Oor Israel en uitverkiesing

Related image

Romeine 9:1-13

Ek het eenkeer ‘n video gesien van ‘n dronk man in die wildtuin wat op ‘n olifant afstorm. Dit was dwaas. Hy het nie geweet waarmee hy te doen het nie. Net so is dit dwaas om op uitverkiesing af te storm en te dink jy gaan dit baasraak. Kom eerder met nederigheid, vrees en bewing na ‘n teks soos Rom. 9:1-13 toe.

 

  1. Israel (v.1-5)

Christene verskil al vir eeue lank oor uitverkiesing. In 1610 het Jakob Arminius se vriende vyf punte opgetrek om te wys wat hulle oor God se soewereiniteit en die mens se wil glo. Hulle het bekend gestaan as die Remonstrants. Oor uitverkiesing het hulle gesê dat God vooraf geweet het wie in Hom sou glo, en dat Hy besluit het om húlle te red. Agt jaar later (1618-1619) het die Calviniste met hulle eie vyf punte teen die Remonstrants of Arminiane gereageer. Oor uitverkiesing het hulle gesê dat God ons nie gekies het op grond van iets wat Hy in ons gesien het nie, maar op grond van sy vrye genade.

Watse een van die twee groepe was reg? Wat leer Rom. 9 en soortgelyke tekste oor uitverkiesing? Voordat ons oor uitverkiesing self praat, moet ons praat oor die gesindheid waarmee ons die saak moet benader. Ons kan maklik die saak koud, klinies en intellektueel benader. Dit was nie Paulus se gesindheid nie. Wanneer hy in die konteks van uitverkiesing praat, het hy altyd ‘n sagte hart vol deernis. Hy was bedroef en angstig, omdat die Jode Christus verwerp het en verlore gaan (v.2). Hierin het hy God se hart weerspieël (Gen. 6:6, Jes. 15:5, 16:9, 11, Jer. 9:1, 10, Klaagl. 3:32-33, Eseg. 18:23, 32, Hos. 11:8, Luk. 13:34, 2Pet. 3:9).

Ons moet dieselfde hart vir verlorenes hê. Aan die een kant kan ons in uitverkiesing glo (v.6-23), terwyl ons aan die ander kant waarlik bedroef kan wees oor dié wat verlore gaan (v.2). William Carey, Charles Spurgeon, George Whitefield en Hudson Taylor was so. Jesus ook (vgl. Joh. 6:44, 65 met Luk. 19:41). Sondaars kán nie glo tensy God dit aan hulle gee nie (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Maar selfs al kon hulle, wíl hulle nie. Dit is wat Paulus so hartseer gemaak het.

Sommige sou sê dat Paulus oor sy droefheid en liefde vir die Jode gelieg het. ‘Jy was dan nou-net bly in 8:28-39; hoe kan jy skielik in Rom. 9 hartseer wees? Jy het in hfst. 4 gesê dat die Jode nie outomaties kinders van Abraham is nie. Verder is jy ook die apostel na die heidene (11:13). Jy gee meer om vir die heidene as vir die Jode.’

Maar Paulus het nie gelieg oor sy liefde vir die Jode nie (v.1). In Christus wat deur hom praat, het hy die waarheid gepraat (v.1). Sy gewete het hom nie aangekla dat hy lieg nie (v.1). Die Heilige Gees het in hom getuig dat hy die Jode opreg liefhet (v.1). Hoekom anders sou hy altyd eerste die evangelie met hulle deel en vir hulle redding bid (1:16, 10:1, Hand. 13-18)? Sou hy so ver gaan om te wens dat hy Rom. 8:38-39 kon omkeer, van Christus afgesny word en (soos Jesus) namens ander vervloek word, as hy hulle nie liefgehad het nie (v.3)?

Weereens sien ons dat Paulus se hart soos Jesus s’n is. Hoe min het ons nie daarvan nie? Hoe min, indien ooit, stort ons trane oor ons families, vriende, bure, volksgenote en medemense wat hel toe gaan? Bid ons genoeg vir hulle bekering? Praat ons met hulle oor Jesus, die ewige hemel en die ewige hel?

Wat Paulus die meeste gepla het, is dat die Jode met die witbrood onder die arm, met al die voorregte onder die son, verlore gaan.

[a] Hulle was Israeliete, God se uitverkore volk (v.4).

[b] God het hulle uit Egipte gered en hulle aangeneem om sy kinders te wees (v.4, Eks. 4:22).

[c] Hulle het sy heerlikheid in die wolk- en vuurkolom gesien; in die wolk oor berg Sinaï, die tabernakel en die tempel (Eks. 24:17-18, 40:34, 1Sam. 4:21, 1Kon. 8:11).

[d] Hulle het die voorregte van God se verbonde met Abraham, Moses, die priesters en Dawid verkry (v.5). Wat was hierdie voorregte? Die Beloofde Land, die Here se seën, die Here as hulle God en hulle as sy volk, die belofte van die Messias wat op pad was om sondaars te red.

[e] God het aan hulle die wet gegee, sodat hulle sy wil kon ken (v.4, Ps. 147:19-20).

[f] Ware aanbidding d.m.v. die Feeste, lofliedere, offers en God se vergifnis was hulle s’n (v.4).

[g] God het aan hulle die beloftes van sy genade, beskerming, die Messias, ens. gegee (v.4).

[h] Hulle was die begunstigdes van God se verbond met die aartsvaders, sy verbond met Abraham, Isak en Jakob (v.5, 11:28).

[i] In sy menslike natuur het die Messias en Verlosser uit die Jode gekom (v.5, 1:3, Joh. 4:22). Die Messias is ook God oor alles en almal, vir ewig lofwaardig (v.5, Joh. 20:28, Kol. 1:19, 2:9, 1Joh. 5:20).

Wat is die les in v.4-5? Moenie aanneem jy is uitverkies en deel van die verbond, net omdat jou ouers die Here dien, omdat jy van kleins af in die kerk is, of omdat jy as baba besprinkel is nie. Moenie op uitverkiesing staatmaak as jy Jesus verwerp nie. Dalk verwerp jy Hom nie met jou lippe nie, maar jy verloën Hom deur jou ongehoorsame lewe (2Tim. 3:5, Tit. 1:16). Jy kan nie uitverkiesing as ‘n verskoning gebruik vir ‘n onheilige lewe nie, aangesien God ons uitverkies het tot heiligmaking (Ef. 1:4, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:1-2).

Moet dan nie na jou ouers, die doop, jou lidmaatskap of kerkverband kyk om te weet of jy uitverkies is nie (v.4-5). Glo jy in Christus, leef jy heilig en volhard jy in Hom (2Pet. 1:5-7)? Net op hierdie manier kan jy weet of jy uitverkies en geroep is (2Pet. 1:10).

 

  1. Uitverkiesing (v.6-13)

Ek het groot geword in ‘n gemeente wat glo dat God ons op grond van sy genade alleen gekies het voor die grondlegging van die wêreld. Eers toe ek op teologiese kollege kom, het ek die saak vir myself begin ondersoek. Ek het dit verwerp en kwaad geraak toe ek dit in ‘n boek lees. Ek het die boek op die vloer gegooi. Na omtrent twee jaar het ek die lering omhels wat ek vroeër verwerp het. Kom ek wys jou hoekom ek vandag in uitverkiesing glo soos wat my leraar in Louis Trichardt dit geglo het.

Volgens die Ou Testament het God Israel gekies. Die feit dat hulle die Messias verwerp het en God sy rug op hulle gedraai het, het nie beteken dat God se Woord misluk het nie (v.6). Dit het nie beteken dat die uitverkorenes hulle redding verloor het, of dat hulle van God se liefde geskei is nie (8:31-39). Nie almal wat van Israel afstam is immers deel van die ware Israel van God nie; nie al die Jode is kinders van Abraham of uitverkies tot verlossing nie (v.6-7, 11:5, 7). Uit die Ou Testament het die Jode geweet dat God Abraham uitverkies het en dat Hy hom verlos het van afgodery (Gen. 12:1-3, 18:19, Jos. 24:2-3, Neh. 9:7). Hulle het geglo dat hulle outomaties sy kinders is en uitverkies is, omdat hulle van hom afstam.

Paulus moes hulle reghelp. Ismael en Ketura se seuns het van Abraham afgestam, maar hulle was nie God se uitverkore volk nie (v.7, Gen. 25). Die uitverkore volk het gekom deur Isak, die seun van die belofte (v.7, 9). ‘Dus is dit nie genoeg om te sê jy is ‘n kind van Abraham en daarom ook uitverkies nie,’ het Paulus gesê. ‘Soos Isak moet jy ‘n kind van die belofte wees; deur die geloof in Christus moet jy ‘n geestelike kind van Abraham wees en deel van die ware Israel’ (v.8, 2:28-29, Gal. 3:7-9, 16, 26, 29, 4:28, 6:16).

Die slotsom is dat die Jode nie kinders van Abraham is, net omdat hulle fisies van hom afstam nie (v.6-8, Joh. 8:33, 37, 39-44). Om gered te word benodig hulle die evangelie en moet hulle in Christus glo soos elke ander nasie.

‘Ons hoor jou Paulus,’ het die Jode gesê. ‘Maar anders as Hagar en Ketura se seuns kom ons nie net van Abraham af nie, maar het ons ook die regte ma: Sara. Ons is kinders van Abraham en Sara se seun, Isak.’

‘Julle het vergeet van Jakob en Esau,’ het Paulus gesê. ‘Hulle het dieselfde pa en ma gehad. En omdat hulle tweeling was, is hulle op dieselfde tyd in die moederskoot ontvang. Tog weet ons dat God vir Jakob gekies het en nie vir Esau nie. Julle is verkeerd om te dink dat God julle gekies het op grond van wie julle ouers is (v.10-13, Gen. 25).’

‘Ja, maar God het Jakob gekies omdat hy beter was as Esau,’ het die Jode gesê. ‘Is nie!’ het Paulus hulle geantwoord. ‘Nog voor hulle gebore is en enigiets goed of sleg gedoen het, het God vir Jakob gekies en nie vir Esau nie. As God hulle ná hulle geboorte moes kies, sou Hy nie een van hulle gekies het nie, aangesien beide van hulle sleg was’ (Gen. 27, Heb. 12:16-17). Dit was ook Spurgeon se oortuiging: ‘I am sure He chose me before I was born, or else He never would have chosen me afterwards’.

Sommige sal sê dat God Jakob gekies het, omdat Hy weet vooruit geweet het Jakob gaan Hóm kies. Maar God het ons nie tot redding geroep op grond van ons geloof nie (v.11, 16). Jy het die Here gekies en liefgehad, omdat Hy jou eerste gekies het en liefgehad het (5:8, Jer. 31:3, Joh. 15:16, 1Joh. 4:19). Hy het jou nie tot redding bestem omdat Hy geweet het jy sal glo nie; jy het geglo omdat Hy jou tot redding bestem het (Hand. 13:48, 1Tess. 1:4-5).

Hoekom red die Here ons so? Sodat ons nie kan roem en sê: ‘Die rede hoekom die Here my en Jakob gekies het eerder as vir Hitler en Esau, is omdat Hy geloof in my gesien het.’ God red jou van begin tot einde uit genade alleen, sodat jy sal moet sê: ‘Soli Deo Gloria—aan God alleen die eer.’ So moet jy oor uitverkiesing dink: ‘Ek is ‘n Christen, omdat die Here my lank voor my geboorte gekies het. Hoekom vir my? Dit is nie omdat Hy geweet het ek sal Hom kies nie, maar op grond van sy vrye en soewereine genade. Dit maak my dankbaar en vul my met lof. Dit maak my nederig om te dink dat ek geen aandeel in my redding het nie; Hy het alles gedoen. Hallelujah!’ (Ef. 1:4-6, 1Kor. 1:26-31).

Sommige sal sê dat Rom. 9 oor volke gaan en nie oor individue nie. Die Here het m.a.w. Jakob se nageslag bo Esau s’n gekies. Maar in die konteks van Gen. 25:23 en Mal. 1:2-3, gaan v.12-13 oor Jakob en Esau as individue, asook oor die volke wat uit hulle voortgespruit het. Verder wys Paulus ook dat God nié die hele Israel gekies het nie, maar individue uit die volk (v.6-8, 11:5, 7). Volgens v.24 en die res van Bybel het God mense uit die Jode en heidene gekies en geroep (v.24, Joh. 15:16, 19).

‘Maar is dit nie onregverdig en hard as die Here Jakob liefgehad het en Esau gehaat het nie?’ (v.13). Kom ons bestudeer die vers.

In eerste plek moet ons nie wonder hoe die Here Esau kon haat nie, maar eerder hoe Hy Jakob kon liefhê. Hoe kan die Here mý of enige ander sondaar liefhê? Al red God niemand nie en stuur Hy almal hel toe vir hulle sonde, is Hy nog steeds ‘n God van liefde (1Joh. 4:8). Die feit dat Hy enige sondaar red is pure genade.

In die tweede plek moet ons God se haat verstaan. Dit kan beteken dat sy liefde vir Jakob so groot is, dat sy liefde vir Esau soos haat lyk. Jesus gebruik dit so in Luk. 14:26: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” Jou liefde vir Jesus moet m.a.w. jou liefde vir jou familie oortref, sodat jou liefde vir hulle soos haat lyk.

Maar dalk beteken Rom. 9:13 iets anders. Die Bybel sê nie net dat God die sondaar liefhet en sy sonde haat nie. Party tekste sê dat Hy die sondaar self haat (Lev. 20:23, 26:30, Ps. 5:6, 11:5, Jer. 12:8, Hos. 9:15). Ander tekste sê weer dat Hy almal liefhet (Matt. 5:44-45, Mark. 10:21, Joh. 3:16). Hoe moet ons dit verstaan?

Volgens die Bybel is daar meer as een soort liefde in God. Sy liefde van welwillendheid is onvoorwaardelik en oor alle mense. Hy stuur bv. reën oor sy vyande wat Hom haat. Sy liefde van tevredenheid is voorwaardelik en is oor dié wat Hom gehoorsaam. Net Jesus kon hierdie liefde verdien, omdat Hy die Vader perfek gehoorsaam het (Matt. 3:17, Joh. 10:17, Fil. 2:8-9).

Rom. 9:13 praat nie van God se liefde van welwillendheid nie, maar van sy liefde van tevredenheid. Jakob was vir lank ongehoorsaam. God het hom egter gekies in Christus, wat deur God se bepaling mens sou word en namens ons perfek gehoorsaam sou wees. God het voor die skepping besluit om Christus se lewe en dood aan Jakob toe te reken (Ef. 1:4, in Christus). Hy het Jakob deur die Messias gered en hom na baie jare in ‘n gehoorsame persoon verander. Namate sy gehoorsaamheid toegeneem het, het God se liefde van tevredenheid oor hom toegeneem. Jesus het in Joh. 14:23 gesê: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.”

Wat beteken die haat in Rom. 9:13 dan? Dit beteken eenvoudig dat God vir Jakob gekies het en nie vir Esau nie (vgl. v.11). ‘Maar is dit nie onregverdig dat God Jakob meer liefgehad het as vir Esau nie?’ wil iemand weet. Is dit onregverdig dat jy jou vrou en kinders meer liefhet as ander mense? Is God verplig om almal ewe veel lief te hê? Is Hy verplig om enigiemand lief te hê? Is Hy verplig om sy vyande te red en te vergewe?

‘Maar impliseer uitverkiesing nie dat die Here mense geskep het met die uitsluitlike doel om hel toe te gaan nie? Hoekom moet ons die evangelie met mense deel as God reeds besluit het wie Hy gaan red? Wat help dit om te glo as die Here mense gekies het? Maak uitverkiesing nie van mense robotte wat nie ‘n keuse het nie? Wat help dit ek bid vir mense se redding as ek nie weet of hulle uitverkies is of nie?’

Hierdie en ander besware sal ek in die volgende preek hanteer. Vir nou is dit genoeg om te sê: ‘Ek verstaan nie alles omtrent uitverkiesing nie. Ek kan dit nie alles mooi in ‘n boksie pas nie. Maar omdat dit in die Bybel staan, glo ek dit.’ As wat ek gesê het verkeerd is, moet jy uit die teks kan wys hoekom jy so sê. Maar as dit reg is, moet jy wyle Martin Holdt se voorbeeld volg. Nadat hy deur Rom. 9 geworstel het, het hy eendag in die kombuis ingekom waar sy vrou besig was om vleis te sny.

‘Ek het besluit om Rom. 9 te aanvaar soos dit is,’ het hy gesê.

Sy vrou het die mes laat val en gesê: ‘Wat van my pa wat nie die Here ken nie?’

‘Jy weet dat as dit van jou pa afhang, hy hom nie sal bekeer nie. Maar as dit van Here afhang, is daar hoop.’