Besware teen uitverkiesing

Image result for he loves me he loves me not

Romeine 9:14-29

Daar is twee tipes besware. Die eerste tipe is soos Johannes die Doper s’n toe hy in die tronk was. Hy was nie opstandig nie, maar verward. Hy was onseker van hoe Jesus die Messias kon wees as hy in die tronk is. ‘Het Hy dan nie gekom om die gevangenes vry te laat en die vyand te oorwin nie?’ het hy gewonder. ‘Hoekom is ek in die tronk?’ (Matt. 11).

Die tweede tipe beswaar is dié van iemand wat 20 jaar gelede vir my gesê het: ‘God is arrogant en nie waardig om gedien te word nie. Hy moet Homself eers aan my bewys voor ek Hom dien.’ Rom. 9:14-29 se besware teen uitverkiesing val in die tweede kategorie.

 

  1. Dit is onregverdig (v.14-18)

Jy is die koning van die land. Die buurland val jou aan. Jy wen die oorlog en neem krygsgevangenes. Jy besluit om die helfte van hulle in die tronk te sit en die res vry te laat. Is dit onregverdig dat jy besluit om nie almal vry te laat nie? Is God onregverdig as alle sondaars die dood verdien, en Hy besluit om net sommige te red (v.14)? Of is dit regverdig dat almal hel toe gaan en Hy niemand red nie?

Sal jy sê dit is onregverdig dat God nie eers ‘n poging aangewend het om die gevalle engele te red nie (Heb. 2:16)? Hoekom is dit dan onregverdig as Hy besluit om nie elke mens te red nie, veral as almal skuldig is en hulle sy straf verdien? Is dit onregverdig as Hy besluit om Hom oor Moses te ontferm (v.15, Eks. 33:19) en nie oor Farao nie (v.17-18)? Of kan God barmhartig wees oor wie Hy wil? Kan Hy besluit om Paulus te red en nie vir Hitler nie?

‘Maar het Hy nie vir Paulus gekies, omdat Hy geweet het Paulus sal Hom kies nie?’ wil iemand weet. Waar wou Paulus Hom kies? As Jesus Hom nie gekies het nie, was hy vir ewig verlore. God se barmhartigheid en keuse hang nie af van ‘n mens se wil en aksies nie, maar van Sý vrye genade alleen (v.16, 11).

‘Maar ék het dan besluit om die Here aan te neem.’ Jy het Hom gekies, omdat Hy jou eerste gekies het (Joh. 1:12-13, 15:16). Hý het jou in staat gestel om te kán glo (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Sý wil en nie jóúne nie, het jou redding bepaal (v.16).

Om dit te bewys, haal Paulus Eks. 9:16 aan. Dit gaan oor Farao wat Homself verhard het, totdat Gód hom op die einde verhard het (Eks. 3:19, 4:21, 7:3, 13, 14, 22, 8:15, 19, 32, 9:7, 12, 34-35, 10:1, 20, 27, 11:10, 14:4, 8, Rom. 1:23-38). Toe hy verhard is, het hy nie vir God geluister nie. Gevolglik het God nóg plae gestuur en hom uiteindelik in die Rooi See verdrink. Die hele aarde het daarvan gehoor en geweet dat die Here God is (v.16).

Paulus se punt in hierdie verse is dít: as God wil, kan Hy besluit om Hom nié oor iemand te ontferm nie, maar om hom aan sy sonde oor te gee. Dit is nie onregverdig nie, maar heeltemal regverdig. Dit is nie asof die sondaar wíl glo, maar God hom keer nie. Die waarheid is eerder dat God aan die sondaar gee wat Hy wil hê.

Selfs in die hel haat die sondaar God en wil hy hom nie bekeer en by God in die hemel wees nie (Op. 16:8-11). C.S. Lewis het gesê: ‘sin is man’s saying to God throughout life, “Go away and leave me alone.” Hell is God’s finally saying to man, “You may have your wish.” It is God’s leaving man to himself, as man has chosen.’ [C.S. Lewis, The Problem of Pain (New York: MacMillan, 1962), 127-178, aangehaal in Millard J. Erickson, Christian Theology (Grand Rapids: Baker Book House, 1983, 1984, 1985), 1240].

Dit is nie verkeerd dat God Farao in sy sonde gelos het nie; dit is nie verkeerd dat Hy gekies het om Paulus te red nie. Dit is ook nie verkeerd dat God gekies het om Hom aan te Israel openbaar en Japan vir duisende jare in hulle sonde te los nie. “So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.” (v.18).

Hoe moet ons hierop reageer?

[a] Moenie daarteen skop soos die persoon in v.19 nie. Wees eerder dankbaar dat die Here gekies het om ‘n helverdiende sondaar soos jy te red (Ef. 1:4-6).

[b] Jy is nie God om te weet wie gekies is en wie nie. Deel dus die evangelie met almal (Matt. 28:19). Moenie sê: ‘Uitverkiesing maak evangelisasie onnodig’ nie. God red die uitverkorenes deur hulle geloof in die evangelie (10:14-15).

[c] Moenie sê: ‘Uitverkiesing maak sending en evangelisasie dood’ nie. Sê dit asb. vir George Whitefield en Chares Spurgeon. Die feite is, uitverkiesing help dat ons vasbyt in evangelisasie, omdat ons weet dit kán nie misluk nie—die uitverkorenes sál die evangelie glo en gered word (Hand. 13:48, 18:9-10, 1Tess. 1:4-5, 2Tim. 2:10).

[d] Moenie minder bid, omdat jy onseker is of die persoon vir wie jy bid uitverkies is of nie. Jy moet juis méér bid, omdat nét die Here die persoon se hart kan verander.

[e] Moenie moedeloos raak en sê: ‘Dit help nie ek glo nie; dalk is ek nie uitverkies nie.’ Almal wat glo sal gered word (10:13).

 

  1. Dit is wreed (v.19-29)

‘n Kollega het ‘n oom oor die Calvinistiese verstaan van uitverkiesing gevra. ‘My God is not a monster!’ het die oom gesê. Sy reaksie impliseer dat Calviniste glo God geniet dit om mense hel toe te stuur. Maar dit is nie hoe Calviniste Rom. 9 se lering oor uitverkiesing verstaan nie. Laat my toe om te verduidelik hoe ek en ander mense in my kamp v.19-29 verstaan.

In v.19 het iemand vir Paulus gesê: “Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?” Met ander woorde: ‘As Farao nie God se wil kon keer om hom te verhard nie, kan Hy hom nie daarvoor verantwoordelik hou nie. Dan is Farao se sonde Gód se skuld en nie sy eie nie. Hoe kan God mense straf as Hý hulle sondaars gemáák het?’

Waar sê die Bybel dat God mense sondaars máák, of dat Hy hulle dwing om sonde te doen (kontra Jak. 1:13)? Sonde kom uit die mens se begeerte; God het dit nie daar gesit nie (Jak. 1:14-15). Omdat mense kies om teen God te sondig, doen Hy nie verkeerd as Hy kies om hulle nie te red nie, maar aan hulle sonde oor te gee en hulle daarvoor te straf.

‘Ja maar…’

‘Bly stil!’ sê Paulus. ‘God hoef Homself aan niemand te verduidelik nie (v.20). Die maaksel kan nie vir die Maker sê wat Hy met sy eie skepsels mág en nié mag doen nie’ (v.20, Jes. 29:16, 45:9). Jy sal nie daarvan hou as iemand dit met jou doen nie. “Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie?” (Matt. 20:15).’

Wat die Pottebakker met die klei doen, is sý besluit. As Hy uit die klei ‘n spesiale bak wil maak vir wanneer daar gaste kom, en uit dieselfde vuil bol klei iets wil maak om die groenteskille in te gooi, kan Hy dit doen (v.21, Jer. 18:1-5 [Jeremia 18 beskryf beide die voorwerpe van eer wat hulle bekeer, asook die voorwerpe van oneer wat hardkoppig is, sodat die Here hulle aan hulle sonde oorgee en hulle vernietig.]). Hy kan m.a.w. kies om Paulus te red en Farao aan sy sonde oor te gee.

‘Hoekom kies God nie almal nie?’ Hy wil sy geregtigheid, sy haat vir sonde, en die krag van sy toorn oor sonde wys (v.22). Hy wil wys hoe heilig Hy is en wat ons afgodery, haat, bitterheid, leuens, geskinder, moord, aborsie, egbreuk, homoseksualiteit, heksery, rebellie, en die res van ons sonde verdien (v.22). Moenie vir ‘n oomblik dink dat die Here onskuldige mense in die hel straf, dat Hy hulle erger straf as wat hulle verdien, of dat Hy sy koel verloor sodat Hy mense links en regs straf nie. God se straf is regverdig; Hy is geduldig met sondaars (v.22, 2:4, 6). Dit is húlle wat Hóm haat en nie hulle sonde wil los nie.

‘Maar hulle kan nie hulle sonde los as God hulle nie trek nie,’ sê iemand. Dit is so (Joh. 6:44). Maar selfs as hulle dit kón los, wíl hulle nie (Joh. 5:40). ‘Maar God is wreed, want volgens v.22 het Hy hulle vir die hel bestem. Die feit dat Hy net party mense vir die hemel kies, beteken outomaties dat Hy die res vir die hel gekies het.’

Dit is onwaar. Vir mense om hel toe te gaan, hoef God hulle nie aktief daarvoor te kies nie. Hy hoef hulle eenvoudig in hulle sonde te los, en hulle sal hel toe gaan. Dit is soos as die son sak. Die son hoef niks te dóén om dit donker te maak nie. As die son agter die horison verdwyn, raak dit vanself donker. Net so sink mense vanself in die donker van hulle sonde as God die lig van sy genade onttrek.

‘Hoe is God dan ‘n God van liefde as Hy lekker kry om mense te straf?’ Wat!? Waar sê die Bybel dat God dit geniet om mense te straf? Volgens Eseg. 18:32, 2Pet. 3:9 begeer Hy nie dat mense verlore gaan nie. ‘Maar hoekom keer Hy dit dan nie?’ Vir goeie, wyse en regverdige redes wat net Hý verstaan; redes wat Hy gekies het om nie in die Bybel te openbaar nie (Deut. 29:29). Ons moet aanvaar dat God sondaars liefhet, maar dat Hy kies om nie almal te red nie.

‘Maar is dit liefde as jy die mag het om mense te red, maar kies om dit nie te doen nie?’ Dit is soos om te vra: is dit liefde as die regter mag het om ‘n rower vry te laat, maar kies om hom tronk toe te stuur? Wie is jy buitendien om God se liefde in twyfel te trek en jou eie definisie van liefde op te maak?

‘Maar is dit nie skynheilig as God maak of Hy jammer voel oor die einste mense wat Hy in die hel straf nie?’ Is jy skynheilig as jy pyn voel wanneer jy jou kind moet straf? Volgens Jes. 15-16 kan God pyn voel terwyl Hy mense vir hulle sonde straf. Die beste voorbeeld is seker die kruis, waar God diep pyn gevoel het terwyl Hy sy Seun vir ons sonde straf. Sal jy durf om te sê die Vader se pyn was nie eg toe Hy dit doen nie? Moet dan nie die argument gebruik wat nie sê: ‘God kan nie sê Hy is lief sondaars, maar dan besluit om hulle in hulle sonde te los en hulle daarvoor te straf nie.’

Glo eerder v.22 met vrees en bewing, terwyl jy oor verlore sondaars treur en hulle liefhet soos wat die Here hulle liefhet (v.2-3). Wees ook dankbaar dat God besluit het om jou nie volgens jou verdiende loon te straf nie, maar voor die skepping besluit het om jou te red (v.22, 8:29, Matt. 25:34, Joh. 17:24, Ef. 1:4, 2Tim. 1:9, Tit. 1:1-2). Sien m.a.w. die helder sterre van die hemel teen die donker agtergrond van die hel. So moet ons die konneksie tussen v.22-23 verstaan.

‘Maar hoekom sal die Here biljoene mense skep en besluit om net ‘n handjievol van hulle te red? Is dit nie wat v.24-29 impliseer nie?’ Om Paulus te verstaan, moet ons hom in die konteks van die hele Rom. 9-11 en die res van Skrif lees. As jy dít doen, sal jy agterkom dat God ‘n ontelbare menigte uit die Jode en heidene gekies en geroep het (v.24, Rom. 11:25-26, Op. 7:9). In die Nuwe Testament word die heidene (wat in die Ou Testament nie deel was van God se volk nie) deel van die ware Israel (v.25-26, 6-8, 2:28-29, Gal. 6:16, Ef. 2:12-13, 19, 3:6, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10). Dit is wat Hos. 1:10, 2:23 voorspel het.

Wat van die Jode? In Paulus se tyd het min Jode in die Messias geglo; Hy het hulle tydelik verwerp (v.27-29, 11:5, 25, Jes. 1:9, 10:22-23), maar sal hulle eendag in groot getalle red (11:26-27). Die Jode se bekering sal op sy beurt lei tot ‘n grootskaalse herlewing onder die heidene (Rom. 11:12, 15). Dan sal die aarde bekerings sien soos nog nooit tevore nie. Die nasies sal Jesus aanbid; Hy sal regeer van see tot see; die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos wat die waters die seebodem oordek (Ps. 22:28, 67:2-5, 72:8, 11, 17, 19, 86:9, 113:3, Jes. 2:2-3, 11:9b-12, Mal. 1:11, Matt. 28:19).

Dan sal niemand meer dink dat die Vader net ‘n handjievol mense gekies het nie. Die res van die besware teen uitverkiesing sal ook soos mis voor die son verdwyn wanneer ons die heerlike Christus sien en besef: ‘My redding van begin tot einde kom van God af. “Die heil behoort aan die Here.” (Jona 2:9). Vir my is uitverkiesing nie net ‘n leerstelling nie; dit is ‘n Persoon en sy Naam is Jesus Christus. My verlossing lê in Hom en nie in wat ek oor uitverkiesing glo nie. Ek is so dankbaar dat die Vader my gekies het om Christus se heerlikheid te sien. As ek ooit gewonder het hoekom God my geskep het, twyfel ek nie meer nie. Ek bestaan om hierdie Christus lief te hê, om sy heerlikheid te aanskou en te bewonder. Soli Deo Gloria: aan God alleen die eer!’

Advertisements