Sondaars in God se hof

Malet and lawbooks

Kom asseblief saam met my hof toe.  Wat sien jy (dit is ’n kriminele saak)?  Daar is ’n beskuldigde wat aangekla word van ’n misdaad.  Daar is ’n aanklaer [Eng. prosecuting attorney] en ’n verdedigende advokaat [Eng. Defense attorney].  Laastens sien jy die magistraat of die regter.

 

Die aanklaer begin: ‘Hier is die beskuldigde, en dít is waarvan hy aangekla word.  Hier is die redes hoekom hy skuldig is.’  Daarna kom die verdedigende advokaat: ‘My kliënt is nie skuldig nie.  My redes is soos volg…’

 

Uiteindelik is daar ‘n kruisondervraging: ‘Mnr. Du Plessis, waar was jy Donderdag 17 Mei om 19h00?…’  Daarna is dit die verdedigende advokaat se beur: ‘Mnr. Du Plessis…’  Hy vra vrae om te wys dat sy kliënt onskuldig is.  Later in die hofsaak is daar sluitingsargumente.  Einde ten laaste kom die Regter se uitspraak: ‘Skuldig!’ of ‘Onskuldig!’  Indien die persoon skuldig is, word hy gevonnis.

 

Dit is min of meer die volgorde in Rom. 3:1-20.  Soos in Rom. 1-2 wil Paulus in hierdie verse wys dat almal skuldig is.  Eers as hy dít gedoen het, kan hy vir jou die oplossing gee.

 

  1. Kruisondervraging (3:1-8)

Ek ken ’n prediker wat vrae vra wanneer hy preek.  Hy doen dit om sy gehoor te laat dink.  Eintlik is hy besig met ‘n dialoog.  Dit is presies wat Paulus in hierdie verse doen.  Dit lyk asof dit sy styl van prediking was.  Die tegniese term hiervoor is diatribe.

 

Dalk het Paulus ’n denkbeeldige persoon in gedagte gehad, of dalk het hy regtig met sulke Jode te doen gekry.  Wat hy hier doen is byna ‘n tipe kruisondervraging.  Sy opponente vra die vrae en hy antwoord.

 

Beswaar #1: ‘As die Jode volgens 2:25-29 God se uitverkore verbondsvolk is, as ons die besnydenis het, en as ons ten spyte daarvan nog geoordeel gaan word, wat help die besnydenis en die verbond dan?’

 

‘n Mens sou verwag dat Paulus gaan sê dat dit niks help nie, maar dit is nie wat hy sê nie.

 

Paulus se antwoord: ‘Die besnydenis en die verbond het baie groot waarde (v.2).  Kyk na al die voorregte wat die Jode het.  Die grootste een is seker dat hulle, anders as die heidene, die Woord van God ontvang het (Ps. 147:19-20, Hand. 7:38).

 

‘God het sy wet (opgesom in die Tien Gebooie) deur Moses gegee.  Hy het dit ook deur die profete gegee: ‘So spreek die Here…’  Maar die feit dat hulle God se Woord het is geen sekuriteit teen die oordeelsdag nie.  Hulle kan nie sê: “Ons het die wet en sal dus nie geoordeel word nie.” 

 

‘Julle gáán geoordeel word.  Julle het baie voorregte gehad maar dit nie gebruik nie.  Ek sal later hierop uitbrei.’

 

Net so gaan die Here jóú op die Oordeelsdag vra: ‘Wat het jy met my Woord gedoen?’  Jy is meer bevoorreg as die Jode.  Hulle het net die Ou Testament gehad.  Jy het die Nuwe Testament by.  Wat het jy daarmee gedoen?

 

Ignoreer jy die Bybel?  Of lees jy dit?  Doen jy moeite om na die verkondiging daarvan te luister?  Is jy lief vir die Bybel?  Begeer jy dit; het jy ’n verlange daarna?  Respekteer jy en gehoorsaam jy dit?

 

Of is jou Bybel vol stof, omdat dit net op ’n Sondag uitkom (of dalk nie eers nie)?  Het jy familiêr geraak met die Bybel?  Neem jy dit as vanselfsprekend?

 

Ek wil jou aanspoor om weer Ps. 119 te lees.  Oordink die Psalm en bid daardeur.  Die hele Psalm gaan oor die Woord van God.  Dit is soeter as heuning en kosbaarder as goud (Ps. 19:11, 119:14, 72, 103, 127).

 

Wees soos die 16-jarige Mary Jones.  Sy is die Walliese meisie wat in die jaar 1800 (of was dit 1799?) 58 km geloop het om ’n Bybel te koop.  Sy het kaalvoet geloop, want sy kon nie skoene bekostig nie.  Toe sy tussen skoene en die Bybel moes kies, het sy die Bybel gekies.

 

Wees soos die jong mense van Wallis gedurende hierdie tyd.  Toe ’n sekere William Hone (’n Engelse ateïs wat Wallis besoek het) sien hoe ‘n jong meisie op haar stoep sit en die Bybel lees, toe sê hy: ‘Die Bybel!  Jou ma het seker vir jou gesê hoeveel hoofstukke jy moet lees.’  ‘Glad nie,’ het sy geantwoord.  ‘Ek wens ek kon dit die hele dag lees.’[1]

 

Beswaar #2: ‘Die feit dat ‘n paar Jode ontrou was negeer nie God se getrouheid nie.  Hy sal nog steeds sy verbond met die Joodse volk as ‘n geheel nakom en ons nie oordeel nie’ (v.3).

 

Paulus se antwoord: ‘Jy is reg, God is nie ontrou nie.  Maar sy getrouheid beteken ook dat Hy nie leë dreigemente maak nie: Hy sal die oortreder straf (v.4).  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2Tim. 2:13).

 

‘Die getroue God lieg nie, maar doen wat Hy belowe (Eks. 34:6, Num. 23:19, Deut. 32:4, Klaagl. 3:23, Tit. 1:2).  Omdat Hy die Waarheid is (Joh. 14:6), sal Hy sy Woord hou.  Al sou elke mens op aarde sê dat Hy ontrou is, sal Hy sy beloftes hou en wys dat alle mense leuenaars is (v.4, Ps. 116:11).  Volgens Dawid is ons dit van geboorte af (Ps. 58:4).’

 

God wen en ons verloor altyd in sy hof.  As jy in God se hof staan en sê: ‘Ek is nie so sleg nie, ek verdien nie die hel nie, ek kan iets doen om myself te red,’ is daar vir jou geen hoop nie (Spr. 28:13, Luk. 18:9-14).  As jy sê: ‘Ek het nie gesondig nie,’ is jy ’n leuenaar en maak jy God tot leuenaar (1Joh. 1:8, 10).

 

Daar is hoop as jy soos Dawid erken dat jy teen die Here gesondig het, dat jy verkeerd is, en dat Hy reg doen om jou te tugtig (v.4, Ps. 51:6).

 

Ons moet wees soos die Indiaanse vrou in 1746.  Sy het onder diep sonde oortuiging gekom.  Sy het besef: ek verdien die hel en ek kan niks doen as Christus my nie red nie.  Hy moet álles doen om my te red.  Dit sal reg wees as Hy my hel toe stuur.  Hy hoef ook niks te doen om my te red nie.  Dit is genade as Hy enigiets doen om my te help.[2]

 

Maar moet asb. nie dink dat sonde oortuiging dieselfde is as redding nie.  Iemand kan van sonde oortuig wees sonder dat hy hom bekeer (sien Matt. 27:3-5, Hand. 8:20-24, 24:25).  Kom dus na Jesus toe.  Bekeer jou.  Glo in Jesus.  Vertrou op Hom.  Hoop op Hom.  Roep uit dat Hy jou sal red.

 

Beswaar #3: ‘My ongeregtigheid en leuens sal maak dat God sy ware Woord vervul en my volgens sy geregtigheid straf (v.5, 7).  Hoekom straf Hy my dan nog as die donker nag van my sonde die sterre van sy geregtigheid beter wys (v.5, 7)?’

 

Paulus voel so skaam oor hierdie lasterlike argument, dat hy verskoning vra en sê dat hy ‘menslikerwys’ praat (v.5).

 

Paulus se antwoord: ‘As God ons sonde bevorder is Hy onregverdig.  En hoe kan ‘n onregverdige God die wêreld oordeel (v.6, Gen. 18:25, Deut. 32:4, Ps. 97:2, Hand. 17:31)?’

 

Die regverdige is verward as ongeregtigheid seëvier.  Die goddelose kom weg en dink niks sal gebeur nie.  Maar elke hond kry sy dag.  ‘Justice may be a lion asleep, but at last the lion will awake, and roar upon the sinner.’[3]

 

Daar is net een uitweg.  Kom ek verduidelik aan die hand van ‘n illustrasie.  ‘n Man in ons gemeente het my van sy bekering vertel.  Terwyl die prediker besig was het Louis ‘n kruis agter die kansel gesien.  ‘Dit was vir jou,’ het hy gedink.

 

Hy was reg.  Jesus het die prys vir ons sonde betaal en die straf gedra wat ons moes kry.  Daar het God sy geregtigheid uitgemeet en sy toorn bedaar (3:25-26, 4:5).  As jy daarom in Jesus glo sal God jou nie oordeel nie (8:1, Joh. 5:24).

 

Beswaar #4: ‘As almal dan skuldig is en goeie werke ons nie red nie, hoekom doen ons dan nie maar sonde sodat God sy goeie planne kan vervul nie – soos wat Paulus in elk geval glo nie (v.8a)?’

 

Paulus se antwoord: ‘Ek gaan nie eers jou beswaar antwoord nie (Spr. 26:4).  Die manier waarop jy my belaster en valslik beskuldig wys dat jy God se straf verdien (v.8b).’

 

My pa het ‘n paar weke gelede met ‘n Jehova’s Getuie gepraat.  Die man het gesê dat die hel onwaar is en dat ‘n God van liefde nie mense hel toe sal stuur nie.

 

Maar ons klagtes teen die hel wys dat ons nie God se heiligheid en die erns van sonde verstaan nie.  God se veroordeling van sondaars is heeltemal regverdig (v.8).  Paulus se sluitingsargumente in v.9-18 bevestig dit.

 

  1. Die sluitingsargumente (v.9-18)

Tydens die Oscar Pistorius saak het almal oor Barry Roux gegons… totdat Gerrie ‘Pitbull’ Nel sý saak gestel het.  Paulus was so.  Sy sluitingsargumente teen sondaars in God se hof is die spykers in die kis.  Ons kan niks sê nie.  Sy argumente is soos volg:

 

[a] Die Jode het meer voorregte as die heidene gehad (v.2, 9:4-5).  Hulle het dit egter misbruik en is nie beter af as die heidene nie (v.9).  Hulle het God se wet gebreek en is daarom onder die mag van sonde net soos die heidene (v.9, 3:23, 1:18-32, 2:17-29, Gal. 3:22).

 

Wit of bruin mense het nie ‘n beter kans op die hemel as swarte mense nie (of andersom).  Almal is skuldig, het teen die Here gesondig, is onregverdig, ens. (v.9-12).

 

[b] Die Bybel wys dat almal skuldig is: “soos geskrywe is…” (v.10a).  Sal jy dit waag om teen die Woord van God te stry?

 

[c] Elke mens is skuldig in sy wese (v.10-12), woorde (v.13-14) en dade (v.15-18).  Almal is nie so sleg soos wat hy of sy kan wees nie, maar elke deel van ons menswees is besoedel.

 

[d] Niemand (niemand!) is in homself regverdig nie (v.10b, Ps. 14:1-3, 53:1-3).  Die mens is nie basies goed soos wat sielkunde sê nie, maar basies sleg.  Ons is in sonde ontvang en gebore, en is dood in ons misdade en sondes (Ps. 51:7, Ef. 2:1-3).

 

Ongelowiges kan uiterlik goed lyk, maar God ken hulle harte.  Dink maar aan hoe sondig jou eie hart en gedagtes is.  Wat dan van die ongelowige s’n?

 

Dink ook aan sg. goeie mense wat ‘onverwags’ vreeslike dinge gedoen het.  Waar het dit vandaan gekom?  Dit was nog die hele tyd in hulle harte (Mark. 7:21-23), jy het dit net nie gesien nie.

 

[e] Niemand is geestelik verstandig nie; niemand vul sy of haar gedagtes met God nie (v.11).  Niemand soek God nie (v.11).  Mense voel leeg, maar vul hulle harte met sonde en nie met God nie.  As iemand God soek, is dit omdat God aan die begeerte in sy hart geplaas het en hom eerste gesoek het (Gen. 3:8-9, Luk. 15:8, 19:10).

 

[f] Die mensdom het van die Skepper af weggedraai (v.12a, Ps. 58:4, Jes. 53:6).  Sonde maak mense nutteloos en waardeloos (v.12b).  Moet dan nie vir jouself sê dat jy eintlik ‘n goeie mens is nie.  Moet ook nie te veel van jou sg. goeie selfbeeld maak nie.  Besef eerder dat jy sleg is sonder God.  Die waarde wat jy het moet jy by Hom kry.

 

[g] Niemand (niemand!) doen goed nie (v.12c, Spr. 20:9, Pred. 7:20).  Party mense doen goeie dade, maar doen dit met slegte motiewe.  Om dit te doen is nie goed nie.

 

[h] Die stembande waaruit die klank van ons woorde ontstaan, asook ons tonge wat lieg is ‘n oop graf.  Dit maak dat ander kan ruik hoe vrot ons harte is, want wat die hart van vol is loop die mond van oor (v.13a-b, Ps. 5:10, Matt. 12:34).

 

Die dodelike addergif onder ons lippe beskadig ander (v.13c, Ps. 140:4, Spr. 12:18).  Ongelowiges se monde is vol vervloeking en bitterheid (v.14, Ps. 10:7).

 

Bewaar jou tong (Jak. 3:1-12).  Bid Ps. 141:3: “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”  Om ander mense te vloek, te laster, te beskinder, sleg te sê en leuens oor hulle te vertel maak seer.  As jy jou nie daarvan bekeer nie, sal jou woorde die jurie wees wat op die oordeelsdag teen jou getuig (Matt. 12:36-37).

 

[i] Mense se voete is haastig om bloed te vergiet (v.15, Spr. 1:16, Jes. 59:7).  Hulle sondig nie per ongeluk nie, maar hardloop om dit te doen (v.15, Spr. 6:18).

 

[j] Hulle paaie vol van verwoesting en verdriet (v.16, Jes. 59:7).  Waar hulle gaan los hulle ‘n string van verwoesting en gebroke verhoudings agter hulle (v.16).

 

[k] Die pad van vrede ken hulle nie; hulle lewe nie in vrede met ander nie, maar is voortdurend besig is om met iemand te twis (v.17, Jes. 59:8).

 

[l] Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie (v.18, Ps. 36:2).  Hulle is nie bang vir die oordeelsdag en die hel nie, maar spot en lag daaroor.  Kinders vloek hulle onderwysers en lag vir hulle.  Misdadigers lag vir die polisie.  Ek het in die hof gesien hoe die beskuldigde vir die regter lag en aangehou het toe die regter hom daaroor uittrap.

 

Mense vloek en laster Jesus se Naam.  Misdadigers roof helder oordag en hardloop nie eers weg nie; hulle loop rustig weg asof hulle oppad is om ‘n brood te koop.  Hulle is nie bang vir die gevolge van hulle sonde nie.  Hulle het geen vrees vir God nie.

 

Almal doen nie alles in v.10-18 nie, maar kan jy God op die oordeelsdag in die oë kyk en sê jy is onskuldig?

 

  1. Die uitspraak (v.19-20)

Elke advokaat wil sy kliënt onskuldig bewys.  Jesus is anders en wil wys dat sy kliënte skuldig is.  Ons kan nie soos die Jode in die wet roem nie.  Niemand kan deur die wet regverdig of onskuldig wees nie (v.20).  Die wet is die polisie wat jou platslaan en die advokaat wat jou mond toestop en wys dat jy verdien om gestraf te word (v.19-20, 7:7).  Die bewyse is oorweldigend (v.10-18).

 

As jy ‘n gelowige is moet jy besef dat die wet jou goeie vriend is wanneer jy die evangelie deel.  Die sondaar moet sy verlore toestand en swart hart sien voordat hy sal uitroep om gered te word.  Die wet red niemand nie, maar wys mense se sonde uit en dryf hulle na die Een toe wat red (Gal. 3:24).  Gebruik daarom die wet met jou kinders.  Dalk dink jy dis wreed.  Maar dit is eerlik en sal hulle na Jesus toe dryf.

 

Maar om net die wet te is nie genoeg nie.  Die wet moet tande hê.  Daar moet m.a.w. gevolge wees wanneer jou kinders oortree.  Vrees sal hulle nie red nie, maar dit sal hulle desperaat maak en dryf om hulp te soek.  Hulle sal dit in Jesus vind.

 

Daarom moet ons nie net die wet preek nie.  ‘n Prediker genaamd John Rowland het die wet so erg verkondig dat mense flou geword het van angs.  ‘n Ander leraar genaamd Gilbert Tennent het ds. Rowland se preek onderbreek: ‘Brother Rowland, is there no balm [Afr. salf] in Gilead?’ het hy gesê.  ‘Is there no physician there?’[4]

 

Die saak in God se hof eindig nie met die Regter se uitspraak en vonnis nie.  As jy in Jesus glo sal Hy uit die Regterstoel opstaan, vir jou die spyker merke in sy hande en voete wys, vir jou sê dat Hy die skuld betaal het, dat Hy sy perfekte geregtigheid aan jou toereken, jou aanneem om sy kind te wees, die wet op jou hart sal skryf, en sy Gees sal gee om jou bekwaam en gewillig te maak om die wet te gehoorsaam.

 

[1] Iain Murray, Heroes (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 2009), 136-137

[2] Jonathan Edwards, Works: vol. 2 (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 406-407

[3] Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1958 [1692]), 90

[4] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1 (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1970), 488