Die belangrikste paragraaf in die Bybel

Romans 3:21-26

Toe ek in die laerskool was, was daar ‘n Vita-C advertensie van ‘n ou man en ‘n seuntjie wat op ‘n park bankie sit. Die ou man het ‘n lemoen gehad en die seuntjie ‘n Vita-C lekkertjie.

Die ou man wou baie graag ‘n lekkertjie hê en het vir die seuntjie gesê dat hy sy lemoen vir ‘n Vita-C sal ruil. Die seuntjie wou nie, omdat een lekkertjie meer vitamien C as ‘n lemoen bevat.

Rom. 3:21-26 is so: dit is redelik kort, maar elke woord is vol betekenis. ‘n Australiese teoloog genaamd Leon Morris sê oor hierdie verse: ‘This is possibly the most important single paragraph ever written.’ [Aangehaal in John Stott, The Bible Speaks Today: Romans (Notthingham: Inter-Varsity Press, 1994), 109]. In hierdie verse antwoord Paulus Job se vraag: “hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” (Job 9:2). Kom ons bestudeer die frases een vir een.

1. God openbaar sy geregtigheid sonder die wet (v.21a)
Die Puriteine het die rare vermoë gehad om ‘n hele boek te skryf oor een vers of oor ‘n deel daarvan. Martyn Lloyd-Jones het lank na hulle geleef, maar was tot ‘n mate so. Hy het bv. ‘n hele preek oor die woorde, ‘Maar God’ in Ef. 2:4 gepreek. In hierdie woorde wys Paulus die kontras tussen ons sonde en God se liefde.

Die woorde, ‘Maar nou’ in Rom. 3:21 is byna dieselfde en is volgens party mense twee van die mooiste woorde in die hele Bybel. Paulus stel hier ‘n kontras tussen mense wat die wet breek (1:18-3:20) en God wat sonder die wet sy geregtigheid aan ons voorsien, sodat ons voor Hom kan staan (v.21).

Sulke liefde moet jou hart smelt om die Here te prys, te dien, lief te hê, te gehoorsaam en jouself aan Hom te gee (Ef. 1:3-14, Rom. 12:1, 1Joh. 4:19). Dit is ondankbaar om die God te ignoreer wat aan jou asem gee. Maar dit is erger as jy die Een wat alles gedoen het om sondaars te red ignoreer. In daardie geval is jy so ongevoelig soos vet en het jy ‘n hart van klip (2:5, Ps. 119:70).

Om net ‘n kennis van die Bybel te hê, kerk by te woon, te bid, ens., sonder dat jy ‘n hart van liefde vir God het, is nie Bybelse Christenskap nie (Luk. 10:27). Dit is ‘n bose namaaksel.

Maar dit help ook nie dat jy hierdie emosies kunsmatig probeer opwek nie. Om hierdie emosies reg te voel moet jy die volgende doen:

  • Bid dat die Heilige Gees jou hart en verstand sal open om evangelie te verstaan.
  • Oordink die evangelie en bid vir nog begrip.
  • Glo die evangelie.
  • ‘n Gevoel van berou, liefde, blydskap, dank, vrede, ens. sal volg.
  • Toon ‘n gepaste reaksie op die bg. emosies. Voel jy berou? Bely jou sonde en bekeer jou. Voel jy blydskap en danksegging? Bid en sing. Voel jy liefde? Prys en gehoorsaam die Here. Voel jy vrede? Sê dankie en rus in God se vrede.

Die punte wat ek hierbo genoem het geld nie net vir ongelowiges nie, maar vir gelowiges wat koud en hard geraak het (Ps. 51:14, 2 Tim. 1:6, Op. 2:4). As jy nie na die Here toe terugkeer nie, sal jy ongelukkig bly en sal Hy jou aktief teenstaan (Op. 2:5).

2. Die wet en die profete getuig daarvan (v.21b)
Die son se invloed is oral in die skepping. Dit laat groen plante groei en maak so dat mense en diere kos het. Dit bak die aarde warm en laat die warm lug opstyg. Die warm lugstrome laat die wind waai. Die son laat die see verdamp, die wolke vorm en die reën val. Die son hou die maan en planete in hulle wentelbane.

Jesus is so en hou die Ou- en Nuwe Testamente bymekaar. Hy is oral in die Skrif. Die wet en die profete getuig van die geregtigheid van God wat ons deur Hom ontvang (v.21b, Eks. 12, Ps. 22, Jes. 53). As God dan die evangelie eeue voor Christus reeds aangekondig het, wys dit dat Hy al lankal beplan het om ons te red. Hy het dit voor die skepping beplan (Ef. 1:4-5) en direk na die sondeval in Gen. 3:15 aangekondig.

As God dit dan lankal in die wet en profete aankondig het, wys dit dat Hy gewillig is om ons te red. Verlossing is sý inisiatief en plan. Moet daarom nie dink dat Hy onwillig is om jou of ander sondaars te red nie. Herinner Hom aan sy gewilligheid om te red, en bid vir jouself en jou geliefdes.

3. Ons ontvang dit deur die geloof (v.22-23, 25)
Hoekom kan ons nie deur die wet reg wees met God nie? Want almal het gesondig en God se wet gebreek (v.22-23, 10-12, 1:18-3:20). Ons leef vir onsself en ons sonde, en nie volgens ons skeppingsdoel tot God se eer nie (v.23, Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31).

Party mense is beter as ander, maar almal skiet ver kort (v.23). Dit is soos ‘n klomp mense wat op die strand staan: party spring verder as ander, maar niemand kan oor die see spring nie. Handley Moule sê: ‘The harlot, the liar, the murderer, are short of it [God’s glory]; but so are you. Perhaps they stand at the bottom of a mine, and you are on the crest of an Alp; but you are as little able to touch the stars as they.’ [Ibid.].

Hoe verklaar God ons dan regverdig? Deur geloof in Jesus Christus (v.22, 25). As jy in Jesus glo gee God sý regverdige rekord vir jou en aanvaar Hy sy kruisdood asof jy self die prys vir jou sonde betaal het (v.22, 25, Fil. 3:9).

Doen daarom alles moontlik om hierdie geloof te kry. Dit is immers die sleutel wat God se skatkis oopmaak en aan jou die res van sy gawes gee. Geloof is die hand wat Jesus uit die hemel na jou hart toe bring. En as jy Jesus het, het jy alles uit die bodemlose put van sy genade. Jesus is die Erfgenaam van alles en ons saam met Hom (Rom. 8:17, Ef. 1:3, Heb. 1:2).

Hoe kan jy hierdie geloof kry wat Jesus afbring na jou hart toe? Vra Hom daarvoor (Mark. 9:24, Luk. 17:5, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Moenie in jouself kyk of jy dit het nie. Vergeet van jouself en kyk na Jesus in die Woord. Bid dat Hy Homself aan jou bekend sal maak.

4. God gee dit gratis (v.24a)
Mense raak agterdogtig as jy ‘n duur item gratis weggee. Hulle is al genoeg gevang met sms’e en oproepe wat geld en gratis vakansies belowe. Hulle beskou daarom ook God se gratis verlossing met agterdog.

En tog is dit nie verdag nie: die geregtigheid wat jy nodig het om voor God te staan is regtig gratis (v.24a, 6:23). Sal God sy geliefde en unieke Seun vir jou gee en die gratis geregtigheid wat jy nodig het om in die hemel te kom terughou (Rom. 8:32)?

Los jou agterdog en ontvang God se gratis geregtigheid deur die geloof (v.22, 24a). Los ook jou trots wat nie wil erken dat jy te sleg is om God se verlossing te verdien nie. Dit verheerlik die Here as jy niks bring en vir sy genade vra. Dit is ‘n klap in sy gesig as jy sê dat Jesus se kruisdood nie voldoende is nie, maar dat jy iets wil bydra.

5. Jesus koop dit vir ons (v.24b)
Gestel ‘n ryk man gee vir jou ‘n Rolls Royce. Beteken die gratis kar dat dit goedkoop is? Nee. Dit kos hom ‘n goeie R20-30 miljoen. Net so beteken God se gratis geregtigheid nie dat dit goedkoop is nie. Dit kos Jesus se lewe (1Pet. 1:18-19). Hy het ons van sonde en Satan vrygekoop (v.24b).

Die gepaste reaksie is nie om die Bybel te lees, te bid, geld te gee, kerk by te woon en goeie werke te doen asof jy Hom kan vergeld nie. Doen eerder hierdie dinge uit liefde met die wete dat jy Hom nie kan terugbetaal nie. Sê net dankie, prys Hom en vra vir nog genade.

Om vir nog genade te vra verheerlik Hom net soveel soos danksegging, omdat jy daardeur erken dat Hy ryk is en jy arm. Sodoende erken jy ook dat alles wat jy het van Hom af kom (1Kron. 29:14, Joh. 3:27, 1Kor. 4:7, Jak. 1:17).

Wat ek is is net genade,
wat ek het is net geleen

-Koos du Plessis-

6. Jesus het dit bevredig (v.25-26)
Omdat ons God se wet gebreek het, vereis sy geregtigheid dat ons gestraf moet word. Maar in sy liefde het Hy mens geword om die wet namens ons te onderhou en ons straf te dra asof Hý dit oortree het. Op hierdie manier het Jesus die Vader se toorn afgewend en dit bedaar. Dit is wat die Griekse woord vir versoening [hilastērion] in v.25 beteken.

Liberale teoloë haat dit dat God se toorn op sy Seun uitwoed en noem dit Cosmic Child Abuse (John Dominic Crossan). Ander mense wil liede soos In Christ Alone sing maar die woorde verander. Een groep wou bv. nie die woorde hê wat sê:

’Til on that cross as Jesus died,
the wrath of God was satisfied.

Maar hulle haat vir God se toorn op Golgota wys dat hulle dink die mens is nie so sleg nie en God nie so heilig nie. Hulle beskou v.25 verkeerd en dink dat Jesus ons wil red, maar die Vader nie. Hulle dink dat Jesus aan die kruis gesterf het om ‘n kwaai God te keer.

Maar die Vader self het ons lief en het die inisiatief geneem om ons te red (v.25, Joh. 3:16, 16:27, 1Joh. 4:10). Die evangelie is nie ‘n heidense godsdiens waarin die aanbidder iets moet offer om ‘n wispelturige god se toorn te bedaar nie. God het Homself in Christus gegee om sy toorn af te wend (v.25). Jesus se bloed het uitgeloop. Hy het die beker van God se toorn gedrink sodat ons nie hoef nie (Joh. 18:11, Op. 14:10).

Ons wil die lering oor God se toorn vermy en nie daaroor dink nie. Maar soms moet ons daaroor dink om te besef waarvan Hy ons gered het, asook wat dit Jesus gekos het om ons te red. As ons dit besef sal ons die Vader en die Seun meer liefhê, en sonde meer haat.

As jy dink dat sonde nie so erg is nie, sal jy sê dat die hel onregverdig is, en dat die kruis nie só nodig is vir ons redding nie. Jy sal dink dat ons ook deur ander godsdienste gered kan word. Jy sal dink dat God ‘n R150 boete afgeskryf het, en Hom nie so liefhê soos iemand wat besef dat Hy eintlik ‘n $900 triljoen boete afbetaal het nie (Luk. 7:41-43, 47).

Nou en dan sê een of ander liberale teoloog dat die God van die Ou Testament kwaai is en net wil straf, terwyl die God van die Nuwe Testament liefdevol en genadig is. Hulle maak asof daar twee Gode is, en verkies die God van die Nuwe Testament.

Maar dit is niks anders as die antieke dwaling wat gnostisisme genoem word nie. Hierdie lering is onwaar, aangesien die God van die Ou Tesament baie liefdevol en geduldig is. Vir 4000 jaar het Hy juis nié die mens uitgewis soos wat hy verdien nie. Hy het bv. nié vir Adam en Dawid hel toe gestuur nie, maar hulle sonde oorgesien.

Beteken dit dat Hy ‘n korrupte Regter is wat die onreg laat seëvier? Nee. Hy het hulle sonde oorgesien, omdat Hy self in die toekoms die straf vir hulle sonde sou dra aan die kruis (v.25). Jesus het m.a.w. nie net aan die kruis gesterf om ons sonde weg te vat nie, maar om te wys dat God regverdig is en die sonde nie oorsien nie (v.25). Op grond hiervan het John MacArthur in ‘n preek gesê: ‘Who did Jesus die for? He died for God, to show his righteousness.’

God wys ook sy geregtigheid wanneer Hy deur Jesus se kruisdood die vuil klere van jou sonde uittrek en vir jou die skoon klere van Christus se geregtigheid aantrek (v.26, Sag. 3:3-5, 2Kor. 5:21). As God ons sonder die kruis vergewe en regverdig verklaar het, was Hy soos ‘n korrupte regter in Suid-Afrika wat die misdadiger vrylaat. As Hy ons aan die ander kant gegee het wat ons verdien, was ons almal in die hel.

Jesus se kruisdoood is die oplossing: God is regverdig en straf ons sonde in Christus. Hy verklaar ons ook regverdig deur ons geloof in Christus (v.26). Die kruis wys God se geregtigheid en genade: “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” (Ps. 85:11).

As God dan soveel moeite gedoen het om sy geregtigheid te wys, moet ons Hom nie van ongeregtigheid beskuldig nie.

  • Hy is nie onregverdig as Hy mense wat in hulle sonde volhard hel toe stuur nie.
  • Hy is nie onregverdig as Hy vir Jakob kies en nie vir Esau nie (9:14, 21, Matt. 20:15).
  • Hy is nie onregverdig as Hy die heidene wat nog nooit van Jesus gehoor het vir hulle sonde straf nie (1:19-21, 2:14-15).
  • Hy is nie onregverdig as Hy mense aan hulle harde harte oorgee, sodat hulle nie kán glo nie (9:18).
  • Hy is nie onregverdig as Hy geduldig is met Julius Malema en Hom nie dadelik vir sy sonde straf nie.
  • Hy is nie onregverdig as Hy sg. ‘onskuldige’ mense doodmaak nie (5:12).
  • Hy is nie onregverdig as Hy beproewing oor jou pad stuur nie.

Sê eerder dat God reg is, al verstaan jy nie alles nie. Hy is die definisie van wat reg en verkeerd is. Buig voor wat Hy sê reg is.

Maar prys Hom die meeste dat Hy jou deur die kruis so regverdig soos Jesus beskou. Deur Christus se geregtigheid is jy in status so regverdig soos die gelowiges in die hemel. Vir ‘n vrou in Oos-Londen was dit die beste nuus ooit. Toe sy hoor hoe wyle dr. Martin Holdt daaroor preek, wou sy niks anders hoor nie. En as jy dit eers snap sal jy dieselfde voel, omdat dit die beste nuus in die wêreld is.