Prente van die dood

Job suffering

Job het baie gely. Al tien sy kinders is op een dag dood. Op dieselfde dag het hy al sy besittings verloor. ‘n Tydjie daarna toe kry hy pynlike swere. Daarna het sy vriende gekom om vir hom raad te gee. Maar dit was ‘n ramp. Hulle het hom beskuldig en gesê hy kry swaar omdat hy sonde gedoen het.

Al hierdie dinge was vir Job net te veel. Hy het gewens om dood te gaan en ook gedink dat hy nie meer lank oor het nie. In Job 14 het hy die dood in grafiese terme beskryf. Hy het geweet die dood is erg. Hy was nie soos die wêreld wat ons onsensitief maak deurdat hulle die dood gedurig in films en in die koerant uitbeeld nie.

Maar aan die ander kant het hy hoop gehad. Vir hom was die dood nie ‘n man met ‘n sward kleed, ‘n kappie en ‘n maaier nie. Dit was nie ‘n kopbeen of vaalkleurige perd wat soos ‘n geraamte lyk nie. Job het geweet dat die Here hom eendag sal opwek.

Ons moet dieselfde balans handhaaf: die dood is erg en onaangenaam, maar ons is nie hopeloos nie.

 

  1. Blomme en skaduwees (v.1-3)

Die lewe is kort en vol lyding (v.1, 5:7). Buiten vir Jesus en Paulus, het Job dit beter as enige van ons geweet. Die mens is soos ‘n blom wat uitspruit en binne ‘n paar weke verlep (v.2, Jes. 40:6-8). Babas is oulik, maar voor jy weet is hulle oud en sterf hulle (v.2).

Ons lewens is soos ‘n skaduwee wat langer word en verdwyn as die son sak (v.2). Die ‘dag’ van ons lewens gaan verby en ons verdwyn soos ‘n skaduwee. Job het hieroor nagedink en kon nie verstaan hoekom die Here eers die moeite sou doen om hom deur moeilike tye te laat gaan nie. Hoekom het die Here nie maar net hierdie ‘blom’ en ‘skaduwee’ geïgnoreer nie?

Oom Andries Rossouw in ons gemeente is hierdie week oorlede. Hy het geweet dat die lewe kort is, maar het uit Rom. 8:1 verstaan dat sy lyding nie God se straf is nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie”. Hy het eerder geweet dat hy soos goud in ‘n smeltoond is, en dat die Here besig is om sy geloof te toets en hom te suiwer (1Pet. 1:6-7).

 

  1. Reinheid en onreinheid (v.4)

Kan ‘n rein en sondelose baba uit ‘n onrein en sondige ouerpaar gebore word (v.4)? Dit sou so onmoontlik wees soos vir skoon water om uit ‘n vuil pyp te kom. Die mens is met ‘n sondige natuur gebore (Ps. 51:7, 58:4). Elke mens is onrein met sonde en verdien die dood (Rom. 5:12).

Jesus alleen is sondeloos en rein gebore, al was sy ma ‘n onrein sondaar (Luk. 1:35, Heb. 7:26). Hierdie Jesus het oom Andries en elke ander gelowige rein gewas met sy bloed. En omdat ons nou rein is, lei jou en my dood (soos oom Andries s’n) nie na die hel nie, maar na die hemel.

 

  1. Dagloners en kalenders (v.5-6)

God het die grens van ons lewens bepaal; Hy het die dag van elke mens se dood op sy kalender aangeteken (v.5, Ps. 139:16, Pred. 3:1-2). Oom Andries se dood was vasgestel vir 16 Julie 2018.

Job het swaar hieraan gesluk. Die feit dat God die mens se lewe beperk het was vir hom erg genoeg. ‘Hoekom moet die Here nog oor my frons?’ het hy gewonder (v.6, Ps. 39:13). ‘Ek is nie bang om soos ‘n gehuurde dagloner te werk nie. Maar ek wil nie soos ‘n slaaf nét swaarkry nie. Ek wil darem nog die dag van my lewe geniet.’ (v.6).

Oom Andries het baie pyn verduur, maar t.s.v. dit alles het hy nie die Here verloën nie. Hy het tot aan die einde volhard. Met al sy pyn was hy elke Sondag in die kerk. Baie mense wat minder of geen pyn het nie, mis maklik ‘n erediens. Maar nie oom Andries nie. Hy was ‘n voorbeeld vir ons almal. Al het sy liggaam swakker geword, het sy gees sterker geword (2Kor. 4:16).

 

  1. Bome en water (v.7-12)

As ‘n boom afgekap word bly die ou wortel en dooie stomp in die grond. Maar sodra dit ‘n bietjie water kry spruit daar weer jong takkies uit (v.7-9). Ongelukkig is die mens nie ‘n boom nie. As hy sterf en sy asem uitblaas, kan jy nie oor 3 maande terugkeer en sien hoe hy uit die graf opstaan nie (v.10).

Ek het Maandag gesien hoe oom Andries se lyk op sy sitkamer vloer lê. Dit was nie lekker nie. Maar al het ek sy dooie liggaam gesien, was sy unieke persoonlikheid en karakter nie meer daar nie (v.10). Job se punt is dat die dood ernstig is. Dit maak ons nugter.

Die mens is soos ‘n droë meer of rivier wat in die Midde-Oosterse son opdroog (v.11). Jy het nog vanoggend die persoon gesien en vanaand is hy weg. Wanneer ‘n gelowige sterf is sy siel by Jesus (Luk. 23:43, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23, Heb. 12:23). Maar sy liggaam sal in die graf slaap totdat Jesus die hemel soos ‘n mantel of boekrol oprol (v.12, Heb. 1:10-12, Op. 20:11).

Wanneer Jesus kom sal oom Andries se siel saamkom. Jesus sal sy liggaam opwek, verheerlik, en sy liggaam en siel verenig (v.12, 19:25-27, 1Kor. 15:35-57, 1Tess. 4:13-18). Oom Andries sal ‘n jong liggaam hê en weer ‘handsome’ lyk soos toe hy 25 of 30 was. Hy sal vir altyd sonder pyn wees en nooit weer sterf nie (1Kor. 15).

 

  1. Grafte en die opstanding (v.13-17)

Oom Andries het dag en nag pyn gehad en gewens om te sterf eerder as om so te ly. Job het dieselfde begeerte gehad. Kon die Here hom nie maar in die graf wegsteek totdat sy toorn oor hierdie vervloekte en gevalle wêreld oorgewaai het nie (v.13, Jes. 26:20)? Daarna kon die Here hom weer op die bepaalde uur opwek (v.13).

Job het geweet dat die Here eendag vir hom ‘n nuwe liggaam sou gee (v.14). As hy dit net kon onthou sou hy pyn verduur het (v.14, 19:25-27). Hy sou antwoord as die Here hom uit die graf uit roep en oor sy handewerk (Job se nuwe liggaam) verbly (v.15, vgl. Joh. 11:43-44).

‘Na die opstanding kan die Here elke tree van my lewe dophou en sien dat ek geen sonde het nie. Dit is asof Hy my sonde in ‘n bondeltjie of rommelsak toemaak en dit bedek.’ Dit is basies hoe ons v.16-17 moet verstaan.

Die Here bedek natuurlik reeds ons sonde deur Jesus se kruisdood (Rom. 4:6-8, 1Joh. 1:7). As ons ons bekeer om in Jesus te glo, sal Hy ons sonde vergewe en Jesus se perfekte lewe aanvaar asof ons dit geleef het. Op die oordeelsdag sal ons sonde nie teen ons tel nie, omdat Jesus dit met sy bloed bedek het.

 

  1. Rotse en riviere (v.18-20)

Job was die rykste man in die ooste. Mense het na hom opgekyk. Hulle het gedink dat hy ‘n geestelike reus is; ‘n berg. Maar hy het nie so gevoel nie. Noudat dinge in sy lewe skeef geloop het, het dit vir hom gevoel of die ‘berg’ met sy groot rotse inmekaar tuimel (v.18, Ps. 30:7-8). Sy lewe was soos ‘n rotsstorting by Chapmans Peak in die Kaap.

Die malende waters van beproewing in hfst. 1-2 het die rivierklippe en grond van Job se lewe geërodeer (v.19). Dit het vir hom gevoel of God sy hoop en verwagting om te bly lewe vernietig (v.19). Jy kan nie skaak teen die Here skaak speel en wen nie. Deur die dood sit Hy ons in skaakmat (v.20). Ons gesigte word bleek, strak en dood wanneer die Here ons uit hierdie lewe wegneem (v.20).

Maar die dood het nie die laaste lag nie. Jesus het die dood oorwin en ons deur Hom (Joh. 5:24, 11:25-26, 1Kor.15:55). In oom Andries se laaste oomblikke op aarde het ek Jes. 43:2 vir hom gelees: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” Die Here het hom veilig deur die dood geneem.

 

  1. Ouers en kinders (v.21)

Wanneer ‘n mens sterf is daar dinge wat hy nie sien nie (v.21). My vrou se pa is oorlede toe sy 14 is. Hy het haar nie afgegee toe sy trou nie. Hy het nie sy skoonseuns of kleinkinders gesien nie. Hy het nie gesien toe sy vrou en kinders na sy dood deur moeilike tye gaan nie.

Prakties beteken dit dat gelowiges nie vanuit die hemel vir hulle kinders kyk nie (v.21, Pred. 9:5). Hulle hou ons nie dop nie. Hulle is nie alwetend soos die Here om alles te sien wat op die aarde gebeur nie. Hulle wil ook nie. Ons moet dus nie wens dat hulle uit die heerlike hemel vir ons sal kyk in hierdie wêreld vol sonde, pyn, hartseer, lyding en dood nie. Ons moet eerder begeer om in die hemel te wees waar hulle is.

 

  1. Trane en pyn (v.22)

Oom Andries het sy eie trane en pyn geken (v.22). Ons kon vir hom jammer voel, maar kon nie sy pyn voel nie (Spr. 14:10). Maar nou het hy geen meer trane of pyn nie (Op. 7:17). En wanneer Jesus kom sal oom Andries ‘n nuwe liggaam en heup hê (v.14, 1Kor. 15, 1Tess. 4)!

Twee of drie weke voor oom Andries se dood toe help ek hom van sy kar af in die kerk in. Hy het sy kruk in die een hand gehad en met sy ander arm by my ingehaak. ‘As ons so aanhou sal die mense “Here comes the bride” sing – a half dead one!’ het hy gesê.

Wanneer Jesus kom sal ek nie meer sy arm vashou nie. Hy sal nie meer ‘n kruk hê nie, maar self loop. En dan sál ons “Here comes the bride” sing, omdat oom Andries deel is van die bruid van Jesus Christus. Hy sal nie meer ‘a half dead one’ wees nie. Die dood met al sy lelike prente sal verby wees en ons sal vir ewige lewe.