Jesus en jou stukkende lewe

Related image

Jesaja 61

Die bediening en my eie lewe het my geleer dat mense stukkend is. Dit is alles a.g.v. sonde: Adam s’n, ons eie, of ander mense s’n. Vir gelowiges is dit egter nie hopeloos nie. Jesus spesialiseer daarin om stukkende mense reg te maak. Dit is hoekom Hy aarde toe gekom het, naamlik om dit wat Adam en die res van die mensdom opgemors het, reg te maak. Dit is waaroor Jes. 61 gaan.

 

  1. Die Messias se salwing (v.1a)

As ‘n vrou vandag olie op haar gesig smeer, is dit om vlekke of plooie ligter te maak. Maar in die Bybelse tyd was olie nie net vir skoonheid bedoel nie. Dit was ook simbolies van die Gees wat ‘n priester, profeet, of koning vir sy taak toegerus het en hom bekragtig het (1Sam. 16:13, 1Kon. 19:16, Eks. 29:7).

In v.1 het die Vader sy Seun met die ‘Olie van die Gees’ gesalf om Hom toe te rus vir sy taak as die Messias (11:2, Heb. 1:9). Messias of Christus beteken ‘Gesalfde’. Die Vader het sy Seun met die Gees gesalf as:

  • Die Priester wat Homself vir ons moes offer en vir ons moet
  • Die Profeet wat God se wil aan ons bekend maak.
  • Die Koning wat ons vyande oorwin, oor alles regeer en ons beskerm.

Soos met Johannes die Doper in Luk. 1:15, het die Heilige Gees die Messias gevul nog voordat Hy gebore is (Luk. 1:35). By sy doop het die Vader die Gees sonder mate op Hom uitgestort (v.1, Matt. 3:16-17, Joh. 1:32-33, 3:34).

Alhoewel Hy God is en maklik deur sy eie krag kon bedien, het Hy gekies om Hom vir 33 jaar aan sy Vader se wil te onderwerp en net deur die Gees se krag te bedien (Joh. 5:19, 30, 6:38, 8:28, 12:49, 14:10, Fil. 2:6). Hy het nooit ‘gekroek’ deur uit sy Goddelike natuur te ‘tap’ om wonderwerke te doen nie (Matt. 4:3-4). Hy het geheel en al op die Gees se krag staatgemaak om wonderwerke te doen en duiwels uit te dryf (Matt. 12:28, Luk. 4:1, 14, 18-19, Hand. 10:38).

Nadat Hy opgevaar het hemel toe, het Hy in sy menslike natuur ‘n vars salwing of uitstorting van die Gees ontvang om sy taak as ons hemelse Middelaar te vervul (Hand. 2:33, Heb. 1:9). Die volheid van die Gees op Hom was so groot, dat dit soos olie van Hom af gedrup het op sy liggaam, die kerk (v.1, 3, Ps. 45:8, Matt. 3:11, 16, Hand. 2, Lev. 8:12, Ps. 133:2). [Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 179, 228].

En sal jou stukkende lewe nie heel raak as Hy jou met sy Gees vervul nie? Deur die Gees help Hy jou om seksuele sonde, onrein gedagtes, jaloesie, bitterheid, bakleiery, ‘n kort humeur, verslawing, boosheid en ander sondes te oorkom (Gal. 5:19-21). Deur dieselfde Gees help Hy jou om liefdevol, blymoedig, vredevol, geduldig, vriendelik, vol goeie werke, getrou, sagmoedig en selfbeheersd te wees (Gal. 5:16-26).

Vul jou dus met die Gees se woorde in die Skrif, onderwerp jou daaraan en vra dat die Vader jou aanhoudend met sy Gees sal vul (Luk. 11:13, Ef. 5:18, Kol. 3:16).

 

  1. Die Messias se missie (v.1b-9)

Bevrydingsteologie sê dat Jesus gekom het om die armes, onderdrukte rasse, vroue en ander onderdrukte groepe te bevry. Alhoewel Jesus ‘n hart het vir dié wat onderdruk word, is dit nie wat Jes. 61 beteken nie. Jesus het nie gekom as ‘n sekulêre leier om die politieke klimaat te verbeter nie. Hy het eerder as die Messias gekom om mense van hulle sonde te bevry. Die Vader het Hom deur die Gees bekragtig om:

[a] Goeie Nuus aan die armes te verkondig (v.1). Hier gaan dit nie oor mense wat nie genoeg geld het nie, maar oor dié wat arm van gees is (Matt. 5:3). Dit gaan oor dié wat besef dat hulle geestelik arm is en niks kan doen om God se vergifnis en verlossing te koop nie. Aan hulle verkondig die Messias die goeie nuus dat hulle geestelik ryk kan wees (2Kor. 8:9, Ef. 1:3).

[b] Dié wat gebroke van hart is se wonde te verbind (v.1, 42:3, Ps. 34:19, 147:3). Hulle harte is gewond deur hulle eie sonde. Is jou hart rou deur jare van sonde? Jesus kan jou wonde verbind. Moenie te trots wees om te erken jy het seer nie. As jy jou gebrokenheid bely en hulp vra, sal Hy jou genees. Dit is hoekom Hy gekom het: nie vir mense wat dink hulle is gesond nie, maar vir dié wat weet dat hulle siek en gebroke is; vir mense wat weet dat hulle ‘n dokter nodig het (Matt. 9:12).

[c] Vrylating aan die gevangenes te verkondig (v.1). ‘Julle boeie is los en die tronk se deure is oop!’ is wat Hy uitroep (v.2). Hy bedoel nie net dat Hy sy volk uit Babilon bevry nie, maar dat Hy mense uit die bande van Satan en sonde bevry (Joh. 8:32, 34, 36, 1Joh. 3:8, Heb. 2:14-15). Jesus kan die grootste verslawing en sonde breek. “Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.” (Ps. 107:16).

[d] Die jaar van Here se guns aan te kondig (v.2). Die gedagte kom uit Lev. 25 se jubeljaar. Elke 49 jaar is ‘n trompet op die Dag van Versoening geblaas om vryheid aan te kondig. Slawe moes vrygelaat word en as jy eiendom gekoop het, moes jy dit in die 50ste jaar vir die oorspronklike eienaar teruggee. Jy kon nie in die jubeljaar plant of oes nie, maar moes van die land af lewe.

Jesaja se punt is dus dat die Messias blydskap en vryheid gebring het. Die dag van wraak is nog nie hier nie (v.2). Nou is dit die tyd van God se guns, vryheid en verlossing (Joh. 3:17, 2Kor. 6:2). Gebruik die kans wat jy het. Moet dit nie weggooi en dink jy kan nog ‘n bietjie met jou sonde aanhou, of dat Jesus se liefde te groot is om jou te straf nie. As Hy kom en jy jou nog nie bekeer het nie, sal jy sy geregtigheid en toorn leer ken soos wat nie eers Hollywood dit kan uitbeeld nie (v.2). Sy wraak sal oor jou ontplof, sodat jy wens jy is nooit gebore nie (v.2, Op. 14:10-11).

[e] Deur sy Gees dié te troos wat oor hulle eie, nominale gelowiges (Sion) en die wêreld se sonde treur (v.2, Ps. 119:136, Eseg. 9:4, Matt. 5:4, Joh. 14:1, 16-17, 26-27). Wat sal die gevolge wees as die Messias jou só vertroos? Jy hoef nie meer in sak en as te sit as jy aan jou sonde dink nie; jy hoef nie meer ‘n skuldige gewete te hê en depressief te voel nie (v.3).

As Jesus jou vergewe het, wag daar vir jou ‘n pragtige hoofbedekking of kroon in ‘n wêreld sonder trane (v.3, 2Tim. 4:8, Op. 7:17, 21:4). Hy sal jou ook met die vars olie van sy Gees salf en jou met vrede en blydskap vul (v.3, Ps. 92:11, Rom. 15:13, Gal. 5:22). Deur die Gees gee Hy jou nuwe lewe, doop Hy jou met krag om in die gemeente te dien, verseël Hy jou vir die hemel, vul Hy jou met die Skrif en lei Hy jou om dit te gehoorsaam (Joh. 3:5, Hand. 1:5, 4:31, Rom. 8:9, 1Kor. 12:13, 2Kor. 1:22, Ef. 1:13, 5:18, Tit. 3:5-6).

As jy oor jou sonde treur, bedek Jesus jou ook met die pragtige en skoon kleed van sy volmaakte geregtigheid (v.3). Omdat jy hierdie klere aan het en soos Jesus lyk, sal die Vader jou in sy hemelse paleis toelaat (Fil. 3:9, vgl. Matt. 22:11-13). Jy sal soos ‘n reuse en pragtige koelteboom in die hemelse paleis staan (v.3, 60:21). Jou lewe sal vir die wêreld en die engele ‘n toonbeeld wees van wat Jesus met ‘n stukkende sondaar kan doen (v.3).

Jesus sal jou ook gebruik om ander stukkende sondaars op te bou (v.4, 58:12). As hulle sien wat die Here met jóú lewe gedoen het, sal hulle hoop hê. En as die Here baie mense red, sal hulle die samelewing beïnvloed—dit kan nie anders nie (v.4, Matt. 5:13-16). In lande waar Christenskap sterk is, verbeter die morele waardes, die politieke toestand en die ekonomie (v.4).

Enige samelewing wat egter God se Woord ignoreer en verag, lê in puin. Dink gerus aan die vervalle toestand van lande waar Islam, Hindoeïsme, Kommunisme, Afrika-godsdienste, Buddhisme, Katolisisme en ateïsme aan bewind is. J.C. Ryle het in 1877 gesê: ‘I invite any honest-minded reader to look at a map of the world, and see what a story that map tells. Which are the countries on the face of the globe at this moment where there is the greatest amount of idolatry, or cruelty, or tyranny, or impurity, or misgovernment, or disregard of life and truth and liberty? Precisely those countries where the Bible is not known.’ [Aangehaal in Iain Murray, Pentecost—Today? (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998), 181 n.1].

In ‘n samelewing waar die Christelike invloed sterk is, is daar ekonomiese vooruitgang (v.5). Die Here bring mense en hulle fondse van ver af om sy kinders te bevoordeel (v.5-6, 60:5-7, 9-11, 13). Hulle is nie meer in die skande nie, maar ontvang ‘n dubbele blydskap en seën (v.7, Job 42:10).

Maar dit gaan nie vir hulle oor aardse rykdom nie. Hulle roem in die Here en verbly hulle vir ewig in Hom (v.6-7). Vir hulle is die fokus nie op materiële dinge nie, maar op hulle diens vir die Here en hulle werk as priesters vir Hom (v.6, 1Pet. 2:9, Op. 1:6, 5:10). Hulle bring geestelike offers (1Pet. 2:5): hulle lewens (Rom. 12:1), mededeelsaamheid en lof (Heb. 13:15-16), mense wat deur hulle getuienis in Jesus glo (Rom. 15:16), gebede (Op. 5:8, 8:3-4) en bydraes vir sending (Fil. 4:18).

Hoekom seën die Messias sy volk so met finansiële voorspoed en met mense wat Hom dien? Want Hy haat dit as ‘n land vol onreg is en mense Hom nie dien nie (v.8). Daarom beloon Hy die volk volgens sy verdienste namens hulle, en maak Hy ‘n ewige verbond met hulle: ‘Ek sal vir julle ‘n God wees en julle sal vir my ‘n volk wees’ (v.9, 55:3, Jer. 32:40, Heb. 13:20).

Die effek van die Messias se verbond strek oor baie geslagte. Wat ouers vir hulle kinders leer, leer hulle weer vir húlle kinders, ens. (v.9, 59:21). Dit sê vir my dat ons op die regte pad is. Ek hoor van tyd tot tyd dat gesinne in ons gemeente huisgodsdiens hou en sien hoe hulle op ‘n Sondag saam by die kerk is om die Here te aanbid.

As jy jou kinders nié leer nie, wil ek jou aanspoor om te begin. Dalk sal ons nie die effek hiervan in ons leeftyd sien nie. Maar as ons dit aanhou doen, sal die wêreld in ons nageslag se lewens sien wie Jesus is. Hulle sal weet dat Christen ingenieurs, dokters, werktuigkundiges, skoliere, studente, onderwysers, huisvroue en boekhouers anders is. Hulle sal weet dat die Here sy kinders seën (v.9).

 

  1. Die Messias se geregtigheid (v.10-11)

Die storie word vertel van Augustinus wat eendag op die strand geloop en dink het oor die Drie-Eenheid. Terwyl hy gepeins het, sien hy ‘n seuntjie wat met ‘n skulp water skep en dit in ‘n gat gooi.

‘Wat doen jy?’ het hy gevra.

‘Ek gaan die see in die gat gooi,’ het die seuntjie gesê.

‘Dit is onmoontlik,’ het Augustinus hom geantwoord.

Skielik het hy besef dat hy dít met die Drie-Eenheid probeer doen: hy wil sy klein brein met ‘n waarheid vul wat vir hom te groot is. [Jacobus de Voragine, The Golden Legend (London: Cambridge University Press, 1914 [1275]), 105-106. Uit Latyn vertaal deur William Caxton en geredigeer deur George O’Neill].

In v.1 praat die Messias van die Here God en sy Gees. In v.8 noem die Messias Homself die Here. In v.10 verbly die Messias Hom in die Here en prys Hy Hom. Volgens 1Joh. 5:20 is Jesus die ware God, maar in Joh. 17:3 noem Hy sy Vader die ware God. Hoe moet ons dit verstaan?

In v.10 praat die Messias as ‘n mens. Sy Vader het Hom met die klere en mantel van geregtigheid en verlossing geklee. Dit het Hom bedek soos ‘n Bruidegom se trouklere of ‘n priester se heilige kroon en klere hom versier (v.10). Deur sy perfekte lewe het Jesus hierdie geregtigheid verdien.

Ons kan dit nie verdien nie, maar as ons in Christus glo, bedek God ons met dieselfde geregtigheid soos wat ‘n bruid haarself met juwele versier (v.10, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9). Daarna laat die Here ons groei soos koring in landerye of soos blomme in ‘n tuin (v.11). As die nasies die Messias se geregtigheid in ons sien, sal hulle Hom prys (v.11).

Dit is op die einde waaroor dit gaan: dat mense Jesus in ons sien, dat die Vader sy Seun in ons sien, dat Jesus Homself in ons sien. Dit is tog hoekom God sy Seun aarde toe gestuur het: om jou en my stukkende lewens te verander sodat ons soos Hy is (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2).

Maak dit sommer jou gebed vir die res van die jaar: ‘Vader, maak my soos Jesus.’ As jy dit met erns en eerlikheid bid, sal God dit deur sy Gees vir jou doen. Dan sal jy wees soos die ou advertensie waarin die VW Beetle in ‘n Porsche verander het toe hulle SASOL ingooi: jy sal iets word wat jy nie voorheen was nie.

Advertisements