Die beste troos in beproewing

Eagle Soaring

Waaroor gaan die top-verkoper boeke in Christelike boekwinkels?  Nie oor God nie, maar oor hoe jý ‘n beter mens kan wees.  Martyn Lloyd-Jones het dit reg gehad: ‘Our thoughts revovle around ourselves.  We think we are the centre of the universe.  But we are not, my friends.’[1]

 

Jesaja se benadering om ons in beproewing te troos is heeltemal anders as moderne Christenskap s’n.  Jes. 40 begin nie by mense nie, maar by God.

 

  1. God se vergifnis (v.1-2)

Soms praat mense van koffie as boeretroos.  Maar as jy sonde in jou lewe het sal die beste koffie jou nie troos nie.  Net die Here kan.  Sy troos is so goed dat Hy dit ‘n eeu voor 39:5-7 se beproewing voorspel het: “Troos, troos my volk, sê julle God.” (v.1).

 

Jesaja se herhaling van die woord ‘troos’ wys dat die Here ‘n God van vertroosting is (v.1, Joh. 14:16, 2Kor. 1:3).  Ons het God se troos in die Messias en sy vergifnis leer ken (v.1-3, Luk. 2:25).

 

Jerusalem het teen die Here gesondig, maar Hy het saggies tot haar hart gespreek (v.2, Hos. 2:13).  Dit is hoe die Here sondaars na Hom toe trek.  ‘n Puritein genaamd William Gurnall (1617-1679) het gesê: ‘Sondaars word nie met die klippe van harde en uitdagende woorde in Christus in gesmyt nie, maar met sagte vermanings wat die hart smelt word hulle na Hom toe getrek.’[2]

 

Wat het die Here vir sy volk gesê?  Juda se stryd met Babilon was verby, maar haar stryd met die Here ook (v.2).  Met die koms van die Messias sou die Here met haar versoen raak en haar sonde vergewe.  Sy het uit die Here se hand dubbel ontvang vir al haar sondes (v.2).  Dit beteken nie dat Hy haar dubbel sou straf nie.

 

Die Hebreeuse woord [kephel] beteken ‘duplikaat’ of ‘om dubbel te vou’.[3]  Jesus se kruisdood was m.a.w. genoeg om sy volk se sonde te vergewe.  Daar is nie ‘n sonde wat Hy nie kan vergewe nie.  ‘The deepest sin can’t rise above Calvary’s love.’ (Steve Green).  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20).  Vat dan die sonde wat jou so pla na Jesus toe dat Hy dit kan vergewe.

 

  1. God se heerlikheid (v.3-5)

Richard Wurmbrand (1909-2001) was ‘n Roemeense Christen wat vir sy geloof vervolg is.  Hy was vir 14 jaar in die tronk.  Hy vertel hoe hy God se heerlikheid in die tronk beleef het.  ‘Ek het nog nie iets mooier in my lewe gesien nie,’ het hy gesê.[4]

 

Dít is die heerlikheid waarmee Jesaja die volk bemoedig het.  Johannes die Doper het in die woestyn gepreek dat mense hulle moet bekeer en vir die Messias se koms moet voorberei (Matt. 3:1-6).  Hy was as’t ware die boodskapper wat voor die Koning uithardloop om slaggate op te vul en hindernisse uit die pad te verwyder (v.3-4).

 

Johannes het aangekondig dat Jesus die Here en God van Jes. 40:3 is!  In sy Persoon, lering, wonderwerke, kruisdood, opstanding, hemelvaart en wederkoms sou mense God se heerlikheid sien (v.5, Ps. 24:7-10, Hab. 2:14, Matt. 17:2, 25:31, Luk. 9:32, Joh. 1:14, 2:11, 11:40, 17:1, 2Kor. 3:18, 4:4-6, Heb. 1:3, Op. 1:12-17).

 

As ons die Here vra sal Hy sy belofte vervul en hierdie heerlikheid vir ons wys (v.5).  Dit sal miskien nie dadelik jou beproewing wegvat nie, maar dit sal jou help om dit beter te hanteer.  Wat my betref hardloop ons te gou na beraders toe.  Ek is nie teen berading nie, maar glo dat ons eers die Here moet vra om sy heerlikheid vir ons te wys.  As dit gebeur sal jou beproewing nie vir jou soos ‘n berg lyk nie (v.4), en sal ons ook met die regte ingesteldheid na die berader toe kom.

 

  1. God se Woord (v.6-8)

Omtrent ‘n maand gelede toe staan ek en die buurman op die sypaadjie en gesels.  Ek het gister gehoor dat hy oorlede is.  Ons heerlikheid is nie soos die Messias s’n nie, maar is soos gras en veldblomme wat verdor en verlep (v.6-7).  As God se asem oor ons gaan sterf ons (v.7, 24).

 

God se Woord daarenteen bly vir ewig (v.8, Matt. 5:18).  Sy belofte om sy volk te vergewe kan nie faal nie (v.2).  As jy hierdie ewige Woord glo sal jy ook vir ewig lewe (1Pet. 1:23-25).  Leef vir dit wat ewig is en nie vir tydelike rykdom en plesiere nie (Matt. 6:19-20, 1Kor. 7:31, 1Joh. 2:17, Jak. 1:10-11).  ‘Only one life, it will soon be past; only what’s done for Christ will last’ (C.T. Studd).

 

  1. God se arm (v.9-11)

As jong seuns het ons arm gedruk om te kyk wie die sterkste is.  Maar hoe sterk is die Here se arm?  “Het jy dan ‘n arm soos God?” (Job 40:4).  Hy is die onoorwonne kampioen van die heelal; niemand kan Hom wen nie.  En Hy is ons God.

 

Jerusalem of Sion moes van ‘n berg af vir die ander stede in Juda skreeu dat hierdie God hulle sou herstel (v.9).  Sy moes ook die goeie nuus van die Messias se vergifnis aankondig (v.9, 2).  Die goeie nuus of evangelie het inderdaad van Jerusalem af na die res van die land en wêreld toe versprei (2:3, Luk. 24:47, Hand. 1:8).

 

Juda se magtige God sou met sy sterk arm oor haar vyande triomfeer (v.10).  Die magtige Messias of arm van die Here (9:5, 52:10, 53:1) sal kom om sy kinders te beloon en sy vyande te vergeld (v.10, Rom. 2:6-11).

 

Hierdie selfde magtige arm laat God se skape wei, tel die lammers op, en lei dié wat swak is (v.11).  Wat ‘n troos is dit nie in beproewing nie?  Ek is nie verbaas dat Ps. 23 baie mense se gunsteling hoofstuk in die Bybel is nie (veral op grafstene en begrafnisse).  As die Herder van v.11, Ps. 23 en Joh. 10 jóú Herder is, het jy niks om te vrees nie.

 

  1. God se grootheid (v.12-26)

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia vra die heks vir Aslan die leeu hoe sy met sekerheid kan weet hy sal sy belofte hou.  Ewe skielik brul hy sodat sy op haar agterstewe beland.

 

Hoe kon Juda weet dat God die beloftes van v.1-11 sou hou?  Want Hy is die God van v.12-26.  Hy het die oseane, riviere, damme, mere en ondergrondse water in die holte van sy hand afgemeet (v.12).  Hy het die ‘oneindige’ hemelruim met sy handbreedte afgemeet (v.12).

 

Hy het die sand van die woestyne, strande en seebodem in ‘n skaal gemeet (v.12).  Hy het die magtige Himalayas, Rotsgebergtes, Andes, en ander berge saam met die heuwels in ‘n skaal geweeg (v.12).  En wat is nou weer die beproewing waaroor jy stres?

 

God is ‘n oneindige Gees (Ps. 139:7-8, Jer. 23:23-24, Joh. 4:24) en kan nie soos die skepping gemeet word nie (v.13, Heb. tâkan).  Hy is oral in sy volheid teenwoordig.  Hy het nie afmetings nie.  ‘n Puritein uit die 1600’s het gesê: ‘God se senter is orals en sy omtrek nêrens.’[5]

 

Ons kan Hom ook nie raad gee nie (v.13).  Die Babiloniërs se skepper god Marduk kon nie sonder Ea se raad skep nie.[6]  Die ware God is nie so nie en het geskep sonder iemand se insette (v.13-14).  Sy kennis is oneindig en perfek; niemand kan Hom iets leer of vir Hom insig gee nie (v.14, Ps. 139:17-18, 147:5).

 

John Piper sê van sy kennis: ‘[it] makes the Library of Congress look like a matchbox, and all the information on the Internet look like a little 1940’s farmers’ almanac, and quantum physics – and everything Stephen Hawking ever dreamed – seem like a first grade reader’.[7]

 

En dan wil ons vir die Here sê hoe Hy ons probleme moet oplos.  In ons era van wetenskap, tegnologie, filosofie, Google, ens. dink ons ons weet baie, maar eintlik weet ons niks.  Ons verstand is klein en beperk.

 

Daarom is dit ook dom om die Here te probeer uitwerk.  Ek ken twee baie intelligente mense (‘n dokter en ‘n ingenieur) wat alewig besig is om die Here te probeer uitwerk: sy alomteenwoordigheid, ewigheid, almag, ens.  Maar is dit nie beter om saam met Dawid te sê: “O Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.” (Ps. 131:1)?

 

Laat vaar jou trots.  Jy ken nie eers 1% van die kennis wat bestaan nie.  Wat weet jy van die wêreld se tale en grammatika, die visse van die see, al die insekte, voëls en diere, die geskiedenis, die menslike liggaam, DNA, kulture, wetenskap, biologie, die sterre, engele, demone, die Bybel, die getal van mense se hare, die sand, die sterre, en God se gedagtes?

 

Almal van ons se kennis saam is soos ‘n enkele sonstraal s’n teen die triljoen x triljoen x triljoen… sonne van God se oneindige kennis.  Ons roem gans te maklik oor ons sandkorrel-grootte kennis wat buitendien van Hom af kom (Spr. 2:6, 1Kor. 4:7).  Berus jou eerder daarby dat God alles weet en dat Hy sal doen wat reg is (v.14).

 

‘Maar wat van my beproewing?’ wou Juda weet.  ‘Wat van die nasies wat teen my is?’  Wat daarvan?  Die nasies is ‘n druppel in die emmer, stof wat die skaal nie eers ‘n millimeter laat roer nie, niks en minder as niks (v.15, 17).  En wat kan ‘n druppel doen aan die God wat die oseane in sy hand afmeet; kan ‘n stoffie Hom seermaak wat die eilande soos stof tussen sy twee vingers optel (v.15, 12)?

 

En as die nasies niks teen die Here kan doen nie, wat van die individu by jou skool of werk wat dinge vir jou moeilik maak?  Moet jou nie verder daaroor bekommer nie, maar gee dit vir die Here (1Pet. 5:7).

 

Laat God se grootheid jou ook help om van jouself te vergeet: jou sg. goeie selfbeeld, jou selfbejammering, jou begeerte om erken te word, jou obsessie met jouself op Facebook, ens.

 

Jy is niks voor die Here nie en kan ook nie genoeg offers bring om sy guns te wen nie (v.16, Job 35:7, Hand. 17:25).  Slegs Hy kon die offer van oneindige waarde voorsien om ons met Homself te versoen (Jes. 53).  Sonder Jesus se kruisdood is daar vir ons geen hoop nie.  Wat jy het en is, is alles a.g.v. Hom.

 

Moet Hom dan nie met ander gode vergelyk nie (v.18).  Hy is een van ‘n soort, heilig en uniek (v.18, 25).  Hy is in ‘n klas van sy eie; daar is nie ‘n ander God soos Hy nie.  Logika sê vir jou dat daar nie twee oneindige en ewige gode kan wees nie.  Om die waarheid te sê kan daar glad nie ‘n ander god wees nie: “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie” (45:5).

 

Moet dan nie TBN se onsin glo wanneer hulle sê dat ons klein gode is nie.  Moet ook nie vir Allah, Vishnu, Krishna, of ander sg. gode in dieselfde asem as Jesus Christus noem nie.

 

Juda het van die Here af weggedraai om afgode te aanbid.  Maar hoe is ‘n houtbeeld wat iemand gemaak en met goud en silwer oordek het, jou skepper (v.19-20)?  En hoekom het mense in ons tyd die idee dat geld jou maak wie jy is?  Die begeerte na rykdom is niks anders as antieke afgodery nie (Matt. 6:24).

 

Van die begin af is dit duidelik dat die Here alles gemaak het (v.21, Rom. 1:19-21).  Hy sit as Koning bo die sfeer van die aarde om daaroor te heers en dit in stand te hou (v.22).  Hy strek die hemelruim uit soos ‘n gordyn of ‘n tent (v.22).  Vanuit sy verhewe posisie lyk die bewoners van die aarde soos sprinkane op ‘n grasperk (v.22).

 

Voor die Koning van die hemel is aardse regeerders soos Jacob Zuma en Robert Mugabe niks (v.23, 17, Joh. 19:10-11).  Hulle is soos plantjies wat sopas gesaai is en skaars wortel geskiet het: hulle vrek as die Here op hulle blaas en is soos stoppels wat in ‘n stormwind wegwaai (v.24, 6-8, Ps. 1:4, 35:5).  Moet Juda dan die koning van Babilon vrees, of sal ons paniekerig raak as Julius Malema in die Here se ore raas?

 

Vrees Hom wat die sterre met sy asem en vingers gemaak het, wat hulle getal bepaal, wat aan elke ster sy naam gee, en wat hulle in die lug hou dat hulle nie koers verloor nie (v.26, Ps. 8:4, 33:6, 147:4-5, Heb. 1:3).

 

Kyk minder op jou selfoon, staan onder ‘n uitgestrekte hemel koepel en besef dat God groter is as wat jy gedink het en jy kleiner.  Moet egter nie soos Juda en Babilon die sterre aanbid nie (47:13, Deut. 4:19); moenie in die Huisgenoot kyk wat die sterre oor die toekoms sê nie, maar aanbid die Een wat die sterre gemaak het (v.26).

 

  1. God se mag (v.27-31)

James se pa is ‘n biljoenêr.  Toe die atletiek seisoen aanbreek toe sê die afrigter dat elke kind die volgende dag R5 skool toe moet bring.  James was bang dat hy nie die geld sou hê nie.

 

Grap jy?  Nee, want dit is presies wat ons met die Here doen.  Al is Hy die God wat ek hierbo beskryf het, dink ons soos Juda dat Hy ons vergeet het (v.27, 49:14).  Maar sal Hy wat die sterre se name onthou sy kinders s’n vergeet?  Het Hy van Juda in Babilon vergeet?  Of vergeet Hy van jou soos ‘n vrou haar kos op die stoof vergeet?

 

Eintlik is daar nie ‘n goeie rede om kleingelowig en depressief te wees nie.  As die Here sterflik en veranderlik was het jy ‘n verskoning gehad, maar Hy is nie.  Hy is nie soos veldblomme en gras nie (v.6-8), maar is ewig (v.28, Eks. 3:14, Ps. 90:2, 102:28).

 

Volgens v.28 het Hy die eindes van die aarde geskep (ook Babilon).  Sy krag kan nie opraak nie; Hy is onveranderlik (v.28, Mal. 3:6, Heb. 13:8).  Selfs wanneer Hy vir ons krag gee het Hy nie minder krag nie (v.28-31).  Ons kan nie die dieptes van sy verstand peil nie (v.28, Rom. 11:33).

 

Benodig jy krag in jou beproewing; voel jy fisies, geestelik en emosioneel uitgeput (v.29-30)?  Vra die Here om jou krag te vermeerder (v.29, 31).  Wag deur gebed op sy beloftes en glo dat Hy vir jou bonatuurlike krag sal gee, sodat jy soos ‘n arend is wat met min moeite bo die aarde sweef (v.31, Ps. 27:14, 103:5, 130:5-6).

 

Met die Here se krag kan jy aanhou, selfs as die stryd so hard soos ‘n maraton is, of so aanhoudend soos iemand wat ver moet loop (v.31): “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:13).

 

Moenie vergeet dat Jesus die God van Jes. 40 is nie.  Die Herder wat jou in sy arms dra is die God wat die skepping afgemeet het in sentimeters en gramme.  Die Messias met spyker merke in sy hande is die God wie se hande die heelal en oseane afgemeet het.  Dit is ook hierdie hande wat jou deur jou beproewing lei, sodat jy in die toekoms sal getuig van “die goeie hand van my God oor my” (Neh. 2:8).

 

[1] Martyn Lloyd-Jones, The All-Sufficient God, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2005, p. 83

[2] Vry vertaal uit Iain Murray, Pentecost – Today?, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1998, p. 102 n. 1

[3] James Strong, Strong’s Hebrew and Greek Dictionaries, 1890, Public Domain, H3718; Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 299

[4] Richard and Sabina Wurmbrand: The Underground Pastor and his Wife (DVD)

[5] Vry vertaal uit Thomas Watson, A Body of Divinity, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1958, 1965 (1692), p. 46

[6] Motyer, Ibid., p. 303

[7] John Piper & Justin Taylor (Ed.), Sex and the Supremacy of Christ, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2005, p. 39