’n Profesie oor die kerk

People forming cross

Ek het laasweek ‘n WhatsApp gekry met ‘n profesie oor Suid-Afrika. ‘n Sekere Shawn Bolz vertel hoe hy in ‘n visioen gesien het dat Nelson Mandela met Jesus praat. Jesus het blykbaar vir Mandela gesê dat Hy besig is om ‘n geslag op te rig wat ‘n dubbele porsie seën sal ontvang. Bolz het vir ‘n jong man van Suid-Afrika gesê dat hy die regering en die kerk gaan help om weer Hebreeuse denke te hê. Hy het verder gesê dat daar die stroompie alreeds begin het om in Suid-Afrika te vloei, en dat dit ‘n wêreldwye effek gaan hê.

Vir die rekord wil ek sê dat dít nie is wat ek bedoel wanneer ek van ‘n profesie oor die kerk praat nie. As die Here wil, kan Hy ‘n herlewing in Suid-Afrika stuur en maak dat dit uitkring, maar dit staan nie so in die Bybel nie. Buiten vir die feit dat die Here nie nuwe openbarings by die Bybel voeg nie (Heb. 1:1, Op. 22:18-19), praat Hy verseker nie onsin nie. Van wanneer af gee Hy vir ons boodskappe deur Nelson Mandela? En van wanneer af sê Hy dat ons regering en die kerk weer Hebreeuse denke moet hê (vir my klink dit na die Hebrew Roots dwaling)?

Soos die vals profete se drome in Jer. 23, is hierdie mense se profesieë kaf, strooi en spookasem. Tyd sal leer of hulle die waarheid praat (Deut. 18:21-22). Wat my betref, kies ek om eerder Jesaja se profesie oor die kerk te glo. Maak asb. jou Bybel oop by Jes. 56.

 

  1. Mense sal die Here eer (v.1-2)

Mense sê dikwels dat die kerk uit ‘n klomp skynheiliges bestaan en dat hulle nie daarby wil aansluit nie. Maar dit is net so as die lidmate vals gelowiges is. In die ware kerk is die lidmate weergebore en is die kerk nie vol skynheiliges nie. Jesaja se profesie wys dit.

Die profesie begin met ‘n oproep tot ‘n lewe van reg en geregtigheid (v.1, 51:5-6, 55:7). Die volk moet hulle nie besig hou met onreg wanneer die Here se verlossing deur die Messias verskyn nie (v.1, hfst. 53-55). Hulle moet hulle eerder bekeer en hulle gereed kry vir die Messias se koms. Die volk het nie geluister nie, maar onreg gedoen toe die Messias verskyn: hulle het die tempel ontheilig, korrupte leiers gehad en die Seun van God gekruisig.

Aan die gelowiges in die volk wat reg doen, die Sabbat eer en nie ontheilig nie, wat wegbly van sonde, het die Here seën belowe (v.2, Neh. 13:15-22, Job 1:1, 8, 28:28, Ps. 1:1-3, Spr. 8:13, Joh. 13:17, Jak. 1:25). Jesaja bedoel nie dat mense wat hierdie dinge doen gered sal word nie. Hy wys eerder vir ons dat mense wat waarlik gered is die Here deur hulle lewens eer. Daarom is kerkdissipline belangrik, want as die kerk van Jesus Christus moet ons lewens rein wees en nie soos die wêreld s’n lyk nie (Rom. 12:2). Die punt is nie om te sê dat ons perfek is of beter as die wêreld nie. Ons is verlore sondaars, gered uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen (hfst. 53). Maar as mense wat gered is en wie se harte verander is om God lief te hê, wil ons volgens v.1-2 lewe. Saam met die res van Bybel kenmerk gehoorsaamheid ons lewens.

[a] Ons doen reg en vermy onreg (v.1). Ons is eerlik in ons besigheid en met ons kliënte. Ons lewe opreg, deursigtig en steek nie dinge weg nie. Hoe jou lewe by die kerk lyk, lyk dit ook by die werk en by die huis.

[b] Alhoewel ons nie sondeloos is nie, is sonde nie ons leefstyl nie─gehoorsaamheid is. Jesaja sê dat ons “daaraan vashou” (v.2).

[c] Christenskap is nie ‘n lawwe lewe waarin ons altyd lag en grappe maak nie. Maar omdat ons gehoorsaam lewe en dit die Here tevrede stel, seën Hy ons (v.2). Die Christelike lewe is dus ‘n lewe van geestelike seën, vrede en geluk. Ons is nie swartgallige, morbiede mense wat negatief is oor alles en daaroor kla nie.

[d] Ons onderhou nou wel nie die skadu van die Sabbat soos wat Israel dit gedoen het nie (v.2), maar ons geniet die volheid van hierdie rus in Jesus en die evangelie (Matt. 11:28-30, Kol. 2:16-17, Heb. 4:3, 8-10). Ons vergader nie soos Israel op die sewende dag om die Here te aanbid nie, maar op die dag van Jesus se opstanding waarin Hy die rus van verlossing ingegaan en die nuwe skepping begin het. Iemand wat nie gereeld op Sondae met ander gelowiges ontmoet om die rus van verlossing te geniet nie (ek praat nie hier van mense wat siek is en nie kan kom nie), eer nie die Here nie en het rede om te wonder of hy gered is. Hoe kan jy sê jy is deel van die Christen-familie as jy nie die begeerte het om by hulle te wees en saam die Here te aanbid nie?

 

  1. Die Here sal niemand uitsluit omdat hulle anders lyk nie (v.3-6)

‘n Predikant wat later uitgewys is as ‘n vals leraar het eenkeer m.b.t. ‘n anderskleurige gesê: ‘Ek sal nie ‘n #!@^$ in my kerk toelaat nie.’ Kontrasteer dit met die kerk waarin ek grootword het. Die leraar het in die plaaslike koerant geadverteer dat almal welkom is. Gedurende my jare op hoërskool was daar Russe, Finne, Bulgare, Vendas, Afrikaners, Engelse, Britte, Indiërs en Kleurlinge wat by die gemeente aangesluit het. Later was daar ook Nigeriërs en Portugese. Hieroor het die leraar teenstand gekry. ‘n Groep Afrikaners in die dorp het hom met briewe gedreig en rassistiese name van hom gebruik.

Maar volgens v.3-6 sluit die Here niemand uit, bloot omdat hulle anders lyk nie. Onder die ou verbond was daar nasionale verskille tussen Israel en die nasies (Deut. 23:3-8). Maar onder die nuwe verbond red die Here mense uit alle nasies (Matt. 28:19, Op. 5:9, 7:9). Hy sluit hulle nie uit nie, maar maak hulle eerder deel van sy volk (v.3, Ef. 2:11-22).

Die uitlander wat deur die geloof een is met Christus is vir die Here net so aanneemlik soos die Jood wat die Messias ontvang het. Soos die verloste Jood, leef die uitlander sy geloof in Christus uit deurdat hy:

  • Hom as priester dien (v.6, 66:21, 1Pet. 2:9),
  • Uit groot liefde vir sy Naam God se verbond in die Tien Gebooie hou (Deut. 6:5, Matt. 22:37-40, Joh. 14:15),
  • Die Sabbat heilig hou (v.6, 2, 58:13).

In die Here se oë is daar nie ‘n verskil tussen die Jood en die uitlander wat in die Messias glo en Hom gehoorsaam nie. Daar moet ook nie vir ons ‘n verskil wees nie. Ons deure moet oop wees vir almal. Dit is verstaanbaar dat taal in sommige gevalle ‘n hindernis kan wees. ‘n Chinees of Spanjaard wat by ons kerk instap, verstaan bv. nie Afrikaans nie, net soos wat ek nie by ‘n Chinese of Spaanse kerk kan aansluit nie. Maar al is die taal ‘n hindernis, moet ons soos Paulus bereid wees om ons regte prys te gee om mense vir Jesus te wen. Paulus het vir die Jood soos ‘n Jood geword om die Jode te wen, en vir die Griek soos ‘n Griek (1Kor. 9:19-23).

Prakties beteken dit o.a. dat jy jou taal sal prysgee en Engels sal praat indien dit iemand sal help om die te evangelie verstaan. Jy kan nie jou taal bo die evangelie stel nie. In 1931 het Martyn Lloyd-Jones vir ‘n Walliese skare in Trecastle gepreek. Toe hy die preek begin, toe sien hy mense wat nie Wallies verstaan nie, sodat hy besluit het om in Engels te preek. ‘n Kwaai Walliese man het hom daaroor berispe. Hy het die man skerp bestraf omdat hy sy taal bo die evangelie verhef.

Ons mag die Here in ons taal aanbid, maar ons moenie mense uitsluit omdat hulle uiterlik anders is as ons nie. Moenie soos die kerk in die apartheidsbedeling sê dat mense wat ‘n ander velkleur het nie welkom is nie. Die Here se huis is vir alle nasies (v.3, 7). In Louis Trichardt het ons tweetalige dienste gehou om te wys dat almal welkom is. Ons het dieselfde in Nelspruit gedoen. Dalk het dit tyd geword dat ons weer in hierdie rigting begin dink?

Jesaja sê verder vir die ontmandes: ‘Moenie sê: Ek is ‘n droë boom wat nie kan voortplant en kinders hê nie. Volgens Deut. 23:1 kan ek nie deel wees van God se volk nie.’ (v.3). Dit is waar dat Deut. 23:1 ontmandes uitgesluit het. Maar dit was juis sodat Israel nie hierdie wrede en onmenslike heidense gebruik sou volg om sodoende te verhoed dat God se volk voortplant nie. Onder die nuwe verbond kan die ontmande deel wees van God se volk (v.4-5, Hand. 8:26-40). Vir die Here gaan dit nie oor hoe jy uiterlik lyk nie, maar of jy in jou hart besny is (1Sam. 16:7, Hand. 10:34-35, Rom. 2:25-29, 1Kor. 7:19, Gal. 5:6, 6:15).

Om kinders te hê is nie naastenby so belangrik soos om deel te wees van God se kinders wat Hom op die Sabbat aanbid, Hom behaag en sy verbond in die Tien Gebooie hou nie (v.4). Die ontmande wat gered is en so lewe is soveel deel van God se volk soos die Jood en die heiden wat in Jesus glo en Hom gehoorsaam (v.2, 4, 6). Die ontmande kan nou wel nie kinders hê nie, maar as hy in Christus glo, kry hy ‘n beter geskenk as seuns en dogters. Hy kry ‘n ewige naam in God se huis (die kerk en die hemel) wat nie soos sy familienaam en manlikheid afgesny word nie (v.5, 49:15). Hy kan m.a.w. nie sy redding verloor nie. Sy naam is ‘n ewige en permanente monument soos God se Naam (v.5, 55:13, 2Tim. 2:19, Op. 3:12, vgl. 2Sam. 18:18).

Impliseer v.3b-5 dat ons nie homoseksueles moet uitsluit nie, maar dat ons ons deure vir hulle moet oopmaak sodat hulle deel kan word? Absoluut nie. In Jes. 56 gaan dit oor uiterlike verskille en nie oor mense wat in rebellie lewe teen tekste soos Gen. 19, Lev. 18:22, 20:13, Rom. 1:26-27, 1Kor. 6:9-10, 1Tim. 1:10 en Jud. 7 nie. In Jes. 56 sê die Here juis dat die kerk heilig moet lewe en nié onheilig moet wees soos die wêreld nie.

Indien ons gays as Christene en as deel van die kerk beskou, moet ons ook sê dat ander wat ongehoorsaam is aan die Bybel, gered is en deel is van die kerk: dronkaards, egbreukers, pedofiele, moordenaars, verkragters, rowers, leuenaars. En as ons dit doen, dan sê ons in effek dat daar nie eintlik ‘n verskil is tussen gelowiges en ongelowiges, tussen die kerk en die wêreld nie. Ek kies eerder om 1Kor. 6:11 te glo: “En dit was sommige van julle…”

 

  1. Mense sal bid (v.7)

In die Westerse samelewing is ons individualisties: elkeen leef privaat en op sy eie. Dit kom sterk deur in die kerk waar mense dink dat ‘n private verhouding met Jesus in jou huis belangriker is as om deel te wees van die liggaam: ‘Om alleen te bid en die Bybel lees is baie belangrik; om saam met ander te bid en die Woord van God te leer is opsioneel.’

Christene in die Nuwe Testament en die eeue daarna, het nie hierdie gesindheid geken nie. Hul het wel op hulle eie gebid, maar hulle het dit nooit ten koste van gesamentlike dissipelskap en gebed gedoen nie. Hulle het geweet dat die Here hulle nie eenkant gelos het toe Hy hulle red nie. Hy het hulle as die Nuwe Tempel na sy heilige berg toe gebring (v.7, 2:2-3, Ps. 24:3-4, 1Kor. 3:16-17, Ef. 2:19-22, 1Tim. 3:15, 1Pet. 2:5, Heb. 12:22). Hulle is die nuwe priesterdom wat soos die Ou Testamentiese priesters aanneemlike offers bring, dankbaar is en blymoedig saam bid (v.7, Joh. 16:24).

Dit is waar van elke ware gelowige en gemeente: ons is mense van gebed (v.7, Matt. 21:13, Hand. 1:14, 2:42, 4:24-31, 9:11, 12:5, 13:2-3, 14:23, 20:36, 21:5, Fil. 1:19, Kol. 4:12, Op. 5:8, 8:4-5). Ons bring geestelike offers (1Pet. 2:5). Maar selfs wanneer ons dit doen, weet ons dat daar altyd ruimte is vir verbetering. Indien jy nie deel is van ‘n biduur nie, wil ek jou aanmoedig om asb. by een in te skakel. Die kerk is immers ‘n huis van gebed (v.7).

 

Hoe kan jy beter dien en geestelike offers bring? Gee jouself vir Jesus (Rom. 12:1). Bid getrou vir jou broers en susters (Ps. 141:2, Spr. 15:8, Op. 5:8, 8:4-5). Loof die Here met lofgesange; dink wat jy sing (Heb. 13:15). Deel wat jy het (Heb. 13:16). Bring verlorenes na Jesus toe (Rom. 15:16). Dra by vir die armes, vir die gemeente en vir sendelinge (Fil. 4:18).

 

  1. Die kerk sal groei (v.8)

Ek ken ‘n predikant met ‘n baie groot gemeente. ‘n Mede-leraar het hom gevra: ‘For who’s glory is your church growing?’ Hy het gereageer: ‘For God’s glory. And for who’s glory is your church vrekking?’

Dit is byna asof ons dink dat dit geestelik is vir kerke om klein te bly en nie te groei nie. Maar volgens v.8 sal die Here sy kerk bou en dit laat groei. Toe Jesus op die aarde was, het Hy eers die Jode gered en daarna gelowiges uit die heidene bygevoeg (Joh. 10:16, 11:50-52). In die boek Handelinge sien ons bv. hoe die kerk gegroei het.

En sal ons nie nog steeds daarvoor bid en evangeliseer nie? Moet ons nie ‘n punt daarvan maak om vir bekerings en groei te bid, die evangelie te deel en mense kerk toe te nooi nie? Kan ons nie verwag dat die kerk sal groei nie? Dit groei al vir 2000 jaar deur die hele wêreld en dit sal so aanhou totdat Jesus kom (Matt. 16:18). Ek wil deel wees hiervan. Ek wil sien hoe die Here ook in ons gemeente werk en dit laat groei. Sal jy saam met my hiervoor bid?

Ek wens ek kon meer hieroor sê, maar die tyd het my ingehaal. Vir nou is dit genoeg om te sê dat die moderne siening van die kerk klein, swak en onbybels is. Die kerk is waardig van jou lewe en jou liefde. Dit is tog hoe jy jou toewyding aan Jesus wys: deur jouself aan sy liggaam toe te wy. As jy dit anders doen, dien jy ‘n vals Jesus wat ‘n Hoof sonder ‘n liggaam is.