan bid. Dit is onder andere a.g.v. sy gebedslewe dat ons vandag gered is, dat baie mense nog tot bekering kom en dat die kerk groei. So leer v.1, Ps. 2:8, Luk. 23:34 en Joh. 17:20 ons.

Volgens v.1 en Heb. 7:25, hou Jesus nie op om vir ons te bid nie. Hy bid vir die hemelse Jerusalem of Sion; Hy bid vir die kerk (v.1). Wat is die gevolg van sy gebede?

[a] Elkeen wat die Vader Hom gee, word gered en met die skoon kleed van sy geregtigheid bedek (v.1, 53:10, 61:3, 10, Joh. 6:37, 17:9, 20). Die kerk se verlossing en geregtigheid skyn soos ‘n helder lig en ‘n brandende fakkel in die wêreld (v.1).

[b] Ons lewe regverdig. Die nasies en hulle konings sien God se heerlikheid in ons lewens en word daarheen getrek soos ‘n mot na ‘n kers (v.2, 60:3, 61:11, Matt. 5:16).

[c] God gee ons ‘n nuwe naam of natuur (v.2, 12, Op. 2:17, 3:12). Die kerk is ’n nuwe skepsel (2Kor. 5:17). Ons hele karakter het verander van wat dit was voordat ons weergebore is.

[d] Ons is ‘n koninklike kroon in die Here se hand (v.3, 61:10, 3, Sag. 9:16). Hy maak ons rein soos ‘n beeldskone bruid (61:10, Ps. 45:10, 12, 14-15, Ef. 5:26-27). Al het Hy ons nie nodig nie, kies Hy om ons ‘n kroon te maak wat sy skoonheid afrond en sy Koningskap beklemtoon (v.3, Spr. 12:4). Hy kies om nie volkome te wees sonder die kerk nie, “die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef. 1:23).

[e] Omdat die Vader die Seun in ons plek verlaat het (Matt. 27:46), vergewe Hy die sonde wat ons lewens soos ‘n woestyn gemaak het en gemaak het dat Hy ons verlaat. Nou sal Hy ons nooit verlaat nie (Heb. 13:5) en sal ons nie meer ‘Verlatene’ of ‘Wildernis’ genoem word nie (v.4).

Omdat Christus se geregtigheid ons bedek en die Vader tevrede is met Hom, sal Hy ons Hephzibah of Welbehae noem (v.4, Matt. 3:17). Omdat Jesus met die kerk trou, noem Hy ons ook Beulah of Getroude (v.4).

Soos Christus Hom in Gen. 1-2 oor die mens verheug het, verheug Hy Hom oor die kerk (v.4, Spr. 8:31). Hy sing oor haar soos wat ‘n bruidegom hom oor sy bruid verheug (v.5, 65:19, Sef. 3:17). In die hemel dink Hy gedurig aan ons, begeer Hy sy bruid se skoonheid, bid Hy vir ons, verlang Hy na ons, en wil Hy by ons wees (v.4-5, Ps. 45:12, Joh. 17:24, Rom. 8:34, Ef. 5:25-27). A.g.v. Christus se gebede vir ons, sal ons met die hemelse Sion getroud wees (v.5). Ons sal m.a.w. vir ewig in die hemel bly.

Maar ons hoef nie tot dán te wag voor Hy Hom oor ons verheug nie. Ons kan nóú al Hy sy onpeilbare liefde geniet: die hoogte, lengte, breedte en diepte daarvan (v.4-5, Ef. 3:18-19). Deur die Gees stort Hy sy liefde in ons harte uit (Rom. 5:5). Dit loop oor in ’n reaksie van liefde vir Hom (1Joh. 4:19). Sy liefde vir ons is soos reënwater wat uit die see uit kom en weer daarheen terugkeer.

Die liefde tussen Jesus en die kerk is vol vreugde en plesier. Soos die liefde tussen die man en die vrou in Hooglied, is die liefde tussen Jesus en sy kerk soos ‘n liefdeslied, ‘n romantiese gedig, soene, goeie wyn, parfuum, vars olyfolie, goud en silwer, kosbare edelstene, blomme, wit duiwe, appels, druiwe, soet vye, granate, lente bloeisels, ‘n koelteboom, ‘n feesmaal, ‘n geslote tuin, melk en heuning, ‘n aangename droom, ‘n varswater fontein, en sagte lammers.

Laat ons (soos Paulus in Ef. 3) bid om meer van hierdie liefde te ken. Hoe meer Jesus se liefde ons harte vul, hoe meer sal ons mekaar liefhê. En hoe meer ons mekaar opreg en op praktiese maniere liefhet, hoe meer sal die wêreld sien ons is anders as hulle. Hulle sal sien dat ons waarlik Jesus se dissipels is (Joh. 13:34-35). En sal dit hulle nie na Jesus toe trek nie? Wie kan ware liefde weerstaan?

Met ware liefde bedoel ek nie dít waaroor die wêreld sing, skryf en films maak nie. Ek praat nie hier van die liefde waarvoor die wêreld trou, skei, trou, skei, trou, skei nie. Ek praat van ware liefde wat net in God gevind kan word, omdat God liefde is (1Joh. 4:8). Ek praat van ’n liefde wat sy grootste uitdrukking vind in God wat mens geword het en sy lewe afgelê het vir sy vyande (Joh. 3:16, Rom. 5:8, 1Joh. 3:16).

As ons hierdie liefde het, sal die wêreld hulle ore spits en sê: ‘Ons sien Jesus se liefde in julle (v.1-2, 61:11). Vertel ons asb. van Hom.’ En so sal die kerk groei.

 

  1. Die kerk se gebede (v.6-12)

Laas November het ek met die leraar van Jeffreys Bay Bible Church gesels. Ek het gesien hoe hulle gemeente wonderlike groei in geloof en getalle ervaar: “En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.” (Hand. 16:5). Ek het hom hieroor uitgevra. Hy het gesê dat dit niks in hulle is nie, maar dat dit God se antwoorde op gebed is. Hulle begin en eindig elke jaar met ‘n week van gebed, het drie bidure per week, een gebedsdiens per maand, en ‘n gebedstyd voor elke diens. Die predikant vas ook een keer per week vir die gemeente.

Hy het verder gesê: ‘In Gereformeerde kringe het ons vliegtuig net een vlerk: prediking. Maar wat van die vlerk van gebed?’ Volgens Jak. 4:2 is biddeloosheid één van die redes hoekom ons nie sulke dinge in ons midde sien nie: “julle het nie, omdat julle nie bid nie.” As ons met volharding bid en God se wil uitvoer, sal Hy ons antwoord (vgl. Matt. 7:7-11).

Vir die kerk om te groei, benodig ons geestelike wagte wat, soos die Messias in v.1, dag en nag bid (v.6). Anna het so gebid voor die Messias se eerste koms; Paulus het so gebid vir die gelowiges (Luk. 2:36-38, 1Tess. 3:10, 2Tim. 1:3). Ons moet dieselfde doen vir God se saak en werk: hou aan bid tot die Here antwoord en sy kerk seën (v.6-7, Gen. 32:26, 29, Luk. 18:1, 7, Rom. 1:9, 12:12, Ef. 6:18, Kol. 4:2, 1Tess. 5:17, 1Tim. 5:5).

Waarvoor moet ons bid? Ons moet bid vir bekerings in die gemeente, vir die Jode om gered te word, vir herlewing, vir die prediking, vir geleenthede om die evangelie te deel, vir sendelinge, vir die onbereikte volke van die wêreld, vir die vervolgde kerk en vir geestelike groei onder die Woord.

Doen moeite om gebed ‘n prioriteit te maak en weet dat die duiwel alles in sy vermoë sal doen om te keer dat jy op jou eie en saam met die gemeente bid. Bely jou biddeloosheid en skeduleer vir jou ‘n tyd om te bid. Maak ‘n lys. Vra die Gees om jou te herinner aan spesifieke dinge waarvoor jy moet bid. Doen moeite om in te skakel by een van die gemeente se bidure.

Hoe moet jy bid? Volgens v.6 moet ons die Here aan sy beloftes herinner. Bid m.a.w. volgens God se wil in die Bybel. So kan jy verseker weet dat die Here jou sal antwoord (Joh. 15:7, 1Joh. 5:14-15). Volgens v.7 belowe die Here dat Hy sy bruid of kerk—die hemelse Jerusalem volgens Op. 21—‘n lof sal maak op die aarde. Almal sal m.a.w. goed praat van die kerk wanneer hulle sien hoe die Here haar seën.

Volgens God se eed sal daar in die toekoms geen vyande wees wat die kerk onderdruk nie (v.8-9, 65:21-22, Deut. 28:38-39). Hul sal in die minderheid wees, omdat die meeste mense die Here sal ken (2:2-3, 11:9-12, Ps. 86:9). God se kinders sal hulle rykdom in sy heiligdom inbring, Hom aanbid en voor Hom fees vier (v.9). Wat die kerk in tye van herlewing geniet (vgl. Hand. 2-6), is ‘n voorsmakie van die hemel. In die toekoms sal dit weer so wees. Na ’n tyd van lofprysing, voorspoed en vrede (v.9), sal ons die hemel ingaan (v.10).

Ons kan ingaan, omdat Jesus deur sy kruisdood en opstanding die klippe en slaggate van sonde uit die weg geruim het en die pad gelyk gemaak het (v.10). Hy het deur die hemelse poorte ingegaan, sodat ons ook kan ingaan (60:11, Ps. 24:7-9, Heb. 9:24, 10:19-22, Op. 21:25).

Die Messias se banier oor die volke wys dat alle nasies syne is, aangesien Hy hulle met sy bloed gekoop het (v.10, Ps. 2:8, 22:28-29, Dan. 7:14, Op. 5:9). As Hy weer kom, sal Hy hulle van hierdie wêreld red en hulle beloon met die ewige lewe op ‘n nuwe aarde (v.11). Daar sal ons ‘n nuwe naam en natuur hê (v.12, 2). Ons sal genoem word:

  • Die heilige volk wat God vir homself gekoop het (v.12, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9).
  • Die verlostes wat bevry is deur die bloed van Jesus (v.12, Matt. 1:21, 20:28).
  • Die begeerde of uitgesoekte wat God gesoek het soos wat ‘n herder sy verlore skape soek (v.12, Luk. 19:10).
  • Die stad wat die Here nie sal verlaat soos Hy dit in die Ou Testament met Jerusalem gedoen het nie (v.12, 4, 49:14, Op. 21:3).

Die voorregte wat ons in die hemel geniet, is God se antwoord op die kerk en die Messias se gebede (v.1, 6-7). In die hemel sal jy sien hoeveel mense in antwoord op jóú gebede gered is. Jy sal ook uitvind hoeveel mense vir jóú bekering gebid het. Bowenal sal jy onthou dat jy veilig in die hemel is, omdat die Messias op aarde, aan die kruis en in die hemel vir jou gebid het (v.1, Luk. 23:34, Joh. 17:20, Heb. 7:25).

Hierdie waarhede moet maak dat jy nie moeg word om vir geharde sondaars se bekering te bid nie. Dit moet maak dat jy nie ophou om vir sendelinge en predikers te bid nie. Dit moet maak dat jy nie dink dit is ‘n mors van tyd om vir volke en individue te bid wat jy nog nooit ontmoet het nie. Dit moet maak dat jy nie dink: ‘Ek is te oud of te siek om te dien, en daarom beteken ek niks vir die Here en sy Koninkryk’ nie.

Volgens Kol. 1:29, 4:12-13 werk die een wat preek nie harder as die een wat bid nie. Jou gebede is nie tevergeefs nie. Hou aan bid vir die Koninkryk. Wees so toegewyd soos ‘n paar vroue in wyle Martin Holdt se gemeente. Hulle het vir hom gesê: ‘Ons het ons voorgeneem om elke dag vir jou en jou bediening te bid. Ons sal ook een keer per week saamkom om vir jou te bid.’ Ek is oortuig dat sulke aksies ‘n groot rol gespeel het in die sukses van sy bediening. Dit is ook waaraan Spurgeon die sukses van sy eie bediening toegeskryf het: ‘My people pray for me.’

Sal dit nie die Here verheerlik as ons eendag bekerings, groei en herlewing in die kerk sien en sê: ‘Dit is nie ons nie, maar die Here wat ons gebede verhoor het om sy kerk te bou’?

Advertisements