Galbitter Getsemane

Jesus in Gethsemane

Die bitter nasmaak van Grand-Pa hoofpyn poeier op jou tong is wat Getsemane vir Jesus se siel was.  Iemand het gesê dat sy liggaam op Golgota gekruisig is, terwyl sy siel in Getsemane gekruisig is.  Hoekom was dit so bitter; wat het dit so erg gemaak?  Mark. 14:32-42 wys vir ons wat op daardie donker nag gebeur het.

 

  1. Jesus se benoudheid (v.32-36)

Het jy al ooit gestaan en toekyk as iemand bitterlik huil oor ‘n tragedie wat sopas gebeur het?  Ek hoop nie so nie, omdat dit slegte maniere is.  ‘n Mens staar nie vir iemand wat huil nie.

 

Om dieselfde rede voel dit byna verkeerd om op Getsemane se gewyde grond te staan en kyk hoe Jesus ‘n bittere stryd deurmaak.  En tog het die Heilige Gees dit laat opteken, sodat ons iets daaruit kan leer.  Maar voordat ons by die lesse kom moet ons kyk na wat daar gebeur het.

 

Uit ouder gewoonte het Jesus saam met die elf dissipels na Getsemane – dit beteken olie pers – op die Olyfberg aan die oostekant van Jerusalem toe gegaan (v.32, Luk. 22:39, Joh. 18:1-2).  Soos wat die eerste Adam in ‘n tuin gesondig het, het die laaste Adam in ‘n tuin gereed gekry om ons van ons sonde te red.

 

Jesus het vir agt van die dissipels gesê om een kant te sit terwyl Hy op ‘n ander plek gaan bid (v.32, Matt. 26:36).  Soos Hy tevore gedoen het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saamgevat (v.33, 5:37, 9:2).  In sy benoudheid het Hy geselskap gesoek (Gen. 2:18).

 

Volgens v.33 was Hy baie benoud en ontsteld.  Die feit dat Hy begin het om so te voel (v.33) impliseer dat dinge erger geraak het.  Moet dan nie dink dat die kruis ‘n taak was wat Hy sommer so afgehandel het, net omdat Hy die Seun van God is nie.

 

Die smarte in sy siel was so diep dat Hy dit nie meer kon inhou nie.  Hy het vir die drie dissipels gesê dat Hy diep bedroef is (v.34).  Sy droefheid was tot die dood toe (v.34), omtrent soos ‘n ma s’n as sy haarself dood treur nadat al drie haar kinders in ‘n motorongeluk oorlede is.

 

Jesus wou nie hê dat die drie dissipels Hom moes los nie, en het hulle gevra om saam met Hom te waak (v.34, Kol. 4:2).  Ek twyfel nie vir ‘n oomblik dat daar demoniese magte aan die werk was nie (1Pet. 5:8).  Dit is teen húlle wat Jesus in die gebed moes stry.

 

Toe Jesus gaan bid het, het Hy nie die dissipels se hulp gehad nie.  Een rede was omdat hulle geslaap het.  Maar daar was nog ‘n rede hoekom Hy alleen verder gegaan het: Hy moes alleen ons verlossing bewerk (Jes. 63:5).

 

It was alone the Saviour prayed

In dark Gethsemane;

Alone he drained the bitter cup

And suffered there for me.

Alone, alone, He bore it all alone;

He gave Himself to save his own,

He suffered, bled, and died alone, alone.[1]

 

Jesus het ‘n klipgooi van die drie dissipels af weggegaan om te bid (Luk. 22:41).  Die benoudheid het so swaar op Hom geweeg dat Hy nie verder kón gaan nie.  Hy het geweet wat voorlê en daarom onder die gewig van sy benoudheid geknak.  Hy het op sy knieë gegaan en dadelik op sy gesig neergeval (v.35, Matt. 26:39, Luk. 22:41).

 

Hy het gebid dat, indien dit moontlik was, Hy die bepaalde uur van sy dood kon mis (v.35, 41, Luk. 22:53, Joh. 7:30, 8:20, 12:23, 17:1, Rom. 5:6).  “Abba, Vader,” het Hy gesê: “alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (v.36).

 

Abba is die Aramese verkleiningsvorm van ‘Vader’.  Dit is wat ‘n 1 of 2 jarige sy pa sou noem.  Jesus het dus sy swakheid en afhanklikheid van die Vader erken.

 

Hy het geweet dat niks vir die Vader onmoontlik is nie, en het dus gevra of daar nie ‘n ander manier is om ons te red nie (v.36, 10:27, Luk. 1:37).  Maar daar was nie: ‘n mens het gesondig en daarom moes ‘n mens gestraf word; ons het die ewige straf verdien en daarom moes Hy wat in ons plek gestraf word ewig wees.  Omdat Jesus volkome God en mens is, het Hy alleen gekwalifiseer.

 

In Jesus se kruisdood kon die Vader ons sonde straf en ons verlos.  Toe die Vader sy Seun aan die kruis straf het Hy sy heiligheid, geregtigheid en toorn oor ons sonde bekend gemaak, en sy goedheid, genade en liefde gewys deur ons te vergewe.  Die kruis het verder gewys dat daar nie ‘n kits oplossing is om ons te red nie.

 

En dit is in hiérdie opsigte wat daar nie ‘n ander manier was om ons te red nie (v.35-36).  Die punt is nie dat God nie die mag gehad het om dit anders te doen nie, maar dat Hy in sy wysheid geweet het dat daar nie ‘n beter manier is nie.

 

Jesus het dit ook geweet, maar in sy benoudheid gevra of daar nie tog ‘n ander uitweg is nie.  Dit is nie dat Hy die dood gevrees het nie.  Hy was nie swakker as sy volgelinge, die martelare, wat met lofgesange die dood tegemoet gegaan het nie.  Wat het Hy dan gevrees?

 

Die beker (v.36).  Dit was vol van die bitter en dodelike wyn van God se vurige toorn oor ons sonde (Ps. 75:9, Jes. 51:17, Jer. 25:15, 49:12).  Die volle sterkte van die Vader se toorn sou soos ‘n lawa waterval op die Seun val (Jes. 53:10, Gal. 3:13).

 

Hy sou van sy Vader se liefde en guns afgesny word (Matt. 27:46).  Die Vader sou Hom behandel asof Hy miljoene sondaars is, sodat die kruis gelykstaande was aan die ewige straf wat almal van ons in die hel moes ontvang (2Kor. 5:21).

 

Verstaan jy nou hoekom Jesus benoud was?  Maar t.s.v. sy vrees het Hy Hom aan sy Vader se wil onderwerp: “nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (v.36).  In sy Goddelike natuur is Jesus en die Vader se wil een (Joh. 10:30).  Hy het egter sy menslike wil aan die Vader s’n onderwerp, sodat Hy gehoorsaam was tot die dood toe (Joh. 4:34, 6:38, Fil. 2:6-8, Heb. 10:7, 9).

 

Wat leer die bg. verse vir ons?

 

[a] Jesus het menslike emosies en ‘n menslike siel gehad (v.33-34).  In sy oomblikke van benoudheid het Hy menslike geselskap gesoek (v.33).  Hierdie dinge wys dat Hy volkome mens was soos ek en jy.

 

Hy verstaan heeltemal wanneer jy benoud, mismoedig, angstig, bang, ens. is, en wanneer jy diep emosionele seer beleef (Heb. 4:15).  Bring dit in gebed na Hom toe (Ps. 55:23, Fil. 4:6, Heb. 4:16, 1Pet. 5:7).  Selfs as jy nie eers weet hoe om te verduidelik wat jy in jou hart voel nie is dit ook reg.  Sê dit vir Hom – Hy sal jou help (Rom. 8:26-27).

 

[b] Jesus was dood benoud omdat Hy geweet het wat vir Hom voorlê.  As jy in sonde lewe en nie bang is vir die hel nie, is dit omdat jy nie weet wat op jou wag nie.  As Jesus so verskrik was vir die Vader se toorn, moet jy bitter bang wees – so bang dat jy nie een tree verder gee op die pad van sonde nie, maar jou dadelik bekeer.

 

[c] As Jesus jou Verlosser is en die Heilige Gees in jou woon, dan is God jou Vader.  Jy kan weet dat Hy jou liefhet en jou sal help, soos wat ‘n klein kind sy pa ‘pappa’ noem en op sy krag vertrou (v.36, Rom. 8:15, Gal. 4:6).  Wat is jou behoefte?  Bring dit in gebed na die Vader toe en glo dat Hy jou sal antwoord (Matt. 7:7-11).

 

[d] Die feit dat die kruis die enigste manier was om ons te red (v.35-36), wys hoe diep ons sonde is en hoe ernstig God dit opneem.  Jy kan jouself nie verander deur maar net harder te probeer om reg te lewe nie.  As jy kón het Jesus verniet gesterf (Gal. 2:21).

 

Vergeet van jou goeie werke en bekeer jou van jou self regverdigheid (Fil. 3:4-9).  Bid dat die Here jou stokblinde oë sal oopmaak om te sien dat daar nie vir jou ‘n ander manier is om gered te word as deur Jesus se kruisdood nie.

 

As jy Hom nie gereeld vir sy kruisdood dank en daarin roem nie, wys dit miskien dat jy te veel op jouself staatmaak.  Die kanse is goed dat jy nie God se verlossing verstaan nie.

 

[e] Omdat die kruis die enigste manier is om gered te word (v.35-36, Joh. 14:6, Hand. 4:12), is dit ‘n ernstige sonde om te sê dat iemand wat opreg in sy godsdiens is, hemel toe gaan.  In daardie geval het Jesus verniet gesterf, aangesien die opregte Moslem, Hindoe of ateïs op sy eie manier in die hemel kan kom.

 

Wat!?  Het Jesus verniet die skande en verskrikking van die kruis deurgemaak?  Wie sal dit waag om te sê dat die Vader haatlik en wreed is omdat Hy sy Seun kón spaar, maar Hom sonder rede onder sy vurige toorn verbrysel het?  Dit is in effek wat mense sê indien hulle glo dat ons sonder Jesus se kruisdood gered kan word.

 

Moet asb. nie ‘n bespotting van Jesus se benoudheid in die tuin van Getsemane maak nie.  As die Vader besluit het om ‘n ander roete volg en die beker van sy Seun af weggeneem het, sou ons self die beker moes drink en was die ewige hel ons bestemming (Op. 14:10-11).

 

[f] Wanneer ons Jesus se benoudheid sien is dit baie maklik om af te lei dat die Vader harteloos is.  Maar dit is nie so.  Toe Dawid se rebelse seun Absalom dood is, het hy bitterlik gehuil: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” (2Sam. 18:33).

 

En as Dawid so oor sy rebelse seun gevoel het, hoe het dit die Vader se hart nie gebreek om sy geliefde Seun (Matt. 3:17) vir iemand anders se sonde te laat ly nie: ‘Jesus my Seun, my Seun, my Seun Jesus!’?  As die Here in Jes. 15:5, 16:9, 11 gehuil het toe Hy sy vyande vir hulle sonde straf, hoeveel te meer het Hy nie die pyn gevoel toe Hy sy eie Seun vir ons sonde verbrysel het nie?  ‘The Fatherlessness of the Son is equaled by the Sonlessness of the Father.’[2]

 

  1. Jesus se droefheid (v.37-42)

Min dinge sny so diep soos wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan, en die vriende op wie jy gedink het jy kan reken jou in die steek laat.  Toe die Vader se stem stil was het Jesus na die dissipels toe teruggekeer (v.37).  Hy het hulle vertroosting en gebede nodig gehad, maar toe Hy daar kom het hulle geslaap (v.37).

 

Die leier van die apostels wat veronderstel was om ‘n standvastige rots (Petrus) te wees het geslaap.  “Simon, slaap jy?” (v.37).  Jesus het hom op sy ou naam genoem.  “Was jy nie in staat om een uur te waak nie?” (v.37).

 

‘n Kort rukkie voor dit was Petrus selfversekerd (v.29), maar nou kon hy nie eers vir ‘n uur wakker bly om saam met Jesus te bid nie (v.37).  Jesus het vir die dissipels gesê om te waak en te bid dat hulle nie in die duiwel se strik van versoeking beland het nie (v.38, Luk. 22:31).

 

Alhoewel hulle dit wóú doen was hulle liggame moeg en het hulle weer aan die slaap geraak (v.38, 40, Rom. 7:15, 19).  Jesus het hulle verlaat om weer te gaan bid (v.39).  Hy het geweet dat Hy in gebed moet volhard, maar daar was nog steeds nie ‘n antwoord nie.

 

Hy het na die dissipels toe teruggekeer en hulle aan die slaap gevind (v.40).  Hulle kon hulle oë nie oophou nie en was skaam toe hulle vir Jesus sien (v.40).

 

Hy het vir ‘n derde keer teruggegaan en dieselfde woorde gebid (Matt. 26:44).  ‘n Engel het uit die hemel neergedaal om Hom te versterk (Luk. 23:43).  Hy het meer intens gebid (Luk. 23:44).  Sy sweet het soos bloed druppels op die grond geval (Luk. 23:44).  Hy het iets ervaar wat ons hematidrosis noem.

 

Dit gebeur wanneer iemand buitengewoon bang is.  Die liggaam se ‘veg of vlug’ reaksie maak dat die bloed vaatjies rondom die sweetkliere skeur of bars.  As gevolg daarvan kom die bloed deur ‘n mens se sweetkliere.

 

Na sy intense gebed het Jesus geweet dat daar nie ‘n ander uitweg is nie.  Hy het met vasberadenheid na die kruis toe gegaan en geweet dat die Vader Hom sal deurhelp.  Heb. 5:7 sê dit in geen onduidelike terme nie: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs”.  Golgota se oorwinning is in Getsemane verseker.

 

Toe Jesus vir ‘n derde keer na die dissipels toe terugkeer het hulle geslaap (v.41).  Hy het hulle wakker gemaak en gesê dat die bepaalde uur van sy lyding aangebreek het: sy verraaier was oppad om Hom in die hande van bose sondaars oor te lewer (v.41).

 

Jesus kon deur die bome sien hoe Judas en ‘n klomp soldate met stokke, swaarde, lanterns en fakkels oppad is (v.42-43, Joh. 18:3).  Hy het nie opgestaan om te vlug nie, maar om hulle vierkantig in die oë te kyk (v.42).

 

Ons kan ten minste ses lesse uit die bg. verse leer.

 

[a] Ons laat dikwels die Here in die steek, maar Hy doen dit nie met ons nie.  Die dissipels het nie getrou saam met Jesus gebid nie, maar volgens Joh. 17 het Hy vir hulle gebid.  In dieselfde hoofstuk het Hy ook vir ons gebid (Joh. 17:20).

 

Toe Hy aan die kruis gehang het het Hy vir ons gebid (Luk. 23:34), en volgens Heb. 7:25 tree Hy nog steeds vir ons in.  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2Tim. 2:13).

 

[b] Het dit al vir jou gevoel of jy bid maar die hemel stil is (v.36, 39)?  Hoekom gebeur dit?

 

  • Dalk is dit omdat jy ongered is (1Pet. 3:12)?
  • Of miskien is dit omdat daar sonde in jou lewe is (Ps. 66:18)?
  • Dalk is dit omdat jy nie jou lewensmaat in ag neem nie, maar gedurig met hom of haar baklei (1Pet. 3:7)?
  • Dalk is dit omdat jy nie wil vergewe nie (Matt. 6:15)?
  • Dalk vertrou jy nie die Here nie (Jak. 1:5-8)?
  • Of dalk bid jy met selfsugtige motiewe (Jak. 4:3)?

 

Maar indien jy jouself ondersoek en sien dat dit nie een van die bg. redes is nie, moet jy vurig, dringend en volhardend bid soos Jesus (v.36, 39).  In jou binnekamer op jou knieë is waar jy die stryd moet wen (Jer. 29:13, Luk. 11:9-10, 18:1, 7-8, 2Kor. 12:8-9, 1Tess. 5:17, Heb. 5:7).

 

[c] Jesus se vriende het Hom in die steek gelaat (v.37, 40-41, 50).  As jy Hom getrou volg is die kanse goed dat dit met jou ook gebeur (2Tim. 1:15, 4:10, 16).  ‘n Dissipel is tog nie groter as sy Meester nie.  Dit mag selfs wees dat jou vriend jou verraai (v.41-45, Ps. 55:13-15).

 

Moenie dat dit jou verbaas nie, en moet asb. nie sê: ‘Ek het seergekry in die kerk en sal myself daarom nie weer beskikbaar stel nie.  Ek sal op die kantlyn sit en kyk hoe ander die werk doen’ nie.  Wees eerder soos Jesus wat die dissipels vergewe en Homself aan gebed gewy het (v.27-28, 39, Joh. 21:15-19, Ps. 109:4).

 

[d] Petrus kon nie eers vir ‘n uur saam met Jesus bid nie (v.37).  Wat sal Jesus van party Christene sê wat nie eers vir 5 minute kan bid nie?

 

[e] Hoe gereeld bid jy dat jy nie in die versoeking kom nie?  Volgens v.38, Matt. 6:13 moet dit deel van jou gebede vorm.  Wat sou met Petrus en die ander dissipels gebeur as hulle so gebid het?  En wat sal in jou lewe verander as jy gedurig so bid?

 

[f] Is daar iets – soos slaap (v.37-38, 40-41) – wat keer dat jy getrou bid?  Bely jou swakheid en vra die Here om jou te help.  Sit jou voete uit die bed en op die grond, sodat jou kop kan volg.  Was jou gesig.  Stap op en af terwyl jy bid.  Bid hardop.  Doen wat jy moet om wakker te bly.

 

Wees ook geestelik waaksaam en verwag dat die duiwel jou sal versoek.  Vra dat die Here jou sal beskerm, sodat jou gedagtes nie dwaal nie en sodat jy nie aan sonde dink wanneer jy bid nie.

 

Jou soet gemeenskap met die Here en die vreugde van sy verlossing sal maak dat jy Hom vir galbitter Getsemane en Golgota dank.  Dit sal wees soos om ‘n eetlepel heuning te eet nadat jy ‘n Grand-Pa moes drink.

 

[1] Ben H. Price, 1914

[2] As ek reg onthou het John Stott dit in The Cross of Christ gesê.  Ek kon nie die verwysing opspoor nie.