Die super herlewing van Jesaja 60

Related image

Jesaja 60

Vandag glo die meeste mense dat dinge erger gaan word voordat Jesus weer kom. Maar voor die 1800’s was dit nie so nie. Groot teoloë soos Athanasius (296-373), Calvyn (1509-1564), John Owen (1616-1683), en Jonathan Edwards (1703-1758) was optimisties oor die eindtyd [ Sien Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1999)]. John Owen het bv. gesê: ‘The gospel shall be victorious. This greatly comforts and refreshes me.’ [Ibid., 42]. Dalk klink dit vir jou onrealisties en onmoontlik. Maar wat maak jy van tekste soos Jes. 60?

 

  1. Tydens die herlewing (v.1-16)

Uit verskeie tekste in die Ou- en Nuwe Testamente het John Owen die super herlewing van Jes. 60 soos volg beskryf [Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1971), 38]:

  • Dit sal ‘n tyd van volkome vredewees.
  • Dit sal ‘n tyd van rein en heerlike aanbiddingwees.
  • Daar sal ‘n massa bekerings van individue en nasieswees.
  • Mense sal selfgesentreerde aanbiddingverwerp.
  • Al die nasies sal hulle aan Christusonderwerp.
  • Daar sal ‘n totale verbreking wees van almal wat in opstand kom teen Jesus Christus.

In v.1-16 brei Jesaja uit op hierdie en ander kenmerke van die super herlewing. Volgens v.14 gaan die profesie oor die Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel (v.14). Volgens die Nuwe Testament is die kerk hierdie stad (Gal. 4:26). Jes. 60 is dus ‘n profesie oor die kerk, oor ‘n ongekende hoeveelheid bekerings uit die Jode en die heidene (sien 59:19-21).

Die kerk wat in die stof lê, sal opstaan as die heerlike Christus soos die son oor haar skyn (v.1-2, Mal. 4:2, Luk. 1:78, Ef. 5:14). Christus se heerlikheid sal ook deur die kerk skyn om die wêreld uit die duisternis van haar sonde na Hom toe te trek (v.2-3, 9:1, Matt. 4:16, 5:16, Luk. 2:32, Joh. 8:12, 2Kor. 8:23, Fil. 2:15). So sal die nasies en haar konings hulle bekeer en in die Here glo (v.3, 2:2-3, 49:6, Ps. 22:28, 72:11, 17, 86:9).

As ons soos in Hand. 2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, ens. elke dag bekerings in groot getalle sien, sal ons ons oë nie kan glo nie (v.4, 49:18). Van ver af sal die kinders van die hemelse Jerusalem (die kerk) na haar toe kom (v.4, 49:22, 66:20). As ons dit sien, sal ons gesigte van vreugde straal (v.5, Ps. 35:6). Ons harte sal van opgewondenheid sidder en oorloop met lofprysing en aanbidding (v.5). A.g.v. die hoeveelheid bekeerlinge sal die kerk nie finansieel sukkel nie, maar genoeg geld hê om haar armes en leiers te ondersteun, en die evangelie in die wêreld te bevorder (v.5).

Nasies in hulle geheel sal tot bekering kom (Matt. 28:19). Jesaja praat van Midian, Efa, Skeba, Kedar en Nebajot (v.6-7). Hulle is Arabiese stamme suid en oos van Israel; Abraham se nageslag deur sy slavin Hagar en sy tweede vrou Ketura (Gen. 25:4, 13).

Ons kan hieruit aflei dat groot getalle Moslems tot bekering sal kom. Die punt is egter dat die geredde heidene saam met die geredde Jode die kinders van Abraham is: “in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen. 12:3, vgl. Gal. 3:7-9, 14, 16, 29). Weereens sien ons hoe die nasies hulle rykdom vir die Here sal bring (v.6-7, 1Kon. 10:10, Ps. 72:10, Matt. 2:11).

Dit laat my dink aan ‘n kerk in die VSA wat herlewing gesien het. Ryk sakemanne het tot bekering gekom. Hulle het so baie gegee dat die kerk die brieke moes aandraai. Hulle het vir wyle Martin Holdt gekontak en gevra of hy enige voorstelle het van waar hulle kan bydra.

Die nasies sal ook lof bring en die evangelie met ander deel (v.6). In v.7 lees ons van offers en die Here wat sy huis heerlik maak. Party dink dat dit van die tempel en diereoffers in die millennium praat. Maar volgens die Nuwe Testament is Jesus die finale tempel en offer, en moet ons nie na die skadu’s toe terugkeer nie (sien Joh. 2:19-22, 1Kor. 3:16-17, Ef. 2:20-22, Heb. 10). Wat beteken v.7 dan? Om te wys hoe God die heidene vergewe, hulle aanbidding en hulle geestelike offers aanneem, en hulle deel maak van sy nuwe tempel, gebruik Jesaja terme waarmee sy lesers bekend is (v.7, 1Pet. 2:5, 9).

Volgens v.8 sal heidene so haastig na Jesus toe kom soos ‘n wolk wat in die lug sweef, of so natuurlik soos duiwe wat na hulle nes in die vensterbank toe terugkeer (dink ook aan hoe maklik ‘n resies duif sy huis vind). Die eilande en nasies van oor die see sal as kinders van die hemelse Jerusalem na die Here toe draai en in die kerk inkom (v.9, 11:11, 42:10, 12, 51:5). Daar is hoop vir die onbereikte eilande soos Noord-Sentinel!

Soos in v.5-7 sê Jesaja in v.9 dat die nasies hulle rykdom sal gee om die Here se Naam te eer. Hulle sal dit uit ‘n dankbare hart doen, omdat Hy hulle verlos het en hulle heerlik gemaak het (v.9). Die Here sal hulle rykdom gebruik om die stad—die hemelse Jerusalem of die kerk—te bou (v.10, Sag. 6:12-15). Die nasies en hulle konings sal help om dit te bou, deurdat hulle die evangelie preek. Mense sal tot bekering kom en die kerk sal groei (Matt. 16:18). Die konings se bydrae laat dit klink asof regerings die evangelie sal subsideer, sodat dit oor die wêreld verkondig kan word (v.10).

In die verlede het God die Jode en die nasies in sy toorn gestraf, maar nou sal Hy hulle opbou en deel van sy nuwe tempel maak (v.10). Die kerk se poorte sal altyd oop wees: alle volke is welkom (v.11, Op. 21:24-26). Die Here se deure sluit nie; Hy is altyd en ter enige tyd beskikbaar (Heb. 10:19-25).

Die oop deure impliseer ook dat misdaad sal afneem en dat die kerk veilig sal wees. Dit is kenmerkend van herlewings dat die morele standaarde in ‘n samelewing drasties verbeter. Benjamin Trumbull het bv. die volgende geskryf oor die gevolge van die herlewing in Amerika in die 1740’s: ‘…sakke goud, silwer en ander kosbare dinge kon veilig in die strate gelos word; niemand sou dit vir homself vat nie. Dit was duidelik dat mense hulle bekeer het van diefstal, seksuele immoraliteit, dronkenskap, vuil taal, die verbreking van die Sabbat, en ander vieslike sondes.’ [Vry vertaal uit Iain Murray, Pentecost—Today? (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998), 182].

Wat sal die effek van die super herlewing dan nie wees nie? Sal dit nie die morele waardes van die hele wêreld beïnvloed nie?

Lande en nasies wat hulle teen Christus en die kerk verset, sal nie lank hou nie. Die Here sal sorg dat hulle soos ‘n skip sink (v.12), terwyl Hy sy heiligdom of kerk mooi maak soos die Libanon woud, of soos Salomo se tempel wat met duursame hout versier is (v.13). God sal dié wat die kerk verag voor hulle voete laat neerbuig (v.14, 49:23, Op. 3:9). Hulle sal erken dat die kerk die Stad van die Here is wat spesiaal vir Hom is (v.14). Die kerk wat eens verag was, sal heerlik wees en vreugde beleef van geslag tot geslag (v.15, 62:4, 65:18).

Die feit dat die kerk van geslag tot geslag vreugde beleef, impliseer dat die herlewing nie net vir ‘n paar jaar sal duur soos die Eerste Groot Ontwaking in die 1730’s en 1740’s nie. Dit sal ook langer duur as die Tweede Groot Ontwaking wat vir omtrent 50 jaar aangehou het. Die super herlewing sal vir baie geslagte aanhou (v.15).

Die kerk sal die Here se guns beleef en die beste denkbare versorging kry. Dit sal wees asof sy koninklike melk drink (v.16, 49:23, 66:10-13). Die Jode en heidene wat deel word van die kerk, sal weet dat die Here hulle Verlosser is (v.16). Hy is die Magtige van Jakob wat die kerk beskerm (v.16).

Hoe help Jes. 60 ons, veral as dit miskien nie in ons tyd vervul gaan word nie? Dit help ons op verskeie vlakke.

[a] Dit help ons om reg te dink oor wat in ons land en die wêreld aan die gang is. Aan die een kant help dit ons om nie ‘n vals optimisme te hê, asof die dinge wat ons rondom ons sien normaal is, en asof dit goed gaan met die kerk nie. Ons weet dat Jes. 60 nog nie vervul is nie.

Aan die ander kant help die profesie ons om nie in moedeloosheid te verval en te dink dinge gaan so bly totdat Jesus weer kom nie. Jes. 60 is nog nie vervul nie.

[b] Dit help ons om nie maar net te bid dat ons oorleef, of om altyd net ons persoonlike versoeke voor die Here te bring nie. Dit help ons om vir groot dinge te bid (bv. vir herlewing) en te verwag dat die Here ons sal antwoord.

[c] Dit help dat ons die kerk sien soos God dit sien, dat ons dit nie bloot beskou as deel van ons lewens, of ‘n plek waar Christene op ‘n Sondag bymekaar kom nie. As jy ‘n hoë siening van die kerk het, sal jy jou lewe daaraan wy, jou tyd en jou geld daarvoor gee, die mense in die kerk liefhê, nie net op jou eie gemeente fokus nie, maar in jou gemeenskap en gebede jou broers en susters in ander gemeentes onthou.

[d] Dit sal jou sendingvisie verbreed. Jy sal nie vashak en net bekerings in jou eie familie en gemeente wil sien nie. Jy sal vir die wêreld bid. Jy sal bid vir die geslagte wat kom. Jy sal geld gee vir sending. Jy sal bid dat die Here sendelinge na die onbereikte lande toe sal stuur, en sal dalk self wil gaan om hulle van Jesus te vertel.

[e] Dit sal help dat jy nie ‘n mensgestreerde fokus het in sending nie. Vir jou sal dit nie net daaroor gaan dat mense gered moet word nie, maar dat hulle Christus se heerlikheid moet sien en Hom moet bewonder (v.1-2, 6, 9, 13, 16).

[f] Dit sal ons help om nie te vergeet wat ons missie is nie, naamlik om mense na Jesus toe te bring. Ons kan maklik op basaars, speletjies, kerketes, ens. fokus, en vergeet om die evangelie te verkondig en vir bekerings te bid.

[g] Dit sal ons help om te onthou dat ons geld aan die Here behoort en dat ons nie vir sy werk moet gee as ons klaar gedoen het wat óns wil nie. Ons moet eerste vir die Here gee (v.5-7, 9, 11).

 

  1. Na die herlewing (v.17-22)

Laasjaar het ‘n man my gevra wat die hoop is van iemand wat glo dat die groot verdrukking in die verlede is, en dat daar ‘n super herlewing op ons wag. Party mense beskuldig my siening valslik dat ons nie in die wederkoms glo nie. Ander dink dat die super herlewing die groot hoop is waarna ons uitsien.

Dit is onwaar. Christus is ons hoop (Kol. 1:27). Ek sien uit na die wederkoms, wanneer Hy ons liggame gaan opwek en alles nuut gaan maak. Die super herlewing kan nie hiermee vergelyk nie, want in hierdie wêreld sien ons nog nie die Here nie en is daar nog sonde en dood. Ek verlang dus na v.17-22 meer as na v.1-16.

Die nuwe aarde sal ook ryker wees as die kerk van die super herlewing. Alles sal beter wees: goud eerder as silwer, silwer eerder as yster, ens. (v.17, Op. 21:18-21). Daar sal geregtigheid en vrede wees, en nie onreg en oorlog soos in ‘n korrupte samelewing nie (v.17). Daar sal nie meer misdaad, geweld, verwoesting en verbreking wees nie (v.18).

Alles op die nuwe aarde of die hemelse stad sal vol lofprysing wees. Ons sal die Here prys, omdat Hy ons gered het (v.18, Op. 5:9). Daar sal nie meer ‘n son of ‘n maan wees om lig te gee nie, maar die heerlike en glansryke God sal ons ewige lig wees (v.19-20, 24:23, Op. 21:23, 22:5). Daar sal nie meer trane wees, of die dinge wat dit veroorsaak nie (v.20, Op. 21:4).

Almal sal regverdig wees (v.21). Niemand sal sonde doen nie, en daarom sal hulle die aarde vir ewig in besit neem en nie soos Satan uitgeskop word nie (v.21, Ps. 37:9, 11, 22, 29, 34, Matt. 5:5). Maar wat as hulle soos die duiwel kies om sonde te doen? Hulle sal nie wil nie en kan ook nie. Jesus se kruisdood verseker dit. Die Here sal hulle soos bome plant om vir altyd daar te bly. Hulle sal goeie vrugte dra en is die werk van sy hande; sy heerlikheid sal in hulle sigbaar wees (v.21, 61:3, Fil. 1:10-11). Die kerk wat klein begin het, sal ná die Nuwe Testamentiese era en die super herlewing nóg groter wees op die nuwe aarde (v.22, Op. 7:9, Matt. 13:31-32).

Hoe weet ons dat Jes. 60 se profesie oor die super herlewing en die nuwe aarde sal gebeur? Want die Almagtige en betroubare God het so gesê (v.22). As jy Jes. 60 betwyfel, moet jy John Howe (1630-1705) se woorde ter harte neem: ‘I may say to you as Paul did to Agrippa, “Why should it be thought incredible to you, that God should raise the dead?”… Why should it be thought an incredible thing that there should be a resurrection of [the Christian] religion?’ [Aangehaal in Murray, The Puritan Hope, 253].

Wanneer die tyd naby is vir Jes. 60 om vervul te word, sal die Here dit gou laat kom (v.22, Hab. 2:3). Dit sal wees soos wanneer daar ‘n storm opsteek: sodra die reëndruppels begin val, is dit nie lank voor dit in emmers neersak nie.

Ek bid vir die herlewing van Jes. 60, asook vir die nuwe aarde. Soos die ou Hallelujalied sê, sien ek hier en daar hoe die druppels val. Ek bid en begeer egter dat die Here die strome moet stuur. Sal die Here dit nie gee as ons ons van ons sonde bekeer en Hom met ons hele hart soek nie? Sal Hy ons nie besoek as ons Hom daarvoor smeek nie? Sal Hy ons nie soos in Hand. 4:31 met die Heilige Gees vervul as ons Hom volgens Luk. 11:13 daarvoor vra nie?

Ek wil jou aanspoor om by jou gemeente se biduur in te skakel. Kom ons bely ons biddeloosheid en word ‘n biddende gemeente en individue.

Om gebed vir die super herlewing en die nuwe aarde te onthou, wil ek jou ook aanspoor om die Onse Vader as die patroon vir jou gebede te gebruik. Vandat ek dit 6 jaar gelede begin doen het, onthou ek om daarvoor te bid. Ek hoop dat ek dit eendag soos wyle Erroll Hulse kan doen.

Erroll Hulse was ‘n Suid-Afrikaner wat vir meer as 60 jaar in Engeland gewoon het. Hy het in die super herlewing van Jes. 60 geglo. ‘n Paar jaar gelede het hy ‘n beroerte gekry en kon hy nie meer werk nie. Hy het elke dag ure spandeer om vir die super herlewing, sending en die volheid van Christus se Koninkryk te bid. Soos hy, bid ek dat dit gou sal kom.

Advertisements