Is daar nog hoop vir Suid-Afrika?

Related image

Jesaja 59

Twee weke gelede het iemand vir my gesê: ‘Daar is nie ‘n God nie, maar net die voorvaders wat ons lei.’ Ek het gevra waar reg en verkeerd dan vandaan kom, maar hy het ontken dat dit bestaan.

‘Jy kan doen wat jy wil,’ het hy gesê.

‘Wat van moord en verkragting?’ het ek gevra.

‘Dit maak nie saak nie; solank jý weet wat jou doel is. Dit is vir my maklik om nou hier uit te stap en iemand te dood te maak,’ het hy gesê.

Ek was geskok. Ek kon man se etiek teruglei na ‘n godsdiens sonder ‘n absolute Wetgewer. Net so kan ons ook aborsie, homoseksualiteit en ander sondes teruglei na ‘n evolusionistiese wêreldbeskouing sonder ‘n absolute God en Wetgewer (Rom. 1:18-32). Soos in Rigt. 21:25, doen baie mense in ons land wat reg is in hulle eie oë. As ek hieroor nadink, wonder ek watse hoop daar nog vir ons land is? Dan is ek dankbaar vir tekste soos Jes. 59 wat wys dat alles nie verlore is nie.

 

  1. God se klagte (v.1-8)

Stefan is kwaad vir sy pa, omdat hy nie hierdie maand vir hom sakgeld gegee het nie, en dit nadat hy hom hoeveel keer gevra het. Maar sy pa sal nie vir hom sakgeld gee nie, omdat hy dit op dwelms mors.

Net so het die Here nie sy volk se gebede verhoor nie, omdat hulle sonde gedoen het (v.2, 58:3). Dit is nie asof sy hand te kort is om te help, of sy oor te doof om te hoor nie (v.1, 50:2, Num. 11:23). Hy het hulle gehoor en was in staat om hulle te help (v.1). Maar Hy wou nie, omdat hulle sonde ‘n muur tussen hulle en die Here gebou het. Dit het skeiding gebring en gemaak dat Hy nie gunstig na hulle kyk nie (v.2, Gen. 3:23, Miga 3:4, Rom. 3:23).

Watse sondes het gemaak dat die Here nie sy volk se gebede verhoor nie? Met hulle hande het hulle moord gepleeg, met hulle vingers het hulle gesteel, met hulle lippe het hulle gelieg, met hulle tonge het hulle geskinder (v.3). Israel het dus in woord en daad teen die Here gesondig.

Hulle sonde was egter nie net privaat nie, maar publiek (v.4). Voor ‘n hofsaak was hulle swanger met bose planne; in die hof het hulle aan hulle sonde geboorte gegee (v.4). Hulle het gelieg en omkoop geld gegee om vry te kom en die onskuldige vas te trek (v.4). Hulle sonde het uit hulle harte en natuur gekom, soos wat adders uit eiers kom (v.5). Hulle was kinders van die slang (Gen. 3:1, 15, Matt. 3:7) en hulle sonde so haatlik soos spinnekoppe en slange (v.5).

Ander het die giftige slangeiers van hierdie mense se sonde geëet (v.5). Hulle het m.a.w. in die sonde gedeel (Rom. 1:32). Dié wat nie daarin wou deel nie maar dit keer, het gemaak dat hierdie mense nog méér wou sondig. Dit is asof jy ‘n slangeier stukkend trap en die slang dan uitkom om jou te pik (v.5).

Hulle het gedink dat hulle boosheid hulle bevoordeel, maar dit is soos om te dink dat klere wat van spinnerakke gemaak is, mooi is en jou naaktheid bedek (v.6, Job 8:14). Maar hoe op aarde is v.6-8 mooi?

  • Bose werke (v.6).
  • Hande vol geweld (v.6).
  • Voete wat nie kan wag vir Saterdag se partytjie om weer dronk te word en seksueel losbandig te wees nie (v.7).
  • Mense wat nie twee keer dink om ‘n lewe te neemnie; al is dit ook ‘n ongebore lewe (v.7).
  • Gedagtes wat een massa van sonde is (v.7).
  • ‘n Pad besaai met verwoeste lewens en verhoudings (v.7).
  • Lewens wat nie vrede kennie, maar altyd baklei. Hulle het ook geen vrede in hulle gewetens nie, maar hardloop weg as niemand hulle jaag nie (v.8, Spr. 28:1).
  • Mense wat net so korrup en onregverdig soos die howeis (v.8, 4).
  • Paaie wat krom is (v.8). As hierdie mense sien dat hulle hulleself in ‘n hoek in lieg, vertel hullenóg leuens om hulle basse te red.

Is jy soos hierdie mense? Dan is dit hartseer dat jy jouself ‘n Christen noem. Dit is tragies dat jy bid asof niks verkeerd is nie (v.2). Kom jy nie agter dat die Here nie jou gebede verhoor nie (v.2)? Hoekom vra jy jouself nie waarom Hy so stil is nie? Vra Hom om jou hart te deursoek en vir jou te wys hoekom Hy jou nie antwoord nie.

Is jy dalk ongered (Spr. 15:8, 29, 1Pet. 3:12)? Koester jy sonde in jou hart en minag jy sy Woord (Ps. 66:18, Spr. 28:9)? Weier jy om ander te vergewe (Matt. 6:15)? Is jy hard op jou lewensmaat (1Pet. 3:7)? Is jy kleingelowig (Jak. 1:6-8)? Bid jy met selfsugtige motiewe (Jak. 4:3)? Wil die Here miskien hê jy moet volhard (Luk. 18:1)?

As die Here stil is a.g.v. jou sonde, kan net Hý dit herstel. Toe Hy in ons plek aan die kruis gesterf het, het die Vader sy aangesig van die Seun weggedraai (v.2, Matt. 27:46). Juis om hierdie rede draai die Vader nie sy gesig weg van dié wat op Christus vertrou nie. Daar is nie meer sonde op ons rekords om ons van te God skei nie (v.2, Rom. 8:38-39).

Hoe affekteer jou sonde dan jou gebede? Soos in ‘n huisgesin versteur dit jou verhouding met die Here en moet jy dinge regstel voor jy weer met vrymoedigheid kan bid. Maar a.g.v. Jesus se kruisdood skei die sonde jou nie meer van Hom nie.

 

  1. Israel se belydenis (v.9-15a)

‘n Siek jong man het in ‘n dokumentêr gesê dat hy nie die dokter wil sien nie, aangesien Benny vir hom gesê het hy gaan gesond word. ‘n Verpleegster in Limpopo het gesterf, omdat die toordokter gesê het dat die muti wat hy haar gegee het, haar sal genees.

‘n Mens kan nie genees word, totdat jy nie erken jy is siek nie. Net so kan jy nie vergewe word, tot jy nie erken jy is verkeerd nie (Spr. 28:13, Matt. 9:11-12, 1Joh. 1:9). Die mense in v.9-15a het erken dat hulle deel is van die bose samelewing, en dat hulle self ook skuldig is. Volgens hulle was daar geen meer hoop vir reg en geregtigheid in die samelewing nie; daar was geen hoop vir God se lig in ‘n land gevul met die duisternis van sonde nie (v.9). Hulle het in ‘n donker gat van depressie gesit en gevoel soos blinde en dooie mense wat helder oordag rondtas en struikel (v.9-10, Deut. 28:29). Hulle het m.a.w. erken dat die probleem nie buite hulleself is nie, maar in hulle harte.

Hulle was kwaad oor hulle eie sonde en die land s’n, sodat hulle gegrom het soos bere (v.11, Ps. 119:53). Hierdie sonde het hulle bedroef, sodat hulle aanhoudend gekerm het soos duiwe (v.11, Ps. 119:136). Die ergste van alles is, dat hulle nie lig aan die einde van die tonnel kon sien nie: hulle het gedink dat geregtigheid en verlossing nooit sal kom nie (v.11, 9).

Hoekom het hulle so gedink? Hulle het gesien hoe groot hulle sonde is (v.12). Dit is asof die sonde gedurig voor hulle oë was (v.12). Hulle was baie bewus van hulle sonde; hulle gewetens het hulle gepla (v.12). Hulle het onthou hoe hulle die Here verloën het en van Hom af weggedraai het (v.13). Hulle was bedroef hieroor (v.13). Die base onder hulle het onthou hoe hulle hulle werkers onderdruk het (v.13, 58:3-4). Die werkernemers het onthou hoe hulle teen hulle base in opstand gekom het (v.13). Almal het onthou hoe hulle gelieg het en oneerlik was (v.13).

Nou het hulle vir reg en geregtigheid gewens, maar dit nie op die horison gesien nie (v.13). In die markplein het die waarheid gestruikel (v.14). Besigsheidsmense was m.a.w. so skelm en korrup soos die howe (v.4). Die mense wat opreg was in hulle besigheid, kon nie regkom nie (v.13). Die samelewing het hulle uitgekryt en hulle name sleggemaak (v.15a). Hulle sou sommer so iemand se winkeltjie afbrand of plunder.

Hoe oorleef Christene in so ‘n samelewing? Hoe oorleef ‘n mens in ‘n korrupte en bose land soos Suid-Afrika? Jy moet heel eerste hand in eie boesem steek. Moenie vinger wys na almal om jou, terwyl jy eintlik maar soos die res is wat Jan Taks omseil, in jou besigheid kroek, seksueel ontrou is in die huwelik, pornografie kyk, omkoopgeld gee dat die verkeersbeampte of prokureur jou uit die moeilikheid kry, vir ‘n party stem wat pro-aborsie en pro-gay is, vloek, nie wil vergewe nie, rassisties is, so glibberig is soos ‘n paling, eenkant en op jou eie lewe waar niemand regtig weet wie jy is nie.

Bekeer jou en soek die Here terwyl jy nog die geleentheid het; Hy sal jou vergewe (55:6-7). As jy jou egter nié bekeer nie, wil ek nie in jou skoene wees op die oordeelsdag nie; veral nie as jy elke week in die kerk was en geweet het wat reg is nie (Matt. 11:24, Luk. 12:47-48).

Daar kan net hoop wees as jou eie sonde en die samelewing s’n jou kwaad en hartseer maak (v.9-15a). Dán sal die Here jou seën en jou troos (Num. 25, Matt. 5:4). Hy sal jou soos ‘n skild beskerm as Hy kom om die wêreld te oordeel (Eseg. 9:4). Die Here sal sy lig deur jou laat skyn, sodat alles nie hopeloos is nie (v.9-11). Deur sy lig sal die Messias hoop gee vir ‘n donker lewe, ‘n donker hart vol sonde, ‘n donker stiltetyd, ‘n donker huisgesin en huwelik, ‘n donker verlede en toekoms, donker beproewings en ‘n donker samelewing (9:1, 58:8, 10, Joh. 8:12).

 

  1. God se ingrype (v.15b-21)

Een van my professore het eendag in die klas gesê: ‘Die Here kán maak dat ‘n vis ‘n mens insluk, maar ek glo nie dat Jona regtig bestaan het nie.’ Net so sê baie mense: ‘Ek glo dat die Here Suid-Afrika kán verander, maar ek glo nie Hy gáán dit doen nie.’ Hoekom nie? Gee tekste soos Jes. 59:15b-21 nie vir ons hoop nie?

Toe die Here Israel se sonde sien en hoor hoe sommige van hulle sug en bid, het Hy ingegryp. Hy was ontevrede dat daar geen geregtigheid is nie, en verbaas dat daar nie één persoon was wat soos Moses bereid was om in te tree vir die volk nie (v.15b-16, 63:5, Eseg. 22:30). Die Here het besluit om self aarde toe te kom en verlossing te bring (v.16). Hy het sy arm uitgestrek (die Messias, vgl. 53:1) om sy eer te beskerm en sy heilige Naam hoog te hou (v.16).

Om teen die volk se sonde te veg, het die Messias geregtigheid aangetrek soos ‘n borsharnas en verlossing soos ‘n helm (v.17, vgl. Ef. 6:14, 17, 1Tess. 5:8). Om sy taak uit te voer het Hy Homself met wraak en ywer geklee (v.17, 9:6).

Hy sou die goddelose onder sy voete vertrap en hulle volgens hulle werke vergeld (v.18, Rom. 2:6). Selfs die kleinste en mees afgeleë eiland sou sy wraak voel (v.18). Die bose mense in Israel, asook die heidene sal in die vloed van sy oordeel verdrink wanneer dit met mag en mening soos ‘n rivier in ‘n drukgang deur die wind voortgedryf, op hulle afkom (v.19b).

Die regverdige wat oor hulle sonde sug en na geregtigheid smag, sal beloon word (v.18). In alle nasies onder die hemel sal hulle die Here se heerlikheid sien en Hom vrees (v.19a). Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, sal hulle die Here aanbid (Ps. 113:3, Mal. 1:11).

 Net soos wat die nasies God se heerlikheid sien en Hom vrees (v.19), sal die Jode hulle bekeer en die Messias aanbid (v.20). Dit sal in die toekoms gebeur wanneer die Messias hulle op grond van sy kruisdood vergewe en hulle red (v.20, Rom. 11:26-27).

God het ‘n nuwe en ewige verbond met die verloste Jode en heidene gemaak (v.19-21, Heb. 8:8-12). Hy het belowe om sy Gees op hulle uit te stort (v.21). Dit het op Pinksterdag in Hand. 2 begin, maar stop nie daar nie. In Hand. 4:31 het God hulle weer met sy Gees vervul. In Hand. 8 het God sy Gees aan die Samaritane gegee, en volgens Hand. 10-11, 19 het Hy sy Gees oor die heidene uitgestort. In Tit. 3:5-6 leer ons dat die Here sy Gees uitstort, elke keer as iemand tot bekering kom. Hy doen dit op ‘n groot skaal tydens ‘n herlewing. In sulke tye verander die samelewing soos ‘n woestyn na ‘n magtige reënbuig (Jes. 35, 44:3-4).

Die effek van die Gees en die Woord is so groot in ons lewens, dat dit die volgende geslag beïnvloed (v.21, Hand. 2:39, 2Tim. 1:5). As ons harte vol van die Gees is, loop dit oor op ons lippe (v.21). Mettertyd vul die Gees ons kinders se harte en stroom die Woord oor na húlle kinders (v.21, Joh. 7:37-39). Ons kleinkinders deel dit dan weer met húlle kinders (v.21). So hou dit aan van een geslag na die volgende, totdat al die geslagte van die aarde die Here se seën sal geniet (Gen. 12:3, Gal. 3:14, 16, 29).

Doen daarom jou deel om die Woord in die krag van die Heilige Gees met jou kinders te deel. Wees m.a.w. seker dat jy gered is, dat die Gees in jou woon en dat jy die Woord gehoorsaam. Deel dan die Woord met jou kinders deur hulle getrou kerk toe te neem en huisgodsdiens te hou (Gen. 18:19, Deut. 4:10, 6:6-7, Ps. 78:1-8, Ef. 6:4). Moenie ophou as dit lyk of dit nie werk nie. Hou vas aan die waarheid van Jes. 59:21.

Alhoewel nie elke gelowige se kinders die Here dien nie, is die kanse goed dat hulle dit sal doen as jy hulle reg lei (v.21). Dan sal daar ook van jou gesin gesê word: “Crispus…het met sy hele huisgesin in die Here geglo” (Hand. 18:8, vgl. Hand. 10, 16). En as een geslag na die ander gered word, sal dit mettertyd die samelewing beïnvloed. Dan sal jy nie meer kinders hê wat disrespekvol is met hulle ouers, onderwysers en ander gesagsfigure nie. Jy sal kinders hê wat volwasse raak en die land in ‘n rigting stoot wat radikaal die teenoorgestelde is as Jes. 59:1-8.

Daarom stem ek saam met my vriend wat na 15 jaar van bediening onder die Tsongas die slotsom bereik het: ‘Ek kom nie reg met die volwassenes nie, maar as ek die kinders kan bereik, sal ek die samelewing beïnvloed.’ Ek dink daar is sin in wat hy sê. En tog dink ek dat ons nie moet ophou om die hoofde van huise te probeer beïnvloed nie. D.A. Carson sê uit persoonlike ervaring: ‘As jy die vrou wen, wen jy dikwels nét die vrou. Maar as jy die man vir die Here wen, gebeur dit dikwels dat hy en sy gesin tot bekering kom.’

As ek die Bybel reg verstaan, is alles nie verlore vir ons land nie. Indien jy dat dit onmoontlik is, moet jy Sag. 8:6 ter harte neem: “As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in dié dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees?”

Advertisements