Christene en die groot verdrukking

Romans siege

Ek weet nie of jy Tim LaHaye en Jerry B. Jenkins se Left Behind reeks gelees of gekyk het nie?  Ek het twee van die films gesien.  Dit is vol van aksie en lekker om te kyk.  Maar wat my betref is dit pure fiksie, want volgens Matt. 24:15-28 het die groot verdrukking in die eerste eeu plaasgevind.

 

  1. Die verwoesting (v.15)

Iemand het vir D.A. Carson gevra wat ons van die herboude tempel moet maak as Jesus in Joh. 2:19-22 gesê het dat Hý die herboude tempel is.  ‘Niks,’ het hy geantwoord.

 

Ek stem saam en glo nie dat Matt. 24 van ‘n herboude tempel in die toekoms praat nie.  Dit gaan hier oor die verwoesting van die tempel in 70 n.C (sien v.1-3, 34).

 

Dit geld ook vir die gruwel van die verwoesting in v.15.  Volgens Jesus het Daniël hiervan gepraat.  In Dan. 11:31 en 12:11 profeteer hy van ‘n koning wat ‘n gruwelike beeld in die tempel sou oprig.

 

Dit het gebeur toe Antiochus Epifanes in 168 v.C. ‘n beeld van Zeus op die altaar gebou en varke daarop geoffer het.[1]  Dit is dus nie die profesie wat Jesus hier in gedagte het nie.

 

In Dan. 9:2, 17-18 lees ons dat die Babiloniërs Jerusalem en die tempel in verwoes het.  Dit het 586 v.C. gebeur.  Volgens Dan. 9:26-27 sou die stad en tempel weer in die toekoms verwoes word.  Dit het gebeur toe die Romeine dit in 70 n.C. verwoes het.[2]

 

‘n Vergelyking tussen Matteus en Lukas wys vir ons dat die Romeinse weermag die gruwel van die verwoesting is.  “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting…sien…dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (v.15-16).

 

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.  Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Luk. 21:20-21, vgl. 19:43-44).

 

Volgens Jesus sou die gruwel van die verwoesting in die heiligdom staan (v.15).  Die Grieks praat van die ‘heilige plek’ [Gk. topos hagios], en verwys na die tempel en die stad (23:37-38, 4:5, Dan. 9:26, Luk. 21:20).

 

Die Romeine het blykbaar die embleem van ‘n arend voor elke legioen of groep van 5000 soldate gedra.[3]  Die kerkvader Tertullianus (160-220 n.C.) sê dat hulle hierdie arend-embleem aanbid, daarby gesweer en bo hulle gode verhef het.[4]

 

Toe die Romeine later die stad inneem, het hulle die embleem bo die oostelike hek van die tempel opgerig en voor dit geoffer.[5]  Is dit enige wonder dat Jesus dit ‘n gruwel noem (v.15, vgl. Deut. 7:25, 27:15, 1Kon. 11:7)?

 

Volgens Hom moes die gelowiges vlug as hulle die Romeine met hierdie gruwel in die heilige stad of plek sien staan het (v.15-16).  Dit is wat die volgende verse beteken.

 

  1. Die vlug (v.16-18, 20)

Vers 16 wys dat die verdrukking in Judea sou plaasvind.  Dit gaan nie hier oor ‘n groot verdrukking in Suid-Afrika, Australië of Suid-Korea nie.  Die historiese agtergrond sal ons help om die profesie te verstaan.

 

In 67 n.C. het keiser Nero vir Vespasianus Jerusalem toe gestuur om dit te beleër.  Op 9 Junie 68 n.C. het Nero selfmoord pleeg.  Oor die bestek van 18 maande het drie keisers die troon bestyg en weer tot ‘n val gekom: Galba, Otho en Vitellius.

 

Vespasiunus is teruggeroep Rome toe om keiser te word.  Hy het sy seun Titus in Jerusalem agtergelaat.  Die weermag het op Titus se bevel gewag en hulle vir ‘n kort rukkie van die stad af onttrek.

 

Toe dit gebeur, het die Christene Jesus se woorde in v.16 gehoorsaam en Pella toe gevlug.[6]  Pella was oorkant die Jordaan rivier, sowat 100 km noord-oos van Jerusalem en 27 km suid van die See van Galilea.

 

Jesus het vir hulle gesê om te vlug en nie terug te draai nie.  ‘n Gelowige wat op sy huis se plat dak was moes nie afkom om sy besittings te gryp nie, terwyl iemand wat in die veld was nie in die stad moes inkom vir sy kleed of jas nie (v.17-18, Luk. 21:21).  Die Christene moes eenvoudig vlug (v.16).

 

Hulle moes bid dat dit nie in die winter of op die Sabbat gebeur nie (v.20).  In die winter sou dit koud en nat wees, en a.g.v. die verdrukking sou daar nie genoeg kos wees vir die 100 km-reis nie (v.20-21).

 

Op die Sabbat sou die Jode hulle voorkeer en verbied om meer as 900 m te reis (vgl. Hand. 1:12).  Tydens die verdrukking was die kanse ook goed dat die Jode hulle tydens so ‘n reis sou doodmaak (v.20-21).

 

  1. Die verdrukking (v.19, 21-22)

Jesus noem dit die groot verdrukking om te wys hoe intens dit was.  Om Deut. 28:52-57 te vervul sou ma’s hulle kinders eet (vgl. 2Kon. 6:26-29).  Dit is wat Jesus in v.19 bedoel het: “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.”

 

Weereens gaan dit nie hier oor ‘n verdrukking in die toekoms nie, maar oor Jerusalem in die eerste eeu.  Twee tekste bevestig dit: “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.” (Luk. 21:23).

 

“Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.” (Luk. 23:28-29).

 

Volgens Josefus het ma’s die kos uit hulle babas se monde gevat en hulle laat sterf.[7]  Een ma het haar kind gebraai en geëet.[8]  Meer as ‘n miljoen Jode het in die verdrukking gesterf, en nog 97 000 is gevange geneem.[9]

 

Op een stadium het Titus 500 Jode per dag gekruisig, sodat daar later nie meer genoeg plek was vir al die kruise, of genoeg kruise om die Jode op te hang nie.[10]

 

So het God die Jode vir hulle moord op die Messias vergeld (27:25, Luk. 21:22-23).  Hy het aan hulle gedoen wat hulle aan sy Seun gedoen het.  Die straf het by die oortreding gepas.

 

Dalk wonder jy: ‘Maar hoe kan jy sê dat die groot verdrukking in die eerste eeu vervul is, as Jesus self sê: “soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (v.21)?  Was Hitler se uitwissing van 6 miljoen Jode en twee Wêreld Oorloë nie groter en erger as die val van Jerusalem in 70 n.C. nie?’

 

Dit was, maar ons moet ‘n paar dinge onthou:

 

[a] Jesus het gesê dat die verdrukking in die eerste eeu sou plaasvind (v.34, 9).

 

[b] Openbaring praat van ‘n verdrukking in die eerste eeu (Op. 1:9, 2:9-10, 2:22, 3:10).

 

[c] Jesus het nie gesê dat daar nooit weer in die geskiedenis so iets sou wees, of dat daar nêrens op die aarde iets erger sou plaasvind nie.  Die konteks wys dat dit oor Jerusalem en Judea gaan (v.16, Luk. 21:20-24): daar was nog nooit so ‘n groot verdrukking in Jerusalem nie, en daar sou ook nie in die toekoms een wees nie.

 

As daar in die toekoms ‘n verdrukking oor die hele aarde sal plaasvind, was Noag se vloed groter as dit.  Waar heelwat mense die verdrukking oorleef het (v.16), het net Noag en sy gesin die vloed oorleef.

 

Verder is dit onnodig om te sê dat daar nooit weer so ‘n verdrukking sal wees as dit oor die kort tydperk voor die wederkoms gaan nie, aangesien daar glad nie weer ‘n verdrukking sal wees nie.

 

Duidelik is die verdrukking tot Jerusalem en Judea beperk, en handel dit nie oor die hele planeet nie.  Waar dit oor ‘n spesifieke stad of land gaan, gebruik die Ou Testament dieselfde taal as Jesus in v.21.

 

  • “En daar sal ‘n groot gejammer in die hele Egipteland wees soos daar nie gewees het en soos daar nie weer sal wees nie.” (Eks. 11:6).
  • “om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie.” (Eseg. 5:9).
  • “deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie” (Dan. 9:12).
  • “‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag…wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:2).

 

Oor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. het Josefus gesê: ‘neither did any other city ever suffer such miseries…from the beginning of the world.’[11]

 

[d] Die verwoesting van die tempel saam met die Ou Testamentiese priester- en offersisteem is uniek, en in daardie sin sal geen aanval op Jerusalem ooit weer so erg wees nie.

 

As die Here die verdrukking nie ingekort het nie, sou geen mens se lewe gespaar word nie; almal sou deur die oorlog, hongersnood en pessiektes omkom (v.22).  Dit was om die uitverkorenes te spaar dat die Here die verdrukking kortgeknip het (v.22, Ef. 1:4-5, 1Pet. 1:1-2).

 

  1. Die verleiding (v.23-27)

Beide die Jehova’s Getuies en die Sewendedag Adventiste is berug vir hulle vals profesieë oor die wederkoms.  Baie mense in die eerste eeu het geglo dat die Messias hier, daar, in ‘n binne vertrek of in die woestyn sou kom (v.23, 26).

 

Josefus maak melding van sulke vals profete.[12]  Die Jode het hiervoor geval, omdat hulle die ware Profeet en Messias verwerp het.  Hulle het dit veral geglo, omdat hulle tydens die verdrukking desperaat was vir ‘n uitkoms.

 

Jesus se dissipels moes nie vir anti-christelike jakkalse val nie, al het hulle ook bonatuurlike tekens gedoen (v.24, 5, 11, 1Joh. 2:18, 4:1, Deut. 13:1 e.v.).  Juis daarom het Hy hulle voor die tyd gewaarsku (v.25).

 

Hy het by implikasie gesê dat die duiwel vals messiase en profete sou stuur om die uitverkorenes te mislei (v.24).  Hy sou egter onsuksesvol wees: “as dit moontlik was” (v.24).

 

Ware gelowiges weet dat Jesus nie in Sirië of Egipte kom nie (v.23, 26), maar dat sy wederkoms soos weerlig sal wees wat die ganse hemel laat ophelder (v.27).  Wanneer Hy weer kom sal dit in die ooste en die weste gesien word, selfs al is die aarde rond!

 

  1. Die verrotting (v.28)

Ek het in die wildtuin gesien hoe ‘n Berghaan (‘n soort arend) aan ‘n bok se karkas vreet.  Dit is ‘n welbekende feit dat roofarende en ander soort arende ook aan dooie diere aas.  Dit is dus nie net aasvoëls wat dit doen nie.

 

Die Griekse woord wat in v.28 met aasvoël vertaal word [aetos], beteken eintlik arend.  Aasvoël is ‘n afleiding, omdat Jesus van ‘n lyk of karkas praat.  Sy punt is dat Jerusalem die verrotte karkas is en die Romeine die arend wat dit kaal vreet.  Ek het reeds hierbo gewys dat die Romeine ‘n arend-embleem of Aquila met hulle saam gedra het.

 

Reeds in die Ou Testament vergelyk God sy volk se vyande met ‘n arend wat op hulle afpyl.  “Die HERE sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ‘n arend vlieg—’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie” (Deut. 28:49).

 

“Soos ‘n arend skiet dit neer op die huis van die HERE! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het.” (Hos. 8:1).  “Van ver kom hulle aangevlieg net soos ‘n arend wat op sy prooi neerskiet!” (Hab. 1:8).

 

Die beeld van ‘n arend wat aan ‘n lyk vreet wys ook dat die Here die Jode vervloek het (v.28, Deut. 28:26, 1Kon. 14:11-13).  In sy genade sal Hy hulle in die toekoms vergewe en herstel (Rom. 11).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas as dit reeds in die verlede vervul is?  In die eerste plek hoef jy nie ‘n groot verdrukking in die toekoms te vrees nie.  Ek ken ‘n tannie wie se man dit so gevrees het dat hy nie kinders wou hê nie.

 

As jy hierdie lering tot sy logiese gevolg neem moet ons nie op Sondae en in ons stiltetye met ‘n verwagting vir die nasies bid nie, aangesien die Here ons buitendien nie gaan verhoor nie.

 

Ook wanneer ons die evangelie met die nasies deel, moet ons nie verwag dat hulle in groot getalle tot bekering sal kom nie.  Ons moenie ‘n herlewing verwag of daarvoor bid nie, maar die moderne cop out as ons leuse aanvaar: ‘Moet jouself nie oor die resultate bekommer nie; wees jy net getrou.’

 

Maar is getrouheid al wat die Here van ons verwag?  Het Hy ons beveel om net die evangelie-boodskap af te lewer en nie regtig om te gee of ons die teiken raakskiet of nie?

 

Of het Hy gesê ons moet die nasies dissipeleer en na Hom toe bring (28:19-20)?  Is dit nie sy begeerte dat hele nasies saam met hulle konings in aanbidding voor Hom moet buig nie (Ps. 86:9, Jes. 49:6-7)?

 

Ek het al genoeg vir jou gesê dat ek optimisties is oor die eindtyd.  Soos Spurgeon en Dawid glo ek nie dat dinge erger gaan word voordat die Here kom nie, maar beter.  In sy kommentaar op Ps. 86:9 het Spurgeon die volgende geskryf:

 

‘Dawid het nie geglo in die teorie wat sê dat die wêreld slegter en slegter sal word, en dat die huidige tydperk in algemene duisternis en afgodery sal eindig nie.  As ons party van ons profetiese broers se woorde moet glo, sal die son van hierdie wêreld in ‘n tienvoudige nag ondergaan.

 

‘Ons verwag dit glad nie, maar kyk uit vir die dag wanneer die inwoners van elke land geregtigheid sal leer, in die Verlosser sal glo, en U alleen sal aanbid, O God, en “U Naam sal eer.”

 

‘Die moderne idee het die kerk se ywer vir sending grootliks gedemp, en hoe gouer ons dit as onbybels bewys, hoe beter vir die saak van God.  Dit rym nie met profesie nie, verheerlik nie die Here nie, en inspireer die kerk ook nie met ywer nie.  Laat dit ver van ons af verdryf word.’[13]

 

Op grond van Matt. 24:15-28 is ek oortuig dat die groot verdrukking in die verlede lê en dat daar beter dae op die kerk wag.  As dit nie so was nie, moet ons soos die verwarde Tessalonisense wees en ons langtermyn visie laat vaar (2Tess. 3).  Ons kan by die huis sit en vir die donker dae voor Jesus se koms wag.

 

Ek hoef seker nie vir jou te sê dat ek sarkasties is nie?  Ek glo dat ons met verwagting na die kerk se blink toekoms en na Jesus se wederkoms kan uitsien.  Dít is die groot punt wat ek wil maak.  Maar daar is nog vier punte wat ek wil uitlig:

 

[a] Moenie so aan jou aardse besittings vashou dat jy dit nie kan los om die Here te volg nie (v.16-18).  Lot se vrou kon nie die wêreld los nie, maar het met verlange daarna teruggekyk (Gen. 19:26).  Moenie soos sy wees nie, maar kies wie jy wil dien: Jesus of die wêreld (Luk. 17:31-32)?  Jy kan nie beide dien nie (Jak. 4:4, 1Joh. 2:15).

 

[b] Die Here sal nie een van sy uitverkorenes laat wegval nie, maar seker maak dat Hy hulle tot die einde toe bewaar (v.22, 24, Joh. 10:28-29, Rom. 8:29-30, 33, 38-39, Ef. 1:13-14, Fil. 1:6, 2Tess. 2:13-14, 1Pet. 1:5).

 

[c] God en sy Woord is betroubaar.  Josefus wat dié dinge opgeteken het was nie ‘n gelowige nie, en tog het hy die Bybel se profesieë beaam.  Jy kan die Here en die Bybel vertrou.  As Hy iets sê doen Hy dit (v.25, Joh. 13:19).  Herinner Hom dan aan sy beloftes (Jes. 62:6-7).

 

[d] Hiper-preteriste glo dat Jesus nie weer kom nie, maar dat Hy reeds in 70 n.C. gekom het.[14]  Maar volgens v.23, 26-27 sal die wederkoms nie êrens in ‘n hoekie plaasvind nie; almal sal dit weet.  Moet dan nie vir hierdie mense se slim redenasies val en dink dat die wederkoms reeds gebeur het nie.

 

Maar moet ook nie só op die wederkoms fokus dat jy van die kruis vergeet nie.  Die wederkoms is die dak en mure wat op die fondasie van Jesus se kruisdood en opstanding gebou is.

 

Prakties beteken dit dat jy jou nie teen die nuus moet vaskyk, sodat jy alewig sê: ‘Die einde is naby’ nie.  Neem jou eerder voor om in niks anders te “roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Gal. 6:14).

 

[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Matt. 24:15

[2] In die volgende preek sal ek Dan. 9:24-27 uitlê.

[3] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book 3, ch. 6, par. 2; Book 5, ch. 2, par. 1

[4] The Apology of Tertullian, ch. 16

[5] Wars, Book 6, ch. 6, par. 1

[6] Ibid., Book 4, ch. 9, par. 1-2; Eusebius of Cesarea, Ecclesiastical History, Book 3, par. 5; http://brackenhurstbaptist.co.za/the-144000-who-are-they/; Epiphanius of Salamis, Against Heresies (Panarion), XXIX.7

[7] Wars, Book 5, ch. 10, par. 3

[8] Ibid, Book 6, ch. 3, par. 4

[9] Ibid., Book 6, ch. 9, par. 3

[10] Ibid., Book 5, ch. 11, par. 1

[11] Ibid., Book 5, ch. 10, par. 5

[12] Flavius Josephus, The Antiquities of the Jews, Book 20, ch. 8, par. 6; Wars, Book 6, ch. 5, par. 2-3 & Book 2, ch. 13, par. 5

[13] Charles Spurgeon, The Treasury of David, note on Ps. 86:9, 1869-1885, Public Domain, http://www.e-sword.net

[14] Die siening wat ek glo is gedeelte-preterisme en is heeltemal behoudend.  Hiper-preterisme is ‘n dwaling wat die wederkoms, finale oordeel en opstanding van die dooies verwerp.