Nominale Christenskap

Nominal Christianity

Nominale Christenskap beteken dat iemand ‘n Christen in naam is, maar dat sy of haar lewe nie anders is as die wereld s’n nie. Sulke mense beskou hulleself as Christene omdat hulle kerk toe gaan of êrens op ‘n kerk se lederol is.

Maar as dit ons definisie van Christenskap is, is 75% van ons land se bevolking Christene. Baie Afrikaners se definisie van wat dit beteken om ‘n Christen te wees is nie só wyd nie. In hulle gedagtes is ‘n Christen iemand wat kerk toe gaan en die basiese Christelike waarhede bely: die Drie-Eenheid, die Persoon en werk van Christus, die Bybel as die Woord van God, ens.

Ander sal byvoeg dat jy ‘n ervaring van God moet hê. Party sal sê jy moet ‘n dag en datum van bekering hê. Volgens party moet jy gedoop wees en voorgestel en aangeneem word. Maar selfs al reken ons dan net Protestante, Pinkster- en Charismatiese kerke in, is daar nog steeds ‘n goeie 50% of meer ‘Christene’ in ons land.

Ongelukkig is dit ‘n Utopiese droom. In die eerste plek sou Suid-Afrika se moraliteit nie so sleg gelyk het as 50-75% van ons land se mense Christene was nie. Ten tweede sou jy nie groot getalle mense op kerke se lederolle hê, met minder as die helfte van hulle in die kerk, by bidure en Bybelstudies nie. Na my mening is daar twee groot sondebokke vir hoekom daar so baie nominale Christene in ons land is.

 

[a] Charles Finney (1792-1875) se invloed op die kerk

Finney het geglo dat ‘n sondaar wat op ‘n uitnodiging reageer, berou toon en die sondaarsgebed opsê, gedoop moet word en gered is [Iain Murray, Revival and Revivalism, Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994]. Sy idees lê vandag nog wyd verspreid. Vat bv. die Southern Baptist Convention (SBC) in Amerika. Hulle het 16 miljoen lidmate, waarvan 10 miljoen nie op ‘n gegewe Sondag in die kerk is nie. Hoekom is dit so? Dit is grootliks a.g.v. wat hulle oor wedergeboorte en die kerk glo.

Ek ken ‘n afgetrede leraar wat by Southern Seminary in die V.S.A. studeer het. Hy het ons vertel van ‘n veldtog wat die SBC in 1953 geloots het. Die veldtog se naam was a million more by ’54. Die doel was om binne ‘n jaar ‘n miljoen mense by die SBC se Sondagskole te voeg.

Toe die jaar naby sy einde kom was daar nie die gewenste miljoen nie. Binne die laaste paar maande van 1953 het die SBC honderde duisende mense gedoop. Ek het nie die presiese feite nie, maar die beginsel is swak en het die SBC met nominale Christene gevul.

 

[b] Die kinderdoop

As die kerk ‘n baba doop word hy ‘n dooplidmaat en beskou hulle hom as deel van die verbond waarin die Here sy God is. Ek was eenkeer by ‘n kinderdoop waar die ds. vir die gemeente gesê het dat die kind se naam nou in die boek van die lewe is.

As ‘n kind op 17 sy katkisasie (Sondagskool) voltooi lê hy belydenis van geloof af, en word hy as belydende lidmaat van die gemeente voorgestel en aangeneem.

Die kinderdoop het reeds vroeg in die geskiedenis ontstaan en was teen die vierde eeu ‘n wydverspreide en algemene praktyk [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, London: Grace Publications Trust, 1997]. In die eeue wat gevolg het, het die evangelie na heidense volke toe versprei. Konings het tot bekering gekom en hulle onderdane met geweld gedwing om Christene te word.

‘Word gedoop of sterf!’ het Noorweë se koning, Olaf Tryggvason (995-1000), bv. vir die mense in sy paleis gesê. Uit die aard van die saak het hulle die doop bo die swaard gekies en sodoende deel van die kerk geword. Hulle kinders is ook gedoop. Waar groot dele van die land by die kerk aangesluit het, het dit as ‘n Christelike bekend gestaan [Needham, Ibid., Part 2, 145. Sien ook Leonard Verduin se boek, The Reformers and their Stepchildren].

Omtrent 500 jaar later het die hervormers hierdie tradisie gevolg. Hulle doopteologie het die hele Europa beïnvloed, wat op sy beurt in die 17de eeu Suid-Afrika toe gekom het. Vandag nog hou mense aan hierdie tradisie vas, en neem hulle aan dat hulle gedoopte kinders hemel toe gaan. Baie van hierdie kerke en ouers deel nie die evangelie met hulle kinders nie, omdat hulle aanneem dat hulle kinders gered is.

Die Jode in Paulus se tyd was so. Hulle het gedink dat hulle en hulle kinders reg is met God, omdat hulle besny is. Dit is die kwessie wat Paulus in Rom. 4:9-12 aanspreek. Kom ons bekyk die verse van nader en pas dit dan toe op die nominale Christenskap in ons eie konteks.

 

  1. ‘n Oorsig oor die teks

Prof. Hennie Stander het vir ons Grieks gegee toe ek op Sem was. Hy het eendag vir ons gesê om Mark. 16:16 uit die Grieks vertaal. Ons het dit soos volg vertaal: ‘Hy wat glo en gedoop is, sal gered word. Maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.’

Ons vertaling het geïmpliseer dat ‘n mens tot geloof kan kom nadat hy gedoop is. Prof. Stander het gemaak of hy uit die klas uit hardloop om vir die rektor te sê dat sy Baptiste studente Mark. 16:16 soos kinderdopers vertaal.

Volgens kinderdopers wys Rom. 4:9-12 duidelik dat ‘n mens gedoop kan word voor of na hy tot geloof gekom het: ‘Waar ‘n rou heiden tot bekering kom moet hy gedoop word na hy tot geloof kom. Maar sy kinders moet gedoop word voor hulle tot geloof kom.’

Maar dit is nie waaroor die verse handel nie. Rom. 4 gaan eerder oor die besnede Jode wat nie outomaties reg is met God nie. Regverdigmaking is vir die onbesnede heidene en die besnede Jode wat glo (v.9-12). Dit is dus nie die besnydenis wat tel nie, maar wedergeboorte en geloof wat lei tot ‘n lewe van gehoorsaamheid. Dit is Paulus se punt (vgl. 1Kor. 7:19, Gal. 5:6, 6:15).

As die Jode deur die besnydenis reg is met God, maak Gen. 15:6 nie sin. Volgens hierdie vers het God Abraham regverdig verklaar deur die geloof. Dit het gebeur 14 jaar voordat hy in Gen. 17 besny is (v.9-11, Gen. 12:4, 15:6, 16:3, 16, 17:1). Die besnydenis was die teken dat God die sonde uit sy hart gesny het (v.11, Deut. 30:6). Dit was ook die seël dat God hom regverdig verklaar het, en dat hy aan die Here behoort het (v.11).

So het hy die vader geword van elkeen wat glo en nié besny is nie. Hy is m.a.w. die vader van die onbesnede heidene wat in Jesus glo (v.11, 2:25-29, Gal. 3:6-9, 16, 29). Maar hy is ook die vader van die besnede Jode wat glo (v.12). Die Jode is nou wel uit Abraham se bloedlyn (v.1), maar sy geestelike kinders is net dié mense wat in sy voetstappe van die geloof volg (v.12).

As ons sê dat iemand op grond van sy doop reg is met God (hetsy die kinderdoop of gelowige doop), dan vul ons die kerk met ongelowige lidmate en nominale Christene. Wat is die gevolg hiervan?

 

[a] Mense het vals sekerheid van redding

Dit is makliker om ‘n prostituut vir Jesus te wen as ‘n nominale, gedoopte lidmaat. Die prostituut weet darem sy is verlore. Maar die nominale lidmaat glo dat alles reg is tussen hom en die Here. Hy dink dat hy nie die evangelie nodig het nie.

 

[b] Die kerk word soos die wêreld en het ‘n slegte getuienis

Hoe sal ons die wêreld wen as ons soos hulle is: onheilig, skelm in ons besigheid, dronk, vuil monde, seksueel losbandig, gay, ens.?

 

[c] Ongelowiges word predikante en mislei mense

‘n Leraar wat nie weer gebore is nie, kan nie vir ander gee wat hy self nie het nie. Hy verstaan nie die Skrif nie (1Kor. 2:14). Hoe kan hy dan die evangelie van verlossing preek en ‘n voorbeeld wees van hoe verloste mense moet lewe?

 

[d] Ongelowiges word ouderlinge en diakens wat op vergaderings baklei

As jy ‘n verkeerde leierskap in die kerk het is dit nag – jy het jare se probleme.

 

[e] Mense dra nie by vir die kerk en vir sendingwerk nie

Sulke mense se harte is toe vir God se werk. Terwyl hulle uiteet, duur karre ry en in mooi huise bly, gee hulle R100 of R200 vir die kerk. Gevolglik moet die kerk ‘n basaar hou en vir hulle ‘n pannekoek in die hand stop om hulle geld te kry.

 

  1. ‘n Misverstaan van die teks

In ons gemeente sing ons ‘n lied wat uit die kinderdoop tradisie kom. Dit is ‘n mooi lied, maar ons moes ‘n reëltjie verander omdat dit onbybels is. Die lied sê: ‘My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort…’ Daarmee het ons nie ‘n probleem nie.

Die probleem kom in by die tweede vers: ‘Die doop is die seël dat die Heilige Gees my ‘n kind van God die Vader laat wees…’ Daarmee is alles verkeerd en moes ons ‘seël’ na ‘beeld’ verander.

Die Bybel sê nooit dat die doop ‘n seël van ons redding is nie. Die Heilige Gees is die seël om te wys dat ons aan God behoort (2Kor. 1:22, Ef. 1:13, 4:30). Die doop illustreer dit net.

Waar kry die mense wat hierdie lied geskryf het dan hulle idees vandaan? Hulle kry dit in Rom. 4:11 waar Paulus die besnydenis ‘n seël noem. Dit was egter nie ‘n seël vir elke Jood nie, maar die seël van Abraham se geregtigheid wat hy jare tevore reeds deur die geloof ontvang het.

Maar selfs al was dit ook die seël dat almal in Abraham se nageslag God se volk is, praat Paulus hier van die besnydenis en nie die doop nie. ‘Maar doop vervang dan die besnydenis,’ sê iemand. Waar leer Bybel dit? Daar is een teks wat dit so laat klink, maar as jy dit noukeurig lees sal jy sien dat dit juis nié oor die besnydenis van die liggaam gaan nie. Paulus koppel eerder die doop aan die besnydenis van die hart (Kol. 2:11-12).

Iemand wat die doop in Rom. 4 inlees, maak dat Paulus onsin praat. As Abraham die vader van die besnede Jode en onbesnede heidene is, moet ons sê dat dit nie saakmaak of jy as baba gedoop is en of jy glad nie gedoop is nie.

Maar dit bots met Matt. 28:19 waar die doop ‘n opdrag is en aan dissipels bedien moet word. Vir die meeste kerke is dit nie ‘n probleem nie, omdat hulle dadelik byvoeg dat ons ook gelowiges se kinders moet doop: ‘Hulle is immers kinders van Abraham en deel van die verbond.’

Maar waar los dit gedoopte kinders wat nooit tot bekering kom nie? Kan die ds. regtig by hierdie kind se doop sê dat hy of sy deel is van die verbond en ‘n kind van Abraham (soos ons in die lawwe Sondagskool liedjie gesing het)? Volgens Paulus in Rom. 4:9-12 is gelowiges kinders van Abraham.

‘Maar wat van die huishoudings wat in Handelinge gedoop is?’ wil iemand weet. Waar ‘n gesin in Handelinge gedoop is het dieselfde gesin ook in Jesus geglo en is hulle geroep, gered, en het hulle die Heilige Gees ontvang (Hand. 2:39, 10:2, 24, 44, 47-48, 11:14-17, 16:31-34, 18:8).

In die een geval waar die teks onduidelik is, sê die verse nie vir ons of daar babas was of nie (Hand. 16:14-15). Oral waar die Skrif van die doop praat is dit gelowiges wat gedoop word (Matt. 28:19, Mark. 16:16, Hand. 2:38, 8:12, 35-38, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 31-34, 18:8, 22:16, Rom. 6:3-4, Gal. 3:26-27, Kol. 2:11-12, 1Pet. 3:21).

Rom. 4 gaan nie oor die doop nie, maar mense pas dit so toe. Ek probeer eenvoudig om te wys dat die kinderdoop nie in die Nuwe Testament voorkom nie, dat dit onbybels is, en dat dit nominale Christenskap bevorder. Die doop van gelowiges is Bybels, maar is net so gevaarlik as jy dit met wedergeboorte verwar en dink dat jy daardeur reg is met God.

Ondersoek jouself eerder om te sien of jou hart besny is. Het God jou met sy Gees verseël? Is jy ‘n nuwe skepping? Of is jy ‘n nominale Christen wat vir jouself lewe? Dagdroom jy voortdurend oor jouself? Roem jy in jouself? Bejammer jy jouself as mense jou nie raaksien nie? Is jou Christenskap bloot uiterlik: jy is gedoop, gaan kerk toe, lees jou Bybel en bid? Of gaan dit vir jou daaroor dat jy die Here moet liefhê? Gaan dit oor ‘n verhouding met God, oor ‘n lewe wat van binne af nuut is, en oor uiterlike dade wat daarby pas?

Dink jy anders as die wêreld m.b.t. God, jou lewe, ander mense, sonde, kerk, die Bybel, media, vermaak, die huwelik, geld, musiek, ens.? Wys die manier waarop jy die lewe benader jy is anders? Was jou doop ‘n uiterlike aksie van iets wat in jou hart plaasgevind het? Het jy al die innerlike realiteit van wedergeboorte ervaar?

Verstaan jy wat Jesus se kruisdood beteken? Berus jy jouself en jou lewe op Hom en sy kruisdood alleen? Is Jesus en sy kruisdood vir jou kosbaar? Is dit die belangrikste ding in jou lewe?

Ek sal maklik hande vat met ‘n kinderdoper soos George Whitefield wat passievol was oor Jesus en sy kruisdood. Ek sal dit enige dag kies bo ‘n Baptis wat ‘n goedkoop evangelie preek waarin hy honderde mense doop en nominale Christene maak. My lojaliteit lê immers nie eerste by die Baptiste nie, maar by Jesus Christus en Hom as die gekruisigde (1Kor. 2:2).