Paasfees, Ishtar en Eostre

Easter bunny and eggs

Die Christelike wêreld swem met blog inskrywings, artikels, boeke, en DVD seminare wat sê dat die viering van Paasfees onstaan het by die godin van vrugbaarheid, liefde, seks en oorlog. Die antieke Sumeriërs het haar Inanna genoem. Haar Babiloniese naam was Astarte en haar Assiriese naam Ishtar. Sy is later met die Romeinse godin Venus geassosieer. Op 28 Maart 2013 was daar ‘n uitbeelding van Ishtar op die Richard Dawkins Foundation for Science & Reason se Facebook blad. In ‘n poging om te wys hoe dom Christene is, het hulle die volgende inskrywing gemaak:

‘This is Ishtar: pronounced “Easter”. Easter was originally the celebration of Ishtar, the Assyrian and Babylonian goddess of fertility and sex. Her symbols (like the egg and the bunny) were and still are fertility and sex symbols (or did you actually think eggs and bunnies had anything to do with resurrection?). After Constantine decided to Christianize the Empire, Easter was changed to represent Jesus. But at its roots, Easter (which is how you pronounce Ishtar) is all about celebrating fertility and sex.’

Dawkins dwaal. Daar is geen bewyse dat ons Ishtar as ‘Easter’ moet uitspreek nie. Dit is soos om te sê dat die Engelse woord ‘hail’ en die Afrikaanse woord ‘huil’ dieselfde beteken omdat dit eenders klink. Daar is ook nie gronde om te sê dat Ishtar se simbool hase en eiers is nie. Baie mense herhaal maar net wat hulle by iemand anders gehoor het, en kan nie uit primêre bronne, argeologiese opgrawings en antieke dokumente bewys dat dit so is nie. Antieke kunswerke en opgrawings assosieer nie vir Ishtar met eiers en hase nie, maar wys haar eerder met ‘n agt-puntige ster bo haar kop en haar voet op ‘n leeu. Later het die roset haar simbool geword.

Die meeste gelowiges wat Paasfees [Eng. Easter] teenstaan sê dat dit van die Anglo-Saksiese godin Eostre af kom. Volgens hulle was sy die godin van dagbreek en lente. Net soos wat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het Eostre in die lente nuwe lewe laat opspruit. Die idee dat Paasfees van haar af kom het by ‘n Britse monnik genaamd Bede (673-735 n.C.) ontstaan. Volgens hom het die heidene van ou Engeland haar in April-maand [Eosturmonath in ou Engels] vereer. Blykbaar vermeld die ou Engelse gedig Beowulf (geskryf tussen 975 en 1010 n.C.) ook vir Eostre, maar ek het die gedig nageslaan en kon nie die sg. verwysing na Eostre kry nie. Een blog haal die volgende een aan, maar niemand wys waar in die oorspronklike gedig hulle hulle inligting vandaan kry nie.

In die 19de eeu het ‘n Duitser genaamd Jakob Grimm gesê dat Bede se idee van Eostre van die Germaanse godin Ostern (Ostarâ in ou Duits) af kom. In sy Deustche Mythologie of Teutonic Mythology sê hy: ‘Die groot Christelike fees [Paasfees], wat gewoonlik in April of aan die einde van Maart val, het in ou hoë-Duits die naam ôstarâ gehad… Hierdie Ostara, soos die Anglo-Saksiese Eástre, het in die heidense godsdiens op ‘n hoër wese gedui. Haar aanbidding was so gevestig dat die Christelike leraars haar naam verdra en op een van hulle grootste herdenkings toegepas het… Dit blyk dus dat Ostara, Eástre die godin van die stralende oggendlig was wat blydskap en seën bring, en dat die betekenis daarvan maklik aangepas kon word by die opstandingsdag van die Christen se God.’

Dit mag miskien oortuigend klink, maar Grimm lewer geen bewyse dat daar ‘n godin soos Eastre (Eostre) of Ostara was nie. Buiten vir die inskrywings deur Bede en Grimm, is daar nêrens enige rekord van godinne genaamd Eostre of Ostara nie. Indien daar wel so ‘n bron is vra ons dat die opponente van Paasfees dit op die tafel sal sit. Die gevolgtrekking is duidelik: om te sê dat Paasfees van Ishtar af kom, dat hase en eiers haar simbole van vrugbaarheid is, dat Eostre ‘n ander naam vir Ishtar is, dat Eostre bestaan het, of dat die Engelse woord Easter van Eostre af kom, is pure spekulasie.

 

Die vroeë kerkvaders

Christene het van die heel begin af Paasfees gevier om Jesus se opstanding te herdenk. In die jaar 154 of 155 n.C. het Polikarpus van Smirna (69-155 n.C.) vir Anicetus van Rome (92-168 n.C.) hieroor besoek. Die Christene in klein Asië of Wes-Turkye het Paasfees tydens die Joodse Pasga op 14 Nisan (gewoonlik in Maart of April) gevier, en dit daarna afgesluit met die nagmaal. Omdat die Jode volgens die maankalender werk, kon Paasfees op enige dag van die week val.

Die Christene in Rome, Alexandrië, Israel en ander dele van die Ryk het Paasfees op die eerste Sondag na die Joodse Pasga gevier. Polikarpus het van Smirna af Rome toe gereis om met Anicetus hieroor te praat. Sy doel was om te sien of hulle tot ‘n vergelyk kon kom. Hulle kon mekaar nie oortuig nie, maar om te wys dat hulle nie kwaad was vir mekaar nie het Anecitus vir Polikarpus gevra om die nagmaal te lei en te bedien. Hulle het in vrede verdaag en die eenheid van die kerk bewaar.

Enkele dekades na hierdie ontmoeting (teen die einde van die 1ste eeu n.C.), het kerkleiers in verskeie dele van die Ryk bymekaar gekom om oor die saak te besluit. Leiers soos Theofilus van Cesarea, Narcissus van Jerusalem, Victor van Rome, Palmas in Pontus, Ireneus in Gallië (Frankryk), Bacchylus in Korinte, en baie ander het saamgestem dat Paasfees op die eerste Sondag na die Joodse Pasga gehou moes word. Die gemeentes van klein-Asië het egter nog steeds nie saamgestem nie.

‘n Sekere Polikrates (nie Polikarpus nie) van Efese (125-196 n.C.) het ‘n brief vir Victor van Rome gestuur. Hy het gesê dat Filippus die Evangelis, drie van sy dogters, die apostel Johannes, Polikarpus van Smirna, Thraseas van Eumenië, Papirius van Smirna en Melito van Sardis almal Paasfees op 14 Nisan tydens die Joodse Pasga gevier het. ‘Ek en my familie sal hulle voorbeeld nagevolg,’ het hy gesê. Hulle was nie van plan om soos Victor en die ander gemeentes in die Romeinse Ryk Paasfees op die eerste Sondag na 14 Nisan te vier nie. ‘Ons moet aan God gehoorsaam wees meer as aan mense,’ het hy gesê.

Victor het die weerspannige gemeentes van klein-Asië van die breër liggaam van Christus afgesny. Die gemeentes van klein-Asië het in protes gereageer. Verskeie kerkleiers het teen Victor geskryf en gevra dat hy eenheid, broederliefde en vrede moet najaag. Ireneus (130-202 n.C.) van Gallië het nou wel geglo dat Paasfees op die eerste Sondag na 14 Nisan gevier moes word, maar hy het vir Victor gevra om nie hele gemeentes af te sny net omdat hulle nie ‘n antieke tradisie navolg nie. Hy het hom aan Polikarpus en Anecitus se mooi gesindheid herinner. Hy het ook gesê dat ander vroeë Christene oor die saak verskil het, maar dat nie een van hulle as gevolg daarvan afsny is nie. Hy het vir verskeie kerkleiers geskryf en sodoende vrede bewerk.

By die Raad of Konsillie van Nicea in die 4de eeu n.C. het die kerk finaal besluit om Paasfees op die eerste Sondag na die Joodse Pasga te vier, en nie op 14 Nisan self nie. Gedurende hierdie tyd het die kerk besluit om nie net Paassondag te vier nie, maar om ook meer te maak van Goeie Vrydag. Maar beteken dit dat hulle Goeie Vrydag uitgedink het?

 

Is Jesus op ‘n Vrydag gekruisig?

Heelwat mense dink dat Jesus nie op ‘n Vrydag gekruisig is nie, maar op ‘n Woensdag. Dit sê hulle dit op grond van Matt. 12:40: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” Volgens hulle berekeninge moes Jesus vir drie volle dae en nagte in die graf wees. Maar die Jode het selfs net ‘n deel van ‘n dag as ‘n dag gereken. Die Jewish Encyclopedia sê:

‘In Jewish communal life part of a day is at times reckoned as one day; e.g., the day of the funeral, even when the latter takes place late in the afternoon, is counted as the first of the seven days of mourning; a short time in the morning of the seventh day is counted as the seventh day; circumcision takes place on the eighth day, even though of the first day only a few minutes remained after the birth of the child, these being counted as one day. Again, a man who hears of a vow made by his wife or his daughter, and desires to cancel the vow, must do so on the same day on which he hears of it, as otherwise the protest has no effect; even if the hearing takes place a little time before night, the annulment must be done within that little time.’

Die punt is eenvoudig dat Matt. 12:40 se drie dae en drie nagte in die graf nie noodwendig impliseer dat Jesus op ‘n Woensdag gekruisig is nie. Dit is heeltemal moontlik (en ook meer waarskynlik) dat Hy op die Vrydag gekruisig is. Hoe weet ons dit?

Jesus het deur sy kruisdood, begrafnis en opstanding drie opeenvolgende Feeste vervul: die Pasga, die Fees van Ongesuurde Brode en die Fees van die Eerstevrug (Lev. 23:4-11). Toe Jesus sterf het Hy die Pasga vervul: Hy is die Lam van God wat in ons plek geoffer is (1Kor. 5:7). Op die volgende dag het Hy die Fees van Ongesuurde Brode vervul, omdat Hy deur sy dood die suurdeeg van ons sonde verwyder het (1Kor. 5:6-8). ‘n Dag later het Hy die Fees van die Eerstevrug vervul, deurdat Hy die eerstevrug uit die dode is wat ons opstanding in die toekoms verseker (1Kor. 15:20-23).

As Jesus dan drie opeenvolgende Feeste vervul het, kon Hy nie op ‘n Woensdag gekruisig wees nie. Indien dit so was is die Pasga op ‘n Woensdag vervul, die Fees van Ongesuurde Brode op ‘n Donderdag, en die Fees van die Eerstevrug op ‘n Vrydag. Dan moet ons sê dat Jesus op ‘n Vrydag opgestaan het uit die dood.

Die waarheid is eerder dat Hy op ‘n Vrydag gekruisig is. Volgens Lev. 23:5-7 het die Jode die dag ná die Pasga as ‘n Sabbat beskou. Dit het nie noodwendig op ‘n Saterdag geval nie. As die Pasga bv. op ‘n Maandag begin het, het hulle die Dinsdag as ‘n Sabbat gevier. Maar as die Pasga op ‘n Vrydag geval het, het hulle die volgende dag as ‘n dubbele Sabbat beskou en dit ‘n groot Sabbat genoem. Joh. 19:31 praat van die Sabbat na Jesus se kruisdood as ‘n groot Sabbat, wat bevestig dat Hy op die Vrydag gekruisig is.

‘n Paar dekades na die apostel Johannes dood is het Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) gesê: ‘Want Hy [Jesus] is gekruisig op die dag voor die een van Saturnus (Saterdag); en op die dag na die een van Saturnus, wat die dag van die Son is (Sondag), nadat Hy aan sy apostels en dissipels verskyn het, het Hy hulle hierdie dinge geleer wat ons ook aan julle voorgehou het vir julle oorweging.’

 

Die gevare van Paasfees

Ek kan jou met nog tegniese argumente verveel, maar my eintlike doel is nie om vir die presiese dag van Jesus se kruisdood te redeneer nie. Die punt is eerder dat ons nie sommer so moet sê dat Goeie Vrydag en Paassondag van heidense afgode afkomstig is, en dat die mense wat dit vier besig is met sonde nie. Ek weet nie van enige gelowige wat op Goeie Vrydag of Paassondag kerk toe gaan, omdat hulle ‘n heidense godin wil vereer nie. Die viering van Jesus se kruisdood en opstanding tydens Paasfees het nie sy oorsprong by heidense afgode nie, maar kom van die Joodse Pasga in Eks. 12 af, wat op sy beurt in Jesus se kruisdood en die nagmaal vervul is. En tog is daar gevare wanneer dit by die Christelike viering van Paasfees kom.

 

  1. Ons stry en verbreek die eenheid oor ‘n Fees wat nie in die Bybel verbied of beveel word nie. Ek het reeds gewys dat Ireneus vir Victor van Rome hierteen gewaarsku het. Eintlik het Paulus die gelowiges 150 jaar voor Ireneus hierteen gewaarsku: “Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou. Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here” (Rom. 14:4-6). Vier dan Paasfees as jy wil, maar moenie die mense wat dit vermy oordeel nie. En as jy besluit om dit nie te vier nie, moet jy nie sê dat die mense wat dit vier besig is met heidense afgodery nie.
  1. Ons stry oor ‘n spesifieke dag en fokus meer daarop as op Jesus se kruisdood en opstanding. Dit bedroef die Heilige Gees. Is dit nie beter om te onthou dat Jesus die volmaakte Lam van God is wat in ons plek gesterf het nie? Niemand word geestelik opgebou as jy met ander oor die dag van Jesus se kruisdood stry nie. As jy in Hom en sy soendood glo en in die lig daarvan lewe, is dit genoeg en sal jy geestelik groei.
  1. Een van my kollegashet eenkeer besluit om ‘n Paaskonferensie by te woon en nie ‘n Goeie Vrydag diens by hulle kerk te hou nie. ‘n Persoon in die gemeente was kwaad vir hom. Maar soos reeds gesê verbied of beveel die Bybel ons nie om op Goeie Vrydag ‘n erediens te hou nie. En tog is dit moontlik dat Goeie Vrydag ons herdenking van Jesus se kruisdood kan verhinder. Wat bedoel ek? Jesus het nooit gesê dat ons sy dood op Goeie Vrydag moet onthou nie, maar by die nagmaal. As jy meer waarde heg aan Goeie Vrydag as aan die nagmaal, dink jy nie Bybels nie. Toets jouself: sal dit jou pla as jou ds. nie ‘n Goeie Vrydag diens hou nie, terwyl jy nie omgee dat jy maande laas die nagmaal gebruik het nie? Indien wel, wys dit dat jy meer omgee vir menslike gebruike (al is dit goeie gebruike) as vir die Woord van God. “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matt. 15:6-9).
  1. Om sjokolade hase en eiers te eet maak jou nie onrein nie (Matt. 15:11, Rom. 14:14). Maar sorg asb. dat jy uitdruklik vir jou kinders sê dat Paasfees oor Jesus se kruisdood en opstanding gaan, en nie oor hase en eiers nie. Moenie toelaat dat die wêreld jou kinders se aandag aftrek van Jesus nie.