Tekens van die einde

The end is near

Ek het ‘n DVD gekyk waarin die prediker foto’s van hedendaagse oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes, ens. wys en vir die mense sê dat dit Matt. 24:4-14 vervul.  Maar is dit wat Jesus in hierdie verse bedoel het?  Kom ons bekyk die teks, konteks en historiese agtergrond van nader.

 

  1. Vals messiase en profete (v.4-5, 11)

Alhoewel daar vandag nog vals messiase en profete is, het Jesus hier van die eerste eeu gepraat.  Hoe weet ons dit?  Volgens Luk. 21:6-7 was hierdie dinge voorlopers van die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70 n.C.

 

Verder het Jesus in v.34 gesê: “hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”  Hy het ook in v.4, 6, 9 vir die dissipels gesê dat húlle hierdie dinge sou deurmaak.

 

Baie tekste in die Nuwe Testament bevestig v.4-5, 11, en wys dat daar in die eerste eeu vals messiase en profete was (Hand. 13:6, 20:29-30, 2Kor. 11:13, Gal. 2:4, 1Tim. 4:1-2, 2Pet. 2:1-2, 1Joh. 2:18, 4:1, Op. 2:2).  Josefus (37-100 n.C.) beaam dat daar baie vals profete in hierdie tyd aktief was.[1]

 

Jesus gaan so ver as om te sê dat die vals messiase hulleself die God van Eks. 3:14 (EK IS) sou noem: ‘Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek!’ (Mark. 13:6, Gk. egō eimi beteken ‘EK IS’].

 

Dit het inderdaad gebeur.  In Hand. 8:9-11 praat Lukas van Simon die towenaar wat mense mislei het.  Baie van die vroeë kerkvaders het gesê dat hy homself as God, die Messias, die Woord van God, die Trooster, die Almagtige, die Seun van God en die skepper van die engele beskou het.[2]

 

Daar was ook ‘n sekere Dositheus wat gesê het dat hy die Messias en Profeet van Deut. 18:18 is.[3]  Blykbaar was hy Simon die Towenaar se leermeester.[4]

 

  1. Oorloë (v.6-7)

Daar was nog altyd oorloë in die geskiedenis.  Maar persoonlik dink ek nie dat die twee Wêreld Oorloë van die 20ste eeu ‘n vervulling van Matt. 24:6-7 is nie.  Die oorloë in hierdie verse sou voor die verwoesting van die Jerusalem-tempel in 70 n.C. plaasvind (v.2-3).  Kom ek skets vir jou die agtergrond.

 

Tussen 17 v.C. en die middel van die eerste eeu n.C., het die Romeinse Ryk ‘n tyd van vrede beleef.  Hulle het dit die Pax Romana genoem.[5]  Maar in 68-69 n.C. was daar groot onstuimighede.

 

Binne ‘n jaar was daar vier Romeinse keisers.[6]  Dinge het so erg geraak dat die Ryk amper tot ‘n val gekom het.[7]  Die Romeinse geskiedkundige Tacitus (55-117 n.C.) sê dat verskeie provinsies in opstand was en van die Ryk probeer wegbreek het.[8]

 

Dwarsoor die Ryk was daar oorloë waarin koninkryke en nasies teen mekaar geveg het: Germanië (Duitsland), Thracië (op die grens van Bulgarye, Griekeland en Turkye), Noord-Afrika, Gallië (Frankryk), Brittanje, Armenië, Judea en meer (v.6-7).[9]

 

Volgens God se soewereine raadsplan móés hierdie dinge gebeur, maar dit was nog nie die einde van die tempel met sy priesters en offersisteem nie (v.6).  Die dissipels moes hulle dus nie hieroor ontstel nie (v.6).

 

  1. Hongersnode en pessiektes (v.7)

Net soos wat iemand se skaduwee hom volg, volg hongersnood op oorloë, en pessiektes op hongersnood (v.7, Luk. 21:11).  Tydens Claudius (41-54 n.C.) se heerskappy was daar ‘n wêreldwye hongersnood (Hand. 11:28).

 

Verskeie antieke skrywers beskryf sulke hongersnode.[10]  In Jerusalem het mense bv. van die honger gesterf.[11]  Tydens die Joodse oorlog is mense oopgesny en het hulle hulle arms in mekaar se kele afgedruk om kos te kry; ma’s het hulle eie kinders geëet.[12]  So is die vervloeking van Deut. 28:52-61 vervul.

 

Maar dit was nie net die Jode wat van die honger en pessiektes gesterf het nie.  Volgens Suetonius (70-160 n.C.) het 30 000 mense gedurende een herfsseisoen a.g.v. ‘n pessiekte in Rome gesterf.[13]  Tacitus vertel hoe die bevolking byna uitgesterf het: ‘The houses were full of corpses, and the streets of funerals.’[14]

 

  1. Aardbewings (v.7-8)

Die aardbewings gedurende hierdie tyd was so erg, wyd-verspreid en aanhoudend, dat Charles John Ellicott in die 1800’s gesê het: ‘Daar was seker nog nooit ‘n periode in die wêreld se geskiedenis wat so deur aardbewings gekenmerk is, soos die tyd tussen Jesus se kruisdood en die verwoesting van Jerusalem nie.’[15]

 

Antieke skrywers praat van aardbewings in Kreta, Rome, Apamea, Frigië, Smirna, Milete, Chios, Samos, Laodisea, Hiërapolis, Kolosse, Campanië, Rome, Judea, Pompeii, Asië (Wes-Turkye), Agaje, Sirië en Macedonië.[16]  Daar was ook geweldige skuddings tydens die heerskappye van keisers Caligula (37-41 n.C.) en Claudius (41-54 n.C.).[17]

 

Maar volgens v.8 was hierdie dinge nie die eintlike tekens van die einde nie, maar die geboorte pyne wat op beter dinge sou uitloop.  Met die verwoesting van die tempel sou die baba (die kerk) van die ma (Israel) geskei word.

 

Die Christelike geloof sou nie meer met Judaïsme verwar word nie.  Met die verwoesting van die Jerusalemse tempel het die ou verbond finaal tot ‘n einde gekom, en sou die nuwe verbond en tempel soos ‘n paal bo water uitstaan (Heb. 8:13, 10:9).  Ek sal hierop uitbrei as ek by die toepassing kom.

 

  1. Vervolging (v.9-10)

Tussen 64 en 68 n.C. het keiser Nero die Christene vervolg.[18]  Hy het gesê dat hulle die mensdom haat.  Hy het sommige van hulle laat kruisig, terwyl hy ander in dierevelle toegewerk en vir die honde gegooi het.  Hy het party van hulle met pik gesmeer en aan die brand gesteek om sy gaste te vermaak.[19]

 

Jesus het dit voorspel: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.” (v.9).

 

In 10:18 en Mark. 13:9 sê Jesus dat hulle in die sinagoges geslaan sal word.  Dit impliseer dat hulle nie net deur die Romeine vervolg sou word nie, maar ook deur die Jode.

 

Baie tekste in die Nuwe Testament wys dat die Jode en heidene God se kinders vervolg het (23:34, Hand. 4:3, 5:40, 7:54-8:3, 9:1, 12:1-2, 14:5, 19, 16:22-24, 21:30-31, 1Tess. 2:14-16, 2Tim. 2:9, Op. 1:9, 2:9-10, 3:13, ens.).  Sommige belydende Christene het onder die druk toegegee en vir Jesus verloën (v.10, Hand. 20:29-30, 2Tim. 1:15).  Party van hulle het hulle familie en vriende aan die vervolgers oorgelewer (v.10, 10:21, Mark. 13:12, Luk. 21:16-17).  Tacitus sê: ‘Nero het belydende Christene gearresteer, en deur húlle inligting baie ander veroordeel.’[20]

 

  1. Afvalligheid (v.12-13)

Josefus vertel hoe die Jode barbaars geraak het.  Hulle het hulleself aan rowery, moorde, homoseksuele dade, wetteloosheid, wanorde, en die ergste denkbare booshede oorgegee.

 

Hulle het mense se huise geplunder, hulle met die swaard deurboor, vroue verkrag, en hulleself met vroulike grimering en klere versier.[21]  Sulke booshede het ook in die res van die wêreld plaasgevind.[22]

 

Die toenemende goddeloosheid het gemaak dat belydende Christene daaraan gewoond raak, en in hulle liefde vir die Here verkoel (v.12, 2Tim. 3:1-9, Op. 2:4).  Hulle vrees vir vervolging sou ook daartoe lei dat hulle nie meer so vurig vir die Here getuig het nie, maar Hom verloën het (v.10, 12).

 

Dié wat dit gedoen het, het gewys dat hulle nie aan Jesus behoort het nie (Heb. 3:14, 1Joh. 2:19).  “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (v.13, vgl. 10:22, Luk. 21:19).

 

  1. Die evangelie aan die nasies (v.14)

In 2005 het ‘n ouer leraar vir my gesê dat v.14 in die eerste eeu vervul is.  Ek het met hom gestry, maar het intussen besef dat hy reg was.  Die vers sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” (v.14).

 

Die Griekse woord vir wêreld [oikoumenē] verwys soms na die Romeinse Ryk, en nie na die hele planeet nie.  Die volgende verse wys dit.  “En in daardie dae het daar ‘n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld [Gk. oikoumenē] ingeskryf moes word.” (Luk. 2:1).

 

“Agabus het…deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld [Gk. oikoumenē] sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.” (Hand. 11:18).

 

“ons het gevind dat hierdie man [Paulus] ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld [Gk. oikoumenē] en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners” (Hand. 24:5).

 

Volgens Jesus moes die nasies wat in v.9 die dissipels gehaat het, die evangelie hoor [v.14, Gk. ethnos].  In die konteks verwys die nasies nie na Paraguay en Japan nie, maar na al die nasies van die Romeinse Ryk.

 

  • “En daar het in Jerusalem Jode gewoon…uit elke nasie wat onder die hemel is.” (Hand. 2:5).
  • Ek dank my God “dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.” (Rom. 1:8).
  • “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.” (Rom. 10:18).
  • 16:26 sê dat die evangelie “bekend gemaak is onder al die heidene [Gk. ethnos]…”
  • 1:5-6 sê dat “die evangelie…die hele wêreld bereik het”. Paulus sê ook dat “die evangelie…verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kol. 1:23).

 

‘As die evangelie die nasies van die antieke wêreld bereik het sal die einde kom,’ is wat Jesus in v.14 bedoel het.  Die einde verwys na die einde van die tempel of die Ou Testamentiese era.  Dit gaan nie hier oor die einde van die wêreld nie.

 

Hoe moet ons Matt. 24:4-14 op onsself toepas?

 

[a] Moenie bang wees as jy van vals messiase, oorloë, pessiektes, ens. hoor nie.  Volgens Jesus is hierdie dinge nie tekens van die einde nie – wat jou siening van die einde ook al is – maar van die begin (v.8).

 

[b] Ek het hierbo gesê dat v.4-14 die geboortepyne is, en dat dit op beter dinge sou uitloop.  Hoe het dit gebeur?  Toe die Jode die evangelie verwerp, het die heidene dit ontvang en tot bekering gekom (Luk. 20:16, Hand. 13:46-49, 18:5-8, 28:28).

 

“[Deur die Jode se] val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rom. 11:11).  Paulus het die bal aan die rol gesit, en reeds in die 2de eeu n.C. kon Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) vir ‘n Jood sê: ‘there is not one single race of men, whether barbarians, or Greeks, or whatever they may be called…among whom prayers and giving of thanks are not offered through the name of the crucified Jesus.’[23]

 

‘n Paar dekades na hom het die kerkvader Tertullianus (c. 160-225 n.C.) vir die heidene gesê: ‘We are but of yesterday, and yet we already fill your cities, islands, camps, your palace, senate and forum; we have left to you only your temples’.[24]

 

Teen die einde van die 2de eeu en die middel van die 3de eeu n.C. was die kerk gevestig in Noord-Afrika, die suide van Spanje, Italië, Frankryk, Brittanje, Persië (Irak en Iran), Armenië en Indië.  In 325 n.C. het die helfte van die mense in Wes-Turkye, Armenië en Thracië die Christelike geloof bely.

 

In Sirië, Egipte, Griekeland, die sentrale deel van Noord-Afrika, Spanje, Rome en die suide van Italië, het Christenskap die dominante godsdiens geword.  Tussen die 4de en 6de eeu het Patrick en Columba die evangelie aan die Iere en Skotte verkondig.

 

Na ‘n tyd van geestelike duisternis, het die hervormers die suiwer evangelie in Europa verkondig.  Baie mense het tot bekering gekom.[25]  In die 15de en 16de eeu het die kerk vervolging beleef, maar het die Puriteine mense met die evangelie beïnvloed.

 

Die 1700’s en 1800’s was ‘n tyd van herlewings.  Met enkele onderbrekings het dit vir omtrent 100 jaar aangehou.[26]  A.g.v. die herlewings het die moderne sending beweging in die laat 1700’s onder William Carey ontstaan.  Baie sendelinge het gevolg, sodat die evangelie vandag in die meeste lande op aarde verkondig word.

 

En dan praat ek nie eers van die ooste nie.  Ek weet so te niks van die Here se werk in ‘n land soos China nie.  Ek is seker dat daar wonderlike stories oor die verspreiding van die evangelie is.

 

Maar die taak is nog nie voltooi nie.  Die nasies in Paulus se tyd het nou wel die evangelie gehoor (v.14), maar in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag moet ons dit aan die res van die wêreld verkondig (28:19).

 

[c] Soos die mense in v.12 kan ons maklik aan die samelewing se sonde gewoond raak: moord, aborsie, oneerlikheid, korrupsie, disrespek vir gesag, seks voor die huwelik, homoseksualiteit, ens.  Moenie toelaat dat die wêreld jou infiltreer, sodat jy dit bo Jesus kies nie (v.12, Rom. 12:2, 2Tim. 4:10, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15).  Vermy en bestraf dit liewer (Ef. 5:11).

 

[d] Dit is maklik om te sê dat jy ‘n Christen is as dinge met jou goed gaan.  Maar sal jy die evangelie glo as die regering ‘n geweer teen jou kop druk en sê jy moet die Here verloën (v.10)?

 

Sal jy in Jesus glo totdat jy jou asem uitblaas (v.13)?  Jy kan dit nie bekostig om terug te sit omdat v.4-14 al gebeur het nie.  Is jy gereed om die Here te ontmoet (24:42-51, 25:13)?

 

Sal jy by Hom wees as jy hierdie week geskiet word of ‘n hartaanval kry?  Sal jy die oordeelsdag slaag as Hy kom en die nasies voor sy hof daag (25:31-46)?

 

Dit is tog wat saak maak.  Die Here gaan nie vir jou vra of jy John MacArthur, R.C. Sproul of William Hendriksen se siening van Matt. 24 gevolg het nie.  ‘Het jy jou van jou sonde bekeer en in my Seun geglo?’ is die vraag wat Hy aan jou gaan stel.

 

[1] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book 6, ch. 5, par. 2-3; Book 2, ch. 13, par. 5.  Sien ook The Antiquities of the Jews, Book 20, ch. 8, par. 6. deur dieselfde outeur.

[2] Justin Martyr (100-165 n.C.), First Apology, 26.  Hippolytus (170-235 n.C.), On the End of the World, 9.  Jerome (347-420 n.C.), aangehaal in Marcellus Kik, An Eschatology of Victory, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1971, p. 92.  Ireneus (130-202 n.C.), aangehaal in Kik, Ibid.

[3] Kenneth Gentry, Perilous Times, Covenant Media Press, Texarkana: AR, 1999, p. 47

[4] Ibid., p. 47 n. 36

[5] Ibid., p. 48

[6] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Sctoland, 1973, p. 852

[7] Gentry, p. 48

[8] Ibid., p. 49 n. 44

[9] Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1999, p. 112

[10] Gentry, pp. 49-50

[11] Antiquities, Book 20, ch. 2, par. 5

[12] Wars, Book 5, ch. 10, par. 2-5

[13] Gentry, p. 50

[14] Annals of Tacitus, ch. 16, par. 13, aangehaal in Ibid.

[15] Aangehaal en vry vertaal uit Gentry, Ibid.

[16] Mathison, Ibid.; Gentry, Ibid.; Wars, Book 4, ch. 4, par. 5

[17] Gentry, Ibid.

[18] Gentry, p. 52

[19] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, Thomas Nelson, Nashville, 1997, 2013, pp. 344, 346

[20] Vry vertaal uit Gentry, p. 53

[21] Wars, Book 4, ch. 3, par. 2; ch. 6, par. 3; ch. 9, par. 10

[22] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004

[23] Tertullian, Diologue with Trypho, ch. 117

[24] John Jefferson Davis, Christ’s Victorious Kingdom: Postmillennialism Reconsidered, Audubon Press, Laurel: MS, 2006 (1986, Baker Book House Company), p. 68

[25] Ibid., pp. 67-69, 72, 76-79

[26] [a] Iain Murray, Revival & Revivalism, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1994.  [b] Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971.  [c] Iain Murray, Jonathan Edwards, A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1987.  [d] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970.