’n Bybelse hantering van pyn

Pain

Soos die res van die mensdom beleef ons pyn.

  • In 2010 het ‘n vriend van my beide sy ouers op een dagverloor.
  • Ek ken ‘n vrou en haar dogters wat kronies siek is en elke paar weke (sonder oordrywing) opgeneem word in die
  • ‘n Man wat by my ouers gebly het is deur ‘n krokodil gegryp. Genadiglik het hy die aanval oorleef.
  • Job het al sy besittingsen kinders op een dag verloor. Hy het ook pynlike swere gekry.
  • Paulus het vyf keer die Jode se 39 houe Hy is gestenig. Die Romeine het hom drie keer met stokkegeslaan. Hy het drie keer skipbreuk gely. Hy was ‘n dag en ‘n nag op die oop see. Hy was in die tronk. Hy het koud geslaap. Hy was honger en dors. Hy was arm en naak (2Kor. 11:23-28).
  • Jesus het onmenslikgely.

Hoe moet jy dit hanteer wanneer dit jou beurt is om te ly? Hoe moet jy dit Bybels hanteer? Rom. 8:18-27 wys vir ons hoe.

 

  1. Moet dit nie ontken (v.19-22)

Volgens Christian Science is siekte en pyn nie werklik nie, maar ‘n illusie in jou kop. Oor die afgelope paar dekades het hierdie lering kerke binnegedring. ‘n Man het eenkeer vir my gesê: ‘Ek word nooit siek nie. Sodra ek siek voel, spreek ek myself gesond.’ Ek het ‘n vrou ontmoet wat met kolon kanker gediagnoseer is. Sy het gesê: ‘Ek het nie kanker nie; ek het dit weggespreek.’ Ek weet van ‘n jong seun wat verlede jaar oorlede is. Sy familie het ‘lewe gespreek’, maar dit het nie gehelp nie.

Jy kan nie jou pyn weg redeneer en maak of dit nie bestaan nie. Iemand wat nooit pyn beleef nie is dood en in die hemel. Van begin tot einde is die lewe vol pyn (Ps. 90:10). Thomas Watson sê: ‘Life begins with a cry, and ends with a groan’. Hoe kan dit anders wees in ‘n wêreld wat gebuk gaan onder die sondeval?

Maar net soos wat die skepping deur die mens se sonde tot ‘n val gekom het (Gen. 3:17-18), sal die Here dit herstel wanneer Hy eendag die mens opwek (v.19-21). Die skepping wag met intense verlange vir die dag wanneer God die mens opwek en staan as’t ware op hulle tone om te sien wie die kinders van God is (v.19). Paulus personifieer die skepping. Dit is asof mossie vir pruimboom sê:

‘Is hý ‘n Christen?’

‘Ja, toe jy na die bure se geut toe getrek het, het hy opgehou om dronk by die huis aan te kom. Jesus het hom gered, vergewe en nuut gemaak.’

Dan sien pruimboom ‘n ander man wat nie ‘n nuwe liggaam ontvang het nie en hel toe gaan.

‘En dít?’ wil hy by mossie weet. ‘Ek het gedink hy’s ‘n Christen. Hy het dan elke Sondag sy das aangehad en met die Bybel onder die arm kerk toe geloop?’

‘Nee,’ sê mossie. ‘Ek het gereeld bo sy kamer venster op die geut gesit. By die huis het hy nie die Bybel gehoorsaam nie. Ek het gehoor hoe Jesus sê dat sy lewe voor ander mense goed gelyk het, maar dat sy hart sleg is.’

As die Here klaar deur die opstanding gewys het wie syne is, sal Hy die res van die skepping nuut maak (v.19-21, Op. 21:1). Hy sal nou wel nie olifante, honde, haaie en bome opwek soos mense nie. Maar Hy sál dit heeltemal oorskep. In die nuwe skepping sal termiete nie pruimbome uithol nie en sal katte nie mossies vang nie.

Maar op die oomblik is alles besig om af te breek en neig dit tot wanorde volgens die tweede wet van termodinamika. God het dit so gedoen omdat die mens gesondig het (v.20, Gen. 3:17-18). Dit is die teenoorgestelde van evolusie wat sê dat dinge besig is om beter te raak. As hulle net hulle oë oopmaak en rondom hulle kyk, sal hulle sien dat evolusie onrealisties is.

Maar t.s.v. die verganklikheid is daar hoop (v.20). Jesus se kruisdood en opstanding verseker dat God ons en die skepping van die boeie van sonde, korrupsie en die dood sal bevry (v.21). Hy sal alles herstel om te wees soos wat dit in Gen. 1-2 was, behalwe dat daar op die nuwe aarde nie eers die kans sal wees om sonde te doen of te sterf nie.

Maar tot dan sug die skepping onder die vloek. Daar is droogtes, vloede, ekstreme koue en hitte, pyn, verganklikheid, gebrokenheid, dood, ens. (v.22). Die skepping ervaar intense pyn soos ‘n vrou wat geboorte gee (v.22). Maar hierdie pyn is ‘n voorloper van die vreugde wat kom. Dit is soos ‘n swanger vrou wat kraampyne het, maar dan bly is wanneer die kind gebore word. So beleef die skepping pyn, maar eendag sal die aarde deur die opstanding geboorte gee aan God se kinders, en sal die aarde self ook ‘weergebore’ of nuutgemaak word (v.22, Jes. 26:19, Matt. 19:28). Die pyn sal verby wees en in blydskap verander.

Ongelukkig leef ons nog in ‘n wêreld vol pyn. Erken dit. Moenie soos party mans wees wat nie wil huil nie. ‘Cowboys don’t cry,’ is wat hulle sê. Moenie soos baie mans wees wat nie die dokter wil besoek as hulle siek is nie. Moenie Prosperity predikers se onsin glo wanneer hulle sê jy kan lewe ‘spreek’, jy moenie dood ‘spreek’ nie, of dat jy altyd ryk, voorspoedig en gesond moet wees nie. Hierdie mense maak asof ons klaar op die nuwe aarde is, en asof die verganklikheid van v.20 nie ‘n realiteit is nie.

Maar pyn is ‘n realiteit, en daarom kan jy maar treur en huil. Dit beteken egter nie jy hoef te sink en jouself te bejammer, sodat jy jou onttrek en eenkant hou nie. Dit beteken ook nie dat jy in jou pyn jou vuis teen die hemel moet lig, moet kla, ongehoorsaam moet reageer, hopeloos moet wees, moet dink dat die Here jou noodwendig vir een of ander sonde straf, moet vrees vir die volgende beproewing, of moet vra: ‘Hoekom EK?’ nie. Die grootste doel in jou lyding is ook nie om die pyn weg te kry nie, maar om soos Paulus en Silas die Here te verheerlik t.s.v. die pyn (Hand. 16:25). Die Here sal jou genoeg genade gee om dit te hanteer (1Kor. 10:13, 2Kor. 1:8-9, 12:9).

 

  1. Vergelyk dit met die heerlikheid wat kom (v.18, 23-25)

In v.18 gebruik Paulus ‘n rekenkundige term waarvan ons die Afrikaanse woord logistiek kry [Gk. logizomai]. Dit is asof hy sy aardse lyding in een kolom neerskryf en die heerlikheid wat kom in die ander kolom. Sy lyding is ‘n $50 biljoen Zim. (R4-82) uitgawe. In vergelyking hiermee is die heerlikheid wat kom ‘n £900 triljoen x triljoen x triljoen x triljoen… bate. Tien sakke sement is swaar. Maar dit is lig in vergelyking met al die water in die wêreld se oseane (v.18). Net so is gelowiges se lyding lank en swaar, maar kort en lig as jy dit meet aan die ewige heerlikheid wat op ons wag (v.18, 2Kor. 4:17, 1Pet. 5:10).

Wat is die heerlikheid van v.18? Dit verwys na die nuwe liggaam wat Christus se heerlikheid weerspieël (v.23, Heb. 1:3). Sy heerlikheid word letterlik in ons geopenbaar, sodat ons liggame nie meer die groengrys kleur van die dood is nie maar skyn soos die son (v.18, 23, Dan. 12:2-3, Matt. 13:43, 2Tess. 1:10, vgl. Eks. 34:29, 35).

Op die aarde raak jou oë dof, val jou tande uit, raak jou geraamte krom, word jy doof, raak jy oud en sterf jy (Pred. 12:1-8). Die nuwe liggaam is egter die teenoorgestelde hiervan: dit is propvol lewe; jou kragte raak nie op nie; jy word nie moeg en uitgeput nie; jy verouder nie; dit word nie siek en swak nie; jy voel nie pyn nie; jy is onsterflik; jy doen nie sonde nie, maar is altyd vol van die Gees (1Kor. 15:42-44).

Wie weet of jy in jou nuwe liggaam nie miskien ultraviolet strale, infrarooi, klankgolwe, die verste sterre, mikroskopiese wesens en tien duisend nuwe kleure met die naakte oog sal sien nie? Miskien sal jy lae en skerp klanke hoor wat olifante, honde en vlermuise in hierdie wêreld kan hoor? Dalk sal jy op ‘n lang afstand kan gesels sonder ‘n telefoon?

Ongelukkig is ons nog nie daar nie, en daarom sug ons (v.23). Deur weergeboorte is jy reeds ‘n nuwe skepping (2Kor. 5:17), maar jy wag vir die volheid daarvan in jou nuwe liggaam (v.23). Jy het die Gees as eerstevrug en waarborg om te wys dat jy hierdie nuwe liggaam sal kry (v.11, 23, 2Kor. 5:5, Ef. 4:30, Gal. 5:22, Spr. 3:9-10). Die Gees in ons as die eerstevrug wys ook dat die res van die ‘oes’ sal volg as die Here die skepping vrymaak (v.23, Jak. 1:18).

Is daar in jou ‘n verlange na die hemel, die nuwe aarde, ‘n nuwe liggaam en ‘n ewigheid saam met Jesus? Elke Christen het hierdie begeerte (v.23, 2Tim. 4:8). Sug jy soms as jy in die oggend opstaan, omdat jy nie meer in ‘n wêreld vol sonde wil wees nie? Sug jy soms oor jou sonde; wil jy by Jesus wees? Sug jy soms oor jou gebreekte liggaam; wens jy vir ‘n nuwe een?

Jy weet dat die Here jou as sy kind aangeneem het (v.15, Joh. 1:12-13, Gal. 4:5-6, Ef. 1:5), maar jy wag vir die finale erfdeel (v.17), die finale aanneming en die finale verlossing van die liggaam (v.23, 1Tess. 5:23-24). Jy weet dat jou siel volmaak sal wees as jy sterf en hemel toe gaan (Heb. 12:23), maar jy wens vir ‘n volmaakte liggaam wanneer Jesus kom (v.23, 1Kor. 15). Jy is nie soos die antieke Grieke of ‘n Ou Apostel wat in my matriekjaar saam met my by WIMPY gewerk het nie. Sy het geglo dat Jesus jou siel red en dat die liggaam niks is nie. Jy weet egter dat jou liggaam nie net ‘n hok is waarin jou siel woon nie, maar dat dit deel is van wie jy is: “Want stof is jý, en tot stof sal jý terugkeer.” (Gen. 3:19).

Omdat die liggaam belangrik is, verheerlik ons die Here in ons liggame (6:13, 12:1, 1Kor. 6:19-20). Jy wens egter vir ‘n liggaam sonder sonde en die dood. Daar is iets in jou wat ‘nee!’ sê as jy hoor hoe iemand sê dat Christen so-en-so haar stryd teen kanker verloor het. Jy is ook nie tevrede as iemand sê dat die liggaam wat jy nou het sal vergaan, en dat Jesus jou heeltemal gaan herskep nie. Fil. 3:21 en 1Joh. 3:2 sê dat jou liggaam soos Jesus s’n sal wees. Jy weet Jesus se liggaam wat gekruisig is dieselfde liggaam is wat opgestaan het. Net so weet jy dat die liggaam wat jy nóú het eendag moet opstaan, dat dit siekte en die dood moet oorwin, dat dit sonder sonde en perfek moet wees (Job 19:26-27, 1Kor. 15:35-37, 54-55). Jy sal nie meer letsels, ‘n krom rug, swak oë en oortollige vet hê nie. Maar soos Jesus na sy opstanding sal jy nog steeds jý wees en sal mense jou herken: man of vrou, kort of lank, hoë wangbene, ‘n vierkantige kakebeen, ens. (1Kor. 15:38-41).

‘n Verheerlikte liggaam en ‘n lewe sonder sonde by Jesus is die hoop van ons verlossing (v.24-25). Dit is nie die onsekere hoop van hierdie wêreld nie, maar ‘n vaste hoop dat die Here sy belofte sal vervul aan elkeen wat in Jesus glo (Heb. 11:1, Kol. 1:27, 1Tim. 1:1). Dit is die finale hoop van elke gelowige: nie die hemel waar ons sonder ‘n liggaam sal wees nie, maar die nuwe aarde waar ons ‘n nuwe liggaam sal hê (v.23-25, 30, Fil. 3:10-12).

Ons sien dit nog nie (v.24). Dit is hoekom jy nie die lawwe praatjies moet glo van mense wat sê: ‘Die aarde is die hemel of die hel wat jy moet deurmaak en daar is niks meer nie.’ Elke gelowige weet daar is meer. Ons wandel nou deur die geloof (2Kor. 5:7), maar eendag sal ons die Here op die wolke sien kom en ons nuwe liggame ontvang (v.23-24). Ons kan egter nie máák dat Hy kom en ons liggame opwek nie, en daarom verduur ons ons siekte, pyn en hartseer met geduld (v.25). Ons is soos ‘n atleet wat die pyn van ‘n maraton verduur en nie oor sy milt steek kla nie. Hy weet immers dat daar ‘n prys van onskatbare waarde is wat op hom wag (Heb. 12:2).

 

  1. Bid in die Gees (v.26-27)

Dalk klink dit onnodig om te sê jy moet bid wanneer jy ly, maar dit is nie so voor die hand liggend soos wat jy dink nie. Wanneer party mense ly, maak hulle op hulleself staat en nie op Jesus nie. Hulle probeer hulleself uithelp en eers as al hulle pogings gefaal het, sê hulle: ‘Al wat ons nou kan doen is bid.’

Ek sê nie jy moenie die dokter sien as jy pyn het nie. Die punt is eerder dat jy dit nie sonder gebed moet doen nie. En tog wíl ons dit self doen. Suid-Afrika trek swaar, ons gemeente gaan deur beproewings, en tog is daar nog steeds net 5 mense by die biduur en 8 mense by die vroue biduur op Woensdae. Die Gees wil hê jy moet bid.

‘Maar ek weet nie hoe nie; ek weet nie wat om te sê nie.’ Die Heilige Gees sal jou help (v.26-27, Joh. 14:16). Hy help ons in ons lyding; Hy lei ons swak gebede wat so onvolwasse is, gemeng met selfsugtige motiewe en gedagtes vol sonde wat gou dwaal (v.26).

Jy weet dalk nie hoe om die frustrasie, verlange en pyn uit te druk wat jy in jou hart voel nie, maar die Gees weet wat jy bedoel en sal dit reg oordra (v.26). Hy kan jou krom gebede reguit maak. Hy vat ook die dinge waarvoor Jesus bid en lei ons om daarvoor te bid, hetsy ‘n Bybelse waarheid of iemand se naam wat swaar op jou hart druk (v.34, 26-27).

Dit is wat dit beteken om in die Gees te bid (Ef. 6:18, Jud. 20). Dit het niks te doen met iemand wat in tale bid nie. Die woord ‘tale’ staan nie eers in die teks nie en buitendien sê 1Kor. 12:30 dat nie almal in tale praat nie. Verder word tale ook uitgelê, terwyl die sugtinge in v.26 sonder woorde is.

Soms is dit genoeg om net te sug, te huil en uit te roep: ‘Help!’ Die Gees verstaan wat jy bedoel en die Vader wat ons harte deursoek weet wat die Gees bedoel (v.26-27, Ps. 139:2, 23). Selfs waar jy verkeerd bid, dra die Gees dit reg oor en bid Hy volgens die wil van God vir ons (v.27). Jou gebede is ‘n R100-noot waarmee jy ‘n kar wil koop. Die Gees gee die volle bedrag wat Jesus betaal het, sodat die Vader vir die angstige gelowige sê: ‘Moenie bekommerd wees nie; Ek het die volle bedrag ontvang.’

Moet dan nie oor jou gebede sê: ‘Ek kan nie so goed soos so-en-so bid nie.’ Wat maak dit saak as die Gees perfek vir jou intree? Daarmee probeer ek nie sê: ‘Bid soos jy wil; dit maak nie saak nie.’ Wat ek eerder probeer sê is dít: ‘Bid volgens die Bybel en stort jou hart uit met die wete dat die Gees jou sal help.’

Moenie gebed versaak, kwaad wees vir God en Hom ignoreer omdat jy swaarkry nie. Bid. “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid.” (Jak. 5:13).

Dalk is jy te swak om eers ‘n geluid te maak. Dit verhinder egter nie die Gees nie. Hy het jou nog nooit gehelp omdat jy goed bid nie, maar omdat Jesus vir jou gesterf het en vir jou intree.