Die krag van gebed

The Power of Prayer

In 2013 het ek in ‘n preek gesê dat beantwoorde God se bestaan bewys.  ‘n Ateïs het op die preek gereageer en gesê dat gebed nie beantwoord word nie.  ‘Die feit dat jý dit nog nie ervaar het nie, beteken nie dat dit nie gebeur nie,’ het ek teruggeskryf.

 

Ek en elke ander gelowige kan persoonlike en spesifieke voorbeelde van beantwoorde gebed gee.  My dogter het verlede Sondag in die biduur gevra dat die Here nuwe mense na die aanddiens toe moet stuur: ‘Here, sal U asb. gee dat hulle tuis voel en deel word van die gemeente, al was hulle dalk al by ander gemeentes waar hulle nie tuis gevoel het nie,’ het sy gebid.

 

‘n Gesin wat al ‘n paar keer gekom het was daar.  Hulle het na die diens met my gepraat.  ‘Ons voel tuis by julle gemeente en wil graag deel word; ons was al by ander gemeentes, maar het nie tuis gevoel nie,’ het hulle gesê.  Die Here het my dogter se gebed spesifiek beantwoord.

 

Net soos wat die Here klein gebede beantwoord, beantwoord Hy grotes.  Ons aanbid ‘n God “wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:20).  Jak. 5:16b-20 is een van vele tekste wat hierdie waarheid onderstreep.

 

  1. Die gebed van die regverdige (v.16b)

‘n Skatryk Christen sakeman in Pretoria se besigheid was besig om te vou.  Hy het vir Martin Holdt gebel.  Nadat hulle Josafat se gebed in 2Kron. 20 bespreek het, het Martin voorgestel dat hulle oor die saak vas.  Die sakeman het sy Christen werknemers gevra om saam te vas.

 

Die dag nadat hulle gevas het toe bel die sakeman vir Martin.  ‘My besigheid het gratis publisiteit op ‘n internasionale nuuskanaal gehad!’ het hy gesê.  ‘Die fone hou nie op lui nie; ons kan nie voor bly met al die werk nie!’

 

Gebed is kragtiger as wat ons besef: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” (v.16b).  Die Grieks kan ook beteken: ‘Die gebed van die regverdige het groot krag as dit in werking tree.’  Jakobus sê m.a.w. dat gebed nie kragtig is wanneer ons boeke daaroor lees luister nie, maar as ons dit doen (1:22).

 

En tog werk dit nie vir selfregverdige en onregverdige mense nie (Spr. 15:8, 29, 28:9, Jes. 1:15, 59:2, Sag. 7:13, Matt. 6:5, 1Pet. 3:12), maar vir regverdiges (v.16b, 1Pet. 3:12).  Wie is regverdig?  As jy jou van jou sonde bekeer en in Jesus glo, verklaar God jou regverdig (Rom. 3:28, 4:5, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9).  Die Heilige Gees stel jou ook in staat om regverdig te lewe (Rom. 8:4).

 

Dit is m.a.w. Christene wie se gebede beantwoord word.  As die Here jou nie antwoord nie is dit omdat jy selfregverdig of onregverdig is.  Lees Romeine en Johannes en vra die Here om vir jou te wys wie jy is.  Lees dit weer ‘n keer en vra Hom om vir jou te wys wie Hy is.  Bekeer jou van wie jy is en glo in wie Hy is.

 

As jy dit gedoen het sal uit persoonlike ervaring kan getuig dat die gebed van die regverdige groot krag het (v.16b).  In antwoord op gebed help die Here mense wat ly (v.13), genees Hy siekes (v.14-15) en vergewe Hy sondaars (v.16a).

 

Maar eintlik is dit nie die inhoud van ons gebede of die aksie daarvan wat krag het nie, maar die Een tot wie ons bid.  Die rede hoekom niks onmoontlik is vir die mens wat in geloof bid nie (Matt. 17:20, 21:21-22, Mark. 9:23-24, 11:22-24, Luk. 17:5-6), is omdat niks onmoontlik is vir die God tot wie ons bid nie (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37).

 

Dit beteken dat die moontlikhede oneindig is, ver bo wat ons kan bid of dink.  Wat is jou behoefte?  Sê dit vir die Here.  Maak egter eers seker van die volgende:

 

  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan. “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.” (Ps. 66:18).
  • Probeer om gebroke verhoudings te herstel en vergewe dié wat teen jou gesondig het (Matt. 5:23-24, Mark. 11:25-26, 1Pet. 3:7).
  • Kry ‘n belofte om aan vas te hou en herinner die Here daaraan (Jes. 62:6-7). Bid m.a.w. volgens sy wil (1Joh. 5:14-15).
  • Glo dat God sy beloftes hou en dat Hy jou sal help (Jak. 1:6-7).
  • Volhard (Luk. 18:1, 7).

 

As jy die bg. dinge in plek het geld Jesus se beloftes in Joh. 15:7, 16:23: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry… alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.”

 

  1. Elia se gebed (v.17-18)

Die Jode het Elia as ‘n soort supermens beskou.  Op sy woord het God die reën vir 31/2 jaar teruggehou en dit daarna weer op die aarde laat val (v.17-18, 1Kon. 17:1, 18:1, 42, Luk. 4:25).

 

Op sy woord het die weduwee se meel en olie nie opgeraak nie, is ‘n dooie opgewek, het vuur uit die hemel die offer en later die koning se soldate verteer, en is hy nie dood nie maar met ‘n strydwa van vuur in die hemel opgeneem (1Kon. 17-18, 2Kon. 1-2).  Verder het die Jode hom voor die groot dag van die Here verwag (Mal. 4:5).

 

Maar volgens Jakobus het God hom nie verhoor omdat hy uniek was nie.  Hy was ‘n mens met swakhede en gebreke soos ons (v.17, 1Kon. 19, vgl. Hand. 10:26, 14:15).  Hoekom het die Here hom dan verhoor?

 

Hy het ernstig gebid (v.17, Hos. 12:4, Kol. 4:12).  Hy was soos ‘n sekere ds. André Erasmus van wie Martin Holdt ons vertel het.  Martin het ‘n reeks dienste by ds. Erasmus se kerk gaan hou.  Die gemeente was verdeeld.  ‘Sal jy asb. saam met my hiervoor bid?’ het ds. Erasmus hom gevra.

 

‘Ek het vir omtrent 5 minute gebid en toe opgehou,’ het Martin gesê.  Ds. Erasmus het begin.  ‘n Halfuur later het hy nog steeds gebid.  ‘My knieë het seer geraak,’ het Martin vertel.  ‘‘n Uur het verbygegaan en toe ‘n uur en ‘n half.  Hy was steeds besig om die poorte van die hemel te bestorm.’

 

Na twee ure het ds. Erasmus se vrou aan die studeerkamer se deur kom klop.  ‘André, daar is telefoon,’ het sy gesê.  Dit was 23:00.  Die ander groep het gebel en bely dat hulle verkeerd was.  ‘Vergewe ons,’ het hulle gevra.  Die Here het ds. Erasmus se gebed verhoor.  Maar dit het nie maklik gekom nie.  Soos Elia moes hy ernstig bid (v.17).

 

Elia kon ernstig bid, omdat hy geweet het die Here sal hom verhoor.  Hy het op tekste soos Deut. 28:15, 23-24 gesteun: “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal… jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.  Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”

 

So het een man se gebed die land se weerpatrone, ekonomie, landbou, veeboerdery, ens. beïnvloed.  Presies 31/2 jaar later toe sê die Here vir Elia dat Hy reën gaan stuur (v.17-18, Kon. 18:1).  Hy het God se Woord geglo en daarvoor gebid (1Kon. 18:42).  Toe die Here reën gee het die grond sy plante, vrugte en gewasse voortgebring (v.18, 1Kon. 18:45).

 

Maar weereens het dit nie dadelik gekom nie.  Hy moes ernstig in gebed volhard.  Volgens 1Kon. 18:41-45 het hy sewe keer gebid.  Die Here se belofte in 1Kon. 18:1 het gemaak dat hy nie na die eerste keer ophou nie, maar volhard.

 

Toe die antwoord kom het almal geweet dat dit nie Baäl is nie, maar die Here (1Kon. 18).  Net die ware God kan reën gee: “Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jer. 14:22).

 

Dus het die Kaap nie onlangs reën gekry a.g.v. die gewone reën-droogte siklus nie.  Dit was nie die Illuminati met hulle sg. basis in Alaska wat die weer beheer nie.  Dit is ook nie Kenneth Copeland of die res van die Word of Faith ‘clan’ wat lewe spreek en die weer beheer nie.

 

God beheer die weer; dit is Hý wat reën stuur (Ps. 104:13, 147:8, Job 5:9, 36:27-37:13).  Hoe doen Hy dit?  As 25 mm reën op 260 hektaar of 2.6 km2 val, is dit 66 miljoen liter water.  Waar kom die water vandaan?  Dit moet uit die see verdamp en deur kondensasie om stof partikels wat 0.00001 cm wyd is saampak.

 

Dit is hoe wolke vorm.  Die wolke beweeg vir ‘n paar 100 km van die see af binneland toe.  Deur ‘n magnetiese en elektriese proses pak die klein waterdruppels saam en vorm dit groter druppels.  Die druppels moet swaar genoeg wees om tot op die aarde te val, maar nie so swaar dat dit die plante stukkend slaan nie.[1]

 

Hoe groot is die God wat hierdie dinge doen, en hoe kragtig die gebede waarop Hy gunstig reageer?  Omtrent 200 jaar gelede was daar ‘n kwaai droogte in Amerika.  ‘n Baptiste leraar genaamd Stephen Gano het die Here gesmeek om die droogte te breek.  Toe ‘n paar jong mense sy gebed hoor, het hulle gesê: ‘We must hasten home; for after such a prayer, the rain will overtake us.’  Binne ‘n uur het die reën in emmers neergesak.[2]

 

Laat my asb. toe om enkele voorbeelde uit my eie ervaring te deel, sodat niemand dink sulke dinge gebeur nie vandag nie.  Mense in ons gemeente het ‘n wildsplaas op Thabazimbi.  Tydens die droogte in 2015 het die vrou my gevra om ernstig saam te bid dat dit op die plaas sal reën.  Daar was nie ‘n kans vir reën nie.

 

Ek het die Here gesmeek en Hom aan Matt. 5:45 herinner: “[God] laat reën op regverdiges en onregverdiges.”  Die volgende oggend toe stuur die vrou vir my ‘n boodskap: ‘Dit het gereën!  Dit het gereën!’

 

In Nov. 2016 het weerkenners gesê dat die land se damme 5 jaar sal vat om vol te word.  Ek het vir ‘n ongelowige vriend gesê dat ek oor die droogte gaan preek.  Drie dae later het ‘n storm uitgebreek en het ons binne een uur 90 mm gehad.  My vriend het vir my ‘n boodskap gestuur: ‘Waaroor het jy Sondag gepreek!?’  Drie maande later het die Vaaldam oorgeloop.

 

‘n Man in ons gemeente vertel hoe sy skoonpa in Zimbabwe op die plaas vir sy werker gesê het: ‘Die tabak op hierdie land is besig om te vrek; ons moet vir reën bid.’  Hulle het gebid.  Die wolke het opgebou en net op daardie stuk land geval.

 

Terwyl ek in die week besig was om my preek voor te berei, het ek vir die Wes-Kaap gebid.  Die volgende oggend toe stuur ‘n kollega ‘n foto van sy reënmeter wat 60 mm opgevang het.  ‘Die hele wêreld hier by ons is onder water.  Ons harte loop oor van dankbaarheid,’ het hy gesê.  Nóg ‘n leraar uit die Kaap het op die groep gesê: ‘Lekker baie by ons in Belville gereën… 5 ure gestortreën… Baie dankbaar.’

 

Sulke stories wys vir my dat v.17-18 nog steeds gebeur.  Dit spoor my ook aan om verder vir die Wes-Kaap te bid: “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” (Sag. 10:1).

 

Glo jy dat die Here jou sal verhoor en dat jou gebede so effektief soos Elia of ander sg. ‘super geestelike’ Christene s’n is?  Bewys jou geloof en bid.  ‘Real faith is manifested by prayer’ (George Müller).[3]  Glo dat die Here sy beloftes vervul.

 

Moenie soos baie mense dink dat ons gebede ‘n onwillige God se arm beweeg nie.  Die heidene bid so: hulle dink dat langer gebede of meer mense wat saam bid die kans op ‘n antwoord verbeter (1Kon. 18:26-29).  Maar om so te bid verheerlik nie die Here nie.  Ons moet eerder Jesus se woorde in Matt. 6:7-8 onthou:

 

“En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.”

 

God is gewillig om ons te antwoord.  Eintlik begin alles by Hom.  As Hy beplan om iets uit te voer lê Hy dit op ons harte en lei Hy ons om daarvoor te bid (Rom. 8:26-27, 34).  En as ons daarvoor bid kan ons ‘n antwoord verwag (1Joh. 5:14-15).

 

In 1Kon. 18:1, 41-45, 2Sam. 7:27, Eseg. 36:37, Dan. 9:2-3, Sag. 12:10 het ons voorbeelde van hoe die Here beplan om iets te doen en mense opwek om daarvoor te bid.  Wees daarom sensitief vir Bybelse beloftes en laste wat die Here op jou hart lê.  Moet dit nie ignoreer nie, maar bid daarvoor.  ‘Where God leads you to pray He means you to receive.’

 

  1. ‘n Gebed vir sondaars (v.19-20)

Ernest Reisinger (1919-2004) was ‘n Amerikaanse Baptis.  Nadat sy seun die Here getrou gedien het, het hy vir byna 20 jaar van die Here af weggedwaal!  Ernest het met sy seun gepraat en aangehou om vir hom te bid.  Sy seun het na die Here toe teruggekeer.[4]

 

William Carey (1761-1834) se seun Felix het die Here leer ken en Hom getrou gedien.  Maar toe sy vrou en kind sterf het hy homself oorgegee aan drank.  Sy pa het briewe vir hom geskryf en na drie jaar het hy na die Goeie Herder toe teruggekeer.[5]

 

Dit is waarvan Jakobus in hierdie verse praat.  Bid vir die skaap ‘onder julle’ (v.19, 13-14) wat sy rug op die waarheid gedraai het en nie meer daarvolgens lewe nie (v.16a, Luk. 22:32).  Doen ook moeite om Hom na die Herder, waarheid en gemeente toe terug te bring (v.19-20).

 

Dit is elke gelowige se plig, en nie net die predikant s’n nie (v.19-20).  Die Here kan selfs ‘n kind gebruik om dit te doen.  Charles Spurgeon se oupa was ‘n predikant.  Een van sy lidmate – ‘n sekere mnr. Roads – het gedurig in die kroeg gaan drink.  Dit het die ou mnr. Spurgeon se hart gebreek.

 

Jong Charles (wat toe nog maar ‘n kind was) het gesien dat dit sy oupa bedroef.  Hy het in die kroeg ingestap en vir Roads gesê: ‘What doest thou here, Elijah? sitting with the ungodly; and you a member of a church, and breaking your pastor’s heart.  I’m ashamed of you!  I wouldn’t break my pastor’s heart, I’m sure.’

 

Spurgeon se woorde het die man tot sy sinne gebring, sodat hy sy sonde aan die Here en sy predikant bely het.  Daarna het mnr. Roads tot aan die einde van sy lewe die Here gedien.[6]

 

Om die afgedwaalde na die Here toe terug te bring moet jy die proses in Matt. 18:15-17 of 1Kor. 5 volg.  Bid ook dat die Heilige Gees die persoon se oë sal oopmaak (Matt. 18:19, 1Joh. 5:16a).  Wees sagmoedig, vol van liefde en nederig as jy dit doen (Gal. 6:1-2).

 

As jy die persoon van sy dwaalweg af terugbring sal jy sy siel van die ewige dood red, en sal Jesus se bloed sy menigte sondes bedek (v.20, Ps. 32:1-2, 1Joh. 1:7, 9).  Bid daarom vir jou rebelse kinders en kleinkinders; bid ook vir ongehoorsame lidmate wat weggedwaal het.

 

Sommige dink dat v.19 van gelowiges praat, terwyl v.20 van Luk. 15-tipe verlorenes praat.  In daardie geval moet ons bid dat die Here hulle sal red en hulle sal vergewe.  George Müller vertel van ‘n vrou wat vir 38 jaar vir man se bekering gebid het: die Here het hom gered.[7]  Müller self het vir 52 jaar vir iemand se bekering gebid: God het die persoon gered.[8]

 

‘n Tannie in ons gemeente het iemand ontmoet wat gered is nadat sy vriend vir 40 jaar vir hom gebid het.  ‘n Evangelis genaamd D.L. Moody (1837-1899) het ‘n ateïs ontmoet en vir sy bekering gebid.  Die man het vir hom gelag.  ‘n Jaar later toe sien Moody hom.  ‘Het die Here al my gebed verhoor?’ het hy gevra.  ‘Daar is geen God nie,’ het die man gesê.  Moody het aangehou om vir hom te bid.  ‘n Tyd later toe hoor hy dat die man tot bekering gekom het, en dat 17 ateïste sy voorbeeld gevolg het.[9]

 

Vir wie se bekering bid jy?  Herinner die Here aan tekste soos Eseg. 18:32, Joh. 3:17, 1Tim. 2:4, 2Pet. 3:9, 1Joh. 5:14-16.  Sorg net dat jy die Here se eer voor oë hou.

 

Martin Holdt het ons van ‘n pa en ma vertel wat vir hulle dogter se bekering gebid het.  Niks het gebeur nie.  Om uit te vind wat fout is het hulle gevas.  ‘Julle bid uitsluitlik vir julle dogter se redding omdat julle nie wil hê sy moet hel toe gaan nie,’ het die Here dit aan hulle duidelik gemaak.  ‘Julle bid nie omdat julle Mý wil verheerlik nie.’  Toe die ouers hulle fokus verander het hulle dogter binne ‘n maand tot bekering gekom.

 

God se heerlikheid moet die fokus van al jou gebede wees.  Is dit nie miskien hoekom sommige van ons gebede nog nie beantwoord is nie: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jak. 4:3)?  Bid eerder volgens Jesus se fokus in Joh. 14:13: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.”

 

[1] John Piper, Taste and See, Multnomah Publishers, Sisters: Oregon, 1995, pp. 24-26

[2] Iain Murray, Revival and Revivalism, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1994, p. 304

[3] The Autobiography of George Müller, Whitaker House, New Kensington: PA, 1985, p. 92

[4] Geoffrey Thomas, Ernest C. Reisinger: A Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2002

[5] S. Pearce Carey, William Carey, The Wakeman Trust, London: England, 1993 (1923), pp. 320-323

[6] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1962 (1897-1900), pp. 11-13

[7] Müller, p. 93

[8] Andrew Murray, The Prayer Life, Whitaker House, Springdale: PA, 1981, p. 123

[9] E.M. Bounds, Purpose in Prayer, Baker Book House, Grand Rapids: Michigan, 1991, pp. 98-99