Lewe voor Pinkster

Vatican Pope Doves

In Rom. 7:14-26 praat Paulus van ‘n man wat reg wíl doen, maar nie die vermoë het nie en aanhoudend misluk. Wie beskryf Paulus hier? Ek glo hy beskryf Ou Testament gelowiges wat geleef het voor Jesus die Gees uitgestort het op Pinkster, terwyl hy in Rom. 8 ‘n Nuwe Testament gelowige se lewe beskryf, noudat die Gees uitgestort is en permanent in ons woon.

Ek het nie Rom. 7 so verstaan voor ek dit hierdie week bestudeer het nie, maar van die sienings wat ek oorweeg het, maak dit nou vir my die meeste sin. Wat is die verskillende sienings? Daar is basies twee groepe.

[A] Rom. 7 beskryf ‘n gelowige wat teen die sonde stry. Geen ongelowige begeer gehoorsaamheid en haat die sonde nie (v.15, 18, 19). Hy is lief vir sy sonde en geniet dit. Geen ongelowige sê dat daar niks goed in hom is nie (v.18). Hy dink eerder dat hy nie so sleg is nie. Geen ongelowige kan sê dat hy God se wet in sy hart liefhet nie (v.22). Hy haat dit en wil dit nie doen nie (8:7-8). Geen ongelowige wil vry wees van die liggaam wat sonde doen nie (v.24). Hy sal sonde doen, al is dit sy laaste dag op aarde (Jes. 22:13). Geen ongelowige dank en prys God deur Jesus Christus nie (v.25). Hy roem in homself en dink hy het nie die Here nodig nie.

[B] Rom. 7 beskryf ‘n ongelowige wat nog vas is in sonde. Geen gelowige kan beskryf word as vleeslik of verkoop onder die sonde nie (v.14). Hy is vry en nie meer onder die sonde nie (6:14, 18, 22, 8:2). Geen gelowige is magteloos om reg te doen nie (v.18). Deur die Gees se krag kán hy reg lewe (8:4, 13). Geen gelowige hou aan met sonde nie (v.19, 1Joh. 3:6, 9). Geen gelowige is ‘n slaaf in die tronk van sy sonde nie (v.23, 26). Geen gelowige leef sonder die Heilige Gees soos die man in hierdie verse nie. Hy wandel eerder in die Gees (Gal. 5:16, 25).

Onder die bg. twee groepe is daar variasies. Hier is ‘n paar.

  • Die man in Rom. 7 is elke Christen wat tot in die graf teen sy sonde sal stry. Hy beleef ‘n spanning in sy hart. Hy is nie wie hy was nie, maar hy is ook nog nie wie hy wil wees nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n vleeslike Christen wat nog nie met die Gees gedoop is om in die oorwinning van Rom. 8 te lewe nie.
  • Die man in Rom. 7 is iemand onder sonde-oortuiging. Sy gewete is ontwaak, maar hy is nog nie weer gebore nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n nuwe Christen wat nog nie die lewe van oorwinning deur die Gees verstaan nie. Hy wil nog deur die wet geheilig word.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n ongelowige Jood. Hy wil deur die wet gered word, maar misluk a.g.v. die sonde in hom.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n gelowige Jood voor Pinkster. Hy is lief vir die wet en wil dit doen, maar sy sonde keer hom. Na Jesus se kruisdood, opstanding, en die uitstorting van die Heilige Gees, lei die Gees hom om die wet gehoorsaam (8:1-4).

Soos reeds gesê glo ek nou dat die laaste siening Rom. 7 die beste opsom. Ek is oortuig dat Rom. 8 alle gelowiges na Pinkster beskryf.

 

  1. Onvermoë (v.14-20)

Sowat 10 jaar gelede het iemand my ‘n boek geleen met die titel, Let go and let God. Ek het die idee gekry van ‘n passiewe heiligmaking waarin jy net bid, wag en nie veel meer doen nie. As jy aktief optree doen jy dit immers ‘in die vlees’. Dit is Keswick-teologie waarin die Gees jou eensklaps verander en jy nie weer met hierdie of daardie spesifieke sonde sukkel nie.

Maar te veel tekste wys dat jy jou moet bekeer, die Here gehoorsaam, in goeie dade volhard, jouself moet dissiplineer, hard teen die sonde moet stry, en tree vir tree moet groei. Dit gebeur soms dat ‘n Christen sekere sondes in ‘n oogwink los. Dalk gebeur dit met die persoon se bekering of daarna. Maar dit is nie so vir almal of altyd so met elke sonde nie. Jy kan nie sê dat iemand wat hard teen ‘n sekere sonde stry ongered is, ‘n klas 2 Christen wat nie met die Gees gedoop is nie, ‘n Christen wat nog in Rom. 7 lewe i.p.v. in Rom. 8, of ‘n vleeslike Christen wat nog nie in oorwinning lewe nie. Dit mag wees dat die persoon wat teen sy sonde stry meer volwasse is as jy, want hoe nader ‘n gelowige aan die lig kom, hoe meer raak hy bewus van hoe vuil sy hart is, en hoe harder stry hy.

Maar aan die ander kant kan jy nooit jou sonde verskoon en sê: ‘Ek kan dit nie help nie en het nie die vermoë om reg te doen nie.’ Die onvermoë in v.14-20 is die onvermoë van ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, en nie van ‘n Nuwe Testament gelowige ná Pinkster nie. Dit beteken egter nie dat die wet is sleg nie. Dit is heilig, regverdig, goed, geestelik en van God af (v.12, 14, 16).

In die Ou Testament wou die vlees die wet breek en was mense as slawe verkoop onder die sonde (v.14, Gal. 3:22-23). In die Nuwe Testament is Christene nie onder die wet en die sonde nie, en gee die Gees aan ons die vermoë om reg te doen (v.14, 6:14, 7:4, 6, 8:4).

Onder die wet en voor Pinkster het Ou Testament gelowiges dieselfde begeerte gehad as ons om reg te doen, maar nie dieselfde vermoë nie (v.15, 18, 19). Dit is nie dat hulle boos was en die wet wou breek nie, maar die sonde in hulle harte het hulle verhinder (v.17, 20). Die Gees het nog nie permanent in hulle gewoon om hulle te help nie. Volgens Rom. 7-8 maak die Gees ‘n opmerklike verskil.

Jy kan nie onvermoë pleit soos die gelowiges in v.14-20 wat voor die kruis en Pinkster geleef het nie. Jy kan nie leef soos die dissipels in Hand. 19:1-7 wat nog nie die krag van die kruis en die Heilige Gees ervaar het nie. Ja, jy stry nog met die sonde, maar deur die Gees kán jy reg doen en dit oorwin (Gal. 5:16-26, kontra v.15, 19).

Jy is vry van slawerny aan sonde en die wet (v.14, 6:22). Nou het jy die vermoë om met die Gees se hulp sondige gewoontes soos ‘n kort humeur, ooreet, wellus en verslawing uit te gooi, soos wat Nehemia Tobia se meubels uit die tempel gesmyt het (v.18, 8:13). Die Gees verander jou hart in ‘n aanneemlike woning vir Jesus (Ef. 3:16-17). Met Jesus en die Gees in jou, het jy meer voorregte as gelowiges wat onder die wet en voor Pinkster geleef het. Dus kan jy met God wandel soos Henog en Noag, opreg wees soos Daniël en Job, lojaal soos Rut en Maria Magdalena, toegewyd soos Dawid, doelgerig soos Nehemia en vol van die Woord soos Esra. Jesus het gesê:

“Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Matt. 11:11).

Wat het Hy bedoel? Omdat hy Jesus se voorloper was, was Johannes die Doper die grootste van die Ou Testament profete (al is sy storie in die Nuwe Testament opgeteken). Maar ons leef na die kruis en Pinkster, en is dus meer bevoorreg as hy. Daarom kan jy wees soos ander gelowiges wat dieselfde Gees as jy het: Paulus vir wie Jesus alles was, Johannes wat Hom liefgehad het, Lidia wat ‘n oop hart gehad het, Stefanus wat vol was van geloof en die Heilige Gees, Timoteus wat ‘n goeie karakter gehad het.

Jy kan so biddend wees soos David Brainerd en Martin Holdt, so heilig soos Robert Murray M’Cheyne, so God-gesentreerd soos Jonathan Edwards en Martyn Lloyd-Jones, so lief vir verlorenes soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Seth Meyers en Shaun Havenga. Jy kan so getrou wees soos oom Andries Rossouw, oom Malvin en tannie Ronell O’Donovan. Jy kan so vrolik wees soos tannie Gwen Bruwer, Heilet van den Berg, tannie Wilna Fourie, Ansi van der Westhuizen en Soné van der Westhuizen.

Jy kan so lief wees vir mense soos Jaco van Wyk, tannie Anna Engelbrecht, tannie Nellie Nel en Jannie Vosloo. Jy kan so ywerig wees om te leer soos oom Mike Fourie en Rex Jefferies. Jy kan so behulpsaam wees soos Van Zyl de Villiers en tannie Babs Grové. Jy kan so gasvry wees soos Koos en Gerdha van der Westhuizen. Jy kan so georden wees soos Jenna O’Donovan. Jy kan so wys wees soos Roelf Power, Deirdrè Jefferies, tannie Etrechia de Villiers en tannie Bessie van Rooyen. Ek kan aanhou, maar ek is seker jy kry die punt.

Met die Heilige Gees in jou sal jy op die einde soos Jesus wees (2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2). Dit is tog waarvoor die Here jou gemaak het (Rom. 8:29).

 

  1. Oorlog (v.21-26)

Enige Christen wat sê dat hy nie in sy hart teen sonde stry nie lieg, of het laasweek tot bekering gekom. Tog glo ek nie dat dít die stryd is wat Paulus in Rom. 7 beskryf nie. Soos reeds gesê gaan dit hier oor iemand wat reg wíl doen, maar ‘n slaaf is onder die wet. Al persoon wat in hierdie kategorie val is ‘n gelowige wat voor die kruis en Pinkster geleef het. Hy is lief vir die wet en wíl reg doen, maar daar is ‘n beginsel in hom wat sê dat die sonde naby lê, dat dit sy liggaam gyselaar [Eng. hostage] hou en keer dat hy die heilige begeertes binne hom uitvoer (v.21-23, Ps. 1:2, 19:11, 112:1, 119:14, 16, 24, 35, 47-48, 70, 77, 97, 143, 174).

Dit frustreer hom: hy sien dat hy ‘n ellendige, verwronge en gebroke mens is (v.24). Hy wil vry wees van hierdie sterflike liggaam wat sonde doen (v.24). Wie kan hom vry maak? Volgens Paulus kan net Jesus hierdie frustrasie oplos (v.25). Deur sy kruisdood het Hy die sondige liggaam tot niet gemaak (6:6). Nou kan ons in ons liggame reg doen en die sonde oorwin (6:6, 13-14). Die Heilige Gees help ons om dit reg te kry (1Kor. 6:19-20).

Wanneer Jesus weer kom sal die Gees ook ons liggame opwek en dit nuut maak (8:11, 23). Hy sal vir ewig in ons woon, sodat ons nooit weer sonde doen nie. Dit is wat 1Kor. 15:44 met die ‘geestelike liggaam’ bedoel [Gk. pneumatikos, vgl. Gal. 6:1].

Ter opsomming sê Paulus in v.26 (v.25 in Engels): ‘Ou Testament gelowiges dien die wet in hulle gemoed, maar die sonde in hulle harte oortree dit.’ So eindig Rom. 7 dan sonder ‘n oplossing van hoe om die sonde te oorwin. Daar is ‘n flikkering van hoop in v.6 en 25, maar Paulus brei nie hierop uit nie. Sy punt in Rom. 7 is om te sê dat jy nie die sonde kan oorwin deur die wet te hou nie. Daar is iets (of eerder, Iemand) sterker as dit nodig: die Heilige Gees.

Maar daarvoor moet jy wag tot ons in hfst. 8 kom. Vir nou moet jy sorg dat jy nie lewe soos ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, asof daar geen kruis, opstanding en Pinkster is nie. Jy kan nie leef asof die Gees nie uitgestort is, en asof die keuse tussen sonde en gehoorsaamheid ewe sterk is nie.

Nee! Daar is nuwe beginsel wat in jou werk. Jy is ‘n nuwe mens. Die ou dinge is verby (2Kor. 5:17). Vir die gelowige is sonde nie deel van wie jy is nie. Dit is nié meer normaal, menslik of iets wat jy nie kan help nie. Dit is abnormaal. Gehoorsaamheid is normaal. Jy het nie net die Woord in jou hart lief, sonder dat jy die vermoë het om te doen wat jy in die prediking of in jou stiltetyd leer nie (v.22-23). Deur die krag van die Heilige Gees kan jy doen wat die Here sê.

Ja, die stryd teen sonde is hard. Maar die Gees in jou is sterker en heeltemal bevoeg, sodat jy jou sonde kan oorwin (8:13). Moenie kerm en kla dat jy nie jou sonde kan wen nie. Vertrou op die Heilige Gees en veg! Gee jouself hart en siel aan Jesus Christus. Leef in konstante gemeenskap met Hom deur geloof in sy Woord, deur gebed en deur die kerk. Jy kan onmoontlik dieselfde bly na dit. Kan jy vol wees van die Heilige Gees en nié verander nie?

Voor Pinkster was Petrus so bang soos ‘n hoender. Maar toe Pinkster aanbreek en die Gees hom vul, was hy so dapper soos ‘n leeu. En kan die Heilige Gees jou nie help teen hierdie of daardie sonde wat jou al vir jare onderkry nie? Luister: sonde kan nie wen nie. Soms wond dit jou in ‘n veldslag, maar die uitkoms is alreeds bepaal deur Jesus wat dit deur sy kruisdood oorwin het.

Ons misverstaan die Christelike lewe as ons sê dat die Here jou uit Egiptiese slawerny verlos het, jou nou in die woestyn lei waar sonde nog die oorhand kry, jou deur die Jordaan van die dood lei, en dat jy vir die Beloofde Land moet wag. Eintlik werk dit anders. Die Here het jou uit Egipte en die woestyn gebring. Jy het reeds die ewige lewe. Jy is tans in die Beloofde Land waar die Heilige Gees jou help om die vyand te verdryf. Wanneer jy finaal oorwin het, sal jy die ewige rus van die Beloofde Land geniet.

Ja, jy is nog nie in die hemel nie. Maar jy nie leef ook nie soos die Ou Testament gelowiges voor Pinkster nie. Jy leef nie meer in Rom. 7 nie. In die volgende preek sal ek jou wys dat Rom. 8 nie vir super-geestelike Christene is nie, maar dat dit die normale Christelike lewe beskryf. Rom. 8 is nie die uitsondering nie, maar die reël.