Is God klaar met die Jode?

Image result for replacement theology

Romeine 11:1-16

In die eerste dekade van my bediening het ek geglo dat God klaar is met die Jode. In 2003 het ek ‘n artikel geskryf om dit te bewys. Daarna het ek nie gereeld daaroor gedink nie, en enigiets geïgnoreer wat lyk of dit sê dat God in die toekoms die Jode sal red.

Maar na deeglike ondersoek en studie, het ek ‘n ander slotsom bereik. Tekste soos Rom. 11:1-16 het verander hoe ek oor Israel, herlewing en die kerk dink. Dit het verander waarvoor ek bid, asook wat die fokus van my gebede is.

 

  1. God het hulle nie totaal verwerp nie (v.1-10)

Toe my kinders klein was het ons eendag ‘n Joodse verkoopsdame in Greenstone Mall gesien. Ek het gedink dat my kinders nie sal verstaan wat ‘n Jood is nie, en het dus gesê: ‘Sien julle daardie tannie? Sy is ‘n regte egte Israeliet.’ My middel-dogter was verbaas en het gesê: ‘Regtig? Dan moet sy vir Moses ken!’

Ek het gelag en mooi verduidelik dat dit nié so is nie. Hulle het geweet dat die Israeliete in die woestyn rebels was. Hulle het ook geweet dat die Jode die Messias verwerp het en gekruisig het. Later het ons hulle geleer dat God sy rug op die Jode gedraai het, en dat Hy die evangelie na die heidene toe gestuur het.

Paulus bevestig dit. In 10:21 het hy gewys hoe Israel hulle teen die Here verhard het. In 9:27-29 het hy gesê dat daar net ‘n oorblyfsel of handjievol is wat glo. Maar beteken dit dat God al die Jode verwerp het? Nee (v.1, Ps. 94:14). Paulus is dan ‘n bekeerde Jood uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin (v.1, 2Kor. 11:22, Fil. 3:5). God het nie die individuele Jode wat Hy vooruit en intiem as sy eie geken het, verwerp nie (v.2, 8:29, vgl. Amos 3:2, Gal. 4:9).

1Kon. 19 wys hoe God sy eie bewaar (vgl. 2Tim. 2:19). Die bose koning Agab en sy heidense vrou Isebel, het God se profete doodgemaak, sy altare afgebreek, en dit met altare vir die afgod Baäl vervang (v.3, 1Kon. 17-18). Isebel wou Elia ook doodmaak (v.3). Hy het Horeb toe gevlug en baie depressief gevoel. Hy het gedink dat sy al God se profete doodgemaak het en dat hy die enigste een oor is (v.3). Die Here het hom reggehelp en gesê dat Hy 7000 bewaar het wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie (v.4, 1Kon. 19:16-21, 20:13, 22, 28, 35-43, 22:8, 2Kon. 2).

Net soos wat daar in Elia se tyd ‘n handjievol Jode was wat die Here gedien het, was daar in Paulus se tyd ‘n oorblyfsel wat in die Messias geglo het (v.5, 9:27-29, Hand. 2:41, 4:4, 5:14, 6:1, 7). God het hulle nie gekies omdat lewens beter was as die res van die Jode s’n nie. Hy het uit genade gekies om hulle te red en om hulle nie vir hulle sonde te straf nie (v.5-6, 9:11, 16, 2Tim. 1:9).

Die punt is dus dat die meeste Jode nie gered was nie. Hulle het God se geregtigheid gesoek maar dit nie gevind nie, omdat hulle dit deur hulle eie pogings gesoek het i.p.v. deur die geloof in Christus (v.7, 9:31). God het egter individue uit die Jode gekies en aan hulle sy geregtigheid gegee deur die geloof (v.7, 9:6-8, 24, 30). Hy het die res, wat nie in Jesus wou glo nie, verhard en gegee wat hulle verdien (v.7, 9:15, 18, 32).

Israel was al rebels van die Ou Testament af. Daarom het God deur Moses, Jesaja en Dawid gesê Hy gaan hulle verhard. Toe hulle hulle oë en ore vir die profete toestop, het God ‘n diep geestelike slaap oor hulle gebring en het Hy hulle doof en blind gemaak (v.8, Deut. 29:4, Jes. 29:10, vgl. Jes. 6:9-10, Jer. 5:21, Eseg. 12:2). Hy het hulle m.a.w. gegee wat hulle wou hê.

Volgens Dawid het die Messias dieselfde gebid. Hulle het Hom gif en suurwyn gegee (Ps. 69:22). Nou het Hy gebid dat die Vader hulle straf: ‘Laat die tafel wat hulle moet versadig, ‘n strik word om hulle te laat struikel’ (v.9, Ps. 69:23-24). Hy het gebid dat hulle oë duister moet word, sodat hulle nie die waarheid kon sien nie, maar afsak in die duisternis van die dood (v.10). Hy het gevra dat God hulle rug vir ewig onder die gewig van sy oordeel moes buig (v.10).

Israel se geskiedenis is nie daar vir interessantheid nie, maar as ‘n les vir ons (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11). Uit v.1-10 leer ons om nie onsself teen God te verhard nie. Moenie soos Israel dink jy is uitverkies, omdat jy geestelike voorregte het nie (9:4-5).

  • Die feit dat jy al vir baie jare ‘n Dopper, Presbiteriaan of ‘n Baptis is, maak jou nie ‘n Christennie.
  • Die feit dat jou ouers of voorouers die Here dien, maak jou nie ‘n Christen nie.
  • Jyis nie ‘n kind van die Here, omdat jy gedoop is nie.
  • Moenie dink jyis gered, omdat jy ‘n lidmaat van die kerk is nie.
  • Jy is nie outomaties in God se guns, omdat jy ‘n Bybelkursusgeloop het, of omdat jy ‘n predikant, ouderling of diaken is nie.
  • Jy kan nie jou pad hemel toe koop deur geld vir die kerk te geenie.

As jy op enigiets in jouself staatmaak en dink dat jy daardeur reg is met God, het jy ‘n lae opinie van Jesus se Persoon, lewe, kruisdood en opstanding. En as jy ‘n lae opinie van God se Seun het, sal Hý met jou afreken. Hy sal jou gee wat jy wil hê, naamlik blinde oë en dowe ore wat nie na die evangelie van genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen luister nie. Jy sal voortgaan om op jouself te vertrou en nie sien dat daar ‘n afgrond voor jou is nie; jy sal nie hoor hoe mense roep en jou waarsku om terug te draai nie. Jou einde sal tragies wees en jy sal niemand hê om te blameer nie, maar jouself.

 

  1. God het hulle nie finaal verwerp nie (v.11-16)

Oor die afgelope paar jaar het ek ‘n paar keer op ‘n Saterdag gesien hoe Jode in hulle ortodokse drag sinagoge toe loop. In my hele lewe het ek egter net één keer ‘n Jood ontmoet wat in Jesus glo. Volgens een van my gunsteling predikers sal dit altyd so wees. Soos hy Rom. 11 verstaan, is God vir ewig klaar met die Jode en sal daar tot die einde van die wêreld net ‘n handjievol Jode wees wat in die Messias glo.

Ek dink hy is verkeerd, want volgens v.11 is die Jode se val nie finaal of permanent nie. Die punt van v.11 is juis dat daar nie altyd net ‘n oorblyfsel sal wees nie. Volgens v.11-16 kan ons die Jode se verwerping en bekering in vier stappe opsom:

[a] Die Jode se dood is die heidene se brood. Hulle verwerping van die Messias het gemaak dat God húlle verwerp en die geestelike rykdom van sy verlossing na die heidene toe stuur om hulle met Homself te versoen (v.11-12, 15, Matt. 10:5-6, 21:43, 28:19, Hand. 13:44-49, 18:6, 19:8-10, 28:28).

[b] Deur die heidene wat gered word, sal die Jode jaloers raak en hulle tot die Here bekeer (v.11). Paulus het reeds iets hiervan in sy eie bediening gesien. Hy was ‘n apostel na die heidene om hulle vir die Here te wen (v.13, 1:5, 15:16, Hand. 9:15, 22:21, Gal. 2:7-9, Ef. 3:8, 1Tim. 2:7). Maar hy was ook ‘n apostel na die heidene om die Jode jaloers te maak. Hy het gehoop hulle kom tot bekering wanneer hulle sien hoe die heidene in ‘n Joodse Messias glo en gered word (v.11, 14, 10:19).

Dit laat my dink aan ‘n vrou in ons gemeente. ‘Hoe het jy tot bekering gekom?’ het ek gevra. ‘Ek was jaloers toe ek sien dat my vriende die Here dien. Ek wou ook hê wat hulle gehad het.’ Dit is wat in Paulus se tyd met enkele van die Jode gebeur het (v.14). Maar eendag sal dit op ‘n groot skaal gebeur. Dit bring my by die derde stap in Paulus se argument.

[c] In die Ou Testament en in Paulus se tyd, was daar ‘n handjievol Jode (‘n oorblyfsel) wat in die Messias geglo het (v.1-10). Maar in die toekoms sal dit verander. Net soos wat daar ‘n vol en groot getal heidene sal inkom (v.25), sal God ‘n vol en groot getal Jode aanneem en hulle sonde vergewe (v.12, 26-27, Jes. 11:12, Hos. 3:5).

Sommige ontken dit. Volgens hulle gaan v.12, 15, 26 oor die uitverkore oorblyfsel wat deur die geskiedenis tot bekering kom. Maar mense wat dit sê is verkeerd, want volgens Paulus sal God dieselfde groep wat verwerp is, herstel en as sy kinders aanneem (v.12, 15). Wie is verwerp: die oorblyfsel of die nasie in sy geheel? Wie sal dan herstel word: die oorblyfsel of die nasie in sy geheel? Hoe weet ons dat God sy volk in haar geheel sal red?

Want as die deposito syne s’n is, kom die res van die geld ook na Hom toe. As die boer die eerste oes vir die Here offer (Num. 15:17-21), is elke brood wat hy daarna kry heilig vir die Here (v.16). As die oorblyfsel van die Jode aan die Here behoort, sal die hele volk uiteindelik syne wees. As die boom se wortels die Here s’n is, behoort die takke wat deur die wortels gevoed word ook aan Hom (v.16). As God die aartsvaders (Abraham, Isak, Jakob) gekies het, sal die volk wat uit hulle voortkom ook syne wees (v.28).

[d] Die bekering van massas Jode is egter nie die hele storie nie. As die Jode se val en verharding soveel rykdom vir die wêreld beteken het, wat sal die effek nie wees as hulle in groot getalle tot bekering kom nie (v.12)? Dit sal wees soos lewe uit die dood (v.15).

Bedoel Paulus dat Jesus die dooies sal opwek as die Jode tot bekering kom? Nee. Dit gaan hier oor die effek wat die Jode se bekering op die heidene het (v.12, 15). Dit gaan oor ‘n geestelike lewe uit die dood (Luk. 15:24, 32, Joh. 5:24, Rom. 6:13, Ef. 2:1, 5). As die wêreld sien hoe die Jode (wat eens die Messias verwerp het) hulle bekeer en in Hom glo, sal hulle sê: ‘As Hy húlle harde harte kan verander, kan Hy ons ook red en vergewe.’

Die bekerings wat in die wêreld sal volg, sal meer wees as wat dit in die grootste herlewings in die geskiedenis was. Daar sal ‘n wêreldwye super-herlewing wees; lewe uit die dood (v.15, vgl. Eseg. 37).

Maar hoe pas die bekering van massas Jode en heidene by tekste wat sê dat die wêreld erger gaan word voordat Jesus weer kom? Mense gebruik gewoonlik tekste oor die Groot Verdrukking in Matt. 24 en Openbaring om te sê dat dinge erger gaan word voor die einde. Maar as jy die tekste noukeurig bestudeer, sal jy sien dat die Groot Verdrukking in 67-70 n.C. vervul is [Ek het dit in detail bespreek in my preke oor Matteus 24 en Openbaring].

Maar wat van Matt. 7:13-14, 22:14, Luk. 13:24 wat sê dat daar min op die smal weg is? Hoe kan ek dan uit Rom. 11 sê dat baie mense gered sal word? As jy Jesus se woorde in hulle konteks lees, sal jy sien dat Hy juis dieselfde punt as Paulus in Rom. 11 maak, naamlik dat daar in tyd min Jode op die smal weg was, maar dat daar deur die loop van die kerk se geskiedenis baie mense uit die nasies gered sal word (bv. Matt. 22:7-10, Luk. 13:26, 29).

In sy artikel, ‘Are they few that be saved?’, wys ‘n teoloog genaamd B.B. Warfield (1851-1921) hoe Matt. 7:13-14 se ‘min op die smal weg en baie op die breë weg’ dieselfde punt maak [https://reformed.org/eschaton/few_saved.pdf]. Volgens Ps. 22:28, 86:9 sal die eindes van die aarde hulle tot die Here bekeer en sal al die geslagte van die nasies voor Hom buig en Hom aanbid. Volgens Op. 7:9 sal die verlostes in die hemel ‘n ontelbare menigte wees. Dit is a.g.v. die herlewing in Rom. 11.

Dalk vrees jy dat ‘n fokus op die Jode se bekering in Rom. 11 sal maak dat ons van die Arabiere en die ander nasies vergeet. Maar dit sal nie gebeur as ons onthou dat die heidene en die Jode se bekerings mekaar soos petrol en vuur aanhits nie.

As jy Rom. 11 reg verstaan en toepas, sal dit vir jou gebede wees wat ‘n kortisoon-inspuiting vir artritis of inflammasie in jou skouer is: dit sal jou aanspoor om vir herlewing onder die Jode en die nasies te bid. Dit sal jou visie verbreed om nie nét vir jou werk, jou ma se siekte, of jou kinders se eksamens te bid nie, maar vir die wêreld. As jy onthou dat die Jode se bekering in die toekoms wonderlike seën vir die wêreld sal beteken, sal Thomas Boston (1676-1732) se woorde soos ‘n vuur in jou hart brand:

‘Are you longing for a revival to the churches, now lying like dry bones…? Then pray for the Jews… [That will be] a time of a great outpouring of the Spirit, that will carry reformation to a greater height than yet has been…’ [Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1971), 114].