Ou Testamentiese Christenskap

Abraham-and-the-stars

‘n Man in Nelspruit het vir my gesê dat my 2000 jaar oue Christenskap ‘n baba is teen sy Hindoeïsme wat 3500 jaar oud is. Maar hy was verkeerd, want volgens Paulus het God selfs gelowiges in die Ou Testament regverdig verklaar deur geloof in die Messias wat sou kom.

Abraham en ander Ou Testamentiese gelowiges se godsdiens was dus nie Judaïsme nie, maar Christenskap. Die evangelie van Christenskap is so oud soos die sondeval (Gen. 3:15). Die wet en die profete het dit voorspel en daarvan getuig (Rom. 1:2, 3:21). Ons het dus ‘n baie ryk erfenis.

‘Maar wat maak dit saak of die evangelie oud is?’ wonder iemand. Dit maak baie saak. Dit beskerm ons o.a. teen die dwaling wat sê dat die Jode gered kan word sonder geloof in Jesus, omdat God hulle kamtig in die Ou Testament deur die Tien Gebooie gered het. Per implikasie hoef jy dan nie die evangelie met die Jode te deel nie.

‘n Ou evangelie beskerm ons verder teen die dwaling wat sê ons moet terugkeer na die sg. Ou Testamentiese godsdiens van redding deur geloof plus die onderhouding van die Sewendedag Sabbat, die Ou Testament Feeste, die voedselwette, ens.

Maar Rom. 4:1-8 wys dat God selfs Ou Testament gelowiges gered het deur geloof sonder werke (vgl. 3:28). Ons sien dit o.a. in die lewe van twee karakters uit die Ou Testament.

1. Abraham (v.1-5)
As jy in ‘n debat jou opponent se sterkste argument kan afskiet, sal die res van sy argumente soos dominoes val. Paulus het die Jode se sterkste argument teen hulle gebruik en sodoende gemaak dat die res van hulle argumente platval. Hy het gewys dat Abraham uit wie hulle afstam, gered is deur geloof sonder werke (v.1-5). As Abraham deur sy werke reg was voor God kon hy roem en homself op die skouer klop (v.2).

Maar God sal dit nie toelaat nie (3:27, Ef. 2:9). Volgens die Skrif het Hy Abraham deur die geloof geregverdig (v.3, Gen. 15:6). In die konteks van Gen. 15 het God ‘n nageslag soveel soos die sterre aan Abraham belowe. Al was hy te oud om kinders te hê het hy God geglo. God het sy geloof tot geregtigheid gereken (v.3). Wat beteken dit?

Dit beteken nie dat geloof Abraham se bydrae was waardeur hy die hemel verdien het nie, want anders is daar geen verskil tussen geloof en werke nie (kontra v.4). Dit beteken ook geloof die regverdige daad was waarvolgens die Here Abraham gered het nie. In v.5 sê Paulus immers dat God die goddelose regverdig.

Dit beteken eerder dat God die voordele van die komende Messias se lewe en kruisdood in Abraham se rekening inbetaal het. Geloof was die strooitjie waardeur hy die lewende water gedrink het, die drip waardeur hy die medisyne van verlossing ontvang het. Geloof was m.a.w. die kanaal waardeur Abraham God se geregtigheid ontvang het (vgl. Fil. 3:9).

Prakties beteken dit jy moenie kyk hoe groot jou geloof is nie. Om in jouself te kyk vir die oplossing is ‘n kenmerk van elke vals godsdiens op aarde. Ware godsdiens kyk weg van hom- of haarself na Christus. Kyk daarom deur geloof na Hom. Ontvang Hom en sy geregtigheid deur die geloof. Glo dat sy kruisdood voldoende is om jou van God se toorn te red en jou sonde weg te was.

Abraham was so. As God hom deur sy werke gered het, dan is verlossing nie ‘n geskenk nie maar ‘n salaris (v.4, 11:6). Dan het Abraham die hemel verdien en is dit iets wat God hom skuld (v.4). Verlossing is dan ook nie iets wat God doen nie, maar iets wat jy vir jouself doen.

Nee, verlossing is ‘n geskenk wat God gee as jy besef dat jy goddeloos is en Jesus se lewe en kruisdood nodig het om reg te wees met Hom (v.5, 5:6). Eers dán sal God jou geloof tot geregtigheid reken en Jesus se lewe en kruisdood aanvaar asof jý perfek gelewe het en vir jou eie sonde betaal het (v.5).

Die meeste mense aanvaar dit nie, maar wil in hulleself roem en sê dat húlle iets bygedra het tot hulle redding (v.2). Die Bybel noem dit selfregverdigheid. Jesus haat dit en spreek Hom harder daarteen uit as teen prostitusie. Let gerus op hoe Hy die Fariseërs aangevat het, maar genadig was met prostitute en tollenaars.

As jy dus soos die Fariseërs op jou werke en godsdienstige pogings steun, sal God jou dubbel vergeld (Matt. 23). Jy het immers geweet wat reg is, maar jou halfgebakte geregtigheid bo God se volmaakte geregtigheid in Christus verkies (Luk. 12:47-48, 18:9-12).

Maar as jy jou sonde bely, in Jesus glo en erken dat jy goddeloos is, sal God jou met onmiddellike effek vergewe en Jesus se lewe en kruisdood in jou plek aanvaar (v.5, 2Kor. 5:19, 21). Soos met Abraham sal Hy jou geloof tot geregtigheid reken (v.5).

2. Dawid (v.6-8)
Jy het egbreuk gepleeg. Niemand weet daarvan nie. Jy probeer dit al vir ‘n jaar wegsteek. Dit eet jou op – jou gewete pla jou. Jy is bang mense sal uitvind. Jy soek vrede en doen nóg sonde om van jou egbreuk te vergeet, maar dit help nie. Dit maak net dinge erger. Jy weet wat jy móét doen, maar is bang.

Jy weet seker wie ek sopas beskryf het? Dawid. Dit was eers toe hy sy sonde openlik bely wat God hom geseën het en hy weer blydskap en vrede ervaar het. Hy het besef dat hy nie deur sy werke God se guns kan wen nie, en dat dit ook nie sy sonde kan uitbalanseer nie. Toe hy besef dat sy geregtigheid nie voor God tel nie, het hy die geregtigheid van God gesoek. Hy het die seën daarvan sonder sy goeie werke deur die geloof ontvang (v.6).

Blydskap oor hierdie seën is duidelik sigbaar by nuwe bekeerlinge wie se sonde vergewe is en wie se gewete skoon is (Hand. 8:39, 1Joh. 2:12). Dit voel vir hulle of ‘n berg van hulle skouers af is.

Dit is wat John Bunyan wou illustreer toe hy in Pilgrim’s Progress vertel hoe Christen se sondelas by die kruis van sy skouers afgeval het. Dit is ook wat my swaer vir my gesê het toe hy tot bekering kom. En dit is die punt as Paulus Dawid (Ps. 32:1-2) in v.7-8 aanhaal. Toe Dawid sy sonde wegsteek, het hy geen vrede en seën gehad nie. Hy het dit eers gekry toe hy sy sonde bely en God hom vergewe (v.7).

Dit geld ook vir ons. As jy jou sonde wegsteek sal God jou nie vergewe nie (Spr. 28:13, 1Joh. 1:8-10). Eers as Hy jou sonde vergewe en nie toereken nie, sal jy sy vreugde en seën geniet (v.8). Dit geld nie net vir ongelowiges wat hulle bekeer nie, maar vir gelowiges wat soos Dawid afdwaal en terugkeer. God sal jou herstel en met blydskap vul (Ps. 51:10, 14).

God sal jou sondige hart en rekord skoon was. A.g.v. die kruis sal Hy die sonde nie teen jou hou nie, maar jou vergewe. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde is nie: as jy in Jesus glo sal God dit bedek (1Kor. 6:11, 9-10).

The deepest sin can’t rise above
Calvary’s love.
-Steve Green-

His blood can make
the foulest clean.
-Charles Wesley-

The vilest offender who truly believes,
that moment from Jesus a pardon receives.
-Fanny Crosby-

Dink bv. aan die dief wat langs Jesus aan die kruis was: Jesus het hom onmiddellik vergewe. Dit is ook waar van Paulus toe hy op die Damaskuspad tot bekering kom. Ek dink ook aan George Müller wat voor sy bekering geld gesteel het, ‘n dronkaard was, losbandig gelewe het, leuens vertel het, bedrog gepleeg het en mense gekul het [The Autobiography of George Müller (Whitaker House: New Kensington, 1985), 10-21]. Net so kan die Here jou in ‘n oomblik red, vergewe en nuut maak.

Bring daarom die sonde wat jou gewete pla en jou lewe misrabel maak na Hom toe: die bitterheid, navolgling van vals lering, biddeloosheid, dronkenskap, pornografie, seksuele immoraliteit, angs, vrees, egskeiding, woede, jaloesie, hoogmoed, oneerlikheid, diefstal, leuens, disrespek vir jou ouers, onbetrokkenheid in jou kinders se lewens, versaking van jou lewensmaat, verslawing, luiheid, murmurering, ens.

Kom vandag na Jesus toe. Hy sal al jou sonde bedek en jou skoon was met sy bloed (v.7, Jes. 1:18, 1Joh. 1:7). Dit geld vir die diepste sonde in jou verlede, jou hart, jou begeertes, jou natuur, jou denke, ens. Jy sal nie meer in die rooi wees nie – God sal jou skuld geheel en al afskryf. Daar is geen fynskrif of ander voorwaardes nie. Ontvang eenvoudig God se vergifnis en geregtigheid as ‘n gratis geskenk van sy genade.

As jy dit doen sal jy besef dat Ou Testamentiese Christenskap nie ‘n fossiel van die ou tyd is nie. Dit is nie iets wat saam met die dinosourusse uitgesterf het nie. Dit is ook nie iets wat net in die hemel leef waar Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Moses, Elia, ens. by Jesus is nie (Matt. 8:11, 17:3, 22:32, Luk. 16:23). Dit is vandag nog so lewend soos wat dit in hulle tyd was.

Dit is soos die coelacanth. Mense glo dat hierdie vis 70 miljoen jaar gelede uitgesterf het (nie dat ek in miljoene jare glo nie). Maar in 1938 het hulle ‘n lewende coelacanth teen die kus van Suid-Afrika naby Oos-London gevind.

Soos die coelacanth is Christenskap (wat al van Genesis af kom) ‘alive and well’. Christene is egter nie soos hierdie vis waarvan daar net ‘n paar honderd oor is nie. Trouens, dit is stadig maar seker besig om uit te brei. Voor die wederkoms sal die godsdiens van Abraham die wêreld oorneem: “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes. 11:9).