Christus is beter as godsdiens

Related image

Filippense 3:7-11

Party mense misverstaan my tema en dink dat ek Jesus teen die kerk afspeel, asof die kerk gelyk is aan godsdiens. Maar dit is ‘n vals onderskeid, omdat Jesus en sy liggaam een is. Wat bedoel ek dan wanneer ek sê dat Christus beter is as godsdiens? ‘n Illustrasie sal help.

Martin Luther was baie godsdienstig voor sy bekering. Hy was ‘n monnik wat meer gevas, gebid, die Bybel gelees en sy sonde bely het as enige van ons. Maar hy het nie die Here geken nie. Na ‘n geweldige worsteling het hy die lig gesien en besef dat daar ‘n wêreldse verskil is tussen Jesus en die aaklige godsdiens waarin hy vir jare vasgevang was. Soos Paulus in Fil. 3:7-11 het hy besef dat Christus beter is as godsdiens. Paulus gee drie redes vir hoekom hy Jesus bo sy voormalige godsdiens kies.

 

  1. Hy is meer waardevol (v.7-8)

Godsdiens is soos ‘n skip vol wynvate. Dit lyk waardevol, totdat jy in ‘n storm beland. Dan gooi jy maklik die wynvate oorboord om die skip ligter te maak, sodat jy jou lewe kan red. Godsdiens is soos ‘n man met die nuutste BMW, ‘n mooi huis en duur meubels. Dit is baie waardevol… totdat hy op ‘n stuk grond afkom waar die diamante so volop lê soos klippe in die Karoo. Hy dink nie twee keer om alles te verkoop en die stuk grond te koop nie (Matt. 13:44-46).

Paulus was so. Voor sy bekering was hy soos ‘n kind met ‘n hand vol koper geld: hy het gedink hy is ryk. Maar toe die Gees sy oë oopmaak om Jesus te sien, toe voel sy godsdiens soos ‘n hand vol grond. Hy was bereid om alles prys te gee om hierdie waardevolle Christus te hê (v.7, Heb. 11:26). Die godsdienstige CV (sy besnydenis, wetsonderhouding, stamboom, ens.) waarin hy tevore geroem het, het nou vir hom niks beteken nie (v.4-7). Voor sy bekering het hy dit beskou as sy matriek vrystelling om te help dat God hom in hemelse universiteit toelaat. Maar toe Hy besef het wie Jesus is, toe gooi hy dit saam met sy sonde op die ashoop. Hy het sy eie geregtigheid beskou as drek, gemors, vuil toiletwater en iets wat ‘n mens vir die honde gooi (v.8, 2).

Voorheen het hy gehaat en vervolg wat hy nie verstaan het nie. Maar nou het hy besef dat Jesus ‘n juweel van onskatbare waarde is, meer as al die juwele en die res van die heelal saamgetel. Jesus is die Liefling van die hemel, skoner as tienduisend, die Blink Môrester (Op. 22:16). Die hemelwesens bewonder Hom (Jes. 6:1-3, Op. 4-5). Hy is lieflik en pragtig, die aantreklikste van alle mense (Ps. 27:4, 45:3, Jes. 33:17). Wanneer jy Hom sien, sal jy na jou asem snak (2Tess. 1:10).

Begeer jy nie om soos Paulus te sê: ‘Hy is my Here’ nie (v.8)? En is dit nie wat die hemel hemel maak nie: om Hom te ken en vir ewig sy heerlikheid te geniet en te bewonder? “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het… Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het” (Joh. 17:3, 24).

Moenie dink jy sal na duisende jare in die hemel verveeld raak, omdat jy reeds alles omtrent Christus ontdek het nie. Hy is oneindig, sodat jy ná biljoene jare in die hemel nog besig sal wees om op die oppervlak rond te krap; jou soektog na die rykdom van sy heerlike skoonheid sal skaars begin het.

Hierdie gedagte moet maak dat jy minder waarde heg aan die wêreld. Dit moet maak dat die wêreld se gejaag na geld, plesier en besittings nooit vir jou die einddoel sal word soos vir hulle nie. Jy moet eerder op hemelse dinge fokus. Jy moet Jesus najaag en saam met Asaf sê: “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (Ps. 73:25).

Die gedagte aan die waarde en skoonheid van Jesus moet maak dat jy jou godsdiens en werke vir die Here as drek beskou om Hom te kry (v.7-8).

When I survey the wondrous cross

On which the Prince of glory died,

My richest gain I count but loss,

And pour contempt on all my pride.

Were the whole realm of nature mine,

That were an offering far too small;

Love so amazing, so divine,

Demands my soul, my life, my all.

—Isaac Watts—

Wil jy meer van Jesus hê? Gee alles prys, lê jouself voor die Here en sê: ‘Ek wil nie 99% gee en 1% terughou nie. Maar ek sukkel, want dit voel of die 1% mý vashou. Maak my asseblief vry. Saam met Calvyn sê ek: “My hart gee ek aan U, O Here, dadelik en opreg.” Neem dit en reinig dit in die bloed van Jesus. Ek wil U dissipel wees en glo Luk. 14:33: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”’

 

  1. Deur Hom kan ons reg wees met God (v.9)

Wanneer ek die evangelie deel en vir die persoon vra of hy hemel toe gaan, hoor ek dikwels so iets: ‘Ek hoop so. Niemand kan verseker weet nie. Ek leef maar so goed as wat ek kan en hoop vir die beste. Dit is vir die Here om te besluit of ek hemel toe gaan, maar ek glo Hy sal genadig wees.’

Niemand wat op sy werke vertrou kan seker wees hy gaan hemel toe nie. Hy sal altyd twyfel. Of aan die ander kant sal hy vermetel genoeg wees om te dink sy goeie werke kan maak dat ‘n heilige God hom aanvaar. Paulus het op ‘n tyd so gedink, maar dit was voor hy homself nie meer aan sy eie standaard gemeet het nie, maar aan God s’n. Voorheen het hy gedink hy hou die wet, maar God se heilige oë het vlekke gesien wat die wet nie kon uitwas nie (v.9, 6, Rom. 7:7, Hab. 1:13).

Toe hy sy vrot geregtigheid langs Jesus se spierwit geregtigheid sien (Jes. 64:4), toe soek hy Jesus s’n (v.9). Hy het begeer om op die oordeelsdag nêrens anders gevind te word as in die sterk en onbeweeglike kliptoring van Jesus nie (v.9, Spr. 18:10). As die Here hom soek, moet Hy hom nie vind nie, omdat hy in Jesus skuil soos kuikens wat onder die hen se vlerke skuil. Jesus se bloed en geregtigheid moet hom soos ‘n rein en vlekkelose laken bedek. God moet niks van hóm sien nie, maar nét Jesus se sondelose lewe en kruisdood.

Het Paulus sy oë toegeknyp en maar net gehoop dit sal die geval wees? Of het hy geweet dat hy bedek lê onder Christus se bloed en geregtigheid, en dat die Vader nie anders sal kan as om hom te aanvaar nie (v.9)? Hoe het hy dit geweet? Hy het God se belofte geglo dat dié wat in Jesus Christus glo, vergewe sal word en sy silwerskoon geregtigheid verniet sal kry (v.9, Joh. 3:16, Rom. 3:28, 4:5, 5:1, 2Kor. 5:21). Toe Paulus hierdie belofte glo, het hy nie meer op sy godsdiens vertrou nie, maar op Jesus Christus alleen.

Glo jy in Christus alleen? Om die vraag te antwoord, moet jy verstaan wat ek bedoel. Met geloof bedoel ek nie nét jy moet die feite aangaande Jesus se Persoon, lewe, kruisdood en opstanding bely nie. Ek vra of jy op Hom vertrou? Is jou hoop vir vergifnis en die hemel op Hom gebaseer? Glo jy dat sy lewe en kruisdood genoeg is om jou te vergewe en van die hel te red? Maak jy geheel en al staat op Hom—sý lewe, kruisdood en opstanding—om jou in die hemel te kry?

Let ook asseblief op dat ek nie vra of jy êrens in jou lewe in Jesus geglo het nie? My vraag is of jy nóú in Hom glo? Glo jy vandag soveel in Hom soos die dag toe jy tot bekering gekom het?

Verstaan asseblief verder wat ek met Christus bedoel. Ek praat nie hier van ‘n goeie profeet, ‘n wyse man, ‘n engel of ‘n semi-goddelike wese nie. Ek verwys eerder na Iemand wat van ewig af bestaan en volkome God is; in elke opsig gelyk met die Vader en die Heilige Gees. Ek praat van Iemand wat volkome mens geword het in Betlehem. Die Jesus van wie ek praat is sondeloos in sy wese en lewe, maar het onder God se toorn gesterf om ons daarvan te red. Nadat Hy vir drie dae in die graf was, het Hy liggaamlik opgestaan uit die dood.

Is dít die Christus in wie jy glo? Glo jy in Hom alleen? Of vertrou jy op Hom plus jou doop, Bybelstudie, gebede, geld wat jy vir die kerk gee, jou goeie werke, lidmaatskap, betrokkenheid, leiersamp, kerkbywoning, ens.? Roem liewer in Jesus en sy kruisdood alleen: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Gal. 6:14).

 

  1. In Hom kan ons die dood oorwin (v.10-11)

My Moslem haarkapper het gesê hy glo nie dat Jesus gesterf het en opgestaan het nie, maar dat Allah Hom opgeneem het hemel toe. Direk daarna toe sê hy: ‘As Jesus weer kom, sal die dooies opstaan.’ ‘Regtig?’ het ek hom gevra. ‘Ja, by my god is enigiets moontlik.’

Dit is vreemd dat hy Jesus se opstanding verwerp, maar die finale opstanding aanvaar. Die punt is egter dat Christene nie die enigstes is wat in die opstanding van die dooies glo nie. Ons is egter die enigstes wat rede het om dit te glo.

Ander godsdienste glo dat hulle god hulle sal opwek en vir hulle die hemel sal gee wat hulle verdien. Maar volgens die Bybel sal slegs dié wat deur die geloof een is met Jesus opgewek word tot ‘n nuwe lewe. Ons sal opstaan omdat Jesus opgestaan het. Ja, ons wag nog vir die opstandingsliggaam. Maar a.g.v. ons eenheid met Jesus is ons in ‘n sekere sin reeds opgewek en sit ons saam met Hom in die hemel (Ef. 2:5-6).

Paulus wou hierdie opstandingskrag en die opgestane Here beter ken (v.10). Soos hy dit deur wedergeboorte ervaar het (Ef. 1:19-20), wou hy dit al hoe meer in sy daaglikse lewe ervaar om die sonde te oorwin en gehoorsaam te wees (v.10, Rom. 6:4). Hy het ook verlang na die dag wat die Here sy liggaam in krag sou opwek en verheerlik, dat hy nie meer sou siek word, pyn hê, sonde doen of sterf nie (v.11, Rom. 8:11, 23, 1Kor. 15). Die opstanding was die wenpaal waarvoor hy gemik het om die goue medalje van Christus te verkry (v.12-14). In sy verheerlikte liggaam en gees wou hy Christus se heerlikheid weerspieël soos wat die maan die sonlig weerkaats.

Hy sou hom geen pyn spaar om die doel te bereik nie, maar was bereid om enige lyding deur te maak (v.10-11). Hy het geweet dat die dividende wat hy sou terugkry ‘n miljoen % meer was as die sweet wat hy moes insit (Rom. 8:17, 2Kor. 4:17). Christus was sy lewe en sou dit vir ewig wees (1:21). Hy was soos ‘n jong Bulgaarse seun in Louis Trichardt. Voor sy doop het hy deur trane vir die gemeente gesê: ‘Jesus Christ is my Lord and Saviour. I will follow him on earth and I will follow Him in heaven.’

Verder wou Paulus in Christus se lyding deel (v.10), omdat hy geweet het dit is waar hy Hom die beste kan ken. Deur sy lyding nederig te dra, sou hy die meeste soos Jesus wees (Matt. 10:25, Joh. 15:20). Die les is dat jy nie ‘n diep verhouding met Jesus kan hê as jy nie vir sy Naam ly nie. Hoe kan jy sê jy volg Jesus as jy Hom nie tot by die kruis volg nie? Paulus het soos Jesus gely en jy sal ook (Hand. 9:16, 14:22, 2Kor. 11:23-28, 1Tess. 3:3, 2Tim. 3:12, 1Pet. 2:21).

Moet dan nie dink jy kan Jesus ken en gemaklik lewe nie (v.10). Maar moet ook nie lyding vrees nie; dit kan jou nie uiteindelik beskadig nie. As jy die Here in jou lyding soek, sal Hy seker maak dit is tot jou voordeel (Rom. 8:18-39, Jak. 1:2-3). Ek bedoel nie net in die hemel of wanneer die beproewing verby is nie, maar terwyl jy swaarkry. Dit is wat met John Paton gebeur het. Toe die kannibale hom wou doodmaak, moes hy in ‘n boom weggekruip. Hier is wat hy geskryf het:

‘I heard the frequent discharging of muskets, and the yells of the Savages. Yet I sat there among the branches, as safe in the arms of Jesus. Never, in all my sorrows, did my Lord draw nearer to me, and speak more soothingly in my soul, than when the moonlight flickered among these chestnut leaves, and the night air played on my throbbing brow, as I told all my heart to Jesus. Alone, yet not alone!’ [John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889, 1891]), 200].

Hoe sou Paton daardie aand sy angs hanteer het as hy op sy goeie werke, tiendes of enigiets anders moes staatmaak? Verstaan jy nou hoekom ek sê dat Christus beter is as godsdiens?