Beter dae vir Israel en die kerk

Church in ruins

Wat vir ‘n tema is dit? Alles dui dan daarop dat dinge van sleg na erger beweeg. Hoe is daar ‘n toekoms vir Israel as hulle gedurig aan die baklei is? Die Kerk vaar nie veel beter nie. Vat maar ons eie land as ‘n voorbeeld. Kerke loop leeg. Die meeste mense is op ‘n Sondag in die mall, by die huis, langs die viswaters, of hulle ry fiets. Die Prosperity Gospel is groot onder die Afrika-kulture. Afrikaners is onstabiel en glo enigiets wat met Jesus se Naam geassosieer word.

Gays het die kerk geïnfiltreer en wil dit domineer. Dink maar aan hulle reaksie teen Gretha Wiid se uitsprake teen homseksualiteit. Dink aan dr. Frits Gaum wat die NG-Kerk voor die hof gedaag het, omdat hy wil hê dat hulle gays moet aanvaar. Die regering wil druk dat alle predikante gays móét trou, en dat kerke nie die Bybel mag interpreteer sodat dit gays uitsluit nie.

En dit is maar net Suid-Afrika. Wat van die res van die wêreld? Hoe kan ek dan sê dat daar beter dae op ons wag? Jes. 49:8-26 en soortgelyke tekste sê so. Jesaja praat van Israel wat uit Babilon bevry is, maar sy profesie het ‘n verdere en voller vervulling in die toekoms. Indien dit nie so is nie, wat beteken dit dan?

Dalk sê jy: ‘Maar dit lyk dan nie of dinge beter raak nie’? Maar dit is soos ‘n Ou Testamentiese Jood wat sê dat die Messias nie sal kom nie, omdat hulle in Babilon sit en dit nie kan sien nie. Jes. 49 sal vervul word. Dalk stem ons nie saam oor wanneer dit gaan gebeur nie, maar jy kan nie ontken dat dit oppad is nie. Wat sal God vir Israel en die kerk doen?

 

  1. Hy sal ons red (v.8-9b)

R.C. Sproul het eenkeer gesê: ‘People say: Jesus saves, Jesus saves. What does Jesus save us from? Jesus saves us from God.’ Hy het bedoel dat Jesus ons van God se toorn red. Jesus red ons ook van die mag van sonde. Hy het nie net die volk uit Babilon gered nie, maar van hulle sonde. Hy het ons straf aan die kruis gedra en gevra dat die Vader ons moet vergewe (Luk. 23:34). Die Vader het Hom gunstig geantwoord (v.8). Die Ou Testament was ‘n tyd van straf onder die wet (Gal. 3:22-24). Die Nuwe Testament is ‘n tyd van verlossing onder sy genade (v.8, Joh. 3:16-17, 2Kor. 6:2).

Jy kan dus nie sê dat die Here jou nie ‘n kans gegee het om jou te bekeer nie. Jy is dom as jy dit mis, aangesien dit op ‘n goue skinkbord vir jou gegee word. Oral rondom jou is daar kerke, Bybels, Christene, die evangelie, goeie geestelike boeke en allerhande behoudende bronne op die internet. Moenie hierdie voorregte misbruik nie. Dit is jou eie skuld as jy hel toe gaan.

God het die Messias bewaar en Hom as ‘n verbond vir die volk gegee (v.8, 42:6). Hy na Israel toe gekom om hulle met sy bloed te koop en deel van God se familie te maak (v.8, 3, 5-6, Luk. 22:20). Om Gen. 15 te vervul sal Hy hulle eendag terugvat na die Land toe (v.8). Hulle sal daar bly en nie weer weggevoer word nie (v.8). Hulle moet eers terugkeer na die Here toe (v.5-6), voordat hulle kan terugkeer na die land toe (v.8).

Om sy kinders terug te bring het die Here hulle uit Babilon bevry, asook uit die donker tronksel van onkunde en sonde (v.9, 42:7, 61:1, Luk. 4:18, Ef. 4:17-18, Kol. 1:12-13, 1Joh. 1:5-10). Is jy daarvan bevry? Of sit jy nog in die donker? Roep die Here aan tot Hy jou antwoord. Hy sal jou red. Bid ook vir ander wat nog in boeie is. Vra dat die Here hulle sal red.

 

  1. Hy sal ons lei (v.9c-12)

‘n Vriend van my gebruik die volgende illustrasie met mense wat belangstel om lidmate van die gemeente te word. ‘Ek is ‘n busdrywer. Wie van julle wil op die bus klim en saamgaan?’ Die meeste mense steek hulle hande op. Dan vra hy hulle: ‘Wie weet waarheen ons oppad is? Hoe wil julle dan op die bus klim as julle nie weet waarheen ons gaan nie?’ Hy verduidelik dan dat die kerk so is, en dat ons moet weet waarheen die gemeente oppad is. Ons moenie net opklim nie.

Ek wil die illustrasie aanpas en vra waarheen die Here ons lei? Volgens Jesaja sal Hy sy kinders terug lei na Homself en die Land toe (v.5-6, 8). Terwyl die volk daarheen oppad is, sal Hy vir hulle sorg soos ‘n herder wat genoeg weiding en water vir die skape gee (v.9-10). Hy sal selfs die kaal heuwels in groen weiding verander, en vir die skape meer as genoeg gee: daar sal ‘n oorvloed wees soos in die tuin van Eden, soos toe Jesus die broodjies en vissies vermeerder het en daar twaalf mandjies vol oorgebly het (v.9-10, Matt. 14:20).

Hierdie belofte geld nie net vir Israel nie, maar vir ons ook: die Here is ons herder wat ons lei en versorg (Ps. 23, Joh. 10, Op. 7:16).

Omdat die Messias sien dat sy volk weerloos is, bejammer Hy hulle (v.10). Hy sal hulle na strome van lewende water toe lei (v.10). Weereens geld die belofte deur Jesus en sy Gees vir ons ook (v.10, 44:3, Ps. 23:2, Joh. 4:14, Joh. 7:37-39, Op. 7:17, 21:6, 22:17).

Soos die wolkkolom in die woestyn, sal die Messias sy volk teen die elemente beskerm (v.10). Hy sal ons ook beskerm (4:5-6, 25:5, Ps. 91:1, 4, 105:39, 121:6, Jona 4:8, Op. 7:16). Hy sal sy volk se paaie gelyk maak (v.11, 40:4, Ps. 143:10, Prov. 3:6). Dit geld vir die Jode en uitverkorenes uit alle nasies (v.12, 22, Ps. 107:3, Matt. 8:11, 24:31, Luk. 13:29, Op. 21:13).

Wat beteken hierdie verse prakties? Dalk is jy op ‘n plek waar jy regtig nie ‘n goeie kerk kry nie. Vat dan die tweede beste. As jy regtig niks kry nie moet jy bid dat die Here iemand vir jou sal stuur. Lees, bid en luister na goeie preke saam met hierdie persoon (bv. John MacArthur se preke op die internet). Deel die evangelie met mense en bid dat die Here nog mense na jou toe sal stuur. Jesus is die Goeie Herder en sal hierdie mense na jou toe bring.

Dit geld slegs as jy regtig nie ‘n goeie gemeente vind nie. Ek praat nie hier met mense wat buite die kraal van Christus se kerk staan en verwag dat Hy hulle moet help nie. Hy sal jou nie help nie, omdat jy die middele wat Hy tot jou beskikking stel verag. Dit is arrogant om ‘n gemeente te verlaat wat die Bybel preek en heilig lewe, net omdat hulle nie presies soos jy glo nie (asof jý die standaard is van wat dit beteken om ortodoks te wees). Vra die Here se vergifnis vir jou gesindheid en skakel in by ‘n gemeente. Gebruik elke geleentheid om meer van die Here en sy Woord te leer. Raak betrokke. Moenie soos ‘n toeskouer op die kantlyn staan en die spelers kritiseer nie. Stap op die veld en speel jou posisie.

 

  1. Hy sal ons troos (v.13)

Waaraan dink jy as jy aan God dink? ‘n Helder lig? ‘n Verterende vuur? Jy is nie verkeerd nie. Maar dit is net ‘n halwe beeld. Dink ook aan ‘n Persoon wat vertroos, omgee en Hom oor ons ontferm. Hy is die God van vertroosting en ontferming (v.13, Eks. 34:6-7, Ps. 103:13, Luk. 15:20, 2Kor. 1:3). Dit hoe Jesus Hom aan ons geopenbaar het (v.10, 40:2, 52:9, Matt. 9:36, 14:14, 15:32, Luk. 2:25, 7:13, 13:34, 19:41).

God ontferm Hom oor verlore sondaars. Ons is dikwels ongevoelig en hard; ons oordeel ongelowigs. Soos Paulus en Stefanus het ons Jesus se hart nodig (Hand. 7:60, Rom. 9:1-3). God ontferm Hom ook oor sy kinders wanneer Hy hulle tugtig (Klaagl. 3:32-33). Ons is weereens te hard en het min genade wanneer mense sonde doen. En tog wens ons dat die Here en ander mense genadig met ons moet wees wanneer ons sondig.

Is jy nie dankbaar dat die Here jou vergewe en nie hanteer soos wat jy ander mense hanteer nie? Dank Hom vir sy ontferming. Die hemel juig oor God se genade, terwyl die aarde en berge dit eggo (v.13, 40:9, Luk. 15:7, 10, 22-25). Voeg jou stem by die koor!

Raise your joys and triumphs high, Hallelujah!

Sing, ye heavens and earth reply: Hallelujah!

-Charles Wesley-

 

  1. Hy sal ons onthou (v.14-16)

My ouma is 93. Sy vergeet eenvoudige dinge en praat deurmekaar. Sy dink bv. dat die oue tehuis ‘n groot pastorie is, en dat een van ons lidmate wat onlangs oorlede is vir baie jare my predikant was.

Die Here vergeet nie, al dink ons soms so wanneer ons deur beproewing gaan (v.14). ‘n Ma kan haar kind vergeet en nie oor hom ontferm nie (v.15). Dalk gooi sy die kind weg, laat sy hom aanneem, of vermoor sy hom in die baarmoeder (v.15). Die Here is nie so nie (v.15, 44:21, Matt. 28:20, Heb. 13:5). Jy is altyd in sy hart en gedagtes. Hy het jou in sy hande gegraveer (v.16). Die spyker merke in sy hande sal altyd daar wees; Hy sal jou nie vergeet nie (Joh. 20:25-27).

Jerusalem se mure is ook altyd voor Hom (v.16). Hy sal daarom nie die verloste inwoners van die Nuwe Jerusalem vergeet nie. Dank Hom daarvoor en vra vergifnis dat jy soms sy liefde en omgee in twyfel trek.

 

  1. Hy sal ons vermenigvuldig(v.17-22)

Voor die 1860 herlewing in die Wes-Kaap was daar min mense by die gemeentes se bidure. Toe die herlewing kom was die bidure vol. Die gemeentes moes hulle kerkgeboue vergroot. Iets soortgelyk het gebeur toe Martyn Lloyd-Jones in die vroeë 1930’s gepreek het. Voor daardie tyd was daar min mense in die kerk, en baie min by die bidure. Maar toe die herlewing kom was dit stampvol. Lloyd-Jones het per uitnodiging by ander gemeentes gaan preek. Die grootste geboue was te klein. Soos in Spurgeon tyd het honderde mense teleurgesteld huistoe gegaan omdat daar nie genoeg plek was nie.

Dit sal weer so wees in die toekoms. Wanneer die Here sy kinders se vyande straf (bv. Babilon), sal Hy sy volk in groot getalle in die Nuwe Jerusalem inbring (v.17-18). Die stad wat leeg was sal vol mense wees, soveel soos die sand van die see en die sterre van die hemel (v.18-21, Gen. 1:28, 22:17). Mense sal uit alle rigtings kom en die stad met hulle teenwoordigheid versier soos wat juwele ‘n bruid versier (v.18, 12, Op. 21:2, 11, 18-21). Die stad sal te samal wees vir al die mense, en sal daarom moet uitbrei (v.19-20, 54:2, Esg. 36:37).

Waar sal al hierdie mense vandaan kom as God die Jode verstrooi het en hulle kinders gesterf het (v.20-21)? God sal die heidene roep om by die Jode aan te sluit (v.22, 2:2-3, Ef. 2:11-22, 3:6, Op. 21). Volgens Hand. 1-28 het die Jode die evangelie na die heidene toe gevat, maar in die toekoms sal die heidene dit weer na die Jode toe vat. Die nasies sal die Jode na die Here toe ‘dra’, soos wat ouers hulle kinders dra (v.22).

Daar is ‘n vreemde verlange in my hart as ek aan hierdie dinge dink. Ek begeer dat God die kerk sal vermenigvuldig. Ek wag regtig op beter dae in die toekoms, beide vir die kerk en vir Israel. Ek bedoel nie dat ek ‘n ou Suid-Afrika soek waar mense kerk toe gaan nie. In die ou Suid-Afrika was baie Afrikaners skynheilig en vals, en het hulle maar net uit tradisie kerk toe gegaan.

Ek begeer eerder ‘n herlewing met ware bekerings in groot getalle. Ek begeer dat die Jode na die Messias toe moet draai soos wat Rom. 11 sê. Maak dit deel van jou gebede. Bid dit in jou gemeente se bidure. ‘Besoek U werk, O Heer!’ (Hallelujalied 134). Maar begeer die volheid hiervan in die Nuwe Jerusalem wanneer Jesus kom. Daar sal nie te min plek wees, sodat ons groter kerke moet bou nie. Die gelowiges sal meer as die sand wees (Op. 7:9), maar daar sal oorgenoeg plek wees vir almal (Op. 21:16).

 

  1. Hy sal ons verhoog (v.23)

Verbeel jou jy besoek Buckingham Paleis in Engeland. Die koningin en haar familie is daar. Almal van hulle buig laag voor jou neer. In die toekoms sal God se kinders die hoogste wees. Selfs koninklike mense sal hulle bedien en voor hulle neerbuig (v.23, Op. 3:9). Wag maar vir die vervulling van hierdie profesie. Jy sal nie teleurgesteld wees en sê: ‘God het gelieg’ nie. Wanneer God sy belofte verul, sal jy weet dat Hy die Here is (v.23).

Moenie wêreldse eer in hierdie lewe soek nie: ‘n top posisie, roem, populariteit, ens. Dit sal jou nie versadig nie; jy sal leeg bly. Wag tot die Here jou verhoog: jy sal nie spyt wees nie (v.23). Mense se ‘streamers’ en applous is niks teen hoe die Here jou voor die wêreld se oë sal verhoog nie.

 

  1. Hy sal ons verdedig (v.24-26)

Ek het Maandag saam met iemand gaan ontbyt eet. Ek het vir hom gesê ek is optimisties oor die eindtyd. ‘Maar volgens wat in ons land aangaan lyk dit nie of my teologie waar is nie,’ het ek gesê. Hy het gereageer: ‘I don’t think that we should build our theology on what we see or do not see around us.’ Hy was reg. Ons wandel immers nie volgens wat ons kan sien nie, maar deur die geloof (2Kor. 5:7).

Israel het die belofte van die Messias se verlossing gehoor, maar niks gesien nie en daarom gewonder hoe Hy hulle uit Babilon se mag sal bevry (v.24). En hoe sal Hy ons van die bose wêreld, sonde en die duiwel verlos? Jesus is die Verlosser en Magtige van Jakob (v.26). Hy is sterker as die magtige tiran, en sal ons uit sy hand red (v.24-25, Matt. 12:29, Luk. 11:22).

Hy sal vir ons veg teen Kommunisme in Noord-Korea, Islam in die Midde-Ooste, Hindoeïsme in Indië, evolusionisme en gay aktivisme in die weste, en elke ander vyand wat die kerk op een of ander manier vervolg (v.26, Sag. 2:8). Hy sal almal van hulle tot ‘n val bring sodat hulle hulleself vernietig (v.26, Ps. 110:1). Dié wat sy kinders se bloed stort sal eendag hulle eie bloed moet drink (v.26, Op. 16:6, 17:6).

Dalk dink jy dat dit onrealisties is om so optimisties te wees. Ek is nie blind vir wat in Suid-Afrika en die wêreld aangaan nie. Ek steek nie my kop in die sand soos ‘n volstruis nie. Ek glo nie soos Christian Science dat alles net in jou kop is nie. Ek dink nie soos party mense dat jy lewe moet spreek om alles beter te maak nie. En tog sien ek Jes. 49 en ander sulke tekste wat uitstaan soos ‘n seer duim. Ek kan dit nie ignoreer, bloot omdat dit nie pas by wat ek rondom my sien nie. Jy kan nie toelaat dat die sigbare wêreld jou van die onsigbare laat vergeet nie.