Wat is erger as die groot verdrukking?

Peckham, Oklahoma

Op grond van Matt. 24:21 sou ‘n mens dink dat daar nie iets erger kan wees as die groot verdrukking nie: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”

 

Maar daar is: Jesus Christus die Groot Verdrukker, wat die dinge van v.1-28 oor die Jode en tempel sou bring.  Ons hou nie daarvan om so oor Hom te dink nie.  Ons soek ‘n Jesus van die Kinderbybel wat altyd glimlag en nie ‘n vlieg sal seermaak nie, ‘n Hollywood-Jesus met sagte hande, blou oë en sjampoe-skoon hare wat in die wind waai.

 

Ons soek ‘n Jesus wat nie omgee dat mense gay is nie, ‘n Jesus wat nie mense hel toe sal stuur nie (ons is immers nie só sleg nie!).  ‘n Prediker genaamd Voddie Baucham noem dit ‘the modern church’s sissified Jesus’.

 

In 2003 het ek ‘n preek geluister waarin D.A. Carson vertel hoe ‘n klomp studente by Cambridge Universiteit hom hieroor aangevat het.  Hier is wat hulle gesê het:

 

‘Die God van die Ou Testament is sonder genade en het mense voor die voet dood doodgemaak; Hy is bloeddorstig en wreed.  In Jesus Christus het ons die God van die Nuwe Testament leer ken: vol van liefde, deernis, ontferming, goedheid, barmhartigheid en genade.  Hoe kan Christene dan sê dat dit dieselfde God is?’

 

Aan die einde van die preek het Carson gewys dat hierdie studente die verkeerde Jesus beet het, ‘n Jesus van hulle eie verbeelding.  Hy het Op. 14:20 met 19:15 vergelyk en gewys hoe Jesus mense onder sy voete vertrap, sodat hulle bloed vir 296 km so hoog soos die perde se tooms vloei.  ‘Sê nóú vir my dat die God van die Nuwe Testament nie dieselfde Een is as in die Ou Testament nie,’ het hy gesê.

 

Matt. 24:29-31 wys vir ons wie die ware Jesus is.  Hou egter in gedagte dat hierdie verse nie sy hele karakter beskryf nie, maar enkele aspekte daarvan.[1]

 

  1. Sy toorn (v.29)

Alhoewel ek nie John Piper se siening oor eindtyd deel nie, onthou ek twee van sy aanhalings uit Openbaring wat my baie diep getref het.  In die eerste preek het hy uit Op. 19:11-16 van Jesus se vlammende oë, swaard, en wit perd gelees.  Hy het dit met die nederige Jesus wat op ‘n donkie ry gekontrasteer, en by sy gehoor gepleit om vandag dinge met Hom reg te maak.

 

In die tweede preek het hy na Op. 6:16-17 verwys en gesê dat mense vir die rotse uitroep om hulle breins te verpletter, sodat hulle nie voor die toorn van die Lam hoef te staan nie.

 

En dit is met hierdie ingesteldheid wat ons v.29 moet lees: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.”

 

Ek glo dat ons die vers simbolies moet verstaan, en dat Jesus kosmiese terme gebruik om die absolute verwoesting van die tempel in 70 n.C. te beskryf.  Die Ou Testament profete het dieselfde terme gebruik om God se oordele oor Israel, Juda en die ander nasies aan te kondig (Jes. 13:10, Jer. 4:23, Eseg. 32:7-8, Joël 2:2, 10, 2:31, 3:15, Amos 8:9, Sef. 1:15).

 

Hoe weet ons dat v.29 in die eerste eeu vervul is en dat dit nie na die wederkoms verwys nie?  In my preek oor v.15-28 het ek gewys dat die groot verdrukking in die eerste eeu vervul is,[2] en volgens Jesus sal v.29 direk daarna plaasvind.

 

Verder sê Jesus self dat alles wat voor v.34 plaasvind in die eerste eeu gebeur het: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”

 

Laastens moet ons oplet dat daar ‘n duidelike kontras tussen v.15-31 en v.36-42 is.  Voor die koms in v.15-31 is daar tekens, terwyl die koms in v.36-42 heeltemal onverwags is.  Voor die koms in v.15-31 gaan dinge baie sleg, terwyl die omstandighede voor Jesus se wederkoms in v.36-42 rustig en normaal is.

 

Maar of v.29 nou in 70 n.C. gebeur het en of dit in die toekoms lê, die punt is dat die toorn van Jesus erger is as die groot verdrukking, en dat dit iets is waarmee ons moet reken.  “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee” (Joh. 5:22).  Jesus Christus gaan jou oordeel.  As jy jou met sonde ophou, gaan jy op die laaste dag in sy vlammende oë moet kyk.

 

Dit is ook Hý wat jou met sy almagtige regterarm in die hel sal pynig.  Volgens Paulus sal Hy “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (2Tess. 1:8-9).

 

Volgens Johannes sal die goddelose mens “drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Op. 14:10-11).

 

Hy sal in jou “sy toorn bewys en sy mag bekend maak” (Rom. 9:22).  Ek wil jou smeek om nie met sonde te speel nie.  Keer terug as jy afvallig geraak het.  Bekeer jou van jou geestelike louheid, koue toewyding en sub-standaard liefde vir Jesus.  Hou op om te sê jy sal dit môre doen.  Moenie vanaand gaan slaap as dinge tussen jou en die Here nie reg is nie.

 

Moet ook nie dink ek praat net met ‘ongekerkte’ heidene nie.  Ek praat met jou wat in die kerk sit.  As Israel se tempel haar nie teen Jesus se toorn kon beskerm nie (Jer. 7:4), moet jy nie dink dat jy in ‘n kerkbank, doopbad of Christelike ouerhuis vir Hom kan wegkruip nie.  Hy weet wat in jou hart en lewe aan die gang is.  In die Naam van die soewereine Jesus wat alles gemaak het, beveel ek jou om jou te bekeer.

 

Al manier om vir sy toorn te vlug is om na Hom toe te vlug, “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1Tess. 1:10).  Toe Jesus soos ‘n misdadiger aan die kruis gehang het, het Hy die toorn wat vir ons bedoel was geabsorbeer (Rom. 3:25).

 

As jy met volle vertroue op sy lieflike Persoon, lewe en kruisdood rus, is Rom. 5:9 vir jou bedoel: “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”

 

  1. Sy heerlikheid (v.30)

Iemand het onlangs op Facebook gesê dat Moses die eerste man was wat data uit ‘n ‘cloud’ op ‘n ‘tablet’ gelaai het.  Ek was nie beïndruk nie.  As Christene moet ons nie grappe maak oor God se heerlikheid en ander gewigtige sake in die Bybel nie.

 

God se heerlikheid is nie ‘n eienskap van sy karakter nie, maar die volle spektrum van sy volkomenhede.  Dit is die beeldskone glans van sy openbaring, van wie en wat Hy in Homself is.  Jesus is hierdie heerlikheid (Heb. 1:3).

 

Toe Hy op die aarde was het Petrus, Johannes en Jakobus dit vir ‘n wyle op die berg van verheerliking gesien (Matt. 17:1-8).  Dit is asof Hy die gordyn oopgetrek het.

 

Natuurlik het Hy nog altyd hierdie heerlikheid gehad (Joh. 17:5), maar dit was as’t ware onder sy menslike vlees bedek.  Na sy opstanding en hemelvaart het die heerlikheid sigbaar geword.  Paulus het dit op die Damaskus-pad gesien en Johannes op die eiland Patmos (Hand. 9:3-9, Op. 1:9-20).  Ons sal dit in die hemel sien (Joh. 17:24).

 

Sover ek v.30 verstaan beskryf dit die heerlikheid wat Jesus tans in die hemel het, en gaan dit nie oor sy heerlikheid by die wederkoms nie.  Hoekom sê ek so?

 

Volgens v.30 sou die teken van die Seun van die Mens in die hemel verskyn.  Die Jode het nie geglo dat Jesus die Messias is nie, maar die verwoesting van die tempel in 70 n.C. was die teken dat Hy as Messias in die hemel sit (v.30, Ps. 110:1).

 

Dit was die teken dat Hy Dan. 7:13-14 se Seun van die Mens is, dat Hy met die wolke van die hemel na die Oue van Dae toe opgevaar het om die titel-akte van die Koninkryk te ontvang (Ps. 2:8, Matt. 28:18, Hand. 1:9, Op. 5:7), en dat Hy tans deur die evangelie besig is om die nuwe tempel te bou (Matt. 16:18, 28:19-20, Ef. 2:19-22, 1Pet. 2:5).

 

Toe Hy die tempel verwoes het, het die stamme van die aarde rou bedryf (v.30).  Die Griekse woord vir aarde [] beteken ook land.  Dit blyk dat die stamme van die land in v.30 getreur het toe die Messias die tempel verwoes.  Die Jode in die res van die Ryk het ook hieroor getreur (v.30).

 

Hoe weet ons dat Jesus hier van die Jode praat?  Sy aanhaling kom uit Sag. 12:10-14, en daar gaan dit oor Jerusalem wat treur nadat sy haar Messias gekruisig het.  Sommige het berou gehad oor hulle sonde (Luk. 23:48, Hand. 2:36-37), terwyl ander spyt was oor die bitter gevolge, nl. oor die verwoeste tempel (v.30).

 

Hoekom sê Jesus dat die stamme Hom in sy heerlike krag op die wolke van die hemel sou sien kom (v.30)?  Verwys dit nie na die wederkoms nie?  Hand. 1:9-11 sê vir ons dat Jesus eendag weer op die wolke sal kom, maar ek dink nie dat Hy hier van die wederkoms praat nie.  Hy het immers vir die hoëpriester gesê: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matt. 26:64).

 

Die hoëpriester het lank voor die wederkoms gesterf, maar hy hét Jesus se heerlike krag gesien toe die tempel verwoes is en die stad in swart rookwolke na die hemel toe opstyg.  Hy het Jesus se woorde onthou en besef dat Hy die Seun van die Mens is.  Volgens Ps. 18:12-13, Jes. 19:1, Eseg. 30:3, 18 het die Here op ‘n wolk teen Egipte en Dawid se vyande gekom.  Net so het Hy in 70 n.C. op ‘n wolk teen Jerusalem gekom.

 

Die Jode het nie meer gedink dat Hy ‘n swak en hulpelose Messias is nie, het hulle?  Hulle het sy “groot krag en heerlikheid” gesien (v.30).  En wanneer Jesus weer kom sal ons dit ook sien: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit” (Matt. 25:31).

 

Ateïste en sentimentele kerkmense sal nie dink dat Hy die ‘Ag shame!’ Jesus van moderne Christenskap is nie.  Hulle sal weet dat Hy die sterk en roemryke Seun van God is.

 

Maar jy hoef nie te wag tot dan nie.  Deur die geloof kan ons, “al sien [ons] Hom nou nie, tog glo en [ons] verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1Pet. 1:8).  Het jy dit al ervaar?  Of is dit iets wat glad nie in jou teologiese raamwerk pas nie?

 

Is jy tevrede met ‘n vervelige stiltetyd waarin jy nie eers kan onthou wat jy gelees het nie, waarin jy nie die Bybel verstaan nie, waarin jou hart koud voel en jou emosies dood is wanneer jy bid, sing en die nagmaal gebruik, waarin jou gedagtes dwaal of afskakel tydens die prediking, en waarin dit jou irriteer as die diens vir meer as ‘n uur aanhou?

 

Jy het hulp nodig.  Stuart Olyott sê: ‘clinical, unfeeling Christianity is not authentic Christianity and is a great evil’.[3]  Om dinge reg te stel moet jy heel eerste na die Here toe kom.  Sê vir Hom dat jy nie ‘n aptyt het vir geestelike dinge nie.  Bely dat jy soos die Laodisense lou geword het, en dat jy soos die Efesiërs jou eerste liefde verlaat het.

 

Bid dat Hy die smeulende kole in jou hart deur sy Gees sal aanblaas (2Tim. 1:6).  Bely en laat staan alle sonde, omdat dit die Heilige Gees bedroef en sy vuur uitblus (Ef. 4:30, 1Tess. 5:19).  Sonde verhoed dat jy Christus se heerlikheid sien en beleef (Rom. 3:23).

 

Die duiwel sal alles in sy vermoë doen om jou vir God se heerlikheid in Jesus Christus te verblind (2Kor. 4:4).  Glo, bid en fokus op Jesus, sy kruisdood en die evangelie.  Bid dat die Gees jou oë sal open om Christus se heerlikheid te sien (2Kor. 4:5-6).  Dit is tog hoekom die Heilige Gees gekom het: om Jesus te verheerlik (Joh. 16:14).

 

Dink diep na oor Jesus en heerlikheid, totdat dit soos ‘n vuur in jou hart brand (Luk. 24:32).  Hou aan dink totdat dit in gebed verander en jy die seën van Christus se heerlike teenwoordigheid ervaar: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën… En Hy het hom daar geseën.” (Gen. 32:26, 29).

 

Die meeste Christene het dit nog nooit ervaar nie, en het ook nie ‘n idee waarvan ek praat nie.  En tog is dit heeltemal Bybels.  Sê vir die Here dat jy nog nie hierdie dinge ervaar het nie, en dat Hy asb. “aan [jou] die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee” (Ef. 1:17).

 

As jy in geloof en uit ‘n opregte bid, sal Hy jou gebed verhoor: “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Luk. 11:13).  En as jy dit eers gesmaak het sal nie iets anders soek nie: ‘Those who have had life-changing encouters in the secret place do not stay away from that place for very long.’ (Stuart Olyott).[4]

 

  1. Sy blydskap (v.31)

Het jy al ooit daaraan gedink dat Jesus baie bly is?  John Piper sê: ‘He is an unshakably happy God.’[5]  Luk. 10:21 praat van sy blydskap, en die vrug van die Gees is blydskap (Gal. 5:22).

 

Dit is ook blydskap wat Hom gedryf het om v.31 te voorspel en uit te voer: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

 

Wat beteken hierdie vers?  Weereens leer v.34 vir ons dat v.31 nie van Jesus se wederkoms praat nie, maar dat dit in die eerste eeu vervul is.  Ek wil die vers soos volg verduidelik:

 

[a] Die Griekse woord vir engel [aggelos] beteken boodskapper en verwys soms na menslike boodskappers of predikers (bv. Matt. 11:10, Fil. 2:25, Op. 2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).

 

In v.36 praat Jesus van die engele van die hemel, terwyl Hy in v.31 bloot van die engele praat.  Die engele in v.31 is heel waarskynlik menslike boodskappers wat d.m.v. evangelisasie die uitverkorenes na Jesus toe bring.  Hulle gaan na die nasies toe om die evangelie te preek, sodat die uitverkorenes gered kan word (v.31, Luk. 13:29, Hand. 1:8, 2Tim. 2:10).

 

Jesus het die nuwe tempel effektief gebou toe Hy die ou een verwoes het; Hy het die heidene met die rykdom van sy verlossing geseën toe Hy die Jode verwerp het (v.29-31, Rom. 11:12).

 

[b] Volgens 1Kor. 15:52 en 1Tess. 4:16 sal ons ‘n trompet hoor wanneer Jesus weer kom.  Maar in Lev. 25:8-22 lees ons van ‘n trompet wat elke 50 jaar in Israel geblaas is.  Dit het die jubeljaar aangekondig waarin mense van hulle finansiële laste bevry is.

 

Toe Jesus ons van ons sonde bevry, het Hy die jubeljaar vervul (Luk. 4:18-19).  Die trompet van v.31 het die jubeljaar aangekondig en vir die nasies gesê dat hulle van hulle sonde bevry is.  As Christene het ons dus elke rede onder die son om bly te wees (sien Jes. 61:1-3):

 

  • Jesus is ons Messias en Verlosser.
  • Die rykdom van die hemel is ons s’n.
  • Hy het ons gebroke harte verbind.
  • Ons is nie meer slawe van sonde nie, maar Hy het ons uit die boeie van Satan bevry.
  • Die Vader glimlag oor ons en is nie kwaad vir ons nie.
  • Jesus sal die duiwel en al ons vyande onder sy voete vertrap.
  • Daar is twee Persone wat ons troos: Jesus en die Heilige Gees.
  • Jesus het ons met die skoon klere van sy geregtigheid beklee, sodat ons aanneemlik is vir die Vader.
  • Die Heilige Gees woon in ons en vul ons met sy vreugde.
  • Hy het die klaaglied weggevat en ons monde met lofprysing gevul.
  • Hy leer ons om regverdig te lewe.
  • Hy verheerlik sy Naam in ons harte en lewens.

 

Daar is nog baie redes om bly te wees, maar die tyd het my ingehaal.

 

Die feit dat Jesus nie ‘n sagte sissie is nie, beteken nie dat Hy emosieloos en hard is nie.  Hy is liefdevol en genadig, maar ook heilig en regverdig.  Hy is die Leeu en die Lam (Op. 5:5-6).  Hy is die Groot Verdrukker wat erger is as die groot verdrukking, maar ook die Groot Verlosser van elke mens wat in Hom glo.

 

[1] Streng gesproke kan ons dit nie die ‘aspekte’ van sy karakter noem nie, aangesien sy karakter nie verdeeld is nie.  Christus is in sy hele wese liefdevol, heerlik, heilig, ens.  Maar weens die gebrek aan ‘n beter term het ek besluit om van die ‘aspekte’ van sy karakter te praat.

[2] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2018/03/24/christene-en-die-groot-verdrukking/

[3] Stuart Olyott, Something Must Be Known & Felt, Bryntirion Press, Bridgend, 2014, p. 25

[4] Stuart Olyott, Ministering Like the Master, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2003, p. 82

[5] John Piper, Desiring God, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1986, p. 50