’n Boodskap vir die blindes

Related image

Ek het eenkeer ‘n storie gehoor van ‘n vrou wat nie oë het nie. Sy was desperaat en het ‘n erediens gaan bywoon in die hoop dat hulle vir haar sou bid om te kan sien. Toe die diens klaar is, toe roep sy uit: ‘Ek kan sien! Ek kan sien!’ Sy het nog steeds nie oë gehad nie, maar het die waarheid van die evangelie gesien. Om fisies te kan sien is wonderlik. Maar om geestelik te sien is beter. Dit is o.a. die les in Matt. 20:29-34.

 

  1. Die blindes langs die pad (v.29-31)

My kinders geniet dit om raaisels wat hulle op die internet kry uit te werk. Soms is die raaisel ‘n tameletjie, maar as jy mooi dink is dit nie te moeilik nie. So is dit ook met die dilemma in v.29. Matteus sê dat Jesus die blindes ontmoet het toe Hy uit Jerigo uitgaan, terwyl Mark. 10:46 en Luk. 18:35 sê dat Hy hulle ontmoet het toe Hy in Jerigo inkom. Hoe moet ons hierdie oënskynlike teenstelling verduidelik?

Jesus het waarskynlik die blindes ontmoet toe Hy uit die ruïnes van die ou stad na die nuwe stad toe beweeg. Of dit mag wees dat Hy die blindes gesien het toe Hy die stad verlaat, en dat Hy daarna teruggedraai het om hulle te genees en weer in die stad in te gaan om Saggeus te ontmoet (v.29, Luk. 18:35, 19:1-2).

Jerigo het ‘n baie ryk geskiedenis. Dit was die eerste stad wat Israel binnegeval het toe hulle die Beloofde Land in besit neem (Jos. 6). Dit het ook bekend gestaan as die Stad van Palms (2Kron. 28:15). Toe Jesus die stad verlaat het, het ‘n groot skare Hom gevolg (v.29). Hulle het seker saam met Hom Jerusalem toe gegaan om die jaarlikse Pasga te vier.

Langs die pad het daar twee blindes gesit en bedel (v.30, Mark. 10:46, Luk. 18:35). Markus en Lukas noem net een: Bartimeus die seun van Timeus (Mark. 10:46). Hy was heel waarskynlik die spreekbuis vir hom en sy vriend. Hulle het ‘n groot skare gehoor verbygaan (v.30). Hulle kon nou wel nie sien nie, maar daar was niks fout met hulle gehoor nie. Dit was ongewoon om ‘n groot skare te hoor, en daarom wou hulle weet wat aangaan (Luk. 18:36). Iemand het gesê dat Jesus van Nasaret verbyloop (v.30, Luk. 18:37). Ewe skielik het die twee blindes nie omgegee dat daar baie ‘kliënte’ is nie. Hulle wou vir Jesus hê. Hulle het hulle nood besef en geweet dat hierdie die kans van ‘n leeftyd is.

Hulle kon nie na Hom toe loop nie, en het daarom desperaat uitgeroep: ‘Here Jesus, Seun van Dawid; wees ons barmhartig!’ (v.30, 1:1, 22:42, 2Sam. 7, Ps. 132:11, Mark. 10:47, Luk. 1:32, Joh. 7:42). Hulle het nie alles verstaan van wat dit beteken dat Jesus die Messias en die Seun van Dawid is nie. Maar t.s.v. hulle blindheid het hulle meer ‘gesien’ as die dissipels wat in v.17-28 Jesus se boodskap van die kruis misverstaan het, omdat hulle gedink het dat Hy ‘n politieke Messias is wat gekom het om die Romeine te oorwin.

Die blindes het verstaan dat Jesus die Messias van Jes. 35:5 is wat blindes genees (vgl. 11:2-5). Hulle hulproep om barmhartigheid het gewys dat hulle besef het Hy hóéf hulle nie te help nie. Dit het ook gewys dat hulle besef het hulle is niks en kan die Here niks bied nie.

Die skare het hulle bestraf en gesê hulle moet stilbly (v.31, vgl. 19:13). Die skare het nie besef wat Jesus se Messiaskap beteken nie. Soos die dissipels het hulle gedink Hy is ‘n politieke leier (21:9). Hulle het nie besef dat die Messias juis vir hulpelose en hopelose mense gekom het nie. Die skare het gedink dat die blindes benede ‘n belangrike Persoon soos Jesus is.

Maar die blindes het hulle nie aan die skare gesteur nie. Toe Jesus hulle nie die eerste keer antwoord nie (dalk om hulle geloof te toets?), toe roep hulle harder sodat Hy hulle bo die skare kon hoor (v.31). Hulle het niemand anders in die skare om hulp gevra nie. Niemand anders in die Bybel het ‘n blinde genees nie; net Jesus (Joh. 9:32). Hulle het geweet dat Hý die Messias is en dat net Hý hulle kan help.

Wat leer ons hieruit? Die blindes het geweet dat hierdie dalk hulle laaste en enigste kans is. Jy moet dieselfde besef. Dalk is vandag die laaste kans wat jy het om Jesus te ontmoet en reg te maak met God. Die lewe is onseker. Moenie die geleentheid mis nie, maar roep uit dat die Here jou red.

Jy het ‘n groter voorreg as die dissipels en die skare, omdat hulle Jesus se missie verkeerd verstaan het. Jy het selfs ‘n groter voorreg as die blindes wat iets begryp het, maar nie alles verstaan het nie. Jy lewe ná die kruis en het die Bybel om te verstaan wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Uit die Bybel leer ons dat Hy die ewige God is wat mens geword het om ons straf te dra aan die kruis, om deur sy liggaamlike opstanding die dood te oorwin en sy eie lewe─die ewige lewe─en vergifnis te bied aan elkeen wat berou het oor hulle sonde en in geloof na Jesus toe draai om hulle te vergewe en van hulle sonde te bevry.

Glo jy dit? Bid dan in hierdie oomblik en vra die Here om jou te red en te vergewe. Dalk glo jy hierdie dinge oor Jesus maar jy roep nie uit nie, omdat jy twyfel dat Hy jóú kan vergewe. Maar kan Jesus blinde mense genees en jou nie vergewe nie? Sal Hy barmhartig wees oor blinde mense, maar weier om jou sonde te vergewe as dit juis die rede is hoekom Hy aan die kruis kom sterf het?

Dalk twyfel jy nog steeds omdat jou familie en die samelewing jou weggegooi het. ‘Sal Jesus my nie ook weggooi nie?’ wonder jy. Nee, want toe die samlewing die blinde mans weggegooi het, het Jesus hulle verwelkom. Hy sal dieselfde vir jou doen. Al dink die hele wêreld daar is nie hoop vir jou nie, is daar hoop by Jesus. Hou dan aan om soos die blindes uit te roep totdat die Here jou antwoord (v.30-31, 7:7-8, Luk. 18:1, 1Tess. 5:17). Selfs as jou gebed kort is en jy nie die woorde reg het nie, weet Jesus wat jy bedoel en sal Hy jou help (v.30-31, Rom. 8:26-27).

 

  1. Die blindes by Jesus (v.32-34)

Wyle Martin Holdt se eerste vrou het aan kanker gesterf. Op haar sterfbed het sy gebid: ‘Lord, deliver me from mediocrity [Afr. middelmatigheid].’ Sy was nie soos die meeste van ons wat tydens ons beproewings aan onsself dink nie. Sy was soos Jesus. Selfs toe Hy op pad was kruis toe (v.17-19) het Hy aan ander gedink (v.32-34). Hy het waarlik gekom om te dien (v.28). Hy het gestop en iemand gestuur om die blindes te roep (v.32, Mark. 10:49, Luk. 10:40). Hy kon self na hulle toe gaan, maar wou hê dat hulle moeite moes doen om na Hom toe te kom. Hoekom? Hulle moes wys dat hulle regtig glo Hy is die Messias wat hulle kan genees.

Volgens Mark. 10:50 het Bartimeus sy erns en geloof gewys deur op te spring en sy kleed af te gooi. Hy het geglo die Here kan Hom genees. Hy was oortuig dat Hy sonder enigiemand se leiding sou loop om sy kleed te gaan haal.

Iemand het die blindes na Jesus toe gelei. ‘Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?’ het Hy gevra (v.32). Jesus se oop vraag impliseer dat hulle enigiets kon vra, omdat Hy enigiets kon doen. Hy het hulle behoefte geken, maar wou hê dat hulle moes vra. Sou hulle net kos of geld vra, of het hulle regtig geglo Hy is die Messias?

Om sy vraag te antwoord het die blindes gesê: ‘Here, laat ons oë oopgaan. Rabbi, herstel asb. ons sig’ (v.33, Mark. 11:51). Dalk het hulle by die blindes van 9:27-31 gehoor Jesus kan hulle help? Jesus kon hulle met ‘n woord genees (8:5-13), maar om sy deernis te wys het Hy hulle oë aangeraak en gesê: ‘Sien! Gaan op julle weg; julle geloof het julle genees’ (v.34, Mark. 10:52, Luk. 18:42). Op Jesus se woord het hulle die lig van die son, mense se gesigte, skakerings, kleure en (bowenal) vir Jesus gesien.

Maar daar was meer. Volgens Mark. 10:52 en Luk. 18:42 het Jesus gesê: ‘Jou geloof het jou gered [Gk. sozō].’ Omdat die blindes in Jesus as die Messias geglo het, het Hy hulle nie net van hulle fisiese blindheid genees nie, maar ook van hulle geestelike blindheid en sonde. Hy het hulle gered deur die kruis waarheen Hy op pad was (v.17-19).

Nou het hulle Hom nie bloot soos die res van die skare gevolg nie (v.29), maar persoonlik en as nuwe dissipels (v.34). Hulle het gewys dat hulle nie net genesing soek nie, maar vir Jesus self. Hulle het die Here geprys (Luk. 18:43) met die wete dat iemand wat hulle so kon red en genees van God af kom, aangesien dit Hý is wat blinde oë laat sien (Eks. 4:11, Spr. 20:12).

Jesus wou ook hê dat die skare deur hierdie wonderwerk moes sien Hy is die Messias en die Seun van God. Hulle het die wonderwerk gesien en God geprys (Luk. 18:43). Hulle het egter nie mooi gesien nie en Hom daarom ‘n paar dae later gekruisig.

Hoe moet ons hierdie verse toepas? Ons moet geloof reg verstaan. Geloof beteken nie jy moet in jouself glo of glo jy het die vermoë om met ‘n sterk greep aan die Here vas te hou nie. Geloof beteken juis dat jy nié op jouself vertrou nie, maar op iets of iemand buite jou. Geloof kyk nie na binne nie (na jou eie vermoë om te glo), maar na buite. Dit kyk na Jesus as die Messias en Seun van God. Geloof gaan nie oor die sterk greep waarmee jy aan Jesus vashou nie, maar oor die volle versekering dat sy greep sterk is en dat Hy jou nie deur sy vingers sal laat glip nie (Joh. 10:28-29).

Geloof beteken jy weet dat Jesus die Messias van v.34 is wat Hom vandag nog oor hopelose en gebroke mense ontferm (vgl. 9:36, 12:10, 14:14, 15:32, Eks. 34:6-7, Ps. 103:13, Klaagl. 3:22-23, Luk. 7:13). Geloof beteken ook dat jy op Hom vertrou en jouself persoonlik aan Hom toewy. Jy word nou wel deel van die liggaam wanneer jy Jesus volg, maar jy kan nie deur die groep se geloof (jou familie, vriende of gemeente s’n) in die hemel kom nie (v.29). Jesus vereis dat jy persoonlik moet kom, in Hom moet glo, en Hom moet volg (v.34, Luk. 9:23).

Volgens Matt. 7:14 moet jy deur die smal hek gaan wat nie groepe deurlaat nie (7:14). Jy moet as ‘n individu kom. Los jou sonde, jouself en jou selfgeregtigheid agter. Kom naak en met leë hande. Vra die Here om jou sondige rekord skoon te was en jou met sý gehoorsame rekord te beklee.

As jy dink jy het nie die Here nodig nie omdat jou goeie werke genoeg is om jou in die hemel te kry, is jy blind. Die blindes in v.29-34 het ten minste besef hulle is blind. Jy sien dit nie. Vra die Here om jou te wys hoe verlore jý is en hoe sterk Hý is om jou te red. Anders is jy soos ‘n blinde man wat op ‘n krans afstuur en vir almal sê hy is op pad na die Paradys.

Indien jy reeds gered is, sal dit help om te besef dat jy soos die dissipels is en nog nie alles sien soos jy dit behoort te sien nie (v.17-19). As Jesus jou dan vra: ‘Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?’ (v.32), moet jy nie soos Johannes en Jakobus rykdom en eer soek nie (v.21). Vra eerder soos Moses: ‘Wys my U heerlikheid’ (Eks. 33:18). Dit is wat Jesus vir jou wil hê (Joh. 17:24).

Deur die geloof sien jy reeds iets van sy heerlikheid (2Kor. 4:6), maar bid om meer daarvan te sien (2Kor. 3:18). Niks wat jy in hierdie lewe sien of ervaar kan daarmee vergelyk nie. As jy Jesus se gesig sien sal jou mond oophang en sal jy weet wat ek bedoel (2Tess. 1:10). Jy sal voel soos ‘n kind wat tevrede gevoel het om modderkoekies te bak, omdat jy nie geweet het wat ‘n vakansie by die see is nie (om C.S. Lewis se illustrasie aan te pas). Jy sal wees soos iemand wat blind was en vir die eerste keer in sy lewe sien.