Christelike optimisme

Optimism 2

‘n Jong man het vir my gelag toe hy hoor ek is optimisties oor die eindtyd. Ek het vir hom gesê dat Jonathan Edwards optimisties was. Sy reaksie was: ‘Dit is omdat hy herlewing gesien het.’ Maar dit is waarskynlik andersom. Edwards het herlewing gesien, omdat hy optimisties was, daarvoor gebid het en dit verwag het.

Pessimisme moedig ons nie aan om vir herlewing te bid soos optimisme nie. Pessimisme sien nie ‘n toekoms vir die kerk nie, maar verwag die ergste. ‘n Pessimistiese vriend het vir my gesê: ‘Ek wens optimisme was reg, maar ek sien dit nie in die Bybel nie.’

Maar voordat jy optimisme sommer net afskiet, moet jy vra of dit enige gewig dra dat die mees beskame teoloë, predikers, digters en sendelinge in die kerk se geskiedenis optimisties was en die Bybel so geïnterpreteer het?

Ek dink aan kerkvaders soos Origenes, Athanasius en Augustinus. Ek dink aan teoloë soos Johannes Calvyn, John Owen, Jonathan Edwards, die teoloë wat Westminster-belydenis opgetrek het, B.B. Warfield en Charles Hodge.

Ek dink aan ‘n kommentator soos Matthew Henry. Ek dink aan predikers soos George Whitefield en Charles Spurgeon. Ek dink aan sendelinge soos David Brainerd, David Livingstone, William Carey en John Paton. Ek dink aan digters soos Isaac Watts en Charles Wesley [Sien Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1971). Sien ook Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope (Phillipsburg: P&R Publishing, 1999)].

Ons kan Christelike optimisme in Thomas Goodwin (1600-1679) se woorde opsom: ‘There will come a time when the generality of mankind, both Jew and Gentile, shall come to Jesus Christ’ [Aangehaal in Murray, xii].

Optimisme beteken nie jy moet my eindtyd siening deel nie. Spurgeon en Calvyn het van mekaar verskil en ook ‘n ander siening as ek gehuldig, en tog was beide van hulle optimisties. Ek vra dus dat jy die volgende uitleg Jes. 45:14-25 uithoor en optimisme oorweeg.

1. Israel en die nasies (v.14-17)
Mpho Phalatse is die MMC [‘member of the mayoral committee’] vir gesondheid en sosiale ontwikkeling in Johannesburg. Toe sy laasweek ‘n pro-Israel opmerking maak, toe vra die EFF sy moet bedank. Sy moes in die openbaar omverskoning vra.

Maar in die toekoms sal ryk en sterk nasies voor Israel buig (v.14, hfst. 60). Uit lande soos Egipte, Kus (Etiopië) en Skeba (Jemen) sal hulle hoor wat die Here vir sy volk gedoen het (v.14, 14:2, 49:23). A.g.v. Israel wat na die Messias toe draai, sal die nasies besef dat God in hulle midde is (v.14, Deut. 4:6). Die Jode se bekering sal reaksie lok en daartoe lei dat baie van die heidene hulle bekeer (v.14, Sag. 8:23, Rom. 11:12, 15).

Ongelowiges moet ook in ons lewens sien ons is anders (Matt. 5:16, 1Pet. 2:12, 3:15). Die kerk se vyande sal ook buig en erken dat die Here in ons midde is (1Kor. 14:25, Op. 3:9).

Lyk jou lewe, verhoudings, vermaak, modes, vriendskappe, ontspanning, moraliteit, taalgebruik, die gebruik van jou tyd en geld anders as die res van die mense in jou familie, by jou werk en by die skool s’n? Kan mense in jou lewe sien jy is ‘n Christen? Of swem jy saam met die stroom? ‘Go with the crowd and you go to hell’ (Stuart Olyott).

Maar eendag sal dit verander as die nasies hulle bekeer en soos ‘n rivier na die Here toe stroom (v.14, 2:2-3). Hulle sal Hom prys vir sy plan met Israel wat vir jare verborge was (v.15). Dan sal hulle sien dat dit nog altyd sy plan was om die Jode te red en te herstel (v.15).

Ons is soos die nasies en sien nie wat die Here se plan met ons en die kerk is nie. Dit gebeur veral tydens beproewing. Ons is soos Jakob wat sê dat alles skeef loop, terwyl die Here eintlik besig is om alles vir die goeie uit te werk (v.15, Gen. 42:36, Rom. 8:28). Onthou asb. dat ons net ‘n stukkie van die legkaart sien. Vertrou daarom dat die Here weet wat Hy doen.

As jy Hom nie vertrou nie, maar soos die nasies na ander gode toe draai, sal jy verward wees en in die skande kom (v.16). Maar as jy soos Israel in die Here glo, sal jy nie die ewige skande van die hel ervaar nie. Jy sal eerder ‘n ewige verlossing kry wat jy nie in hierdie of die volgende lewe kan verloor nie (v.17, Joh 10:28-29, Rom. 8:29-30, Heb. 9:12).

2. God en die gode (v.18-21)
Die Jehova’s Getuies sê dat Jesus ‘n god is. Hy erken dat Hy alles geskep het, maar sê dat Hy nie God is nie. Maar Jesaja wys net die ware God kan skep (v.18, Ps. 96:5, Jer. 10:11). Jesus is dus die ware God wat alles gemaak het (Joh. 1:1-3, Kol. 1:16-17). Hy is die Woord waardeur God geskep het (Ps. 33:6, Joh. 1:1-3, Heb. 11:3).

Hy het die hemele, wat biljoene ligjare breed is, uitgestrek (v.12, 18). Hy het die aarde gevorm, dit op niks gehang, en maak seker dat dit in sy wentelbaan bly (v.18, Job 26:7). Die aarde was woes en leeg nadat Hy dit gevorm het (Gen. 1:1-2).

Maar Hy het dit nie so gelos nie (v.18). Hy het ses dae gevat om dit te vul (Gen. 1:3-2:25). Op dag 1-3 het Hy die omgewing geskep, en op dag 4-6 het Hy dit ingevul.

Dag 1: Lig en duisternis → Dag 4: Son, maan en sterre
Dag 2: Blou lug en see    → Dag 5: voëls en visse
Dag 3: Land en plante    → Dag 6: diere en mense

God het ook vir die mens gesê om vrugbaar te wees en die aarde te vul (v.18, Gen. 1:28).

Die skepping wys dat die Here die soewereine en enigste God is (v.18, 5, 6, 14, 21, 22). Hy is nie net hoër as die nasies se gode nie; Hy is die enigste God (v.18). En dit is hierdie God wat met sy volk gepraat het (v.19). Hy het nie in ‘n geheime hoekie gepraat nie, maar openlik toe Hy die Tien Gebooie gee, deur die profete praat, en Homself in sy Seun openbaar (v.19, 48:16, Deut. 4:15, 33, 36, 5:4, Joh. 1:14, 18, Hand. 26:26, Heb. 1:1, 2Pet. 1:20-21).

Hy praat nog steeds met ons deur sy Woord. Waar ‘n prediker uit die Bybel uit preek, sê hy nie net wat God gesê het nie. Nee, die Here sê dit weer. Hy praat weer deur sy Woord en sy Gees. As jy die Bybel met oop ore lees, dan praat die Here direk met jou! Ons moet dus met verwagting en oop ore die Bybel lees en na die prediking daarvan luister. “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” (Op. 2:29).

Wat het God vir sy volk gesê? Hy het gesê dat hulle Hom nie tevergeefs sal soek nie (v.19, Deut. 4:29, 2Kron. 15, Jer. 29:13). Die Here het in geregtigheid gespreek en nie gejok toe Hy dit sê nie (v.19, Num. 23:19, Tit. 1:2, Heb. 6:18).

Dit geld vir jou ook: jy sal die Here vind as jy Hom met jou hele hart soek (Ps. 27:8-9, Luk. 11:9-10, 13). Dit geld as jy die Here soek vir redding, hulp, rigting, genade, voorsiening, wysheid, troos, krag, vergifnis, vrede, hoop, herstel en meer.

Maar as jy die Here verwerp sal Hy Homself vir jou verberg, sodat jy Hom soek maar nie vind nie (57:17, 1Sam. 28, Spr. 1:28, Joh. 12:36b). Dan sal jy bid, maar Hy sal jou nie hoor nie (59:2, Ps. 66:18).

God het die nasies voor die hof gedaag, sodat Hy kon wys dat die gode van hout dood is, niks weet nie, gedra moet word en nie kan red nie (v.20, 41:1, 21, 44:9-20, 46:1-2). Die hof se uitspraak het gewys dat die gode vals is, en dat die Here die regverdige en ware God en Verlosser is wat die toekoms voorspel en bepaal (v.21, 41:22-23).

Moet dan nie ‘n afgod maak van jou slimfoon, jou geld, drank, Facebook, pille, ens., en daarop vertrou nie. Waar is die afgod wat jou gaan help as jou geliefde sterf, as jy kanker kry, of as jou gesin uitmekaar val? Glo en vertrou eerder die ware God deur sy Woord en gebed.

3. God en die nasies (v.22-25)
Charles Spurgeon wou weet hoe sy sonde vergewe kan word. Hy het die antwoord gekry toe hy een aand a.g.v. ‘n sneeustorm skuiling gaan soek het in ‘n Metodiste kapel. Die prediker het nie opgedaag nie. ‘n Tingerige oomie het opgestaan en vir 10 minute uit Jes. 45:22 gepreek: “Look unto me, and be ye saved, all the ends of the earth: for I am God, and there is none else.” (King James Version).

Die man het homself herhaal en vir die dosyn mense voor hom gesê om na Jesus te kyk. Spurgeon het gesien, geglo en is gered. Eendag sal die nasies hulle afgode los, hulle bekeer tot die God wat hulle geskep het, in Hom glo, hulle voor Hom neerbuig, trou aan Hom sweer, Hom aanbid en bely dat Hy die Here is (v.22-23, 6, 11:11-12, 43:5-6, Ps. 22:28, 86:9, Matt. 28:19, Hand. 1:8, 17:26, 1Tess. 1:9).

Buig jy die knie? Ek vra nie of jy ‘n geestelike ervaring gehad het nie. Ek vra nie eers of jy Jesus bely nie. Ek vra of jou lewe wys dat jy die knie voor Hom gebuig het? Leef jy gehoorsaam aan Jesus, of noem jy Hom ‘Here, Here,’ maar jy doen nie wat Hy sê nie (Luk. 6:46)?

As jy nie nou in aanbidding voor Hom buig nie, sal jy op die oordeelsdag buig en bely dat Jesus die Here van v.23 is (vgl. Rom. 14:10-12, Fil. 2:9-11). Hoe weet jy dat almal voor Hom sal buig? God het by Homself gesweer en in geregtigheid gespreek (v.23, Gen. 22:16, Heb. 6:13). Sy Woord sal nie na Hom toe terugkeer sonder om die doel te bereik waarvoor Hy dit stuur nie (v.23, 19, 55:11).

Dit is ‘n troos vir prediking, sending en evangelisasie: God se Gees kán nie onsuksesvol wees nie. As Hy wil hê dat een Etiopiër in die woestyn die Woord moet glo, sal Hy dit doen (Hand. 8). Of as Hy wil hê dat ‘n hele stad dit moet glo, sal Hy dit doen (Hand. 8).

Dit beteken nie ons moet terugsit en wag dat die nasies glo nie. Ons moet eerder baie bid en passievol preek, sodat die nasies voor die Here kan buig en Hom aanbid. Net in die Here kan hulle ‘n volle geregtigheid vind (v.24). Jesus het dit deur sy volmaakte lewe en kruisdood bewerk (2Kor. 5:21). Ons moet dit deur die geloof ontvang (Fil. 3:9).

Soek ook jou sterkte in die Here, sodat jy deur die Gees sonde kan oorkom en reg kan lewe (v.24, Rom. 8:13). Die vermoë om te doen wat die Here sê, wys dat jy nie net jy is gered nie, maar Hom regtig ken (2Tim. 3:5).

Baie ongeredde mense wat God se vyande was sal skaam wees oor hulle afgode en sonde, en met Hom versoen raak (v.24, 16). Ander sal op die oordeelsdag in skaamte voor Hom buig en erken Hy is God (v.23-24, 41:11). Israel sal nie skaam kry nie, aangesien die Vader hulle deur Jesus regverdig verklaar het (v.24-25). God sal Israel in haar geheel red, sodat sy Hom kan prys (v.25, Rom. 11:25-26).

Baie mense glo nie dat God die Jode en die nasies gaan red nie en is pessimisties. Maar as Christene in die toekoms regtig so skaars sal wees soos die Java-renoster, wonder ek wat Jes. 45 beteken en wanneer dit vervul sal word? Ek is optimisties oor die eindtyd en bid saam met die Puriteine:

‘To the eye of reason everything respecting the conversion of others is as dark as midnight. But You can accomplish great things… O bring in great numbers to Jesus! Let me see that glorious day, and give me to grasp for multitudes of souls’ [Arthur Bennett (ed.), The Valley of Vision (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 175].