Selfregverdig, godsdienstig en verlore

Self righteous

Toe ons verlede jaar in die Oos-Kaap was, toe ry ons deur Graaff-Reinet.  Ons het in die ou NG-Kerk ingegaan.  Ek het vir my kinders vertel dat baie van die Afrikaners wat in die verlede kerk toe gegaan het, ongered was.  Hulle was so selfregverdig, godsdienstig en verlore soos die Jode in Rom. 2:17-29.

 

  1. Die wet (v.17-24)

Soos die meeste ongelowiges is die deursnee Afrikaner selfregverdig en trots.  Hy trap in die volgende sewe strikke waarin die Jode getrap het.

 

Strik #1: ‘Ek is nie ‘n heidense sondaar nie, maar ‘n Jood wat deel is van God se uitverkore volk’ (v.17).

Hoeveel Afrikaners ken jy wat hulle redding op die uitverkiesing baseer en nie op Jesus se kruisdood nie?  Hulle sal dit nie so sê nie, maar as jy hulle oor hulle redding vra skitter Jesus se kruisdood in sy afwesigheid.  Hulle dink dat hulle uitverkies is omdat hulle Afrikaans is en deel van die verbondsvolk.

 

Strik #2: ‘Ek steun op die wet wat God vir Israel gegee het en nie vir die ander nasies nie’ (v.17, 3:2, 9:4, Ps. 147:19-20).

Soos die Jode verstaan baie Afrikaners nie die wet nie, en dink hulle dat die Here hulle sal aanvaar as hulle hulle beste doen om daarvolgens te lewe.  Dink jy so?  Wat van jou kinders, kleinkinders, familie, vriende en kollegas?

 

Strik #3: ‘Ek beroem my op God’ (v.17).

Dit is goed om in die Here te roem (Jer. 9:23-24), maar dit is nie goed om daarin te roem dat Hy jóú uitverkies het nie.  God se uitverkiesing moet jou nederig maak en nie hoogmoedig nie (Ef. 1:4-6).  Moenie dink dat die Here besluit het om jou te red, omdat jy so kosbaar is nie.

 

Strik #4: ‘Ek ken God se wil soos Hy dit in die Bybel geopenbaar het’ (v.18).

En ek het al drankverslaafde boemelaars ontmoet wat die Bybel kan aanhaal.  Dit is nie genoeg om God se wil te ken nie.  Die vraag is of jy dit doen (Matt. 7:21-27).

 

Strik #5: ‘Ek is van kleins af in die wet onderrig en kan onderskei dat dit uitstekend is’ (v.18, Deut. 4:6, 8).

Sommige Afrikaners is so; hulle het van kleins af die Bybel geleer.  Hulle beskou hulle katkisasie en onderrig as ‘n eenrigting kaartjie hemel toe.  Party van hulle het dit geniet en hou nog steeds van goeie Bybelse prediking.  Maar dit help hulle nie, omdat hulle nie daarvolgens lewe nie.  Wat van jou: doen jy wat jy in die Bybel leer?

 

Strik #6: ‘Ek het die lig om dié wat geestelik blind en in die duisternis is te lei’ (v.19, Joh. 9:25, 40-41).

Paulus praat hier van mense wat die Bybel vir ander leer, terwyl hulle self blind is (Matt. 15:14, 23:16-17, 19).  Hulle gee Sondagskool, preek en lei Bybelstudies, maar is self nie weergebore nie.  Hulle is nie bevoeg of bekwaam om ander te lei nie.  ‘n Mens moet immers self eers die lig sien voordat jy ander kan lei (Ps. 119:105, Joh. 8:12, Hand. 26:18, 2Kor. 4:6, Kol. 1:12-13).

 

Strik #7: ‘Deur die beliggaming van kennis en waarheid in die wet is ek ‘n opvoeder van onverstandige kinders’ (v.20).

Die onverstandige kinders verwys na die heidene, terwyl die Jode gedink het hulle is volwasse.  Maar eintlik was die Jode geestelike kinders, omdat hulle die wet nie gehoorsaam het nie.  Moet dan nie dink dat jy of iemand anders geestelik volwasse is, omdat jy baie van die Bybel weet nie.  Geestelike volwassenheid word gesien in gehoorsame dade.

 

In die lig van die bg. strikke vra Paulus vyf vrae.

 

Vraag 1: ‘Jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie?’ (v.21).

Party mense wil erken word en hou daarvan om gesag te hê.  Dit is ook hoekom hulle geestelike leiers wil wees (Matt. 23:7).  Hulle wil vir ander sê wat om te doen, maar self doen hulle dit nie (v.21, Matt. 23:2-3, Jak. 3:1).  Nie almal van hulle is predikante nie; party is ouers wat die regte dinge sê, maar nie doen nie.

 

Vraag 2: ‘Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy?’ (v.21).

Die Jode het die 8ste gebod aangehaal, maar is tot vandag toe daarvoor berug dat hulle geldgierige skelms is.  Ongelukkig geld dit nie net vir hulle nie.  Jy kan skaars met ‘n Suid-Afrikaner besigheid doen sonder om gekul te word.

 

My swaer het ses weke gelede sy kar se remme vervang.  Die man agter die toonbank het hom meer as R900 gevra.  Hy het na nog ‘n plek toe gegaan, maar hulle het dieselfde gevra.  ‘Ag nee,’ het hy gesê.  ‘My pa sê dan dat dit nie meer as R480 moet kos nie.’  ‘Maak dit dan R480,’ het die verkoopsman gesê.

 

Vraag 3: ‘Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel?’ (v.22).

Die Jode het die heidene van immoraliteit beskuldig maar het self die 7de gebod oortree.  Hulle het dit aangehaal maar deur hulle dade geminag.  Net so het die kerk in Suid-Afrika seks en die huwelik deur saamblyery en sg. homoseksuele huwelike ontheilig (Heb. 13:4).  Maar laat ons nie te gou die vinger wys nie: is jý seksueel rein?

 

Vraag 4: ‘Jy wat ‘n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?’ (v.22).

Josefus vertel van ‘n slegte Joodse man wat Rome toe gekom het om die wet van Moses vir mense te leer.  Hy en drie van sy makkers het ene Fulvia (‘n Romeinse vrou wat die Joodse geloof aangeneem het) oortuig om persstof en goud vir die tempel in Jerusalem te gee.  Hulle het die goed vir hulleself gevat en dit spandeer.  Fulvia se man Saturninus het uitgevind en vir die keiser gesê.  Lg. het navrae gedoen en die Jode uit Rome verban.[1]

 

Blykbaar het die Jode ook die heidene se tempels beroof om die goue en silwer afgodsbeelde te verkoop (vgl. Deut. 7:25, Hand. 19:37).  Volgens die Evangelie-skrywers het hulle die armes in Jerusalem se tempel beroof (Matt. 21:12-13, Joh. 2:14-16).  Soos in die Pous se paleis en die moderne Prosperity Gospel was geld hulle god (Matt. 6:24).

 

Die Jode het verder die tempel beroof deurdat hulle hulle bydraes vir die Here teruggehou het (Mal. 3:8-10).  Vandag doen mense dit nog steeds: kerke hou basaars, omdat hulle eie mense (wat duur karre en huise het) nie ‘n begeerte het om vir die Here se werk te gee nie (Hag. 1:4).

 

Ek het nie ‘n probleem as oue tehuise of kinderhuise basaars hou nie.  Dit hoort egter nie in die kerk nie.  Die Bybel praat nie daarvan nie, maar sê dat iemand wat die Here liefhet sonder ‘n pannekoek of jaffle in sy hand geld vir die Here se werk sal bydra (2Kor. 8-9).

 

Vraag 5: ‘Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?’ (v.23, vgl. Hand. 7:53).

God dink nie veel van mense, gemeentes en denominasies wat in hulle teologie roem, maar onheilig lewe nie.  Suiwer teologie sonder gehoorsaamheid is so oneffektief soos ‘n geweer sonder koeëls of ‘n seiljag sonder die wind: dit onteer die Here (v.23).

 

Iemand wat so lewe sit ongelowiges af en trek hulle nie na die Here toe nie (v.24, Jes. 52:5, Eseg. 36:20).  Sy of haar lewe is nie veel beter as die Prosperity Gospel wat ‘n bespotting van Jesus en die evangelie maak nie.

 

Omtrent 8 jaar gelede het ek ‘n man en vrou beraad wat gedurig baklei het.  Wyle dr. Martin Holdt het vir hulle gesê: ‘Julle gebruik die Here se Naam ydellik en sal nie ongestraf bly nie (Eks. 20:7).’  Maar hoe het hulle die Here se Naam ydellik gebruik?

 

Hulle het sy Naam op hulle lippe geneem (‘Ek is ‘n Christen’), maar nie daarvolgens gelewe nie.  “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Tit. 1:16).

 

Laat ons bid en lewe om die Here se Naam te heilig: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Matt. 6:9).  “Laat die wat u verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, HERE van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel!” (Ps. 69:7).

 

John MacArthur het in ‘n preek vertel van ‘n soldaat in Alexander die Grote se weermag wat drooggemaak het.  Alexander se offisiere het die soldaat na hom toe gebring.  ‘Wat is jou naam?’ het Alexander die Grote gevra.  ‘Alexander,’ het die soldaat geglimlag.  ‘Wel, verander jou naam of verander jou optrede’ het Alexander die Grote gesê.

 

As jy nie soos ‘n Christen wil lewe nie, moet jy jouself asb. nie een noem nie.  Verander jou naam of verander jou optrede, sodat Jesus se Naam nie deur jou slegte getuienis skade ly nie (v.24).

 

  1. Die besnydenis (v.25-29)

Ek het eenkeer in die straat met twee vroue gepraat.  Die gesprek het so iets geklink:

 

Ek: Gaan julle hemel toe?

Hulle: Ja.

Ek: Hoe weet julle dit?

Hulle: Want ons is weergebore.

Ek: En hoe weet julle julle is weergebore?

Hulle: Want ons is gedoop.

 

Die Jode het gedink hulle is reg met die Here, omdat hulle volgens sy verbond met Abraham besny is (v.25, Gen. 17).  Die Joodse Rabbi’s het bv. gesê: ‘Besnede mans daal nie af in die doderyk nie… Die besnydenis sal Israel daarvan red.’[2]

 

Maar die besnydenis was ‘n teken van die nuwe hart waaruit God die sonde wegsny (Deut. 10:16, 30:6, Jer. 4:4).  En wat help die teken as jy nie dít het waarop die teken dui nie (Gal. 5:6, 6:15)?  Die besnydenis was van waarde vir dié wat die wet gehoorsaam het, maar nutteloos vir dié wat dit oortree (v.25).  Hy wat dit oortree kon net sowel onbesnede wees, omdat sy besnydenis soveel beteken soos ‘n heiden s’n (v.25, Jer. 9:25-26).

 

‘n Heiden wat God se wet gehoorsaam se liggaam is nie besny nie, maar sy hart is.  Die Here beskou hom as een wat besny is (v.26).  Sy gehoorsame lewe verdoem die Jood wat hom volgens die letter van die wet laat besny, maar in sonde lewe (v.27).

 

Eintlik is die ongehoorsame Jode glad nie Jode nie (v.28, Op. 2:9, 3:9).  ‘n Kollega van my het dit tot die groot verbasing van twee vroue in Israel gesê.  Hulle het gepraat van hoe wonderlik die Jode is, omdat hulle God se volk is.  ‘Wat?!  Al hierdie Jode gaan hel toe,’ het my kollega gesê.  ‘Hoe kan jy dit sê?’ het hulle gevra.  ‘Hulle verwerp dan die Messias,’ het hy gereageer.

 

Hy was reg: die ongelowige Jode is nie God se kinders nie, maar die duiwel s’n.  Jesus het so gesê (Joh. 8:44), en volgens Paulus is hulle nie Jode nie (v.28).  In die toekoms sal hulle in die Messias glo en sal Hy hulle weer aanneem (Rom. 11:25-29).

 

Mense wat in Jesus glo is die ware Jode wie se harte besny is, die volk van God en kinders van Abraham (v.29, Gal. 3:7, 29, Fil. 3:3, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).  Hoe het die Here ons harte besny?  Nie deur die letter van die wet nie, aangesien dit nie ons harte verander nie maar ons sonde uitwys (v.29).

 

Die Heilige Gees het ons harte wederbaar, verander en die sonde daaruit gesny (v.29, Eseg. 36:25-26, Joh. 3:3, 5, 1Kor. 6:11, Tit. 3:5-6).  Maar dit beteken nie dat ons die wet weggooi nie.  Volgens die nuwe verbond skryf God se Gees die wet op ons harte en gee Hy aan ons die vermoë en begeerte om dit uit te voer (Eseg. 36:27, Rom. 8:4, 2Kor. 3:3, Fil. 2:12-13, Heb. 8:10).

 

As nuwe mense gehoorsaam ons die wet om God se lof te verkry, en nie omdat ons mense se applous soek nie (v.29, Matt. 6:1-2, 5, 16, Joh. 5:44, 12:43).  Die woord ‘Jood’ kom van ‘Juda’ af en beteken ‘lof’ (Gen. 29:35, 49:8).[3]  Volgens Paulus is God se lof vir die ware Jood wie se hart besny is (v.29).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?  Dit gaan nie hier oor mense wat in 1996 hulle ‘harte vir die Here gegee het’, al vir 40 jaar Baptiste is, of in ‘n Christelike huis groot geword het nie.  ‘Vertrou jy nóú op Christus en sy kruisdood alleen?’ is die vraag wat jy jouself moet afvra.  Bekeer jy jou nóú; is jy nóú gehoorsaam?

 

Jesus gee nie om of jy in 1984 gedoop is as jy nie die innerlike realiteit daarvan ervaar het en nou beleef nie.  Is jou hart besny en jou sonde weg gewas; is jy weergebore (v.29, 1Sam. 16:7, Kol. 2:11-12)?  Pas die manier hoe jy voor ander leef by dit wat jy by die huis en in jou hart en gedagtes is?  ‘You are you thoughts; your thoughts are you!’ het Stuart Olyott in ‘n preek gesê.

 

Miskien het die Heilige Gees vandag vir jou gewys dat jy selfregverdig, godsdienstig en verlore is.  Dit mag wees dat jy jouself nog wil regverdig en sê dat jy darem nie goddeloos is nie, maar die waarheid is dat jy net so verlore soos die moordenaar, prostituut en dronkaard is.

 

Eintlik is jy in ‘n slegter posisie as hulle.  Hulle besef darem dat hulle verlore is, maar jy maak of jy regverdig is.  Jy is skynheilig en sal ‘n swaarder straf as hulle ontvang (Luk. 12:47-48).  Wat Jesus vir die Fariseërs gesê het sê Hy vir jou: “die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” (Matt. 21:31).

 

As jy aanhou om te sê dat jy nie so sleg is nie maar regverdig, is daar vir jou geen hoop nie.  Maar as jy saam met die tollenaar in Luk. 18:13 vra dat die Here jou genadig moet wees, sal Hy jou vergewe.  Hy het immers “nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” (Matt. 9:13).

 

As jy alle hoop op jouself en jou goeie werke laat vaar en na die Vader toe terugkeer, sal Hy jou tegemoet hardloop, jou omhels, jou soen, die skoon kleed van Christus se geregtigheid vir jou gee, jou ‘n erfgenaam van die Koninkryk maak, jou vergewe, herstel en fees vier (Luk. 15:11-24).

 

Los dan jou doop, lidmaatskap, geestelike ervaring, en kom na Jesus toe.  Gooi jou drek selfgeregtigheid saam met jou sonde op die ashoop van bekering, en kom na Jesus toe (Fil. 3:4-8).  Hy sal jou vergewe en aan jou die volmaakte kleed van sy geregtigheid gee (Fil. 3:9).  En as jy dit aan het sal die Here jou aanvaar.

Kom tuis, kom tuis!

Almal wat moeg is, kom tuis!

Saggies en teer klink die roepstem van Jesus;

Hy roep, O sondaar, kom tuis!

 

[1] Flavius Josephus, The Antiquities of the Jews, Book 18, ch. 3, par. 5

[2] Aangehaal in John Stott, The Bible Speaks Today: The Message of Romans (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994), 92

[3] F.F. Bruce, Tyndale New Testament Commentaries: Romans (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1985), 87, 89-90