Die soort gebed wat beantwoord word

Praying hands on Bible

Hoe moet dit wees om ‘n knievervanging te kry omdat jy so baie gebid het, en nie a.g.v. ou ‘n rugby besering of ‘slytasie’ nie?  John Welch het so baie gebid dat sy knieë so hard soos ‘n bees se horings was.[1]  Op Martin Holdt se begrafnis het sy dogter gesê dat daar eelte op haar pa se elmboë en knieë was omdat hy so baie gebid het.

 

Volgens oorlewering het Jakobus so baie gebid dat sy knieë so hard soos ‘n kameel s’n was.[2]  In hierdie kort brief maak hy drie keer melding van gebed (1:5-8, 4:2-3, 5:13-20).  Vandag wil ek op Jak. 5:13-16a fokus en in die volgende preek op v.16b-20.

 

  1. As jy ly (v.13a)

As ek reg onthou het Joel Beeke die volgende storie vertel.  ‘n Eeu of wat gelede het ‘n klomp predikante van hulle goeie vroue gepraat.  Een van hulle het ‘n slegte vrou gehad en kon nie saam praat nie, maar het gesê dat dit hom dryf om sewe keer ‘n dag te bid.

 

As jy ly moet jy nie oor jou omstandighede kla nie, maar bid (v.13).  Sê vir die Here as iemand jou sleg behandel, as jou baas jou nie betaal nie, of as jy deur ‘n ander beproewing gaan (1:1-2, 2:5-6, 5:1-11).  Hy weet al klaar (Matt. 6:8), maar wil hê dat jy vir Hom moet sê.

 

Prys die Here in jou beproewing (1:2, Hand. 16:25); dank Hom dat dit nie langer sal duur as wat Hy beskik het nie en dat Hy dit vir jou voordeel sal uitwerk (Job 23:14, Rom. 8:28, 1Tess. 5:18).  Bid vir wysheid om jou lyding reg te hanteer (1:5), bely alle sonde wat die Here vir jou uitwys (v.16a), bid vir krag om staande te bly, en vra die Here om jou uit te help.

 

  1. As jy bly is (v.13b)

Dit klink voor die hand liggend dat mense die Here sal prys as dinge met hulle goed gaan en hulle bly is, maar dit is nie altyd so nie.  Party mense bid as hulle ly (v.13a), maar prys hulleself, hulle geld, die dokter, Donald Trump, die DA, of iemand anders as dit met hulle goed gaan.

 

Dit is nie hoe die Here dit wil hê nie: “Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.” (v.13b).  Erken dat die goeie dinge in jou lewe van God af kom (1:17, 1Kor. 4:7).  Laat daar ‘n lied in jou hart wees, en maak seker dat dit nie Hansie Slim of een van Kurt Darren se liedjies is nie.  Prys die Here as Hy vir jou werk gee, jou rug beter maak of jou kind red.

 

  1. As jy siek is (v.14-15a)

Ons het al ‘n paar keer hierdie verse in ons gemeente toegepas; ek het ook al gesien hoe ander gemeentes dit doen.  Dit het egter net in twee gevalle gewerk.  Hoekom?

 

Ons en die ander gemeentes het die verse verkeerd verstaan en toegepas.  Hoe so?  Ons het dit op siek ongelowiges toegepas en op enige siek gelowige.  Die ander gemeentes het die siek mense tydens die erediens vorentoe geroep, hulle met olie gesalf en vir hulle gebid.

 

Natuurlik kan ‘n mens vir siek ongelowiges en enige siek gelowige bid.  Dit is ook nie verkeerd om tydens die erediens vir siek mense te bid nie.  Maar dit is nie wat Jakobus bedoel nie.  Hier gaan dit spesifiek oor ‘n gelowige wat siek is, en nie oor ongelowiges wat die kerk besoek nie: “Is daar iemand siek onder julle?” (v.14).

 

Verder gaan dit nie oor enige siek gelowige nie.  Die Griekse woorde in v.14-15 [astheneō en kamnō] praat van iemand wat fisies en emosioneel uitgeput is.  Die persoon kan nie kerk toe kom nie, en vra daarom dat die ouderlinge na hom toe kom (v.14).  Hy vra húlle om te bid, omdat hy nie eers die krag het om dít te doen nie (v.14).  Die feit dat hulle oor hom bid (v.14) en die Here hom oprig (v.15), impliseer dat hy plat op sy rug lê en nie kan opstaan nie.  Jak. 5:14-15 geld dus nie vir ‘n siek gelowige wat self sy inkopies kan doen en kerk toe kom nie, maar vir een wat bedlêend is.

 

Hy moet die ouderlinge laat roep en nie net die predikant nie (v.14).  ‘n Diaken kan vir die siek persoon medisyne of kos vat (Hand. 6:1-7), maar die ouderlinge is herders wat sy na siel moet omsien en vir hom moet bid (v.14, Eseg. 34:4, 1Pet. 5:1-3).

 

Die siek persoon se behoefte om die ouderlinge te sien moet van sy kant af kom (v.14).  Dit wys dat hy God se Woord glo en gesond wil word.  As die ouderlinge by die sieke se huis of hospitaal bed aankom, moet hulle vir hom bid en hom met olie salf (v.14).  Wat is die doel van die olie?

 

Omdat olyfolie in die Bybel se tyd as medisyne gebruik is (Jes. 1:6, Luk. 10:34), dink party mense Jakobus bedoel die siek persoon moet sy pille drink.  Medisyne is God se geskenk aan ons en werk nie teen gebed nie, maar saam met dit (2Kon. 20:1-7).

 

Moet dan nie dink dat dokters, hospitale en medisyne ongeestelik is nie.  Maar aan die ander kant moet jy nie van een dokter na die volgende toe spring en elke liewe medisyne onder die son probeer terwyl jy v.14-15 ignoreer nie.  Sonder Jesus is jou huisdokter, snydokter en medisyne ‘n nul op ‘n kontrak; dit beteken niks (2Kron. 16:12, Luk. 8:43).

 

En tog is ek nie oortuig dat die olyfolie in v.14 van medisyne praat nie, aangesien Jakobus geweet het dat dit nie vir elke siekte werk nie.  Wat my betref het die olie ‘n simboliese betekenis soos in Mark. 6:13 toe die apostels mense met olie gesalf en hulle genees het.

 

Die olie wys dat God die sieke vir spesiale genade, gebed en guns afsonder.  Ons glo nie dat die krag in die olie lê nie, net soos wat ons nie glo dat die modder of spoeg in Joh. 9:6 die blinde man laat sien het nie.  Die krag lê in die Here wat ons gebede verhoor.

 

Dit is hoekom die ouderlinge nie net die sieke salf nie, maar dit in die Naam van die Here (as sy verteenwoordigers) doen (v.14).  Dit is asof Hy self by die persoon se bed is om hom te genees (Hy is inderdaad!).

 

Die ouderlinge moet glo dat Hy die sieke sal, kan en wil genees.  As hulle aan sy getrouheid, gewilligheid en krag twyfel, moet hulle nie iets verwag nie (1:6-7).  Maar as hulle die gebed van geloof bid sal die Here die sieke genees (v.15).

 

Wat is die gebed van geloof?  Dit gaan nie oor hoe groot jou geloof is nie, maar oor hoe groot die God is in wie jy glo.  Glo jy dat Hy groot, almagtig, goed en getrou is?  Glo jy dat Hy jou gebede kan en sal beantwoord?

 

Om met geloof te bid beteken dat jy sonder twyfel weet die Here gaan jou beantwoord.  Jy weet m.a.w. vooraf dat Hy jou gebed verhoor het en dat jy sal ontvang waarvoor jy vra: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mark. 11:24).  Dit is wat dit beteken om volgens God se wil en in sy Naam te bid: jy vra omdat Hy iets belowe het (Joh. 14:13-14, 15:7, 16, 16:23-24, 1Joh. 5:14-15).

 

Jy kan uit die Bybel weet as die Here iets belowe het, maar hoe weet jy of Hy vir jou iets gaan gee wat nie in die Bybel staan nie?  Hy belowe tog nie dat Jan gesond gaan word nie?  In Stuart Olyott se boek Something Must Be Known and Felt, wys hy hoe ‘n mens God se wil in sulke gevalle kan ken.

 

[Verskoon asb. dat ek illustrasies uit my persoonlike ervaring gebruik, maar as ek gelykenisse vertel sal party mense dink dat hierdie dinge nie regtig gebeur nie.  Ek is ‘n streep teoloog of ‘cessationist’ wat glo dat gawes soos profesie na die tyd van die apostels uitgesterf het.

 

En tog het ou skool streep teoloë soos Charles Spurgeon nie soos vandag s’n geglo dat die Heilige Gees ons nooit op subjektiewe maniere lei nie (sien b-e hieronder).[3]  Waar die Heilige Gees ons egter subjektief lei moet ons dit aan die objektiewe waarheid van die Woord meet.  As die ‘gees’ wat ons lei met die Bybel bots, is dit nie die Heilige Gees nie maar ‘n vals gees.  Die subjektiewe leiding van die Gees kan nooit die Bybel vervang nie].

 

[a] Die Heilige Gees herinner jou aan Bybelse beloftes waarvan jy skoon vergeet het.  Bring hierdie beloftes in gebed na die Here toe: “Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy…” (Jes. 62:6-7).  Vra die Heilige Gees om jou aan die Woord te herinner wanneer jy bid, en strek deur gebed die hand geloof uit om aan God se getrouheid, gewilligheid en krag vas te hou.

 

[b] Soms sal die Here ‘n persoon, behoefte of saak op jou hart lê.  Dit sal so swaar op jou weeg dat jy nie anders kan as om daarvoor te bid nie.  Ek het ‘n berading-kursus geloop en R1000 nodig gehad vir boeke.  Ek het vir niemand gesê nie, maar die saak voor die Here gelê.

 

‘n Ruk later toe kom daar ‘n vreemdeling by die kerk aan (dit was ‘n weeksdag).  Dit was iemand wat my by ‘n begrafnis hoor preek het.  ‘Ek glo die Here wil hê ek moet hierdie koevert vir jou gee,’ het sy gesê.  Daar was R1000 in.  As dit nie die Here was wat dit op haar hart gelê het nie, wie was dit?

 

[c] Die Here bring nuwe gedagtes na jou toe.  Ek was eendag besig om te bid toe ek skielik aan ‘n tannie in ons gemeente gedink.  Ek het vir haar gebid.  ‘n Dag of wat later toe bel sy my.  Toe ek vir haar gebid het, het sy ‘n krisis beleef.  Die Here het dit opgelos.

 

[d] God se voorsienigheid (wat die wêreld ‘geluk’ noem) bevestig soms dat jy vir iets of iemand moet bid.  Op een of ander manier kom jy by Kallie uit toe jy vir Hannes bel.  Jy het drie jaar laas met hom gepraat en vind uit dat hy jóú wou bel, maar nie jou nommer gehad het nie.  Hy vertel jou van sy situasie.  Jy bid vir hom en hoor later dat die Here sy krisis opgelos het.

 

[e] Partykeer gebeur iets buitengewoon waarvoor jy nie gesoek het nie.  Op Saterdagnag 12 April 1856 het Spurgeon erg met sy preek gesukkel.  Hy het die Here vir lig gevra, maar niks het gebeur nie.

 

Sy vrou het voorgestel dat hy gaan slaap en baie vroeg opstaan.  Hy het haar gevra om hom wakker te maak.  Êrens na middernag het hy in sy slaap gepraat.  Mev. Spurgeon het wakker geword en gehoor dat haar man sy teks in sy slaap preek.  Sy kon dit nie neerskryf nie, en het die belangrike punte oor en oor vir haarself gesê.  Toe hy wakker word het sy hom vertel wat gebeur het.  Hulle het die Here saam gedank.[4]

 

Die Here gee nie nuwe openbarings nie (Op. 22:18-19), maar dit is ‘n feit dat Hy soms op buitengewone maniere ons gebede beantwoord en selfs in ons slaap (of op ander vreemde maniere) vir ons wys waarvoor ons moet bid.

 

Iemand in ons gemeente het onlangs so iets met my gedeel.  Ek het my verstom oor hoe die Here ons in ons slaap troos, bemoedig, waarsku en leer.  Die Woord van God kom inderdaad in die dag en in die nag na ons toe (Ps. 16:7, Spr. 6:21-22).

 

Ons moet egter nie die buitengewone najaag nie, en dit altyd aan God se Woord en volwasse gelowiges toets (Spr. 11:14, Hand. 16:9-10, 2Pet. 1:18-19).  As jy weet dat dit die Here se wil is, kan jy met vrymoedigheid daarvoor bid.  As jy onseker is kan jy Hom vra om sy wil vir jou te wys, sodat jy daarvolgens kan bid en seker kan wees van ‘n antwoord.

 

Dít is die gebed van geloof waarvan Jakobus in v.15 praat.  Waarvoor het jy geloof?  Glo jy dat die Here vir jou die nodige R500 sal gee?  Bid dan daarvoor.  Glo jy dat Hy iemand sal stuur om jou ou tent vir hierdie bedrag te koop?  Bid daarvoor.  Om volgens jou geloof te bid en ‘n antwoord te verwag is heeltemal Bybels (Matt. 9:28-29, 20:32-34).  In die ou dae het mense soos John Welsh, George Müller en Hudson Taylor het dit persoonlik ervaar.[5]

 

Jy moet egter eers reddende geloof hê voordat jy die gebed van geloof kan bid (Heb. 11:6).  Hoe kry jy dit?  Jy moet besef dat jy verlore is.  Jou luiheid, selfliefde, ondankbaarheid, murmurering, selfbejammering, kort humeur, oneerlikheid, onbetroubaarheid, ongeduld, hoogmoed en ander sondes staan die Here nie aan nie; Hy haat dit.

 

Eers as jy reddende geloof het kan jy in ‘n regte verhouding met Hom staan.  Vra Hom daarvoor; Hy sal dit vir jou gee (Ef. 2:8, Fil. 1:29).  Jy sal weet as jy dit het: jy sal glo dat Hy sy Seun gestuur het om jou te red, jy sal glo dat Jesus die ware God is wat mens geword het, dat Hy ten volle God en mens is, dat Hy aan die kruis die straf vir ons sonde gedra het, dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Jy sal in Hom glo om jou van jou sonde en God se oordeel te red, en jouself aan Hom toevertrou.

 

Om die gebed van geloof te bid moet jy jou hart met die Bybel vul en dit glo.  Hoe meer jy die Skrif ken, hoe meer beloftes het jy om aan vas te hou en hoe meer waarhede is daar waaraan die Heilige Gees jou kan herinner.  Om jou geloof te versterk moet jy ook baie bid.  ‘n Christen wat baie bid sal meer antwoorde sien as iemand wat gebed afskeep (4:2).  En as jy gereeld antwoorde sien sal die Here jou geloof versterk sodat jy nog méér bid.

 

Waar die ouderlinge só bid sal die Here die sieke genees (v.15).  Hy sal hom red van die siekbed waaraan hy ‘vasgeketting’ is; Hy sal hom laat opstaan sodat hy vrylik kan rondloop (v.15).  Moenie kleingelowig en biddeloos wees soos die dissipels nie (Matt. 17:20-21), maar glo dit.

 

  1. As jy gesondig het (v.15b-16a)

Charismatiese predikers sê te maklik vir siek mense dat hulle gesondig het.  Maar die meeste konserwatiewe predikers sê dit nooit.  Die Bybel sê nie dat siekte altyd deur sonde veroorsaak word nie (Job 2:3, 7, 10, Joh. 9:1-3), maar soms is dit die oorsaak (Ps. 38:4, Joh. 5:14, 1Kor. 11:30).

 

In sulke gevalle moet God die persoon vergewe voordat hy genees kan word (v.15b, Mark. 2:1-12).  Om genees te word moet die sieke sy sonde bely (v.16a).  Hy moet dit nie aan die gemeente of ouderlinge bely nie (ons is nie Katolieke nie), maar aan die Here en die persoon teen wie hy oortree het.

 

Om te bely [Gk. exomologeō] beteken letterlik om saam te stem met wat die Here sê.  Moenie jou kort humeur versag en sê dat jy ongelukkig is nie.  Moenie sê dat jou verslawing ‘n siekte is nie.  Moet jou bitterheid regverdig nie.  Moenie jou omstandighede of ander mense vir jou woede blameer nie.  Moenie maak of jou onreinheid nie so erg is nie: ‘Dis nie asof ek…’  Moenie van jou leuens sê: ‘Jammer, ek het dit nie bedoel nie.’  Moenie jou geskinder wegpraat en sê: ‘AS ek iets gedoen het om jou seer te maak is ek jammer’ nie.

 

Bybelse belydenis sê nie ‘ek is jammer’ en loop weg nie.  Dit vra vir vergifnis en wag vir ‘n reaksie.  As jy vir vergifnis vra plaas jy die skuld op jouself en fokus jy nie op die ander persoon se sonde nie.  Dus moet jy ook spesifiek wees: sê wat jy gedoen het en waarvoor jy jammer is.  Erken dat jou sonde die persoon seergemaak het.  Wees gereed om te verander en die negatiewe gevolge van jou sonde te dra (dit wys dat jy regtig berou het).

 

As jy klaar met die persoon reggemaak het, moet jy dinge met die Here regmaak (Matt. 5:23-24).  Opregte belydenis is een van die gebede wat beantwoord word; die Here sal jou vergewe (v.15-16a, 1Joh. 1:9).  As jy die slagoffer van iemand se sonde is, moet jy die Here vra om die persoon te vergewe (v.16a, Gen. 20:7, Job 42:8, 10, Hand. 7:60, 2Tim. 4:16).

 

Dalk moet jy dit vandag doen?  Of miskien moet jy vir iemand vergifnis vra?  Moenie uitstel nie, maar vra die Here om jou te help.  As jy dit gedoen het sal jy die vryheid ervaar van iemand wat vir 8 km in die berge gaan stap het en sy rugsak neersit.  Jy sal weet dat beantwoorde gebed nie maar net ‘n teorie nie, maar ‘n werklikheid.

 

[1] John Howie, The Scots Worthies, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1995 (1870), p. 138

[2] John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, Whitaker House, New Kensington: PA, 1981, p. 10

[3] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1973, pp. 59-60.  Wayne Grudem (Ed.), Are Miraculous Gifts for Today? – Four Views, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1996, pp. 201-203

[4] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1962, pp. 419-420

[5] Bestel gerus hulle biografieë by Good Neighbours in Randburg of Augustine Bookroom in Pretoria.  Ek lees op die oomblik The Autobiography of George Müller (Whitaker House, New Kensington: PA, 1985) en put baie seën daaruit.