Die God van ou mense en kinders

Grandmother and child

Kom ek vertel jou van twee mense in ons gemeente. Die eerste een is ‘n ma met ‘n baba in haar baarmoeder. God is besig om die kind te vorm en het alreeds die kind se hele lewe uitgelê.

“Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps. 139:13-16).

Die tweede persoon is ‘n oom wat baie pyn het. Dit is byna ondraaglik. Pynpille help nie. Hy kan skaars loop en slaap nie in die nag nie. Jes. 46:1-7 is o.a. geskryf om te wys hoe die Here ou mense en kinders dra, en hoe dit hopeloos is om op afgode te vertrou.

 

  1. Babilon se afgode (v.1-2)

Ek het lank gelede ‘n storie gelees van sewe sendelinge wat na ‘n eiland teen die Chinese Suidkus toe is. ’n Sestienjarige seun was deel van die span. Op 9 Jan. het hy en die span vir die eilanders gevra hoekom hulle nie in die Here wil glo nie.

‘Ons het ’n god (Ta-wang) wat ons nog nooit in die steek gelaat nie,’ het hulle geantwoord. Volgens hulle het Ta-wang reeds vir 286 jaar mooi weer gegee op die jaarlikse feesdag wat vir hom gehou is.

‘Wanneer is hierdie jaar se fees?’ het die sendelinge gevra. ‘Ons hou dit 11 Jan. om 08:00,’ het hulle geantwoord. ‘Hierdie jaar sal dit reën,’ het die 16-jarige sendeling gesê. ‘Goed so,’ het die eilanders gesê. ‘As dit op die 11de reën, is julle God God!’

Die sendelinge het begin bid. Op 11 Jan. om 07:00 het die son geskyn en was daar nie ‘n teken van reën nie. Die sendelinge het gebid. Die reën het neergesak.

Die jong eilanders het uitgeroep dat die sendelinge se God die ware God is. Maar die ouer mense het vir Ta-wang uitgedra om die reën te stop. Die reën het nóg harder geval.  Die draers het gestruikel en vir Ta-wang laat val. Die afgod se kaak en linkerarm het afgebreek.

Die eilanders het gesê dat hulle per ongeluk die verkeerde dag gekies het, en dat die fees eintlik op 14 Jan. om 18:00 gehou moes word. Die sendelinge het weer vir reën gebid. Tussen 11 en 14 Jan. het meer as 30 mense op die eiland tot bekering gekom.

Toe 14 Januarie aanbreek was dit ‘n mooi dag. Teen laatmiddag het die sendelinge weer gebid. Die Here het dadelik reën gestuur. Ta-wang kon nie die Here keer nie. Bekerings het gevolg [https://goeietyding.wordpress.com/2015/11/21/die-god-van-elia/].

Babilon se afgode was so (v.1-2). Die God van Israel het hulle platgeslaan sodat hulle inmekaar sak soos as ‘n bokser jou in die maag slaan. Bel of Bel-Marduk is afgelei van Baäl en was die Babiloniese oppergod (v.1). Ons sien sy naam in name soos Belsasar (Dan. 5). Nebo was Bel se seun en was die god van wysheid en geleerdheid (v.1). Ons sien sy naam in name soos Nebukadnesar (Dan. 2-4).

Toe Bel en Nebo tot ‘n val kom, het Babilon se godsdiens saam met hulle geval [Edward J. Young, The New International Commentary on the Old Testament: The Book of Isaiah, vol. 3 (Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Company, 1972), 219-220. Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester, Inter-Varsity Press, 1993), 368]. Kores van Persië het die Babiloniërs oorwin (v.1, 21:9) en hulle gode op beeste, kamele en donkies weggevoer (v.1-2). Die gode kon nie self loop nie, maar moes gedra word!

Babilon se afgode het die diere uitgeput (v.1). Hulle was m.a.w. ‘n las en goed vir niks (v.1). Hulle kon nie eers hulleself red nie (v.2, vgl. Jer. 48:7). Hoe kon hulle dan mense red (v.2)?

Elke Christen sal saamstem dat afgode dood is, maar in die praktyk leef ons nie altyd so nie. Wat bedoel ek? Christene se kinders leer van ander godsdienste by die skool. Dit is nie ‘n probleem nie. Die probleem lê daarin dat die onderwysers maak of Allah, Krishna en die voorvaders gelyk is met Jesus. Hulle maak of die Big Bang wetenskap is en stel dit bo Gen. 1. Hul maak of evolusie wetenskap is en stel dit bo die God van die Bybel.

Maar die ergste is dat party ouers oningelig is oor wat hulle kinders by die skool leer. Of miskien weet hulle, maar hulle ken nie die Bybel goed genoeg om hulle kinders reg te help nie. Of dalk weet hulle wat hulle kinders leer, maar hulle gee nie om nie.

Moenie so wees nie, maar help jou kinders reg. Wys vir hulle wie die ware God is wat alles gemaak het. Wys vir hulle dat Jesus die enigste en ware God is. Sê vir hulle dat die ander gode van wie hulle leer dood is.

Wees egter versigtig dat jy nie net op die skool se verkeerde lering reageer nie. Leer hulle ook die positiewe waarhede van die Skrif. Hoe doen ‘n mens dit?

Kies ‘n tyd om jou kinders die Bybel te leer. Maak dit ‘n prioriteit; moet dit nie mis nie. Moenie rond en bont leer nie, maar beplan wat jy wil leer. Werk bv. deur Genesis, die tien plae of die lewe van Jesus. Leer vir hulle wie God is. Wanneer jy Bybel stories vertel, moet jy nie net lesse leer oor hoe hulle soet moet wees en nie stout nie. Mik eerder vir die evangelie. Wat leer die betrokke gedeelte oor God en die verlossing van sondaars?

Memoriseer die Bybel deur te sing en vrae en antwoorde (kategismes) te leer. Bid saam met jou kinders. Bid vir sendelinge, siek mense, die kerk, bekerings, ens. Wat jy bid sal vir jou kinders wys wat belangrik is. Hoe jy bid sal hulle leer om die Here te vrees (of nie). Wees vars in jou gebede en moenie net rympies bid nie.

Groei in jou verhouding met die Here. Dan sal jou lering nie vervelig en droog wees nie. Jy sal self opgewonde wees oor wat jy vir hulle leer. Wees lief vir die Here. Gehoorsaam Hom. So sal jou lewe vir jou kinders ‘n voorbeeld wees. Leer jou kinders op informele maniere. Vertel hulle van die Here as jy ‘n kleurvolle blom, voël of sonsondergang sien.

Leer vir hulle ‘n Bybelse perspektief op wen en verloor, op manwees en vrouwees. Leer hulle om nie selfsugtig te wees met speelgoed nie, maar om met ander te deel. Help hulle om ander eerste te stel. Leer hulle om netjies en hard te werk by die skool.

Vertel vir jou kinders hoe die Here jou gered het, hoe Hy jou gebede beantwoord, en wat Hy vir jou gedoen het. Gebruik biografieë en die geskiedenis om vir jou kinders te vertel wat die Here vir sy kinders doen.

 

  1. Die God wat ons dra (v.3-4)

Elke mens gaan deur stadiums waarin iemand hom of haar moet dra. Jou ma het jou vir nege maande in die baarmoeder gedra. Jou ouers het jou gedra totdat jy begin kruip het. Toe jy al kon kruip en loop het hulle jou nog steeds gedra. Hulle het jou gedra toe jy in die laerskool was en in die kar aan die slaap geraak het. Mense sal jou weer in ‘n rolstoel ‘dra’ wanneer jy oud is. Hulle sal jou ook in ‘n kis dra wanneer jy dood is.

Die Here dra ons beter as dit. Hy het die oorblyfsel van Israel in Babilon gedra (v.3). Hy het vir Jakob gekies en hom in die moederskoot gedra (Gen. 25:23, Rom. 9:10-13). Hy het vir Dawid, Jeremia en Paulus in die moederskoot gedra, en doen dieselfde vir jou (Ps. 22:10-11, 71:5-6, 139:13-16, Jer. 1:5, Gal. 1:15). Hy dra ons van die baarmoeder af totdat ons oud is (v.3-4).

“die HERE jou God [het] jou gedra…soos ‘n man sy seun dra” (Deut. 1:31). “…Ebenhaéser…Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.” (1Sam. 7:12). “Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons!” (Ps. 68:20). “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20).

Dit was die Here wat jou gehelp het toe jy amper verdrink het. Hy het hulp gestuur toe jy alleen langs die pad gestaan het. Hy het geld voorsien toe jy dit broodnodig gehad het. Hy het jou beskerm toe jy nie eers geweet het jy is in gevaar nie. Hy het jou teen die duiwel beskerm.

Hy het die beproewing gestuur om te keer dat jy verder op die verkeerde pad loop. Hy het jou op ‘n siekbed laat beland, sodat jy sy liefdevolle sorg kon ervaar. Hy het gemaak dat jy jou kar stamp, sodat jy nie in die gewapende roof ingery het nie. Hy het jou in verkeer laat sit, sodat jy die fratsongeluk vrygespring het.  John Piper sê: ‘…God is up to something good for us in all our delays and detours’ [John Piper, Future Grace (Leicester: Inter-Varsity Press, 1995), 174].

Die God wat jou in die verlede, hede en toekoms gedra het is die ewige en onveranderlike EK IS (v.4, Eks. 3:14, Ps. 90:2, Mal. 3:6). Hy het nie ‘n verlede en ‘n toekoms soos ons nie (v.3-4). Hy was nie jonk nie en word ook nie oud nie. Hy het nie ‘n begin en ‘n einde soos ons nie. Hy is dus altyd by ons, selfs as ons oud is.

Moet daarom nie die toekoms vrees nie. Jy hoef nie bang te wees vir die dag wat jy aftree, min geld het, oud word, ‘n invaliede raak, in ‘n aftree oord of ouetehuis beland nie. Die God wat jou van jou moederskoot af gedra het sal jou nie verlaat wanneer jy oud is nie (v.3-4). “Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie… En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie…” (Ps. 71:9, 18).

Al kry jy Alzheimer’s soos my ouma, sal die Here jou nie vergeet nie. Die Here sal jou nie eers vergeet as jy Alzheimer’s kry en Hom vergeet nie. John MacArthur vertel van sy mentor, dr. Charles Feinberg, wat Alzheimer’s gekry het.

Dr. Feinberg was ‘n Joodse Rabbi voor hy tot bekering gekom het. Na sy bekering het hy die Here getrou gedien en die Bybel goed bestudeer. Maar toe hy in sy ou dag Alzheimer’s kry, toe sê hy dat Jesus nie die Messias is nie.

Genadiglik hang ons verlossing nie af van ons breinkrag nie. God se beloftes en getrouheid is groter as ons geheue. “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2Tim. 2:13).

Selfs wanneer jy oud en gedaan is en grys hare het, bly die Here jou God. Hy sal jou dra as jy op jou sterfbed lê (Ps. 23:4). Hy sal sy engele stuur om jou na die hemel toe te dra (Luk. 16:22). God se ewige arms sal onder jou wees (Deut. 33:27). Dan sal jy die God sien wat jou gemaak het en gered het, die God wat sy volk geskep het en hulle uit Egipte en Babilon verlos het (v.4, 45:9-10, 43:1, Deut. 32:6).

Maar jy sal nie hierdie God sien bloot omdat jy glo Hy het jou gemaak en deur moeilike tye gehelp nie. Jy moet in sy Seun glo. Hy moet jou God wees deur geloof in Jesus Christus en sy kruisdood vir sondaars.

 

  1. God en die gode (v.5-7)

My pa hou van flou grappe wat nie sin maak nie. Hier is een: ‘Wat is die ooreenkoms tussen ‘n fiets en ‘n olifant? Beide kan vlieg behalwe die fiets en die olifant.’ Dis flou, ek weet. Maar die punt is dat daar geen ooreenkoms tussen ‘n fiets en ‘n olifant is nie.

Net so is daar geen ooreenkoms tussen God en die gode nie (v.5). Die Here is lewend en die gode dood. Hy is uniek, gans anders, een van ‘n soort en heilig (v.5, 40:18, 25). “O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Eks. 15:11).

God is ‘n ewige Gees wat alles gemaak het (Joh. 1:1-3, 4:24). Die gode is van die goud en silwer uit iemand se beursie gemaak (v.6). God het ons geskep, maar ‘n goudsmid het die gode gemaak (v.4, 6). Is dit nie dom dat mense voor hulle eie handewerk neerval en dit aanbid nie (v.6)?

Die Here dra ons, maar mense dra hulle gode op hulle skouers (v.7, 1-4). Die Here lei ons deur ons lewens, maar mense sit hulle gode wat nie kan loop nie êrens neer (v.7, Ps. 115:7). Die god kan nie beweeg totdat die aanbidder besluit om dit te skuif nie (v.7).

Die Here is lewend; die gode is dood. Die Here antwoord ons wanneer ons Hom aanroep en tot Hom bid (Ps. 65:3, Jer. 33:3, Luk. 11:9-10). Die gode is doof en kan nie hoor nie; hulle is stom en kan nie antwoord nie (v.7, Ps. 115:5-6).

Waar is die Moslem en Hindoe wat kan getuig van gereelde antwoorde op gebed? Enige ware Christen kan getuig van gereelde antwoorde op gebed. Lees gerus George Müller se autobiografie in hierdie verband.

As jy die ware God ken sal jy sien hoe Hy jou gebede beantwoord. Hy is nie ‘n dowe afgod wat ons nie uit die moeilikheid kan red nie (v.7), maar Hy gee wat ons vra (Matt. 7:9-11). In party gevalle sê Hy ‘nee’ of ‘wag’, maar dit is die uitsondering. Wat is hierdie uitsonderings?

  • Die Here sê ‘nee’ vir jou gebede as jy ongered is (1Pet. 3:12).
  • Hy sê ‘nee’ as jy besig is met sonde (Ps. 66:18).
  • Hy sê ‘nee’ indien jy kleingelowig is (Jak. 1:5-8).
  • Hy sê ‘nee’ as jy selfsugtig bid (Jak. 4:3).
  • Hy sê ‘nee’ as jy bitter is teenoor jou lewensmaat of iemand anders (1Pet. 3:7, Matt. 6:14-15).
  • Hy sê ‘nee’ as Hy ‘n beter plan vir jou het (2Kor. 12:8-9).

Gewoonlik antwoord die Here ons egter wanneer ons Hom aanroep, en red Hy ons uit ons benoudheid (v.4, 7, Ps. 34:5, 7, 18, 20). Wat is jóú benoudheid? Sê vir die Here dat Hy nie ‘n hulpelose afgod is nie (v.7), en vra Hom mooi om jou te help. Vra veral dat Hy jou geestelik sal help in jou beproewing. Wat bedoel ek?

Vra dat die Here jou beproewing sal gebruik om jou karakter te vorm (Jak. 1:2-3). Vra dat jy God se Woord beter sal leer ken (Ps. 119:71). Vra dat jy meer soos Jesus sal word (Rom. 8:28-29). Vra dat jy meer heilig sal word en meer vrug sal dra (Heb. 12:10-11). Vra dat jy ander mense kan help (2Kor. 1:6). Vra dat jy sal leer om meer te bid (2Kor. 1:11). Vra dat die Here jou teen Satan sal beskerm (2Tim. 4:18). Vra dat jy die strikke waarin jongmense trap sal ontwyk (2Tim. 2:22). Vra dat jy tot die einde toe sal volhard as jy oud is (Rom. 5:3-4).

Al dink jy nou dat die Here jou vergeet het, sal jy op jou sterfbed soos Jakob wees. Deur sy lewe het hy baie probleme ervaar a.g.v. sy eie sonde, ander mense se sonde, die Here se tugtiging, lewe in ‘n sondige wêreld.

Dertien jaar voor hy dood is, het hy teruggekyk en gesê: “vol teëspoed was die dae van my lewensjare” (Gen. 47:9). Maar op sy sterfbed het hy net lof gehad vir “die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het” (Gen. 48:16).

Mag dit ook jou perspektief wees wanneer jy eendag op jou sterfbed lê en terugkyk oor jou lewe: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien…nie” (Ps. 37:25).