Die pad na afvalligheid en hoe om herstel te word

Related image

Romeine 11:17-24

Ernie Reisinger se seun het bely dat hy die Here ken. Hy het die vrug van bekering gedra en was betrokke in die kerk. Daarna het hy egter vir meer as ‘n dekade afvallig geraak. Op die einde het hy na die Here toe teruggedraai en Hom getrou gedien [Geoffrey Thomas, Ernest C. Reisinger: A Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2002), 141-167].

William Carey se seun Felix het tot bekering gekom, maar het later verval en homself vir ‘n paar jaar aan drank oorgegee. Deur die Here se genade het hy hom bekeer [Pearce Carey, William Carey (London: The Wakeman Trust, 1993 [1923]), 320-323].

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n man wat gered is uit ‘n lewe van dronkenskap en seksuele sonde. Hy het geestelik gegroei, maar na ‘n tyd egbreuk gepleeg, sy vrou uit ‘n klomp geld gekul, en die huis onder haar uit verkoop. Nadat hy alles verloor het, wou hy selfmoord pleeg. Die Here het hom gekeer en na Martyn Lloyd-Jones se kerk toe gelei. Hy het sy sonde bely en hom bekeer. Die Here het hom herstel [Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids: Zondervan, 1971), 302-303].

Dawid het dieselfde beleef nadat hy moord en egbreuk gepleeg het, en vir omtrent ‘n jaar lank afgedwaal het (2Sam. 11-12, Ps. 51).

Maar dan is daar die voorbeeld van mense wat Christus bely het, maar later afgedwaal het en in hulle sonde gesterf het. Toe Petrus Jesus verloën het, het hy bitterlik geween en hom bekeer. Toe Judas Jesus verraai het, het hy homself gaan hang. Toe mnr. X in sonde geval het, was sy pyn diep. Hy het egter berou gehad, hom bekeer, die goedheid van God se vergifnis beleef, elke week vir berading gekom, die Bybel gehoorsaam, en die Here se seën op sy lewe gesien. Maar toe mnr. Y in sonde geval het, wou hy nie die gevolge van sy sonde in die gesig staar nie en het hy sy eie lewe geneem.

Wat is die punt wat ek probeer oordra? Moenie met afvalligheid speel en dink: ‘My sonde is nie so erg nie; ek kan altyd weer terugdraai’ nie. Iain Murray waarsku [Iain Murray, Evangelical Holiness (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2013), 82, 97]:

‘When backsliding begins no one can tell where it will end.’

‘Scripture warns that unbelief is a very dangerous thing, and where it is not resisted it will overcome.’

Maar die punt van bogenoemde illustasies is ook om te sê: As jy afvallig raak en berou het, moet jy nie in mismoedigheid verval en dink jy kan nooit weer terugkeer nie. Jy kan. Moet daarom nie in die donker gat van wanhoop sit en dink: ‘Die lig sal nie weer skyn nie; ek sal nooit weer hier uitkom nie.’

Maar moet ook nie aanneem jy kan wegdwaal, met sonde speel, en later weer dinge met die Here regmaak nie. Hoe weet jy of daar vir jou ‘n ‘later’ sal wees? Hoe weet jy of jy later nog sal lewe? Wat as die Here dalk besluit om jou in jou sonde te verhard? Sorg dan dat jy by die Here bly of baie gou na Hom toe hardloop. Dit is sekerlik één van die lesse wat ons Rom. 11:17-24 leer.

 

  1. Die pad na afvalligheid (v.17-22)

Paulus gebruik hier ‘n illustrasie van ‘n olyfboom waarvan sekere van die takke nie meer vrug dra nie. Hy sê dat mens ‘n takkie van die wilde olyfboom (olienhout) kan afsny en dit op die gewone olyfboom kan inent.

Party mense dink dat Paulus in hierdie verse sy onkunde oor tuinbou en landbou weggee: ‘’n Mens ent mos nie ‘n wilde olyfboom se takke in op ‘n gewone olyfboom nie.’ Maar tot in die 20ste eeu nog was dit algemeen vir boere in die Meditereense wêreld om ‘n wilde olyfboom se takke op ‘n gewone olyfboom in te ent. As jy die wilde olyf se takke op die gewone olyf inent, vloei die moederboom se sap deur die nuwe takke, sodat dit olywe produseer.

Hierdie inenting van die wilde olyfboom se takke op die gewone olyfboom, was algemeen in Paulus se tyd. ‘n Sekere Columella (4-70 n.C) wat in Paulus se tyd gelewe het, het populêre volumes oor landbou geskryf (De Re Rustica). In Boek 5, hoofstuk 9 praat hy van wilde olyf steggies wat in ‘n mak olyf ingeënt word.

Rom. 11 is egter nie ‘n les oor landbou nie. Dit is ‘n gelykenis. Israel is die gewone olyfboom wat opgehou het om vrug te dra (Ps. 52:10, Jer. 11:16). Die ongelowige Jode was uiterlik deel van die olyfboom. Maar omdat hulle nie deur geloof aan die wortels verbind was nie, het die boom se lewensap nie deur hulle gevloei nie (v.16-17). Dus het hulle soos dooie takke verdor en nie vrug gedra nie. Gevolglik het die Here hulle afgebreek (v.17, vgl. Joh. 15:2, 6).

In hulle plek het Hy die wilde olyftakke van die heidene ingeënt. Saam met die Jode wat glo, het God van die heidene kinders van Abraham gemaak—die ware Israel en deelgenote in die voorregte en beloftes van die Jode (Gal. 3:7-9, 14, 16, 29, 4:28, 6:16, Ef. 2:12, 19, 3:6).

Hulle moes dit as ‘n voorreg beskou en nie as ‘n reg nie. Ons moenie soos die wêreld arrogant wees teenoor die Jode, op hulle neersien en hulle haat net omdat hulle Jode is nie (v.18). Die heidene is ‘n wilde olyf wat op die gewone olyf ingeënt is. Die wortels voed óns en nie andersom nie; ons deel in die Jode se voorregte en word deur ‘n Joodse Messias gered (v.16-18, 9:5, Joh. 4:22).

‘Ja, maar die Here het die Joodse takke afgebreek om die heidene in te ent,’ sê iemand (v.19). Dit is waar: Hy het die Jode afgebreek omdat hulle nie in die Messias glo nie, en het die heidene deur die geloof ingeënt (v.20). Maar dit moet ons nie hoogmoedig maak, asof ons onsself gered het nie (v.20). Ons moet vrees en besef: as die Here die gewone olyf se takke kon afbreek, sal Hy die wilde olyftakke ook afbreek as ons afvallig raak en ons rug op Hom draai (v.20-21).

Dit beteken nie jy kan jou redding verloor nie (Joh. 6:37, 39, 10:28-29). Dit beteken eerder dat jy uiterlik deel is van die kerk. Omdat jy egter met jou sonde aanhou, verwyder die Here jou en sny Hy jou af soos wat ‘n olyfboer ‘n vrugtelose tak afsny.

Moet dan nie jou hart verhard as die Here deur sy Woord, jou geestelike leiers, of jou ouers met jou praat nie. Vrees die Here se waarskuwings in sy Woord (v.20, Ps. 119:120, Jes. 66:2, 5). Bekeer jou en volhard met vrees en bewing in die Here (Fil. 2:12). As jy dit doen, sal Hy jou tegemoet hardloop, jou omhels en jou vergewe asof jy nooit weg was nie (Luk. 15).

Maar as jy jouself doof hou en besluit om voort te gaan op die weg van sonde, lyk die toekoms donker. Salomo waarsku:

  • “die weg van die ontroues is hard.” (Spr. 13:15).
  • “’n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.” (Spr. 15:10).
  • “hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.” (Spr. 28:14).
  • “’n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.” (Spr. 29:1).

Sien dan die goedheid van God wat helverdiende sondaars red en hulle deel maak van sy familie, net soos wat ‘n tuinbouer ‘n wilde olyf se takke in ‘n gewone olyfboom inent (v.22).

Volhard in sy goedheid (v.22): hou aan om in Hom te glo, te bid, sy Woord in jou hart te bêre en dit te gehoorsaam, deel van die gemeente te wees, en Jesus se dood in die nagmaal te herdenk (Matt. 10:22, Joh. 8:31, 15:7, Hand. 1:14, 2:42, 1Kor. 15:2, Kol. 1:23, Heb. 3:6, 14, 10:25, 1Joh. 2:19).

Volhard jy nog? Of is jy stadig maar seker besig om op te gee? Hoe lyk die pad na afvalligheid? Wat is die gevaartekens wat wys of iemand besig is om af te dwaal?

[a] Jy het lou geraak; jou liefde en persoonlike toewyding aan Christus het afgekoel (Op. 2:4-5, 15-16). Jy bid nie meer gereeld nie. Dalk bid jy uit gewoonte voor jy eet of gaan slaap, of miskien as jy ‘n krisis beleef. Maar gebed is nie meer vir jou ‘n prioriteit nie. Jy lees ook nie meer jou Bybel nie. Of dalk doen jy dit uit gewoonte, maar dit is nie meer die riglyn waarvolgens jy lewe nie. Jy ken die verse, maar jou hart brand nie meer vir Christus nie.

Jy het die kerk begin afskeep. In die verlede kon jy nie genoeg kry nie. Maar nou is dit ‘knit one, slip one’. Voorheen wou jy weet hoe en waar jy kan dien. Maar deesdae gaan dit oor jóú. Jy het ‘n toeskouer geword wat in die bank sit. Jy is opsoek na ‘n gemeente wat jóú sal dien.

Jy’s in gevaar!

[b] Jou gewete het hard geraak. Jy speel met versoeking en sonde. ‘n Paar maande of ‘n jaar gelede het dit jou nog gepla, maar nou is jou gewete hard en voel jy nie eers skuldig nie.

Jy’s in gevaar!

[c] Jy vermy jou broers en susters, veral jou geestelike leiers. Jy is nie meer saam met die ander skape in die kraal nie. Jy leef tussen die wolwe: jy gaan waar die ongelowiges gaan en doen wat hulle doen.

Jy’s in gevaar!

[d] Die kruis het afwesig geraak in jou lewe: jy dank nie meer die Here daarvoor nie, jy bely nie meer jou sonde op grond daarvan nie, en jy beskou die nagmaal as ‘n opsie. Verder het jy goeie werke by Jesus se kruisdood begin voeg, sodat jy dink: ‘Ek glo ek sal nog hemel toe gaan. Dit is nie asof ek moord pleeg nie. Ek bid darem nog in die aand voor ek in die bed klim.’

Jy’s in gevaar!

[e] Jy ignoreer die voorbeeld van ander sg. ‘gelowiges’ wat afvallig geraak het. Jy sê vir jouself: ‘Ek sal nie soos húlle wees nie, maar sal terugkeer voor dit te laat is.’ Maar sal die Here wat Israel afgebreek het toe hulle afvallig raak, jou spaar (v.21)? Die feit dat jy dink dit kan nie met jou gebeur nie, wys dat die afvalligheid reeds in jou hart begin het. “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1Kor. 10:12).

Jy’s in gevaar!

[f] Jy het begin wonder of Jesus en die Bybel regtig waar is. Dit is nie die tipe twyfel van Johannes die Doper in Matt. 11 nie. Dit is ‘n opstandige twyfel.

Jy’s in gevaar!

[g] Jy weier om teregwysing te aanvaar. As iemand jou sonde uitwys, raak jy kwaad en herinner jy hulle aan húlle sonde. Jy vermy lering oor God se oordeel en sy heiligheid, en herinner jouself daaraan dat God liefde is. Jy preek nie die balans van v.22 vir jouself nie: die goedheid en die strengheid van God.

Jy’s in gevaar!

Hoe lank sal dit wees voor die Here jou aan jou sonde oorgee, jou hart verhard, en uiteindelik die droë tak van jou lewe afbreek? Jy weet nie. Om van Here af weg te dwaal is nie iets waarmee jy kan speel nie. Jy moet so gou as moontlik na die Here toe terugkeer. Hoe doen ‘n mens dit? Dit bring my by die volgende punt.

 

  1. Die pad na herstel (v.23-24)

Soms as ‘n ouer of onderwyser die stoute kind ernstig aanspreek, spits die soet kind sy ore en leer hy iets (Spr. 19:25). Rom. 11:17-24 wys hoe God ongelowige Israel soos ‘n tak afgebreek het. Paulus gebruik dit as ‘n waarskuwing vir die gelowige heidene om nie met ongeloof te speel nie. Maar hy gee ook ‘n positiewe voorbeeld om te wys dat die Jode se kans op redding nie finaal verby is nie. As die Jode hulle bekeer en in die Messias glo, sal God hulle herstel (v.23). Hy is immers die almagtige God en daarom is dit vir Hom kinderspeletjies (v.23). “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (Matt. 19:26).

As Hy die heidene uit die wilde olyfsoort in die gewone olyf kon inent, kan Hy baie maklik die Jode wat in Christus glo in hulle eie boom terug ent (v.24, Hos. 14:5-7). En as die Here ‘n geharde ongelowige kan red, kan Hy nie ‘n afvallige gelowige herstel nie? Natuurlik kan Hy. Wat moet jy doen?

Moenie dink dat jou sonde groter is as God se genade en Jesus se kruisdood nie (Rom. 5:20). Moenie sê: ‘Ek weet die Here het my vergewe, maar ek kan myself nie vergewe nie.’ Is jou standaard dan hoër as God s’n? Kan jy sý standaard oortree en vergewe word, maar nie jou eie standaard nie? Is Jesus se bloed nie genoeg om jou te reinig nie, omdat jy jouself eers moet vergewe? Kan jy my asb. wys waar die Bybel sê jy moet jouself vergewe?

Bely eenvoudig jou sonde, vra die Here se hulp om jou te bekeer, en glo sy belofte dat Hy jou sal vergewe op grond van Jesus wat in jou plek gesterf het (1Joh. 1:7, 9).

Dalk sê jy: ‘Ek weet nie hoe om terug te keer nie.’ Roep die Herder aan en vra dat Hy jou asb. moet kom haal.

As ek Rom. 11:17-24 lees, is ek bekommerd oor ons gemeente. Ek is bekommerd, omdat party van die skape afgedwaal het en nie by die Herder en die res van die skape is nie. Maar ek is ook bekommerd, omdat dit vir my lyk of dit ons nie pla nie. Dit pla ons, maar ons doen nie wat Matt. 18:10-20 sê nie. Ons pas m.a.w. nie kerktug toe nie, omdat ons dink dit is die leiers se plig. Maar volgens die Bybel moet elkeen van ons sy broer wat afgedwaal het, aanspreek, waarsku, en hom van sy dwaalweg terugbring (Heb. 3:12-13, Jak. 5:19-20).

Is jy te bang om met jou broer oor sy sonde te praat? Vra die Here se hulp en volg die stappe in Matt. 18. Jy wil tog nie soos Kain wees en vir die Here sê: ‘Ek is nie my broer se oppasser nie’ (Gen. 4:9)?

Advertisements