Leer ons bid

Prayer in group

Ek is die Here ewig dankbaar vir Martin Holdt se invloed op my lewe.  Dit was veral sy gebedslewe wat my beïnvloed het.  As gevolg daarvan was gebed van die begin van my bediening af vir my sentraal.

 

Maar omtrent ‘n maand gelede toe lees ek ‘n boek wat my gebedslewe op sy kop gekeer het.  Dit het vir my gevoel of ek weer in gr. 1 is.  Die boek se titel is Something Must Be Known and Felt deur Stuart Olyott.  Dit het my so geskud dat ek besluit het om oor die onderwerp te preek.  Ek glo dat Luk. 11:1-13 ‘n goeie plek is om te begin.

 

  1. Jesus se voorbeeld (v.1)

Kinders leer nie net uit hulle ouers se bevele nie, maar uit hulle voorbeeld.  So is dit ook met ons en Jesus.  In v.1 het die dissipels uit sy voorbeeld geleer.

 

Hulle het gesien dat Hy op ‘n sekere plek bid (v.1).  Hy het dit baie gedoen (3:21, 4:42, 5:16, 6:12, 9:18, 29, 22:32, 41-44, 23:34).  Dit het gemaak dat een van hulle vra Hy moet hulle leer soos wat Johannes die Doper sý dissipels geleer het (v.1).

 

‘n Paar lesse staan uit in hierdie vers.

 

[a] Ons moet Jesus se voorbeeld volg en in gebed lewe.  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).

 

[b] Jesus het op ‘n sekere plek gebid.  Lukas noem nie die plek nie.  Jy kan dus op enige plek bid en verhoor word.  Daar bestaan nie so iets soos ‘heilige plekke’ waar jy ‘n groter kans het om verhoor te word nie.

 

Maar alhoewel Lukas nie die plek aandui nie, sê hy dat dit op ‘n sekere plek was.  Dit is dan goed om vir jou ‘n spesifieke plek te kry waar jy kan bid.  Dit help dat jy in die stemming van gebed kom, net soos wat jy in ‘n werkstemming is wanneer jy by die kantoor instap, of in ‘n stemming van rus is as jy jou skoene uitskop en op die rusbank sit.  Om ‘n sekere plek te kry help ook dat jou aandag nie dwaal as alles rondom jou nuut is nie.

 

[c] Een van die dissipels het vir Jesus gevra om hulle te leer.  Hy het ‘n leerbare gesindheid gehad.  Wees soos hy en vra die Here om jou te leer.  Bid gedurig.  Bid saam met ander gelowiges.  Maak ‘n studie van Jesus se gebedslewe en sy lering oor gebed.

 

Lees goeie boeke oor gebed op jou knieë: With Christ in the School of Prayer deur Andrew Murray, George Müller se autobiografie, The Hidden Life of Prayer deur David McIntyre, The Diary & Journal of David Brainerd deur Jonathan Edwards, E.M. Bounds se boeke oor gebed.

 

[d] Jesus het die dissipels geleer bid.  Waar is die teologiese kolleges wat dit doen, en nie net hulle predikante leer om te preek nie?  Maak jou stem dik hieroor as jy die geleentheid kry.

 

  1. Jesus se model (v.2-4)

Toe ek klein was het skole, Sondagskole en kerke die Onse Vader opgesê.  Maar Jesus het dit juis nié gegee dat ons dit moet opsê nie (Matt. 6:7, 9).  Hy het dit as ‘n model of riglyn gegee.  Maar voordat ek die gebed vir jou uitlê wil ek ses ander punte maak.

 

[a] Jesus aangeneem dat sy dissipels sal bid: ‘Wanneer julle bid…’ (v.2).  Nie almal wat bid is dissipels nie, maar alle ware dissipels bid (Hand. 9:11).  As gebed nie ‘n belangrike deel van jou lewe is nie, is die kans goed dat jy nie ‘n dissipel is nie.

 

[b] Jesus het hierdie gebed by ‘n vorige geleentheid vir die dissipels geleer (Matt. 6:9-13).  Die feit dat Hy dit weer leer beklemtoon dat daar nie ‘n beter model is nie.  Ek gebruik dit al vir 51/2 jaar en kan van groot seën getuig.  Ek wil jou sterk aanmoedig om hierdie model te gebruik.

 

[c] Voordat jy bid moet jy stil word.  Dink daaraan dat jy deur Jesus Christus God se kind is en Hy jou Vader (v.2, Joh. 20:17, Gal. 3:26, 4:4-7).  Omdat Hy jou Vader is, is gebed nie ‘n godsdienstige aktiwiteit nie maar ‘n persoonlike verhouding.  Bid daarom met vrymoedigheid soos ‘n kind wat vir sy pa iets vra.  Omdat Hy jou Vader in die hemel is (Matt. 6:9), kan jy weet dat Hy die mag het om jou te help.

 

[d] Dit is nie verkeerd om tot Jesus en die Heilige Gees te bid nie (Hand. 7:59), maar gewoonlik bid ons tot die Vader, deur die Seun, in die krag van die Heilige Gees (v.2, Ef. 2:18).

 

[e] Bid vir ander gelowiges en nie net vir jouself nie.  Jesus praat tog van ons Vader, ons daaglikse brood, ons sondes en ons versoekings (v.2-4).

 

[f] Kry jou prioriteite reg.  Bid vir God se Naam, Koninkryk en wil (v.2), voordat jy vir jou behoeftes, sonde en beskerming bid (v.3-4).  As jy eers op God fokus sal jy jou probleme in perspektief sien.

 

Kom ons bestudeer die gebed self.

 

Laat u Naam geheilig word (v.2)

Bid dat mense God se Naam sal eerbiedig, respekteer en hoog hou.  As Christene moet ons so lewe dat ons nie God se goeie reputasie, Naam en karakter deur die modder sleep nie (Rom. 2:24).

 

Laat u Koninkryk kom (v.2).

Bid vir die volheid daarvan by die wederkoms (1Kor. 15:24, 28), asook dat mense deur wedergeboorte in die Koninkryk sal inkom (Joh. 3:3, 5, Kol. 1:13).  Bid dat Satan se koninkryk veld sal verloor en dat God se Koninkryk deur sending, evangelisasie en prediking veld sal wen.

 

Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde (Matt. 6:10)

Namate God se Koninkryk versprei sal mense sy wil leer en dit uitvoer (Matt. 28:19-20).  Bid in die eerste plek dat ons God se wil in die Bybel sal ken.  Bid ook vir die krag en gewilligheid om dit uit te voer (Fil. 2:13).  Bid dat ons dit soos die engele in die hemel sal doen: gedryf deur liefde, om God te verheerlik, volkome en met volharding.

 

Gee ons elke dag ons daaglikse brood (v.3)

Bely elke dag dat jy die Here nodig het, net soos wat die Israeliete Hom elke dag vir vars manna moes vertrou (Eks. 16).  Bid dat Hy vandag vir jou sal gee wat nodig is en moenie oor môre bekommer nie (Matt. 6:34).

 

Bid vir reën sodat ons ons nodige kos kan kry.  Bid en deel met dié wat arm is, veral met ander Christene: ‘ons…brood’ (v.3, Gal. 6:9).  Onthou asb. dat die Here brood belowe en nie koek nie: bid dus vir jou behoeftes en nie vir luukshede nie.  Soms gee die Here vir ons luukshede, maar dit is nie wat Hy hier belowe nie.

 

En vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is (v.4)

Die voegwoord ‘en’ koppel v.3 en 4 aan mekaar: net soos wat jy elke dag vir jou behoeftes bid, moet jy elke dag jou sonde bely.  ‘Maar hoekom moet ek my sonde bely as Jesus klaar vir alles betaal het aan die kruis?’ wil iemand weet.

 

Deur Jesus se volmaakte lewe en kruisdood het Hy Peet se sondeskuld betaal en sy oneindige rykdom in Peet se lewensrekening inbetaal.  Die ‘geld’ het egter eers losgekom toe Peet tot bekering kom.

 

Noudat Peet gered is kan sy sonde nie maak dat God hom weggooi nie.  Maar dit kan sy verhouding met die Bankbestuurder, wat sy Vader is, vertroebel.  Om dinge reg te stel moet Peet sy sonde bely (v.4, 1Joh. 1:9).  En wat vir Peet geld, geld vir elke gelowige.

 

Wanneer Peet bid moet hy seker maak dat hy ander vergewe, net soos wat die Bankbestuurder sy skuld afgeskryf en betaal het (v.4, Matt. 18:21-35, Mark. 11:25, Kol. 3:13).  Die les is dat jou verhouding met God nie kan reg wees as jou verhouding met ander mense nie reg is nie (Matt. 6:15, 1Pet. 3:7).

 

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose (v.4, Matt. 6:13)

Jy moet jou sonde bely, maar dit is beter om nie te sondig nie.  Alhoewel God niemand versoek nie (Jak. 1:13), moet jy bid dat Hy jou nie in ‘n situasie sal laat beland waar die duiwel jou versoek nie (22:40, Matt. 4:1).  Maar omdat Hy jou wil sterker maak, gee Hy soms vir die duiwel toestemming om jou te versoek.  Vir sulke gevalle moet jy bid dat Hy jou sal help om die duiwel se strikke te ontduik (Matt. 6:13, 1Kor. 10:13).

 

  1. Jesus se illustrasies (v.5-13)

Klim asb. saam met my in ‘n tyd masjien.  Ons is oppad Israel toe in die eerste eeu n.C.  ‘n Vriend daag teen middernag onverwags by jou huis op (v.5).  Hy is moeg en honger, maar jy het niks om vir hom te gee nie (v.6).  Maar jy het ‘n plan.

 

Jy hardloop gou na jou ander vriend se huis toe.  ‘Vriend, vriend!’ roep jy met ‘n harde fluister stem.  Hy word wakker en loer by die venster uit.  ‘Dis middernag!’ sê hy.  Hy en sy kinders is al van 20:00 af vas en slaap in sy een slaapkamer huis (v.7).  ‘Ek kan nie nou opstaan om jou te help nie,’ sê hy (v.7).

 

Jy verduidelik die situasie en sê: ‘Kan ek asb. drie brode leen’ (v.5, 3).  Uiteindelik staan hy op om jou te help.  Hy doen dit nie omdat jy sy vriend is nie, maar omdat jy nie skaam was om aan te hou vra nie (v.8).

 

Jesus se punt is dat God beter as jou vriend is.  Hy is die Vriend wat nader is as ‘n broer en noem jou ook sý vriend (Spr. 18:24, Joh. 15:13-15, Jak. 2:23).  Jy kan enige tyd vir hulp vra, al is dit ook in die middel van die nag.  God slaap nie (Ps. 121:4), en daarom is jy nooit onwelkom nie.  Moenie dink dat jy Hom pla nie.  By Hom is daar nie so iets soos ‘n ongeleë tyd nie; die deur is altyd oop (Heb. 10:20, 22).

 

Omdat hierdie dinge so is kan jy met vrymoedigheid bid.  God wil hê dat jy in gebed moet volhard (v.8, Gen. 32), maar sy vuis is nie so toe dat jy dit moet oop forseer nie.  Omdat Hy jou Vader is gee Hy graag.  Al wat jy moet doen is vra (v.9).  Is dit nie hoekom Stefan en Riana se dinge nie uitwerk nie: in plaas daarvan dat hulle oor hulle situasie bid, stres en baklei hulle daaroor (Jak. 4:2)?

 

Jesus sê verder dat ons soos Michelle moet wees wat haar diamantring verloor het en dit soek (v.9).  As jy die Here soek sal jy Hom vind (Deut. 4:29, Jer. 29:13, Dan. 9:3).  ‘Soek’ impliseer dat jy nie haastig moet bid nie, maar tyd moet neem.

 

Dalk sê jy dat jy nie tyd het nie, maar ek glo jou nie.  Jy het dan tyd vir jou slimfoon, Facebook, YouTube, Twitter, Whatsapp, laat werk, laat slaap, braai saam met jou vriende, stokperdjies en meer.  Kan jy nie bid terwyl jy vir ‘n uur of meer in die verkeer sit nie?  En kan jy nie met die Here praat wanneer jy met jou hond gaan stap nie?

 

Jesus sê ook dat jy moet klop, en dat God vir jou die deur sal oopmaak (v.9).  Moet m.a.w. nie ophou totdat die Here jou hoor nie; volhard in gebed (v.8, Rom. 12:12, Kol. 4:2).

 

Hoekom moet jy so vra, soek en klop?  Is dit nie omdat Jesus jou van ‘n antwoord verseker nie: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (v.10)?

 

Omdat Dawid weet die Here gaan sy gebede beantwoord bid hy meer (Ps. 17:6, 86:7).  Met ons moet dit dieselfde wees: bid omdat die Here ‘n antwoord belowe.  Herinner Hom aan sy beloftes (Jes. 62:6-7).

 

Let asb. op dat God se belofte van ‘n antwoord vir elke gelowige bedoel is (v.10).  Moenie dink dat die Here net predikante of super geestelike Christene se gebede verhoor, terwyl hy Hilda gewone-Christen se gebede ignoreer nie.  God se antwoorde is vir kinders, ou mense en siek mense wat in Jesus glo.  Niemand word uitgesluit nie.

 

Jesus het nog ‘n gelykenis vertel.  Gestel Wim vra sy pa vir ‘n plat brood met meel bo-op.  Sal sy pa vir hom ‘n ligte bruin plat klip met wit stof daarop gee (Matt. 7:9)?  As hy sy pa vir ‘n paling vra, sal hy vir hom ‘n slang gee (v.11)?  Of as hy vir ‘n gekookte en afgedopte kwartel eier vra, sal sy pa vir hom ‘n wit opgekrulde skerpioen gee (v.12)?  Natuurlik nie.

 

Net so sal die Here nie vir jou iets gee om jou uit te vang, seer te maak of te benadeel nie.  Nee, Hy sal presies gee waarvoor jy vra: ‘n brood, vis, ‘n eier of iets anders.  Moet dan nie sy gewilligheid betwyfel nie.

 

In uitsonderlike gevalle sê Hy vir ons ‘nee’, maar dit is die uitsondering.  Soms verhoed ons sonde of selfsugtige motiewe dat Hy ons antwoord, en partykeer sê hy ‘nee’ omdat Hy iets beter in gedagte het (Ps. 66:18, 2Kor. 12:7-10, Jak. 4:3).  En dan sê Hy ook partykeer vir ons om te wag.

 

Die reël is egter dat Hy gee waarvoor ons vra.  Indien jy gewoonlik nie kry waarvoor jy vra nie, is dit moontlik dat God nie jou Vader is nie (1Pet. 3:12).  Jy moet bid dat Hy jou deur Jesus Christus sal aanneem om sy kind te wees.  Die een belofte wat Hy aan ongelowiges maak is om hulle te red as hulle in sy Seun glo.  Dit sal die eerste antwoord op jou gebed wees, maar verseker nie die laaste nie.  Voortaan sal jy gereeld sien hoe God jou gebede beantwoord.

 

Die feit dat God ons Vader is impliseer dat Hy in sy kinders se behoeftes sal voorsien.  Ek wat ‘n sondige pa is weet hoe om goeie dinge vir my kinders te gee (v.13).  Hoeveel te meer sal ons volmaakte hemelse Vader nie goeie dinge vir sy kinders gee nie (Matt. 7:11, Jak. 1:17)?

 

Moet dan nie agterdogtig wees en dink dat die Here jou nie wil of sal help nie.  Hy wil en Hy sal.  Glo dit en moenie sy goedheid in twyfel trek nie.  Moenie dink dat jy ‘n beter ouer is as God nie.

 

As jy dapperheid, troos, bemoediging, krag, wysheid, kos, geld, werk of iets anders nodig het, sal die Heilige Gees wat van die Vader af kom gee wat jy nodig het (v.13).  God gee dus nie net die gawe waarvoor jy bid nie, maar die Gewer self.

 

Wat my betref is dit die klimaks van gebed: om nie maar net te bid asof God ver weg in die hemel is nie, maar om Hom in jou hart te ervaar.  Dit is wat Paulus vir die Efesiërs gebid het, en is my gereelde gebed vir ons gemeente:

 

“dat [God] aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” (Ef. 3:16-19).

 

Biddeloosheid maak dat ons dit mis.  Dwarsdeur die geskiedenis het biddende gelowiges hierdie volheid ervaar.  Buiten vir predikers en sendelinge soos David Brainerd, Howell Harris, D.L. Moody, Christmas Evans en Hudson Taylor wat dit beleef het, het ‘gewone’ Christene dit ook gesmaak.  Een voorbeeld is genoeg om my punt te bewys.

 

In die 1830’s het ‘n Skotse prediker genaamd Alexander Moody Stuart weekliks saam met ‘n ander gelowige gebid.  Die man was ‘n ploeër.  Een aand toe hulle klaar gebid het, toe lyk dit vir Stuart of die ploeër bleek is en wil omkap.  Die man wou nie daaroor praat nie en het homself so gou as moontlik verskoon.

 

Twee dae later het Stuart hom in die lande gesien en oor sy gesondheid gevra.  Die man wou nie sê wat gebeur het nie, maar het toe daarmee uitgekom: ‘When we were on our knees I was so filled with a sense of the love of God, that the joy was too much for me; it was all that I was able to bear, and it was with a struggle that I did not sink under it.’[1]

 

En sal ons nie saam met Paulus hiervoor bid in die wete dat ons Vader in die hemel ons sal antwoord nie: “…hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (v.13)?

 

[1] Iain Murray, Pentecost – Today?, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1998, pp. 97-98